• No results found

EKSEGETIES-TEOLOGIESE IMPLIKASIES VIR KERK WEES IN SUID-AFRIKA

5.1 Oorsigtelike verantwoording

Die oorspronge van meegaande studie kom enersyds voort uit die belangrike kerkregtelike uitgangspunt dat Jesus Christus Hoof van die kerk is. Hierdie

vertrekpunt hou wesenlike gevolge in vir die lewe van die kerk aangesien vanuit die Kerkreg gepoog word om die kerklike lewe te orden aan die hand van die Skrif as primêre bron van die Kerkreg (Coertzen 1991:120), maar ook van die manier waarop die kerk in die wêreld leef en optree. Die doen en late van die kerk is voortdurend onder die loep van die Skrif en ontkom op geen stadium daaraan nie tensy afstand gedoen word van die wesenlike uitgangspunt dat kerk in die Reformatoriese tradisie noodwendig en vanselfsprekend niks anders kan wees as kerk van die Woord nie. Uit die kerklike wandelgange kom soms ʼn kritiese weerstand na vore wanneer kerkordelike maatreëls op die helling geplaas word en ontkrag word met die kritieke vraag waar sodanige uitgangspunt in die Bybel voorkom. In die verbygaan word daarop gewys dat kerkordelike maatreëls nie pretendeer om elke besondere detail met ʼn Skrifbewys te versier nie. Dit beteken egter ook nie dat kerkordelike maatreëls los van die Skrif getref moet word nie en daarom word langs hierdie weg gepoog om ten minste rekenskap te gee van die belangrike kerkordelik-hermeneutiese

uitgangspunt dat Jesus Christus Hoof van die kerk is. Ten oorvloede word daarop gewys dat die Skrif die primêre bron van die kerklike reg is en daarom is die

resultaat van dié ondersoek nie in die eerste plek ʼn kerkregtelike antwoord nie, maar ʼn Bybelse ondersoek ter beantwoording van die vraag na kerkordelike singewing.

Naas sodanige prinsipiële ondersoek ter beantwoording en ondersteuning van die vraag na die hoofskap van Christus, word hedendaags veral kennis geneem van die wêreldwye tendens van kerkkrimping wat veral die drie sogenaamde hoofstroom

kerke in Suid-Afrika direk raak. Die oorsaak daarvan en die redes daarvoor is sekerlik sterk op die praktyk gerig maar is in die eerste plek ʼn Skriftuurlike vraag.

Hoe pessimisties na die kerklike toekoms gekyk kan word, blyk uit Heitink se opmerking (2007:Woord vooraf):

Het gaat niet goed met de kerk. Als er in onze tijd niet een ingrijpende heroriëntatie plaatsvindt, is het met de kerk als instituut in ons land menslijkerwijs gesproken binnen enkele generaties voorbij.

Die feit dat hy aandui dat sy pessimistiese siening van die kerk na die oordeel van die mens geskied dui daarop dat die oplossing nie immanent van aard is nie, maar transendent gesoek en gevind moet word. ʼn Beroep op die Bybel as Woord van God en derhalwe as kerklike rigsnoer is ook ʼn belydende antwoord wat dui op ʼn bepaalde tradisie waar die Bybel as enigste maatstaf vir die kerklike lewe aanvaar word.

Derhalwe is die probleemstelling vir meegaande studie na die Skrif teruggevoer synde die normerende norm vir alle handelinge van die kerk. Die resultate waartoe gekom word, verwoord die wyse waarop die kerk sigself in die lig van die Skrif verstaan en in ʼn Skriftuurlike ekklesiologie neerslag vind.

Hierdie studie het gefokus op die brief aan die Kolossense en die brief aan die Efesiërs, die twee briewe in die Bybel waarin die hoofskap van Christus pertinent genoem word.

In meegaande studie is aangedui waaroor die ondersoek gaan naamlik, ʼn Bybelse raadpleging na aanleiding van die hedendaagse kerklike ongemak oor verskeie aangeleenthede, maar in besonder die verskynsel van kerkkrimping. Dit moet ook gestel word dat die onderhawige ondersoek ook nie kerkkrimping as sentrale tema het nie maar eerder die implikasie van die hoofskap van Christus as sodanig wat by implikasie ʼn antwoord bied op kerkkrimping, maar ook besondere betekenis het vir die hedendaagse kerk.

Aangesien die hoofskap van Christus in die twee genoemde briewe pertinent ter sprake kom, was die ondersoek afgestem op die twee deutero-Pauliniese briewe, Kolossense en Efesiërs. Eweneens moet in gedagte gehou word dat die ondersoek ook nie die twee briewe as geheel wou ondersoek nie, maar selektief afgestem was op Christus se hoofskap, asook op die Gees as waarborg van die erfdeel van

gelowiges. Laasgenoemde twee hoofmomente is uiteraard ook nie in isolasie bestudeer nie maar binne konteks van die twee briewe afsonderlik én gesamentlik. Aangesien die oortuiging bestaan dat Efesiërs sterk van Kolossense gebruik gemaak het, fokus die studie uiteindelik op die resultate wat in die brief aan die Efesiërs ter sprake gekom het.

In die tweede hoofstuk is aandag gegee aan die eksegetiese metode gevolg deur die metode van ondersoek aan die hand van komposisie-analise saam met die sosiaal- wetenskaplike model: meningsvormer.

Vervolgens is in die derde hoofstuk ʼn aanduiding gegee van bestaande navorsing oor die twee briewe afsonderlik, die onderlinge verband tussen beide briewe, asook ten opsigte van bepaalde sleutelwoorde soos θεθαιή, ἐθθιεζία en ἀξξαβώλ.

Dit is in die vierde hoofstuk opgevolg met ʼn komposisie-analitiese beskouing van die twee briewe aan die hand van die genoemde sleutelwoorde in die lig van resente navorsing.

Daarmee kom die laaste hoofstuk ter sprake waar die resultate wat in die

voorafgaande bekom is saamgevat en toegepas moet word om die vrae wat in die eerste hoofstuk gestel is te beantwoord, asook reg te laat geskied aan die inhoud van die titel waarin Jesus as θεθαιή en die Gees as ἀξξαβώλ in verband gebring is met die ἐθθιεζία. In die lig van die feit dat ʼn Nuwe-Testamentiese studie onderneem is, kom die samevatting en slotsom ook uit die Nuwe Testament as ʼn Bybelse pars

pro toto antwoord verkry vanuit die briewe aan die Kolossense en die Efesiërs. In die

lig van die navorsing wat gedoen is word sodanige bevinding grootliks vanuit die brief aan die Efesiërs van toepassing gemaak. Die vrae wat in die eerste hoofstuk aan die orde gestel is, is derhalwe ʼn Bybelse antwoord op die hedendaagse kerklike ongemak.