• No results found

HOOFSTUK 3: NAVORSINGSMETODE

3.2 NAVORSINGSTRATEGIE

Die navorsingstrategie behels die metodes en tegnieke wat gebruik word om die data in te samel, te analiseer en te interpreteer (Du Plooy, 2001:49; Durrheim, 2002:48). Sodanige strategie behels dus meer as net die plan waarvolgens die navorser deelnemers kry om aan die studie deel te neem en inligting mee te deel soos Welman et al. (2005:52) voorstel. Die navorsingstrategie moet daarom ’n spesifieke plan van aksie verskaf, sodat die studie die spesifieke navorsingsdoelstellings kan bereik (Durrheim, 2002:48-89).

Navorsing kan op een van twee oorhoofse benaderings geskied, naamlik ’n kwantitatiewe en kwalitatiewe benadering, of deur ʼn saamvoeg van dié benaderings (Blaikie, 2000:231; Singh, 2007:122). Hierdie studie maak van ’n verbinding van die twee benaderings gebruik om metodologiese triangulasie daar te stel (sien afdeling 1.6).

3.2.1 DIE KWANTITATIEWE BENADERING

Kwantitatiewe navorsing lê klem op die normatiewe aspek en poog om die sosiale werklikheid objektief te verklaar (Bernard, 2000:418; O’Leary, 2004:99) deur van nommers en die ontleding van statistiek gebruik te maak (O’Leary, 2004:99; Schade, 2007). Schade (2007) omskryf kwantitatiewe navorsing soos volg: “Research conducted for the purpose of obtaining empirical evaluations of attitudes, behaviour or performance. It is designed to generate projectable numerical data about a topic.”

Mouton en Marais (1990:188) verduidelik dat die kwantitatiewe benadering meer geformaliseer sowel as eksplisiet gekontroleerd is. Dit kan wees as gevolg van die feit dat kwantitatiewe data ’n numeriese rekord is wat die resultaat van ’n meetbare proses uitdruk

46 (Singh, 2007:123). Struwig en Stead (2001:4) verduidelik verder dat data op ’n sterk gestruktureerde manier ingesamel word wat nie veel ruimte laat vir afwykings op die voorgestelde struktuur om bykomende data in te samel nie. Dit verskaf ’n hoë vlak van statistiese mag of akkuraatheid en presiese metings (Matveev, 2002; O’Neill, 2006; Shuttleworth, 2008).

Die voordeel van so ’n kwantitatiewe metode is dat dit moontlike verkeerde interpretasies van meer kwalitatiewe metodes kan verminder (Babbie & Mouton, 2001:233). Kwalitatiewe metodes kan soms ruimte laat vir vooroordeling of subjektiwiteit, indien betroubaarheid en geldigheid nie in gedagte gehou word nie (Babbie & Mouton, 2001:233). Daarby word eksterne faktore in kwantitatiewe navorsing ook gefiltreer of uitgeskakel (Shuttleworth, 2008) – wat tot die bogenoemde standpunt bydra. Deur kwantitatiewe navorsing se statistiese krag kan bepaal word wanneer ’n idee, konsep of produk beter is as alternatiewe moontlikhede (Matveev, 2002; Nykiel, 2007).

In hierdie studie het die gebruik van vraelyste daartoe bygedra dat die kwantitatiewe navorsing geformaliseer en gekontroleer was.

3.2.2 DIE KWALITATIEWE BENADERING

In teenstelling met die kwantitatiewe benadering poog die kwalitatiewe benadering om die mens binne die sosiale konteks te verstaan (Marshall, 2005:132). Daar word van interpretasies gebruik gemaak en die benadering is meer holisties; met ander woorde, dit neem die konteks van die deelnemer in ag (Struwig & Stead, 2001:11; Verster, 2009:8). Met kwalitatiewe navorsing word ook gepoog om gevalspesifieke verduidelikings vir die gegewe situasie of die individu te vind (Wimmer & Dominick, 1991:139).

