• No results found

HOOFSTUK 4: DIE AANWENDING VAN FORENSIES-LINGUISTIESE GETUIENIS

4.3 Die belang van forensiese linguistiek vir witboordjiemisdaad

Enige misdadiger wat wys genoeg is, sal so min as moontlik aandag op hom/haarself probeer vestig; uiteraard dan ook witboordjiemisdadigers. Die tradisionele manier om witboordjiemisdadigers te identifiseer, naamlik die fynkam van rekeninge of die ontleding van die vloei van fondse vir verdagte verskynsels, is dus nie in alle gevalle noodwendig effektief nie.

In forensiese rekeningkundige ondersoeke kan relevante inligting in ’n verskeidenheid aantal vorme voorkom, waaronder transaksie data, finansiële state, beleidsdokumente, e-posse, persverklarings en regsopdragte (Ekimoff, 2013). By die ondersoek van witboordjiemisdaad val die klem dus nie slegs op rekeningkundige aspekte nie, maar verskeie ander ondersoekmetodes word ook betrek. Daarom is nie net finansiële inligting van belang nie, maar alle vorme van inligting wat tot die ondersoek kan bydra. In sommige gevalle kan die samewerking van deskundiges op verskeie spesialisgebiede, buiten rekeningkunde, verlang word.

Alhoewel die finansiële omgewing grootliks met syfers eerder as verbale interaksie vereenselwig word, kan transaksies of oordrag van fondse slegs plaasvind op grond van een of ander vorm van linguistiese kommunikasie. Hierdie afhanklikheid van verbale kommunikasie kan aangewend word om misdaad te pleeg. Tekste wat in so ’n ondersoek betrokke kan wees, is byvoorbeeld enige geskrewe korrespondensie tussen medepligtiges. Dikwels is die outeurs van die dokumente onbekend of in geskil.

Aangesien ’n forensiese rekenmeester nie noodwendig oor die nodige deskundigheid beskik om outeurskap van dokumente te bepaal nie, kan die kundigheid van forensiese linguiste van hulp wees vir forensiese rekenmeesters om dokumente in ’n ondersoek te analiseer.

Die forensiese rekenmeester moet al die geskrewe bewyse van ’n verdagte se aktiwiteite insamel en dit aan die forensiese linguis verskaf vir ontleding. Volgens die

metodiek wat in die proses van outeursidentifikasie aangewend word (soos bespreek in hoofstuk 2), blyk dit egter dat soveel as moontlik dokumente van ’n outeur ondersoek moet word ten einde meer akkurate afleidings te maak. Daarom is dit raadsaam vir die forensiese rekenmeester om enige tekste wat tydens die ondersoek aan die lig gekom het, selfs notas deur die verdagte wat nie noodwendig direk met die kwessie verband hou nie, vir vergelykingsdoeleindes aan die taalkundige te gee. Verder kan ander kennis wat die forensiese rekenmeester in sy ondersoek opdoen ook vir die linguis van belang wees, byvoorbeeld watter beroep die verdagte beoefen en ander agtergrondinligting, sodat die linguis kan bepaal of die tekste in die ondersoek met die verdagte se profiel ooreenstem.

Die situasie kan egter ook omgekeer word: forensiese linguistiek kan vir die doel van profilering van moontlike verdagtes aangewend word. ’n Taalkundige kan linguistiese inligting oor ’n outeur insamel wat vir ’n ondersoek van waarde kan wees (Olsson, 2008:94), byvoorbeeld of die outeur ’n eerstetaalspreker is van die taal waarin die teks geskryf is en of die gebruik van tegniese terme iemand se professie kan aandui (Gibbons, 2003:307). Hierdie tipe inligting kan ook tot eliminasie van verdagtes bydra.

Forensiese linguistiek kan verder ’n rol speel in die identifisering van relevante persone om onderhoude mee te voer gedurende ’n ondersoek. Onderhoude kan gevoer word met onder andere getuies, slagoffers en ander individue wat oor inligting beskik wat relevant vir die ondersoek kan wees (Silverstone & Sheetz, 2007:137). Volgens die ACFE (2011:874) is die doel van ’n onderhoud om inligting te bekom. Dit is belangrik vir die ondersoeker om te weet, of om ’n sterk vermoede te hê, van watter kennis die persoon met wie die onderhoud gevoer word, dra (Golden et al., 2006:351). Op grond van sodanige agtergrondkennis kan die ondersoeker vasstel watter inligting bekom kan word by elke persoon wat hy/sy ondervra (ACFE, 2011:874). By wyse van linguistiese analise van tekste wat relevant is tot die ondersoek kan vasgestel word watter persone vir onderhoude genader moet word, asook watter kennis hulle oor die beweerde misdaad het.

’n Hulpmiddel vir ʼn linguistiese ondersoek is die rekenaarprogrammatuur wat tans beskikbaar is om by wyse van taalgebruik ’n persoon se gemoedstoestand oor ’n byvoorbeeld “deurmekaar” of

“geheimsinnig” is, kan dit dui op ’n sogenaamde rooi vlag wat ondersoekers sal help om te bepaal watter persone ondersoek moet word. Dick Oehrle, hooflinguis in ’n ondersoek waar hierdie sagteware gebruik is, beskryf hoe dit werk: ’n aantal e-posse word verwerk sodat die program by die taalgebruik in relevante tekste kan aanpas (Economist, 2012). Die relevante taalgebruik word ingevoer en só weet die program waarop om te konsentreer (Economist, 2012). Woorde soos Facebook of bier kan op persoonlike verhoudings dui, terwyl die frases bel my of kom na my kantoor aandui dat iemand ʼn privaat gesprek wil voer; sodanige buitengewone gesprekke kan beteken dat daar ’n geleentheid vir bedrog bestaan (Economist, 2012). In aansluiting by die bedrogdriehoek, kan frases wat motivering uitlig, soos finansiële nood, ook geïdentifiseer word, en rasionalisering kan gegrond word op die bepaalde gemoedstoestand, byvoorbeeld waar iemand ongelukkig met hulle werk of betaling voorkom (Economist, 2012).

