• No results found

HOOFSTUK 2: LITERATUURSTUDIE – DIE STRAATKINDVERSKYNSEL IN SUID-AFRIKA

2.3 OORSAKE EN GEVOLGE

Gebroke gesinne, armoede, mishandeling, verwaarlosing, gesinsgeweld en ouers se substansmisbruik of -afhanklikheid is volgens verskeie outeurs dikwels van die faktore wat daartoe lei dat kinders hulle tot ʼn lewe op straat wend (Ashoka, 2004:1; Idemudia, Kgokong & Kolobe, 2013:163; Le Roux 1996:3). Volgens UNICEF (2002:40-41) kan makro-kwessies soos verstedeliking en oorbevolking ook bydra tot die toename in straatkindgetalle. Volgens Ray, Davey en Nolan (2011:11) is die oorsake baie kompleks en konteksspesifiek en hou dit verband met oorlewing en persoonlike redes. Skhosana (2013:35) het in haar studie deur middel van stoot- en trekfaktore beskryf hoekom kinders hulle tot die strate wend. Mako (2000:45) beskryf ook die redes vir toename in straatkindgetalle aan die hand van stoot- en trekfaktore. Hierdie stoot- en trekfaktore word in illustrasie 1 opgesom en sal daarna kortliks bespreek word.

28

Illustrasie 2.1:

Stoot- en trekfaktore wat kan lei tot ʼn lewe op straat

Illustrasie 2.1 toon dat aspekte soos onder andere mishandeling, verwaarlosing, ouers se alkohol- en dwelmmisbruik, gesinsgeweld, egskeidings, werkloosheid, armoede, seksuele misbruik deur ouers, swak gesinsverhoudings, afwesige ouers as gevolg van konflik tuis of MIV/Vigs, stootfaktore kan wees wat kinders na die strate “stoot” op soek na ’n beter lewe (Ennew 2004; Lewis 2004; Mako 2000; Motala & Smith 2003; Wargan & Dreshem 2009). Mako (2000:45) is ook van mening dat armoede, en veral die gebrek aan voedsel, ʼn groot faktor is wat kinders na die strate dwing. Dit is opmerklik dat soveel outeurs egter die redes dat kinders op straat beland, toeskryf aan ouers se handelinge, byvoorbeeld dwelmmisbruik, konflik tussen ouers, egskeidings, seksuele misbruik deur ouers, afwesige en onbetrokke ouers, ouers wat werkloos is en ouers wat kinders verwaarloos (Cleophas 2001; Grundling & Grundling 2005; Mako 2000; Maphatane 1994; Motale & Smith 2003; Wargan & Dreshem 2009). Maphatane (1994:26) voeg verdere gesinsfaktore by, naamlik die afwesigheid van ondersteuningsnetwerke vir die gesin en die verskynsel dat grootouers dikwels met die versorgingsverantwoordelikheid ten opsigte van hul kleinkinders belas word. Cleophas

29

(2001:18) beskryf die volgende gesinsfaktore wat ook daartoe kan bydra dat kinders hulself tot die strate wend:

 Daar is dikwels ʼn gebrek aan ʼn vaderfiguur en gevolglik is daar geen positiewe

manlike rolmodelle tuis beskikbaar nie.

 Enkelouerskap is ʼn algemene verskynsel, wat die druk op die teenwoordige ouer

verhoog. Die kanse verhoog gevolglik dat hierdie ouer kan faal om in die kind se behoeftes te voorsien.

 Egskeidings tussen ouers en die konflik wat daarmee gepaardgaan.

 Stiefouergesinne waar die verwagtinge tussen die stiefouer en -kind nie altyd

dieselfde is nie.

 Ouers wat weier om eienaarskap en verantwoordelikheid ten opsigte van die

geboorte van ʼn kind te aanvaar, veral wanneer kinders buite die huwelik gebore is. Al bogenoemde faktore kan daartoe bydra dat kinders die straat as ʼn toevlugsoord sien; veral omdat ander kinders wat reeds op straat is, dié verwelkom wat vlug van hul omstandighede tuis, in ʼn poging om te oorleef.