Fouché en Delport, soos aangehaal deur Verster (2009:10), omskryf kwalitatiewe navorsing soos volg: “The qualitative research paradigm in its broadest sense refers to research that elicits participant’s account of meaning, experience of perceptions. It thus involves identifying the participant’s own written or spoken words.” O’Leary (2004:99) en Singh (2007:123) verduidelik kwantitatiewe navorsing verder as die meting van gedrag en die data (deur woorde, prente of struktuurmerkers verteenwoordig) wat deur tematiese ondersoek ontleed word.

Kwalitatiewe navorsing oorkom die nadele van kwantitatiewe data, byvoorbeeld dat dit nie die respondente se motiverings, gevoelens, menings en houdings in ag neem nie (Runciman, 2002). O’Neill (2006) sluit hierby aan deur te stel dat kwantitatiewe navorsing

47 beperk is, aangesien die resultate slegs ’n numeriese beskrywing gee en nie ’n narratiewe beskrywing in fyner besonderhede bied wat die respondent se persepsie insluit nie. Die kwalitatiewe benadering is dus in hierdie navorsing gevolg om respondente se opinies en selfs om van die kwantitatiewe data beter te kon begryp. Die kwalitatiewe metode het in hierdie opsig dus die kwantitatiewe metode aangevul. Gevolglik sou ʼn mens van ʼn gemengde metode vir hierdie studie kon praat.

Die kwalitatiewe navorsingsmetode in die studie het die volgende behels: oop vrae in die vraelys en semi-gestruktureerde onderhoude met werknemers en bestuurslede. Deur die kwalitatiewe benadering kon meer in-diepte-inligting oor kommunikasieprosesse binne ’n spesifieke navorsingsomgewing bekom word (Matveev, 2002).

3.2.3 TRIANGULERING

Wanneer twee of meer navorsingsmetodes gebruik word om data in te samel word dit triangulering genoem (Du Plooy, 2001:39). Dit verhoog die geldigheid en betroubaarheid van die data (Du Plooy, 2001:81). ’n Verbinding van kwantitatiewe en kwalitatiewe navorsingsmetodes is in hierdie studie gebruik om die sterk punte van elke metode te ontgin. Sodoende kon die inligting van die twee metodes mekaar aanvul en kon die navorser meer in-diepte inligting bekom. Kloppers (2005:75) stel dit tereg dat kwalitatiewe metodes aan die kwantitatiewe data konteks verleen.

In hierdie studie was dit verder voordelig om albei metodes te gebruik, aangesien die kwantitatiewe benadering goed werk wanneer daar ʼn groot populasie is en die resultate gestandaardiseer en veralgemeen moes word om al die werknemers van Potchefstroomkampus in te sluit. Daarmee saam kon die kwalitatiewe benadering die respons van kwalitatiewe data ondersteun om sodoende ʼn holistiese beeld te kry. Kwalitatiewe metodes het die respondente ook die geleentheid gebied om opvolgvrae te vrae, wat nie moontlik sou wees indien slegs kwantitatiewe metodes ingespan was nie.

Benewens die metodologiese triangulering het die studie ʼn verdere twee soorte triangulering gebruik (Janesick, 1994:214-215):

 Data-triangulering, deur verskillende databronne te gebruik. Vir hierdie studie is onderhoude met die bestuur van die Institusionele Kantoor asook Potchefstroomkampus-werknemers gevoer om die onderskeie perspektiewe en menings vas te stel en sodoende die navorsingsprobleem toe te lig.

48

 Teoretiese triangulering, deur verskeie perspektiewe te interpreteer en te gebruik om die data te vertolk. In hierdie studie is die excellence-teorie, die simmetriese tweerigtingmodel en die belangegroepverhoudingsteorie gebruik.

GERELATEERDE DOCUMENTEN