• No results found

De Witt (2009:212) beskou Grondslagfase onderwys as een van die uitdagendste beroepe. Die onderrig en leer van Grondslagfase leerders sluit nie net kennisuitbreiding in nie, maar die oordrag van waardes en norme vir die sosiale en emosionele ontwikkeling van die leerder. Die onderwysbestel van ʼn land het dus ʼn beduidende rol te vervul in verskeie ontwikkelingsfasette van die leerder. Dit impliseer dat onderwysopleiding aan sekere vereistes moet voldoen sodat ʼn onderwyser bevoeg sal wees om aan die praktykeise te voldoen. Finland en Amerika se

onderwysopleiding en -stelsels word vervolgens oorsigtelik bespreek.

2.5.1

Finland

Die onderwysprofessie is ʼn gerespekteerde beroep in Finland. Rekai et al. (2008) verduidelik dat alle onderwysers in Finland meestersgrade moet hê om in skole te kan onderrig. Selfs dagsorgpersoneel moet oor ʼn Baccalaureus-graad beskik voordat hulle na leerders mag omsien. Die onderrig van leerders met spesiale behoeftes verlang ʼn meestersgraad met ʼn spesialiseringshoofvak om aan die spesiale onderrigbehoeftes van dié leerders te kan voldoen.

Die Finse onderwysstelsel steun sterk op die volgende kernbeginsels (Rekai et al., 2008):  Voldoende hulpbronne vir diegene wat dit die meeste nodig het;

 Hoëvlakstandaarde vir spesiale onderwysbehoeftes;

 Gekwalifiseerde onderwysers wat bevoeg en bereid is om vir ʼn diverse groep leerders skool te hou;

 ʼn Gesonde balans tussen sentralisering (top-down-benadering) en desentralisering (bottom-up-benadering).

Heikkinen (2010) beweer dat transformasie in Finland se onderwysstelsel reeds 40 jaar gelede ontstaan het. Hierdie transformasie het direk tot die ekonomiese herstel van die land bygedra. Finland het in 2006 die eerste plek uit 57 lande in die sosiale wetenskappe behaal en in 2009 was Finland tweede in sosiale wetenskappe, derde in leesvaardighede en sesde in wiskundeprestasie onder ʼn halfmiljoen leerders wêreldwyd. Volgens Herbert en Karlsen (2010:12) is daar ʼn toenemende bewustheid oor die verskeidenheid kultuurgroepe ten opsigte van taal, geloof, geslag, ouderdom, asook ontwikkelde en onontwikkelde bevolkingsgroepe in Finland. Die onderwysers word aangemoedig om elke jaar aan indiensopleidingsessies deel te neem wat deur verskeie opleidingsinstansies aangebied word. Befondsing word deur die staat vir die opleidingsinstansies beskikbaar gestel sodat die implementering van die kurrikulum en beleidsdokumente na behore kan plaasvind. Multikulturele onderrig word as ʼn interkulturele uitdaging gesien. Dié uitdaging word die hoof gebied deur op gelyke deelname en gelyke geleenthede vir alle leerders te fokus.

Herbert en Karlsen (2010:13) voer aan dat die onderwyser die bemiddelaar is vir alle menseverhoudings tussen die leerders, ouers, kollegas en alle belanghebbendes van die plaaslike gemeenskap. Finland se onderwysstelsel gebruik kuns en kultuur as ʼn kruiskurrikulêre instrument, sodat die verskillende kultuurgroepe meer van mekaar leer. Dit word moontlik gemaak deur liedere, gedigte, verhale en visuele kunste om nasiebou te bevorder en kennis op internasionale vlak uit te bou. Daar is selde meer as 20 leerders per klas. Voorskoolse onderrig en onderrig van graad 1 tot 12 is gratis (Anon, 2012).

2.5.2

Die Verenigde State van Amerika (VSA)

Volgens Smith (2012) word spesialisonderwysers in die VSA met ʼn internasionaal erkende Baccalaureus-graad opgelei om onderwysers en leerders vir lewenslange leer voor te berei. Sedert die middel tagtigerjare, het die VSA ʼn nasionale kurrikulum gebaseer op uitkomsgebaseerde onderrig, geïmplementeer. Die verandering aan die nasionale kurrikulum in die VSA is die gevolg van faktore ten opsigte van werkverwante eise wat aan onderwys en opleiding gestel word. Hume (2013) verduidelik dat elke staat in die VSA oor sy eie onderrigstelsel met vasgestelde riglyne beskik. Jacobs (2008:21) het bevind dat die VSA ʼn sterk en omvattende beleid handhaaf om gelyke onderwysgeleenthede aan almal te voorsien. Inklusiewe onderwys word as norm aanvaar en integrasie en gelykheid word as maatstaf gebruik.

