• No results found

HOOFSTUK 4: DIE AANWENDING VAN FORENSIES-LINGUISTIESE GETUIENIS

4.2 Omskrywing van die begrip witboordjiemisdaad

Misdaad kan omskryf word as ’n wederregtelike en strafbare handeling (Snyman, 2006:7), met ander woorde, ’n handeling wat ’n regsreël oortree. Die begrip witboordjiemisdaad is nie ’n regsterm nie en verwys eerder na ’n wye verskeidenheid misdade. Dit word egter deur Sutherland (1940) gedefinieer as sakeverwante misdaad wat deur beroepslui gepleeg word. Die FBI (2013) beskou die term as sinoniem met ’n reeks bedrogmisdade wat deur sake- en regeringslui gepleeg word. Dit behels dus onwettige, oftewel wederregtelike en strafbare finansiële aktiwiteite deur persone in die handelsomgewing. Voorbeelde van witboordjiemisdade sluit in (Manning (2005:4-6), PWC (2009), Sutherland (1940)):

 Korrupsie;

 Bedrog, byvoorbeeld: o Kredietkaartbedrog; o Belastingbedrog;

o Wanvoorstelling in finansiële state; en o Manipulering van die aandelemark;

 Verkoop van onwettige middels soos dwelms;

 Piramideskemas;

 Diefstal;

 Georganiseerde misdaad;

 Omkopery in die handels- en openbare sektor; en

 Verdoeseling en wanaanwending van fondse.

Die ondersoek van die volgende misdade vorm onder andere deel van die mandaat van die handelsmisdaadtak van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPS, 2013):

 Diefstal van fondse deur: o Trustees;

o Likwideerders van insolvente boedels; o Eksekuteurs van boedels; en

o Persone wat aangestel is in ʼn fidusiêre rol wat finansiële state manipuleer.

 Bedrog:

o Bedrog wat ontstaan het uit intermaatskappy- of beslotekorporasie- transaksies;

o Bedrog in die aandelemark; o Rekenaarbedrog;

o Internetbedrog, naamlik bedrog wat oor die internet gepleeg word, byvoorbeeld kredietkaartbedrog of elektroniese oorbetaling van fondse tussen rekenings;

o Bedrog gepleeg by wyse van gesteelde bankkaarte; o Bedrog in staatsinstansies;

o Bedrog deur persone wat aangestel is in ʼn fidusiêre rol, by wyse van manipulering van finansiële state;

o 419-skemas;

o Vervalste banknote, tjeks, tenders, krediet-, debiet-, en petrolkaarte; en o Gedupliseerde, veranderde of gewaste tjeks.

Uit die voorafgaande blyk dit dat witboordjiemisdaad ’n generiese term is vir

handelsmisdaad, ekonomiese misdaad of finansiële misdaad, oftewel

niegewelddadige misdaad wat hoofsaaklik finansiële voordele ten doel het. Die aard van sodanige misdade is dus finansieel en hou met die vloei van fondse verband. Om die begrip witboordjiemisdaad meer omvattend te beskryf, is ʼn ondersoek nodig in die redes waarom sodanige misdade gepleeg word. Die sogenaamde bedrogdriehoek bestaan uit die volgende elemente (Economist, 2012):

 Geleentheid

 Motivering; en

 Rasionalisering.

Finansiële nood kan byvoorbeeld dien as motivering om bedrog te pleeg, terwyl die geleentheid van swak interne kontrole hom voordoen. Bedrogplegers se rasionaal kan wees dat hulle die geld sal terug betaal, of dat hulle nie genoeg betaal word nie (Minnesota Office of the State Auditor, 2012).

Kotzé (2012b) en Bhusal (2009) voer aan dat tegnologiese vooruitgang die geleentheid bied vir die toename in witboordjiemisdaad. Soos voorheen bespreek, is daar ’n groeiende toename in die mens se afhanklikheid van tegnologie. Tegnologie vorm uiteraard ook ’n onlosmaaklike deel van die sakewêreld. Besighede trek voordeel uit die kuberwêreld en sosiale netwerke soos Facebook en Twitter, maar word terselfdertyd blootgestel aan tegnologie as ’n instrument vir die pleging van witboordjiemisdaad in die kuberruimte, naamlik kubermisdaad. Kubermisdaad word onder die top vier ekonomiese misdade geklassifiseer, volgens PWC (2011).

