• No results found

DIE STRES EN COPINGPROSES TYDENS DIE KINDERJARE

3.3 COPING ONDER KINDERS

3.4.2 Negatiewe uitkomste

Op grond van Dawes (1990, p. 17) se studies in Suid-Afrika, word daar aangedui dat kinders met kliniese versteurings kan presenteer indien hul geen ondersteuning het nie, en blootgestel word aan oorweldigende trauma soos marteling of die dood van ‘n nabye familielid. Kinders rapporteer simptome soos slaapversteurings, nagmerries, vrese met betrekking tot die polisie en regressiewe gedrag in die vorm van verhoogde afhanklikheid van volwassenes (Skinner & Swartz, 1989). Navorsing oor die impak van traumatiese en gewelddadige episodes in Suid-Afrika het aangedui dat hierdie kinders ‘n betreklike hoë risiko het om posttraumatiese stresversteuring (PTSV), sowel as angs– en depressiewe versteurings te ontwikkel. Aanpassing in ander areas van funksionering kan ook nadelig beїnvloed word, byvoorbeeld akademiese prestasie, portuurgroepverhoudings, ensovoorts. Ander negatiewe uitkomste soos gedragsversteurings, substansverwante versteurings, sosiale- en gesondheidsprobleme, asook selfmoordpogings, is meer prevalent onder kinders wat aan geweld blootgestel is (Ensink, Robertson, Zissis & Lager, 1997).

Die tipe stressor bepaal tot ‘n groot mate hoe kinders sal aanpas. Daar bestaan dus ‘n betekenisvolle variasie in hoe kinders aanpas ná hul blootstelling aan stressors. Sommige

104

studies het getoon dat herhalende blootstelling aan trauma die kind desensitiseer, terwyl ander navorsers bevind het dat dit ‘n kind se kwesbaarheid verhoog (Jansen van Rensburg, 2001; Keppel-Benson, Ollendick & Benson, 2002; Seedat, Van Nood, Vythllingum, Stein & Kaminer, 2000). Dit wil voorkom of gesinsgeweld ‘n groter impak as enige ander vorm van geweld het (Horn & Trickett, 1998). Goleman (1995), sowel as Giaconia, Reinherz, Silverman, Pakiz, Frost en Cohen (1995), voer egter aan dat gewelddadige traumas, bevoorbeeld verkragting, met meer negatiewe uitkomste geassosieer word en hierdie slagoffers ‘n 8 tot 12 keer groter risiko het vir die ontwikkeling van posttraumatiese stresversteuring. In die beginstadiums van aanpassing ervaar kinders dikwels intense angs (Pedro-Carroll, 2001). Selfs al pas kinders aanvanklik goed aan, sluit dit nie die moontlikheid van probleme later uit nie. Dit kan dikwels daartoe lei dat kinders probleme ervaar met die bemeestering van ontwikkelingstake en nuwe uitdagings (Hetherington & Stanley-Hagan, 1999).

3.4.2.1 Samevatting

Negatiewe uitkomste hou dikwels verband met die bepaalde stressor waaraan die kind blootgestel is. Daar is egter ook groepe simptome of afwykings wat voorkom ongeag die aard van die spesifieke stressor, soos byvoorbeeld angs. Wanaanpassing na afloop van ‘n traumatiese gebeurtenis verhoog die moontlikheid van langtermyn probleme met aanpassing. ‘n Belangrike bydrae op die gebied van negatiewe uitkomste is die aanduiding dat daar ‘n komplekse interaksie bestaan tussen risikofaktore, biologiese funksionering, omgewingsfaktore en beskermende faktore, wat gekombineer word om uitkomste te bepaal (Goldstein & Brooks, 2006). Daar is egter ‘n behoefte aan navorsing om te bepaal of die invloed van alle risikofaktore ewe sterk is en dus dieselfde impak op die kind sal hê. Volgens Brooks (2006) wil dit voorkom of daar meer kontinuїteit is met betrekking tot swak aanpassing hoe meer areas van bevoegdheid aangetas is deur die stressor.

105

Met betrekking tot moderatorveranderlikes sal daar aandag geskenk word aan die ouderdom, geslag, ras en sosio-ekonomiese status van die kind.

3.5.1 Ouderdom

Kinders se stressimptome verskil in verhouding tot hul ouderdom en ontwikkelingsvlak. Die kind se ouderdom tydens hul eerste blootstelling aan trauma, kan die langtermynreaksie beїnvloed (Boyden, 2003; Dawes & Tredoux, 1989; Kilpatrick & Williams, 1998). Verskeie outeurs dui aan dat die middelkinderjare ‘n betreklik kwesbare stadium is. In Suid-Afrika is die oorgang van middelkinderjare na adolessensie die tydperk waartydens die meeste kinders blootgestel word aan geweldsmisdade (Dawes, 1990; Buchart, Nell & Seedat, 1996). Resultate van Suid-Afrikaanse studies toon dat met betrekking tot die ontwikkelingstadium van die kind, sal voorskoolse kinders meer geneig wees om te regresseer en in gewelddadige fantasiespel betrokke te raak (Dawes, 1990).

