• No results found

HOOFSTUK 5: FINALE GEVOLGTREKKINGS

2. OORSIG VAN STUDIE EN BESPREKING

Die eerste vraag wat aan die orde gekom het, was die vraag: Watter beginsels word in die De

Sac. V vir die taak van die prediker gegee? Hierdie vraag is ondersoek in hoofstuk 2 van die

studie en die volgende beginsels was geformuleer:

• Die prediker moet voortdurend aan sy vermoë om te preek, werk – ongeag of hy begaafd is of nie.

• Sy motief moet altyd die eer van God wees, nooit die applous of lofbetuigings van mense nie.

• Omdat die gevare van applous en lofbetuigings so groot is, moet hy dit verag eerder as daarna smag.

In hoofstuk 3 van die studie het die vraag “Watter beginsels word in die Pastorale briewe vir die taak van die prediker gegee?” aan die orde gekom. Die vraag is ondersoek en die volgende beginsels is na aanleiding van die ondersoek geformuleer:

• Die ouderling is διδάσκαλος (“leermeester”) met ‘n inwendige en uitwendige roeping:

o Inwendige roeping: hy moet die gelowiges die inhoud van die evangelie leer, maar leer hoe die evangelie hulle lewe beïnvloed.

o Uitwendige roeping: hy het die verantwoordelikheid om die dwaalleer te bestraf en te weerlê.

• Die ouderling is ook πρεσβύτερος (“leier”) en ἐπίσκοπος (“toesighouer”), wat deur woord en daad ‘n voorbeeld vir die gemeente te wees oor wat dit beteken om ‘n gelowige te wees. • Aangesien die ouderling διδάσκαλος (“leermeester”) is, sluit hierdie titels die predikers soos

Timoteus en Titus in.

• Die prediker moet die eer van God soek en nie die lof en applous van mense nie.

In hoofstuk 4 is hierdie beginsels met mekaar vergelyk ten einde die vraag “Watter ooreenkomste of verskille is daar wanneer die beginsels vanuit die De Sac. V met dié vanuit die Pastorale briewe vergelyk word?” te beantwoord. Die ondersoek het getoon dat daar wel ooreenkomste, maar ook verskille is.

Die ooreenkomste wat uit die ondersoek getoon is, is die volgende: • Beide maak gebruik van die titel “διδάσκαλος” (“leermeester”).

• Beide verwys na die feit dat die taak van die prediker inspanning en hardewerk kos.

• Beide waarsku teen lof en die applous van mense en moedig eerder die soeke na die eer van God aan.

Die verskille wat aangetoon is, is die volgende:

• Die De Sac. V verwys na die prediker as “ἱερεύς” (“priester”); terwyl die Pastorale briewe na die prediker as “ἐπίσκοπος” (“toesighouer”), ἐπίσκοπος (toesighouer), εὐαγγελιστής (evangelis) en πρεσβύτερος (ouderling) verwys.

• Vanuit die historiese agtergrond is getoon dat die ἐπίσκοποι in die tyd van Chrysostomus heersers oor biskopdomme was; teenoor die ἐπίσκοποι is in die tyd wat Paulus die Pastorale briewe skryf wat die funksie van “opsigters” / “toesighouers” oor die gemeente vervul het.

3. FINALE GEVOLGTREKKINGS

Na aanleiding van hierdie ondersoek is getoon dat die hipotese van hierdie studie slegs gedeeltelik korrek was. Alhoewel daar wel verskil in die grondbeginsels tussen die De Sac. V en die Pastorale briewe aangetoon is, het dit ook geblyk dat daar groter ooreenkomste is.

Die verskuiwings in en toepassings van die grondbeginsels in die 4de – 5de eeu n.C. moet teen die tyd van die geskiedenis waarin dit geskryf is, verstaan word. Die groei van die kerk, die verkryging van godsdiensvryheid, en die verhouding tussen kerk en staat in die 4de – 5de eeu n.C. het grotendeels die taak van die prediker moeiliker gemaak en versoekings voor sy deur kom lê wat daar in die 1ste eeu n.C. nie was nie.

Deur middel van beide die De Sac. V en die Pastorale briewe word dieselfde grondbeginsels aan predikers vandag gerig. Die prediker is in sy primêre rol iemand wat die gemeente in die waarhede van die Woord moet onderrig. Gevolglik, sou ‘n prediker hierdie taak versuim en nie nakom nie, is hy in niks meer as net in sy titel ‘n prediker nie. Verder, om as ‘n leraar van die Woord op te tree beteken dat die prediker homself op die bestudering van die Woord moet toelê. Hierdie is ‘n taak van tyd en inspanning verg. Waar die prediker hierdie taak nakom en gehoor gee aan die opdrag om die Woord tydig en ontydig te verkondig (vergelyk 2 Timoteus 4:2), kan hy die teenkanting, spot en vernedering van mense te wagte wees. Waar die eer van God gesoek word, sal ‘n prediker vind dat die lof en die applous van mense afneem. Tog is die prediker geroep om goeie dienaar van Christus Jesus te wees, soos Paulus Timoteus in 1 Timoteus 4:6 noem. Daarom moet die prediker nie moedeloos of mismoedig word as hy die lof en applous van mense verloor nie.