Weens die toename in witboordjiemisdaad, veral in Suid-Afrika (PWC, 2009), is daar ’n groeiende behoefte aan die ondersoek daarvan (Van Rooyen, 2004:1). Volgens Manning (2005:v) fokus die rekeningkundige professie al meer op die ondersoek van bedrog.

Sennewald en Tsukayama (2006:1) omskryf ’n ondersoek as “the examination, study, tracking and gathering of factual information that answers questions or solves problems”. Die ondersoeker se rol is dus om bewysstukke in te samel en te analiseer om sy/haar vermoedens te bevestig en as basis vir bevindinge te benut. Van Rooyen (2004:13) weer beskryf ’n ondersoek as die proses van identifisering van persone en voorwerpe vanaf die tyd wat die misdaad gepleeg is totdat ’n beskuldigde se skuld bevestig of weerlê word. Daar is dus ’n regsproses ter sprake en, soos reeds bespreek, word die woord forensies gebruik om aan te toon wanneer iets regsverwant is.

Forensiese rekeningkunde is dus die insameling, ondersoek, evaluering en verslagdoening van finansiële data en rekeningkundige aktiwiteite om regskwessies op te klaar. Vir die ondersoek van witboordjiemisdaad sal ’n rekenmeester se finansiële kennis aangevul moet word met kennis van die regsomgewing om te weet watter finansiële data in die hof toelaatbaar is (Manning, 2005:v) en om deskundige getuienis daaroor te lewer indien nodig.

Iemand met voldoende finansiële en regskennis om witboordjiemisdade te ondersoek, staan as ’n forensiese rekenmeester bekend. Hierdie persoon moet verseker dat hy/sy die korrekte prosedures tydens ’n ondersoek volg en dat daar aan die relevante regsreëls voldoen word (Loxton, 2011).

Volgens die Instituut vir Kommersiële Forensiese Praktisyns (ICFP) sluit die kommersiële forensiese bedryf ’n reeks professies in waarvan elk unieke en duidelik onderskeibare kennis en ervaring behels (ICFP, 2011).

Die term bedrogondersoeker word ook gereeld in hierdie konteks gebruik. ’n Bedrogondersoeker verwys egter nie noodwendig na ’n rekenmeester nie. Die grootste internasionale antibedrog-organisasie, naamlik die Vereniging vir Gesertifiseerde Bedrogondersoekers (ACFE) erken ’n verskeidenheid kwalifikasies en beroepe vir lidmaatskap van die organisasie, onder andere rekenmeesters,

prokureurs en oudpolisielede. Die ACFE vereis egter dat persone sonder ’n BCom- kwalifikasie twee jaar ervaring in bedrogondersoek moet opdoen, vir elke akademiese studiejaar wat sou nodig wees om ‘n BCom kwalifikasie te kry, vir lidmaatskap (ACFE, 2012). Daarom is die term bedrogondersoeker ook ’n voldoende beskrywing vir iemand wat ondersoeke in witboordjiemisdaad uitvoer.

ACFE (2011) dui aan dat dienste deur gesertifiseerde bedrogondersoekers die volgende insluit:

 Ondersoek rekords vir bedrog;

 Voer onderhoude met verdagtes;

 Skryf verslae;

 Lê bevindinge voor;

 Lewer getuienis in die hof;

 Forensiese rekeningkundige analise;

 Hersien finansiële state;

 Herstel data;

 Ondersoek botsende belange;

 Bereken finansiële skade;

 Waardeer besighede;

 Doen korporatiewe ondersoeke;

 Spoor verdoeselde bates op;

 Herkonstrueer rekeningkundige rekords; en

 Doen rekenaarverwante forensiese ondersoeke.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat gesertifiseerde bedrogondersoekers nie dienste aanbied wat slegs met bekamping van bedrog verband hou nie, maar ’n verskeidenheid van ondersoekdienste in verskeie spesialisvelde. Hierin lê die klem

dat nie net finansiële bevoegdheid belangrik is in die ondersoek van witboordjiemisdaad nie, maar ook kennis op ander relevante gebiede.