• No results found

2.3 Statutêre determinante vir die Suid-Afrikaanse reg

2.3.1 Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika

Die grondwet van ‟n land bevat daardie land se belangrikste reëls en wette, en bepaal ook die magte en funksies van die regering van ‟n staat. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (108/1996), is op 4 Februarie 1997 amptelik in werking gestel (Oosthuizen et al., 2003:24). Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika het ‟n direkte invloed op wetgewing, in die sin dat wetgewing wat daarmee bots deur die howe ongeldig verklaar kan word (Kleyn & Viljoen, 2010:41).

2.3.1.1 Oppergesag van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika

Artikel 2 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (108/1996) bepaal dat die Grondwet die hoogste reg in Suid-Afrika is. Enige regsvoorskrif of optrede daarmee onbestaanbaar, is ongeldig, en die verpligtinge daardeur opgelê, moet nagekom word.”

2.3.1.2 Regte

Artikel 7 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (108/1996) bied beskerming vir alle mense in ons land se regte, en dit beteken dat die landsburgers deur hul regte beskerm word. Die waardes wat in artikel 7 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (108/1996) beklemtoon word, is menswaardigheid, gelykheid en vryheid. Elke onderwyser-afrigter en skolerugbyspeler kan aanspraak maak op hierdie waardes.

HOOFSTUK 2 24 2.3.1.3 Toepassing van die reg

Artikel 8(1) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (108/1996) bepaal dat die Handves van Regte van toepassing is op die totale reg. Howe moet ook die gemene reg toepas, ingevolge artikel 8(3)(a). In terme van artikel 8(4) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (108/1996) is ‟n regspersoon ook geregtig op die regte in die Handves van Regte. Die skool is een voorbeeld van „n regspersoon, en is wettiglik gemagtig om in regsake op te tree, kan ander resgpersone of natuurlike persone dagvaar, en kan gedagvaar word.

2.3.1.4 Omgewing

Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (108/1996) gee aan elkeen die reg om in ‟n omgewing te wees “wat nie skadelik vir hul gesondheid of welsyn is nie”. Die omgewing waar die onderwyser-afrigter en skolerugbyspeler hulle sal bevind, is op daardie deel van die skoolterrein waar die rugbyvelde geleë is. Joubert en Prinsloo (2001:60) meen dat die opvoeders moet verwag dat daar moontlike gevaarsituasies vir die leerders is en die nodige stappe doen om te verhoed dat leerders seerkry, asook toesien dat veiligheid reg toegepas word. Na aanleiding van hierdie sienswyse behoort die onderwyser-afrigter op enige gegewe tyd op die skool se rugbyveld ‟n gevaarsituasie te verwag. Die skool moet seker maak dat die rugbyveld self ‟n veilige omgewing is om gevaarsituasies te minimaliseer vir die spelers se onderwyser- afrigter.

2.3.1.5 Kinders

Artikel 28 (1)(d) bepaal dat elke kind die reg het om teen “mishandeling, verwaarlosing, misbruik of vernedering” beskerm te word. Verder, volgens artikel 28(2) is „n kind se beste belang “van deurslaggewende belang in elke aangeleentheid wat die kind raak”.

Volgens Herselman (2006:15) is een van die doelwitte van artikel 28 (108/1996), om kinders te beskerm in situasies waar hulle kwesbaar is. Vanuit ‟n rugbyafrigtingsoogpunt kan dus gevra word wanneer ‟n deelnemer as kwesbaar beskou sou kon word. Kan dit wees wanneer die onderwyser-afrigter die kind nie

HOOFSTUK 2 25 korrek afrig nie, veral vir posisies wat spesiale kundigheid van die afrigter en vaardigheid van die speler vereis? Die kind mag dalk kwesbaar wees wanneer hy teen ‟n groter en sterker, korrek afgerigte teenstander moet skrum, terwyl hyself nie voldoende voorbereid of fisiek gekondisioneer is nie. Artikel 28 (2) bepaal dat die kind se beste belang te alle tye voorop gestel moet word. Die onderwyser-afrigter moet dus weet dat optrede in die beste belang van die kind nie net in wedstryde nie, maar ook tydens oefensessies ter sprake is. Wedstryde en oefensessies bestaan uit verskeie kontaksituasies waarin ‟n kind ‟n besering, soos harsingskudding, kan opdoen. Dit is nie in die kind se beste belang om aan te hou speel nie, ongeag die belangrikheid van die wedstryd. Die kind se besering kan vererger gedurende die wedstryd of oefensessie en daarom moet die onderwyser die kind nie verder op die veld toelaat nie.

Die HAT (2005:1067) omskryf ”sorg” as ”toesig, bewaking, oppassing”. ‟n Kind het die reg op ouerlike toesig of bewaking, of gepaste alternatiewe toesig of bewaking, ook wanneer hy nie in die gesinsomgewing is nie. Almal wat by die skool betrokke is, moet as die kind in hul sorg gelaat word die gepaste alternatiewe toesig of bewaking bied. Wanneer die kind in ‟n rugbyspan speel, is die onderwyser-afrigter van die betrokke span die aangewese persoon wat oor die kind moet toesig hou. Voorgaande is ‟n voorbeeld van in loco parentis waar die onderwyser-afrigter in die plek van die kind se ouers optree. Artikel 28(3) verwys na die ouderdom van iemand wat as ‟n kind geklassifiseer word. Dié ouderdom is volgens artikel 28(3) 18 jaar. Weens die reëls en regulasies op skoolvlak gebeur dit selde dat ‟n skolerugbyspeler ouer as 18 jaar is. Hieruit kan ons aflei dat verreweg die meerderheid onderwyser- afrigters, spelers van 18 jaar en jonger afrig, wat volgens die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika as kinders geklassifiseer word. Artikel 28 is dus op hulle van toepassing, en die skolerugbyspelers het gevolglik tydens hul deelname aan rugby onder die toesig van die onderwyser-afrigter, ‟n reg op elkeen van die aspekte wat in die betrokke artikel vervat is.