Openbare skole ontvang befondsing van die staat, maar ook van die provinsiale owerhede. Jacobs (2005:21) beweer dat die VSA reeds vir dekades sukses met jong leerders se ontwikkeling behaal deur hulp ten opsigte van intervensie en betrokkenheid in die vroeë kinderjare te verskaf. Head

Start se opvoedkundige programme vir leerders bedien meer as 900 000 kinders en hul gesinne uit

laer inkomstegroepe in die VSA. Die Head Start-program is in 1965 begin en was aanvanklik op die onderrig van kinders tussen 3- en 5-jarige ouderdom gerig. Die program het op voorbereiding vir skool- en leergereedheid gefokus. Families met babas, peuters en kleuters word tans bedien, aangesien die program van geboorte tot 5 jaar aangebied word. Jacobs (2008:22) het voorts bevind dat navorsing deur Colombia Universiteit, in samewerking met die Early Head Start

Research Consortium, toon dat jong kinders wat aan die program blootgestel is se

leergereedheidsvlakke teen skooltoetrede op standaard was. Geen soortgelyke gratis hulpstelsels vir jong leerders se skoolprogramme is in Suid-Afrika beskikbaar nie. Ouers ontvang slegs ʼn welsynstoelaag van die staat vir voedsel en klere. Leerders ontvang gratis onderrig in die VSA van graad 1 tot 12 en skole word deur die plaaslike distrikte bestuur. Die algemene beleidsdokumente vir skole word deur die beheerliggaam saamgestel en daar word toegesien dat dit ingevolge die departementele voorskrifte uitgevoer word.

ʼn Tweetalige program word in die klasse aangebied waar daar twee onderwysers voltyds in die klas teenwoordig is. Die een onderwyser onderrig in Sjinees (Mandaryns), terwyl die ander onderwyser die aanbieding in Engels onderrig. Onderrig en leer word betekenisvol in klein groepies aangebied. Volgens Smith (2012) is gelukkige leerders suksesvolle leerders. Assessering behels formatiewe en summatiewe assessering. Elke leerder word in Mandaryns, Wiskunde en Engels geassesseer.

2.5.3

Suid-Afrika

2.5.3.1 Agtergrond van onderwys in Suid-Afrika

Phooko (2008:2) beskou die uitdagings van die onderwysgemeenskap in Suid-Afrika as uniek. Suid-Afrika het vanaf 1994 radikale wetgewende verandering in die onderwys ondergaan, soos in die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 vervat (Departement van Onderwys, 2001:1). Agtien verskillende onderwysdepartemente is onder een ministerie gevoeg sodat eenvormigheid verkry kon word. Hierdie verandering is ten opsigte van die kurrikulum, kwalifikasiestrukture, ondersteuningsdienste en onderwysersopleiding teweeggebring.

Die opleiding van onderwysers behoort, volgens Woolfolk (2007:7), teoretiese kennis te bevat sowel as ondersoekend en rigtinggewend van aard te wees. Onderwysersopleiding moet die voornemende onderwysers bemagtig sodat ʼn verskeidenheid van onderrigstrategieë gebruik, ontdek en ontwikkel word.

Cross en Hong (2012:959) beweer dat kennis van en empatie vir individuele en sosiale aspekte nodig is sodat insig en begrip vir die wêreld van die onderwyser getoon kan word. Die onderwyser wat daaglikse uitdagings van die skoolomgewing die hoof bied, gefokus en optimisties is, bevorder kwaliteit-onderrig en -leer. Radikale wetgewende verandering in die onderwys vereis die ontdekking van nuwe onderrigstrategieë deur middel van basiese navorsing sodat veranderende uitdagings die hoof gebied kan word (Woolfolk, 2007:7). Hierdie unieke uitdaging wat Grondslagfase onderwysers van die 21ste eeu ervaar, vereis die vermoë om innoverend te dink, te beplan en met nuwe rigtinggewende oplossings vorendag kom.

Soos dit blyk uit die SAOU se Nuusbrief 4 (2014) het die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SARO) die besonderhede van die Deurlopende Professionele Onderwyser Ontwikkelingsprogram (DPOO) amptelik bekendgestel. Die DPOO het ten doel dat huidige onderwysers verantwoordelikheid vir hul eie voortgesette professionele ontwikkeling moet aanvaar. Die uiteindelike langtermyndoel met die DPOO is die verbetering van klaskamerpraktyke en leeruitkomste. Die leemtes wat in skole ervaar word, word deur die DPOO geïdentifiseer en as professionele ontwikkelingsbehoeftes aangepak.

2.6

ROLLE VAN DIE GRONDSLAGFASE ONDERWYSER