3.5.2 Geslag

Geslag word as ‘n risikofaktor vir sielkundige probleme beskou. Geslag oefen ook ‘n invloed uit op die tipe stressor waaraan die kind blootgestel word (Van der Merwe, 2003). Verskeie studies toon aan dat seuns ‘n hoër risiko as meisies het wanneer hul blootgestel word aan ‘n verskeidenheid stressors, en dit blyk die geval te wees tot in adolessensie (Boyden, 2003). Volgens Dawes (1990) is seuns meer kwesbaar vir die emosionele gevolge van ‘n traumatiese gebeurtenis gedurende die vroeë kinderjare, maar die teenoorgestelde blyk waar te wees tydens adolessensie. In vergelyking met meisies is seuns meer geneig om probleme met die regulering van aandag en gedrag te ervaar na afloop van blootstelling aan ‘n stressor. Seuns is meer kwesbaar vir gedragsversteurings en presenteer meer gereeld met aggressiewe gedrag as meisies. Daarteenoor ervaar meisies meer probleme met emosionele regulering soos geїrriteerdheid, depressie, angs en gemoedskommelinge (Barbarin, 1999). Seuns blyk egter meer stresweerstandig op die lang duur te wees, aangesien die samelewing hul meer geleenthede bied om onafhanklik te wees en om beheer oor hul lewe te neem (Dawes, 1990).

106 3.5.3 Ras

Die verreikende effek van apartheid op Suid-Afrikaanse kinders, en in besonder swart kinders, is reeds goed gedokumenteer (Lockhat & Van Niekerk, 2000). Swart kinders het nie die nodige beskerming van die staat ontvang nie. Hiervolgens word die apartheidsregering beskuldig van doelbewuste en aktiewe kindermishandeling (Lockhat & Van Niekerk, 2000). In Suid-Afrika het studies aangetoon dat swart kinders- en jongmense ‘n groter kans het om slagoffers van misdaad soos geweld te wees, in vergelyking met blanke kinders en jongmense (Burrows, Bowman, Matzopoulos & van Niekerk, 2001). Jansen van Rensburg (2004) rapporteer egter noemenswaardige verskille in die blootstelling van kinders van verskillende rassegroepe aan geweld. Dit is interessant dat die selfmoordsyfers van blanke kinders in Suid-Afrika twee keer hoër is as dié van Indiërkinders en selfs vier keer hoër as die syfers vir swart- en kleurlingkinders (Schlebusch, 2005).

3.5.4 Sosio-ekonomiese status

Baie samelewings tref onderskeid tussen kinders op grond van sosiale groepe. Die gevolg is dat geslag, sosio-ekonomiese klas, ras en ander faktore ‘n betekenisvolle effek het op ervaringe in die kinderjare (Boyden, 2003). Vroeë studies het aangetoon dat diegene met ‘n laer sosio-ekonomiese status, meer geneig is om probleme te ervaar met fisiese– en geestesgesondheid. Hulle rapporteer ook hoër vlakke van stres as diegene met meer sosio- ekonomiese voordele, aangsien hul dikwels in gebiede woon met hoë misdaadsyfers (Adler et al., 1994). Daar bestaan ‘n positiewe korrelasie tussen sosio-ekonomiese status en kinders se sielkundige ontwikkeling en aanpassing (Richter, 2003). Watson (2005) verskil van die voorgenoemde stellings en voer aan dat sosio-ekonomiese status nie sterk verband hou met geluk en welstand nie.

107

Moderatorveranderlikes soos geslag, ouderdom, ras en sosio-ekonomiese klas oefen ‘n belangrike invloed uit op kinders se blootstelling aan stressors en die gevolglike aanpassing. Ouderdom en ontwikkelingsvlak van die kind bepaal tot ‘n groot mate hoe ‘n kind sal reageer op só ‘n gebeutenis. Daar bestaan egter steeds ‘n behoefte aan navorsing op hierdie gebied, aangesien daar min eenstemmigheid tussen hierdie studies bestaan (Kostelny & Garbarino, 1994). Met betrekking tot geslag wil dit voorkom of seuns en meisies ten opsigte van die tipes trauma waaraan hul blootgestel word verskil (Van der Merwe, 2003), en dat meisies meer kwesbaar is om stressimptome te ontwikkel (Govender & Kilian, 2001). Sommige navorsers het egter geen verskil tussen die twee geslagte en die hoeveelheid blootstelling aan trauma gerapporteer nie (Cooley, Turner & Beidel, 1995). Volgens Jansen van Rensburg (2004) is daar in Suid-Afrika beduidende verskille ten opsigte van blootstelling aan geweld onder die verskillende rassegroepe. Kinders vanuit ‘n laer sosio-ekonomiese klas het ‘n groter kans om trauma te beleef en posttraumatiese-stresversteuring te ontwikkel, terwyl die middel- of hoër klas ‘n beskermende funksie kan vervul (Seedat, Van Nood, Vythllingum, Stein & Kaminer, 2000).