‘n Verdere toepassing vir hedendaagse predikers wat uitgewys is op grond van die verskille tussen die De Sac. V en die Pastorale briewe, is die waarskuwing ten opsigte van mag- en eersug. Vanuit die geskiedenis is getoon dat die amp van ἐπίσκοπος (“toesighouer”) verwronge geraak het en sy oorspronklike fokus verloor het: die fokus het verskuif van iemand wat toesig hou en die welstand van die gemeente as belang voor oë het, na ‘n posiese van heerskappy. Ook vandag is hierdie slaggat ‘n werklikheid. Predikers kan maklik vergeet dat hulle geroep is nie as opperheder van die kudde van Christus nie, maar as onderherders van die kudde wat die belang van die gemeente op die hart moet dra en nie na hul eie eer moet soek nie.

Ten opsigte van die tekortkominge van hierdie studie kan gestel word dat alhoewel De Sac. V ‘n goeie vertrekpunt is vir ‘n vergelykende studie, dit wenslik sal wees om so ‘n studie te onderneem met al die boeke van die De Sacerdotio volledig.

BYLAE A: VERTALING VAN DE SACERDOTIO BOEK 5

1. INLEIDING

Die De Sac. is sekerlik die mees bekende werk van Johannes Chrysostomus. Oor die presiese datering van wanneer die geskrif geskryf is, is daar nie sekerheid nie. Sommige is van mening dat dit so vroeg soos 374 n.C. kon wees, terwyl Nairn (1906:xiv) dit eerder dateer na tussen 386 en 390 n.C. Redes wat Nairn (1906:xi-xiv) aanvoer is die volgende:

• Uit die geskrifte van die historikus Sokrates (5de eeu n.C.) en George van Aleksandrië (7de eeu n.C.) word gesê dat Chrysosotomus die De Sac. gedurende die tyd van sy diakenskap (381-386 n.C.) geskryf het. Symeon Mataphrastes (10de eeu n.C.) plaas die werk egter in die tydperk 374-380 n.C.

• Wat interne bewyse betref argumenteer Nairn (1906:xiii) dat die karaktertrekke van die De

Sac. van 'n later datering getuig, aangesien dit meer kritiese standpunt inneem teen die

asketiese lewe van 'n monnik en die kloosterlewe.

Nairn (1906:xiv) se argument dat die De Sac. geskryf moes word na sy tyd as diaken (381-386 n.C.) omrede prediking nie deel van Chrysostomus se opdragte as diaken was nie, is egter nie oortuigend nie. Vanuit die De Sac. blyk dit dat beide Chrysostomus en Basil aangewys was as biskoppe, maar dat Chrysostomus nie vir die verantwoordelikheid daarvan kans gesien het nie. Hulle het ooreengekom om saam die aanstellings te aanvaar of te verwerp, maar Chrysostomus het homself gaan weg steek toe die tyd vir die aanstelling kom. Basil was onder die indruk dat Chrysostomus reeds die aanstelling aanvaar het en het eers later van Chrysostomus se bedrog te wete gekom. Hy het Chrysostomus gaan opsoek waar hy 'n kluisenaars bestaan gelei het. Dit moes in die tyd 374-380 n.C. gewees het. Dus, is die onwaarskynlik dat Chrysostomus die De

Sac. onmiddelik sou skryf. Dit is meer waarskynlik dat hy, nadat hy terug gekeer het van sy

kluisenaars bestaan, nagedink het oor sy optrede en dus eers toe de De Sac. neergepen het – alhoewel dit nog nie gereed was vir publikasie nie. Dit is dus 'n logiese afleiding vanuit die geskiedenis dat die mees waarskynlike datum vir die skryf van die De Sac. tussen die jare 381 en 386 n.C. moes wees.

In hierdie bylae word 'n vertaling van die De Sac. V gemaak. Boek 5 word in sy geheel vertaal omdat dit die onderwerp van die beginsels vir die taak van die prediker spesifiek aanraak.

Die teks wat vir die vertaling van die De Sac. V gebruik word, is deur Nairn (1906) saamgestel is. Die nommers is die paragraaf indeling soos dit in Nairn se teks voorkom. Die metode wat gebruik word om die vertaling te maak, is soos volg:

• waar die letterlike vertaling onverstaanbaar of vir misverstand oop is, word dit geparafraseer,

• ter wille van leesbaarheid en verstaanbaarheid word die Griekse sinne in die vertaling in gedagte eenhede opgebreek,

• voetnotas word gebruik om 'n woord / frase verder te verduidelik of bykomende inligting te verskaf.