Bogenoemde metode kan waardevol wees vir die opsporing van bedrog, maar ook vir die voorkoming daarvan, wanneer motivering, rasionaal en geleentheid vroeg genoeg bespeur word om die nodige stappe te neem en kontrole in plek te stel. Ook ten opsigte van reaksie is dit belangrik vir vervolgingsdoeleindes om te bewys watter stelsels in plek was vir die opsporing van bedrog. KPMG (2006) skryf die drie onderskeie fases, naamlik voorkoming, opsporing en reaksie, hoog aan vir die bestuur van bedrog. Linguistiese ontleding is dan ’n metode wat regdeur aangewend kan word en is daarom van die uiterste belang by witboordjiemisdaad.

Vinnige tegnologiese vooruitgang in moderne tye bied geleenthede vir nuwe vorme van witboordjiemisdaad, asook geleenthede om sodanige misdade met meer gemak as voorheen uit te voer. Tegnologiese vooruitgang het elektroniese kommunikasiemiddele meegebring in die vorm van elektroniese dokumente soos e- pos en SMS-boodskappe. Dus, waar metodes soos handskrifontleding nie geskik is nie, kan forensies-linguistiese ontledings moontlik dien as ’n alternatiewe manier om outeurskap van dokumente te bepaal (Kotzé, 2012b).

Volgens Olsson (2008:3) vervul linguistiese ondersoekmetodes ’n groeiende rol by die ondersoek van georganiseerde misdaad. ’n Vorm van bedrog waar linguistiese analise gebruik kan word, is by die vermeende vervalsing van testamente. Die geval van die reeksmoordenaar, Harold Shipman, spreek as voorbeeld. Wikipedia (2013)

noem dat Shipman ’n mediese dokter van Nottingham in die Verenigde Koninkryk was. Die dood van minstens 218 van sy pasiënte weens ’n oordosis morfien word aan hom toegeskryf. Shipman is in 2000 aan 15 moorde skuldig bevind en tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Shipman pleeg selfmoord in 2004. Die dogter van een van Shipman se slagoffers merk later op dat haar ma se testament vreemde taalgebruik bevat, en daar word later bewys dat Shipman die testament vervals het sodat hy ongeveer £300 000 sou erf.

Dit kan ingewikkeld wees om die outeurskap van ’n testament te bepaal wanneer daar nie getuies beskikbaar is nie, maar soos Kotzé (2012b) beweer:

In the light of advances in forensic linguistics, it has become possible to determine whether the text in question was created by the testator or testatrix where all the attesting witnesses are dead, incompetent to testify, outside the court’s jurisdiction or untraceable.

’n Geskrewe verslag is die eindproduk van die forensiese rekenmeester se bevindinge uit sy/haar ondersoek en die doel daarvan is om die getuienis op ’n professionele wyse op te som (Zysman, 2006:1). Wanneer linguistiese ondersoekmetodes tot die bevinding bygedra het, behoort dit by die verslag ingesluit te word. Die verslag kan ook gebruik word om die bevindinge in die hof te kommunikeer in gevalle waar die ondersoek tot hofverrigtinge lei.

In sommige gevalle kan die mandaatgewer besluit om nie regsaksie te neem nie, maar nietemin sou relevante linguistiese bevindinge by die verslag ingesluit wees om duidelikheid oor die betrokke aspekte te gee.

4.4 Gevolgtrekking

Die veld van forensiese linguistiek word toenemend in die gebied van witboordjiemisdaad betrek namate bewustheid van die potensiaal van linguistiese analise groei. Linguistiese analise kan aangewend word vir ondersoekdoeleindes om:

 verdagtes te vergelyk en te profileer deur tekste te ontleed om die waarskynlike geografiese afkoms en sosiale en linguistiese voorkeure van die skrywers daarvan te bepaal.

In sommige gevalle lei forensiese rekeningkundige ondersoeke tot getuienislewering in die hof, wat voorlegging van bewysmateriaal verg. Sou linguistiese analises gebruik word om die outeurskap van dokumente in witboordjiemisdaad te bepaal en tot sekere gevolgtrekkings te kom, sou dit belangrike bewysmateriaal in ’n saak uitmaak. Die toelaatbaarheid van forensies-linguistiese getuienis is dus in hierdie opsig ʼn beduidende aspek by witboordjiemisdade.

Al is daar gevalle waar forensies-linguistiese ontledings nie die definitiewe oplossing rakende outeurskap lewer nie, bied dit steeds insig in die inligting wat ontleed word en is daarom steeds ’n relevante ondersoekmetode by witboordjiemisdaad.

Om op te som: Deskundiges in forensiese linguistiek kan hulle insig oor taalgebruik aanwend om die hof by te staan in strafsake waar taalgebruik relevante getuienis uitmaak. Verder kan linguistiese analise ook duidelikheid gee in die ondersoek van sake wat nooit in die hof verskyn nie, en in sommige gevalle kan skuld of onskuld op grond van linguistiese bevindinge bepaal word.

HOOFSTUK 5: DIE MOONTLIKE AANWENDING VAN FORENSIESE