• No results found

METODE VAN ONDERSOEK

Sessie 14 Kognitiewe vaardigheid: Aanpasbaarheid

 Rasionaal van die sessie

Om kinders toe te rus met die nodige kennis, vaardighede en houdings om suksesvol aan te pas by verandering.

171

- Om vaardighede in die kinders te ontwikkel om suksesvolle aanpassing by hulle veranderende omgewing te vergemaklik.

- Om bewustheid te verhoog van die verskeie faktore wat hul alreeds tot hulle beskikking het om verandering te kan hanteer.

 Inhoud van die sessie

Tydens die ysbreker is daar verskeie situasies wat met verandering gepaardgaan aan die kinders voorgehou, en hulle moes aandui of hulle al enige van die situasies beleef het en hoe hulle dit ervaar het. Daarna is die eerste aktiwiteit aan die kinders verduidelik. Die klas is gevra om ‘n potensieel stresvolle gebeurtenis te kies, bv. om na ‘n volgende graad te gaan. In kleiner groepe moes hulle dan ‘n werkskaart voltooi waarin hulle aangedui het wat die implikasies van die verandering sou wees en die wyse waarop hulle die oorgang vir hulself makliker kon maak. Daar is ook gekyk na watter faktore die oorgang en hulle gevolglike aanpassing moontlik sou kompliseer. Vir die tweede aktiwiteit het die kinders individueel gewerk aan ‘n werkskaart oor hulle ondersteuningsnetwerk. Die laaste aktiwiteit het behels dat elke kind iets uit klei moes vorm. Die klei is as metafoor gebruik om aan die kinders te verduidelik dat mense buigsaam en aanpasbaar is ten spyte van onaangename ervaringe, soos onvermydelike verandering.

Sessie 15 – Afsluiting

Tydens die afsluitingsessie is daar ‘n kort samevatting van die program gedoen. Die deelnemers het die geleentheid gekry om te sê hoe hulle die program ervaar het en watter aktiwiteite hulle die meeste geniet het. Die navorser het aan elkeen van die deelnemers ‘n oorlewingstassie (“survival kit”) oorhandig en die doel daarvan verduidelik. Die sessie is afgesluit met verversings.

172

5.9 STATISTIESE PROSEDURE

Soos reeds genoem is die Solomon-viergroepontwerp (Braver & Braver, 1988) vir die huidige studie gebruik.

Vir groter duidelikheid ten opsigte van die statistiese ontleding word die ontwerp weer hieronder in Figuur 4 grafies voorgestel.

FIGUUR 4: Grafiese voorstelling van die Solomon-viergroepontwerp Groep Voortoets Ingreep Natoets

1 M1 X M2

2 M3 M4

3 X M5

4 M6

Nota: M = Meting op afhanklike veranderlike; X = eksperimentele ingreep

Die hoofvoordeel van die Solomon-viergroepontwerp is dat die effek van voortoetssensitisering deur middel van hierdie ontwerp ondersoek kan word. Voortoetssensitisering beteken dat indien proefpersone aan ‘n voortoetsing (op afhanklike veranderlike) blootgestel word, hulle sensitief ten opsigte van die eksperimentele ingreep raak, en gevolglik beperk dit die veralgemening van die resultate van ‘n steekproef wat wel ‘n voortoets gedoen het na ‘n populasie waar geen voortoets voorkom nie. Hierdie ontwerp voeg dus tot sy bestaande hoë mate van interne geldigheid ook ‘n groot mate van eksterne geldigheid by.

Die statistiese ontledingstegnieke, soos deur Braver en Braver (1988) aangetoon, wat in hierdie ontwerp gevolg moet word, is redelik ingewikkeld, maar dit is ‘n ontledingswyse wat baie nuttig is om die effek van die eksperimentele ingreep, sowel as van moontlike voortoetssensitisering, te ondersoek. Tydens die aanvanklike fase van die ontledings is dit

173

nodig om die moontlike effek van voortoetssensitisering te ondersoek. Met ander woorde, word M slegs beïnvloed deur X indien ‘n voortoets plaasvind. Indien voortoetssensitisering wel aanwesig is, sal M2 hoër as M4 wees, MAAR M5 sal nie hoër as M6 wees nie. Die

statistiese toets wat hiervoor aangewend kan word, is ‘n 2 x 2 tussengroep variansie- ontleding, of te wel ‘n ANOVA-ontleding, op die vier groepe se natellings. Die twee faktore (hoofeffekte) ter sprake is ingreep (ja/nee) en voortoets (ja/nee). Om met hierdie tegniek te bepaal of voortoetssensitisering voorkom, moet die interaksie tussen genoemde twee faktore ondersoek word.