Trekfaktore is faktore wat kinders na die straat lok. Skhosana (2013:39) beskryf dat groepsdruk, soeke na vryheid en die behoefte aan kos en geld moontlike trekfaktore is. Volgens Ward en Seager (2010:85-100) is trekfaktore wat aanloklik is vir straatkinders onder andere die soeke na ʼn beter lewe, werksgeleenthede, geld en skuiling. Die navorser is van mening dat die maklike beskikbaarheid van dwelms op straat ook ʼn groot trekfaktor kan wees aangesien straatkinders dikwels dwelmmiddels gebruik om te ontvlug van hul ongunstige realiteite, soos om honger te wees. Die navorser ondersteun ook Skhosana (2013:39) se mening dat die portuurgroep ʼn groot rol speel ten opsigte van ʼn bron van vertroosting, beskerming en aanvaarding. Dit sluit ook verder aan by Shaffer en Kipp (2014:568-569) se mening dat die portuurgroep ʼn belangrike rol speel in ʼn kind se sosiale ontwikkeling en die geleentheid bied vir kameraadskap, ’n plek waar nuwe gedrag getoets kan word, inligting verkry kan word en nuwe verhoudings aangeknoop kan word. Dit wil dus voorkom dat die portuurgroep op straat deur straatkinders beskou kan word as familie, en dat daar in hierdie groep voldoen word aan hul behoeftes van behoort-aan en affeksie. Die navorser is egter van mening dat hierdie siening baie subjektief is en toegeskryf kan word aan hierdie kinders se sterk behoefte aan hierdie dinge. Die realiteit is dat die portuurgroep op straat meer negatiewe gedrag openbaar en nie ʼn goeie invloed is nie. Die portuurgroep skep baie

30

keer die basis vir die beoefening van negatiewe aktiwiteite soos substansmisbruik (Mako, 2000:163).

Die gevolgtrekking kan gemaak word dat daar verskeie oorsake kan wees wat kinders na die straat “stoot” of “trek”. Die straatlewe is egter nie gunstig vir die gesonde ontwikkeling van ʼn kind nie en dit belemmer hierdie kinders se psigososiale funksionering. Die afleiding kan ook gemaak word dat verskeie behoeftes van straatkinders nie bevredig word nie, soos byvoorbeeld die behoefte aan voedsel, veiligheid, liefde en affeksie; asook die behoeftes aan vaardighede soos om om uiting aan jou emosies te gee en verskillende lewenskwessies te hanteer (Foster, 2000:55; United Nations Development Programme, 2000:41; Schultz, 2002:25; Thoburn, Chand & Procter, 2008:22).

Dit is duidelik dat straatkinders ʼn gebrek ervaar aan die bevrediging van hul basiese behoeftes en ʼn gebrek het aan die nodige lewensvaardighede om te cope met hul alledaagse omstandighede en dit kan daartoe lei dat hulle op straat beland (Le Roux, 1996:3) of op straat bly; en uiteindelik het dit ʼn negatiewe impak op hul algehele psigososiale funksionering.

Ten einde die straatkindverskynsel in Suid-Afrika te omlyn is dit nodig om nie net aandag te skenk aan die behoeftes en uitdagings van straatkinders in Suid-Afrika nie, maar om ook ondersoek in te stel na hoe dienslewering aan straatkinders in Suid-Afrika geskied. Navorsing is reeds gedoen rakende die straatkindverskynsel, maar min navorsing is gedoen oor die intervensies wat vir straatkinders beskikbaar is. Daar is ʼn wye verskeidenheid programme en dienste beskikbaar in Suid-Afrika wat fokus op die behoeftes en regte van straatkinders. Hierdie programme en dienste sluit

voorkomingsprogramme, uitreikprogramme, gesinsherenigingsdienste en

instapsentrums in (Motale, 2010; Ward, 2010).

ʼn Kort opsomming word gegee van huidige wetgewing en beleidsraamwerke in Suid- Afrika wat beskikbaar is en wat riglyne uiteensit vir dienslewering aan kinders, en in hierdie geval meer spesifiek straatkinders. Daarna volg ʼn kritiese bespreking van die bestaande programme, wetgewing en dienste wat beskikbaar is vir straatkinders in Suid-Afrika.

31

2.4. WETGEWING EN BESTAANDE PROGRAMME EN DIENSTE VIR