• No results found

2.3 Statutêre determinante vir die Suid-Afrikaanse reg

2.3.2 Onderwysspesifieke wetgewing

Artikel 43 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (108/1996) gee aan die parlement, provinsiale wetgewers of munisipaliteite wetgewende gesag. In hierdie

HOOFSTUK 2 26 gedeelte word slegs verwys na wetgewing wat met die oog op onderwys deur die parlement uitgevaardig is.

2.3.2.1 Suid-Afrikaanse Skolewet

Die aanhef van die Suid-Afrikaanse Skolewet (84/1996) bepaal die doelwitte van hierdie wet. Voordat die tersaaklike bepalings van die wet bespreek word, is dit belangrik dat die doelwitte genoem word omdat die wette daarvolgens opgestel is. Die belangrikste doelwitte lui soos volg:

I. Om onderwyswette van die vorige Suid-Afrikaanse bedeling te herroep;

II. Om ‟n nuwe en ‟n nasionale, eenvormige onderwysstelsel vir die organisasie, bestuur en finansiering van skole daar te stel;

III. Om eenvormige norme en standaarde vir die opvoeding van leerders in Suid- Afrikaanse skole daar te stel;

IV. Om sodanige onderwysstelsel op ‟n nie-diskriminerende grondslag te plaas; V. Om die verskeidenheid van die Suid-Afrikaanse tale en kulture te beskerm en

te bevorder.

Artikel 15 van die Suid-Afrikaanse Skolewet (84/1996) bepaal dat elke openbare skool ‟n regspersoon is, wat beteken dat ‟n openbare skool aanspreeklik gehou kan word vir skade wat op onregmatige wyse veroorsaak is. Artikel 60 (1)(a) bepaal egter:

Behoudens paragraaf (b) is die Staat aanspreeklik vir enige deliktuele of kontraktuele skade of verlies wat veroorsaak word as gevolg van enige daad of versuim in verband met enige skool- aktiwiteit wat deur ‟n openbare skool bedryf word en waarvoor sodanige openbare skool aanspreeklik sou gewees het by gebrek aan die bepalings van hierdie artikel.

HOOFSTUK 2 27 Die bepaling maak daarvoor voorsiening dat indien ‟n opvoeder, byvoorbeeld ‟n rugbyafrigter, by ‟n openbare skool aanspreeklik bevind word, die Staat die aanspreeklikheid sal dra. In Louw v LUR, Vrystaat was ‟n personeellid wat toesig gehou het by ‟n swemaktiwiteit waar ‟n leerder byna verdink het, nie in diens van die Staat nie, maar wel van die openbare skool. Die Staat is nogtans aanspreeklik gehou. Die onderwyser-afrigter wat nalatig bevind word, hetsy in ‟n departementele of beheerliggaam-aanstelling, word dus ingesluit by die bogenoemde bepaling. Artikel 20(4) (84/1996) wys daarop dat ‟n openbare skool poste vir opvoeders kan instel en opvoeders in diens neem, terwyl artikel 20(5) (84/1996) bepaal dat ‟n openbare skool poste vir nie-opvoeders kan instel en hulle in diens kan neem. Hierdie opvoeders, wat uiteraard die afrigters insluit, kan daarna staatmaak op die ondersteuning van die beheerliggaam. Artikel 20 (1)(a) bepaal dat die beheerliggaam die beste belange van die skool moet bevorder en poog om die ontwikkeling daarvan te verseker deur die voorsiening van gehalte-onderwys. Subartikel (1)(e) bepaal op sy beurt dat die beheerliggaam die prinsipaal, opvoeders en ander personeel van die skool moet ondersteun in die verrigting van hul professionele werksaamhede. Hieruit kan afgelei word dat die onderwyser-afrigters deur die beheerliggaam van die skool ondersteun behoort te word om hul taak as afrigters te verrig.

2.3.2.2 Wet op die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SARO)

Hierdie wet bevat spesifieke bepalings wat kan dien om die verhouding tussen afrigters en deelnemers te reguleer. Rossouw en Keet (2011:22) konstateer dat die SARO se Professionele Etiese Kode, wat as ‟n bylae dien tot die Wet op die Suid- Afrikaanse Raad vir Opvoeders, bepalings bevat wat van toepassing is op deliktuele aanspreeklikheid van die afrigter in skolesport, wat ‟n sekuriteitsaangeleentheid is. Item 3.2 van die Kode bepaal dat ‟n onderwyser ”die uniekheid, individualiteit en spesifieke behoeftes van elke leerder moet erken en daarvolgens leiding aan die leerder moet gee en hom/haar moet aanmoedig om sy of haar potensiaal te verwesenlik”. Verder wys Rossouw en Keet (2011:22) ook daarop dat Item 3.5 bepaal dat die onderwyser ”‟n leerder nie fisies of psigologies moet mishandel nie”. Dit impliseer dat die onderwyser-afrigter nie ‟n skolerugbyspeler liggaamlik of psigologies mag mishandel gedurende ‟n oefening nie. Die onderwyser-afrigter kan

HOOFSTUK 2 28 dit onregmatig doen wanneer hy byvoorbeeld ‟n speler in ‟n posisie laat speel waarvoor die speler nie fisiek gereed is nie, of ‟n oefening laat doen wat die speler fisiek nie kan bemeester nie.

2.3.2.3 Wet op die Indiensneming van Opvoeders

Die Wet op die Indiensneming van Opvoeders (76/1998) se vernaamste doelstellings is om:

I. Voorsiening te maak vir diensvoorwaardes van opvoeders in diens van die staat;

II. Voorsiening te maak vir die regulering van aspekte soos aanstellings, bevorderings en sekondering van opvoeders;

III. Aspekte soos diensbeëindiging, onbekwaamheid en wangedrag by opvoeders te reguleer;

IV. Voorsiening te maak vir die statutêre fundering van die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SARO).

Vanuit die doelstellings is dit duidelik dat die onderwyser-afrigter in die Wet op die Indiensneming van Opvoeders (76/1998) meer inligting oor sy diensvoorwaardes met betrekking tot afrigting en aspekte rondom diensbeëindiging kan bekom. Die onderwyser-afrigter mag onseker wees of afrigting ‟n verpligting is en wat die gevolge is indien hy onbekwaam is om af te rig.

Hoewel afrigting en ander ko-kurrikulêre aktiwiteite nie sentraal staan tot die aanstelling van opvoeders nie, kan daar wel redelikerwys van opvoeders verwag word om sodanige diens te lewer. In artikel 11(1)(d) word daarop gewys dat ‟n werknemer ontslaan kan word ”weens ongeskiktheid vir die pligte wat aan die opvoeder se pos verbonde is of onvermoë om daardie pligte op bekwame wyse uit te voer”. Die onderwyser-afrigter moet sy pligte op ‟n bekwame wyse uitvoer. Indien die onderwyser-afrigter se pligte afrigting insluit, moet die onderwyser-afrigter die taak sodanig uitvoer dat dit nie bots met artikel 18(1)(e) wat bepaal dat ‟n opvoeder wangedrag pleeg indien hy of sy ”in die uitvoering van sy of haar plig, sy of haar eie

HOOFSTUK 2 29 lewe of die lewens van ander in gevaar stel deur gestelde veiligheidsreëls of regulasies te verontagsaam”.