Indien die interaksie statisties beduidende resultate lewer, word die ontledings met twee toetse opgevolg. In die eerste plek word die twee hoofeffekte (ingreep en voortoets) op groepe 1 en 2 (voortoetsing wel aanwesig) en daarna op groepe 3 en 4 (geen voortoetsing) gedoen. Indien egter wel statisties beduidende resultate gevind sou word, beteken dit dat die ingreep wel ‘n effek het op die groepe wat voortoetsing sowel as die wat nie voortoetsing gehad het nie. Indien geen beduidende resultate in hierdie geval gevind word nie, beteken dit dat voortoetssensitisering wel voorkom en dat die ingreep slegs ‘n invloed het indien voortoetsing aanwesig is.

Indien die interaksie nie statistiese beduidende resultate lewer nie, beteken dit dat geen voortoetssensitisering voorkom nie en moet gevolglik ondersoek word of die ingreep wel ‘n effek getoon het. Om dit te doen, word die ontledings opgevolg deur die invloed van die een hoofeffek (ingreep) op die natellings, te ondersoek. Indien hierdie hoofeffek wel statisties beduidende resultate lewer, beteken dit dat die ingreep ‘n effek het en dat hierdie effek sonder ‘n voorvereiste voorkom. Die stresweerbaarheidsprogram toon met ander woorde wel ‘n beduidende effek op die stresweerbaarheid van die proefpersone, ongeag of daar ‘n voortoets aanwesig was of nie. Indien die hoofeffek (ingreep) egter nie beduidende resultate lewer nie, word die ontledings met ‘n ANCOVA op die natellings opgevolg met die voortoetstellings as die kovariante. Indien met hierdie metode wel ‘n statistiese beduidende resultaat verkry word, kan daar ook tot die gevolgtrekking gekom word dat die ingreep (program) wel ‘n invloed op die afhanklike veranderlike (stresweerbaarheid) uitoefen, ongeag of daar voortoetsing aanwesig was of nie. Indien met hierdie metode (ANCOVA)

174

egter nie beduidende resultate verkry word nie, is die volgende stap om ‘n t-toets vir onafhanklike groepe ten opsigte van die natellings vir groepe 3 en 4 (slegs nametings) te doen. Indien daar in hierdie geval wel beduidende verskille in gemiddeldes verkry word, kan aanvaar word dat die ingreep wel ‘n effek gehad het en enige verdere ontledings kan gestaak word. Indien daar nie beduidende verskille in gemiddeldes verkry word nie, moet die laaste stap gedoen word, en wel deur ‘n meta-ontledingstegniek te gebruik. Hierdie tegniek maak dit moontlik om die resultate van nie-soortgelyke en onafhanklike toetse van dieselfde hipotese statisties te kombineer (Rosenthal, 1978). Met hierdie tegniek word die p-peil van die onderskeie statistiese toetse na ‘n normale afwykingstelling (z) getransformeer. Hierdie z-waardes word dan in ‘n enkele zmeta waarde gekombineer deur

van die volgende formule gebruik te maak:

zmeta = ∑i zpi / √k

Waar zpi die ooreenstemmende z-waarde van die eenkantige p-waarde van die ide

statistiese toets en k die getal sodanige statistiese toetse is.

Die 5 %-peil van beduidendheid is gebruik en die SPSS-programmatuur is vir die ontledings gebruik.

5.10 SAMEVATTING

In hierdie hoofstuk is die navorsingsmetode van die huidige studie toegelig. Die navorsingsontwerp en proefpersone is in meer besonderhede bespreek. Daar is ook aandag gegee aan die wyse waarop die inligting ingesamel is, watter meetinstrumente afgeneem is, die navorsingshipoteses wat ondersoek is, sowel as die statistiese prosedures wat gevolg is. ‘n Deeglike beskrywing van die stresweerbaarheidsprogram is ingesluit.

175 Die resultate van die ondersoek word nou bespreek.

6. INLEIDING

HOOFSTUK 6