• No results found

HOOFSTUK 1. Oriëntasie tot hierdie studie en probleemstelling

1.7 Teoretiese en konseptuele raamwerk

1.8.2 Navorsingsmetodologie

1.8.2.1 Navorsingsbenadering

Die oorhoofse projek waarvan hierdie studie deel uitmaak, berus op ʼn ontwerpgebaseerde benadering (“design-based research”). Die rede hiervoor is dat daar beoog word om ʼn nuwe program te implementeer met die doel om onderwysers se kennis en begrip in verband met inheemse kennis te verbreed. Die projek bestaan uit meer as een siklus, oor die tydperk 2016–2019, om die program te evalueer en om deur middel van refleksie die volgende siklus te verbeter, ten einde die program suksesvol te implementeer. Hierdie studie is deel van Fases 3, 4 en 5 van Siklus 1 wat in Hoofstuk 3 bespreek word.

Hierdie studie is empiries van aard en was ook binne die raamwerk van die sistematiese verkennende/ondersoekende gemengde-benadering gedoen. Kwalitatiewe navorsing bied ʼn subjektiewe, sosiale, kontekstuele, persoonlike en onvoorspelbare studie en resultate (Johnson & Christensen, 2012:34). Dit is toepaslik in hierdie geval omdat ek wou fokus op die onderwyser (persoonlike) in die klaskamer (kontekstueel) wat onderrig deur van die koöperatiewe onderrig- leerstrategie gebruik te maak (sosiaal), in ʼn poging om inheemse kennis te versoen met die (Westerse) skoolkurrikulum en sodoende selfgerigte leer te bevorder. Omdat daar op die onderwyser self gefokus is deur hulle belewing van koöperatiewe leer te bepaal, is die studie subjektief van aard. Die rede waarom hierdie benadering geselekteer is, is dat die navorser toegelaat word om ʼn dieper en meer volledige studie uit te voer (Nieuwenhuis, 2007a:60).

23

Die studie is verder kwalitatief benader, omdat kwalitatiewe navorsers van mening is dat die werklikheid sosiaal gekonstrueer is (Johnson & Christensen, 2012:36). Hierdie studie beskryf (1) die ontwikkeling van ʼn onderwyser professionele ontwikkelingsintervensie met betrekking tot inheemse kennis, (2) onderwysers se deelname aan hierdie intervensie en (3) die oordrag (van dit wat geleer is gedurende die intervensie) wat plaasvind in die klaskamer na afloop van die onderwyser professionele ontwikkelingsintervensie, deur gebruik te maak van data-insamelingsmetodes soos vraelyste, onderhoude, waarnemings en artefakte (byvoorbeeld portefeuljes en die navorsersjoernaal). Die vraelyste is gerig op die insameling van kwalitatiewe data. Dit is waarom daar gefokus was op die onderwyser se belewing in verband met die pedagogie in die klaskamer, die inhoudskennis van lewenswetenskappe en die wesensaard van natuurwetenskappe en inheemse kennissisteme en die mate van oordrag van nuwe kennis en vaardighede.

In die studie is ook beperkte kwantitatiewe data ingesamel, wat die kwalitatiewe data ondersteun. Hierdie is egter nie ʼn gemengde metode (“mixed methods”) studie nie, omdat die kwantitatiewe data bloot gegee word om die kwalitatiewe temas te ondersteun. Die klem deurgaans is geplaas op die onderwysers se belewing van die intervensie en hoe nuwe insigte en kennis toegepas is in die klaskamer deur geselekteerde onderwysers. Hierdie benadering is nuttig wanneer hipoteses geskep is, wat opgevolg word deur gekontroleerde studies soos hierdie een (Fouché et al., 2011:145). Hierdie gemengde navorsingsbenadering maak dit moontlik om die data te beklemtoon en dit het gelei tot diep, ryke inligting om die navorsingsvrae te beantwoord.

1.8.2.2 Filosofiese benadering/paradigma

Die studie is interpretatief benader, wat tot induktiewe gevolgtrekkings en insigte gelei het. Die ontologiese aannames van interpretavisme stel voor dat die realiteit indirek gekonstrueer kan word omdat dit gebaseer is op die individu (in hierdie geval die navorser) se interpretasie en begrip van ʼn spesifieke fenomeen – die betekenis van die deelnemers se belewing (Fouché & Schurink, 2011:309- 310). Verder dui die ontologie aan dat realiteit ontdek kan word deur gebruik te maak van ʼn sistematiese, interaktiewe en metodologiese benadering (Fouché & Schurink, 2011:311).

Interpretatiewe studies streef daarna om menslike ervarings te ondersoek en hulle perspektiewe en sieninge van hul ervarings te bestudeer en beter te verstaan (Gray, 2013:37). In hierdie studie is daar gefokus op lewenswetenskappe-onderwysers se begrip en belewing van ʼn intervensie waarin koöperatiewe leer en inheemse kennis belig is. Ek het dus daarna gestreef om ʼn beter begrip in verband met die onderwysers se belewing en verstaan voor, gedurende en na afloop van die onderwyser professionele ontwikkelingsintervensie te verkry. In hierdie verband het die kwalitatiewe benadering elemente van ʼn fenomenologiese studie besit (omdat die beleefde ervarings [“lived experiences”] van onderwysers bepaal is), maar ek moet uit die staanspoor daarop wys dat hierdie

24

nie ʼn ware fenomenologiese studie is nie. Volgens Fouché en Schurink (2011:311) stel die epistemologiese aannames van die interpretatiewe paradigma voor dat ʼn studie wat op hierdie paradigma gebaseer is, sosiaal konstruktief kan wees deur die betekenis van die fenomeen te ontdek, dit te interpreteer en te verstaan en laastens deur die begrip wat verkry is na afloop van die studie te kan verduidelik.

1.8.2.3 Die beliggaamde, gesitueerde en verspreide kognisie paradigma waarop die projek gebaseer is

Waar die insluiting van inheemse kennis in die Suid-Afrikaanse kurrikulum dikwels vanuit ʼn politieke perspektief bespreek word, is dit in hierdie projek benader vanuit die leerpsigologie. Beliggaamde kognisie (“embodied cognition”) dui volgens Hardy-Vallée en Payette (2008:3)op die inbedding van die brein in die liggaam (en die funksionele integrasie van aksie, persepsie en kognisie wat daaruit vloei), waar gesitueerde kognisie (“situated cognition”) op die inbedding van die brein-liggaam kompleks in ʼn spesifieke omgewing aandui. Verder verduidelik die outeurs dat kognisie nie net beliggaam en gesitueer is nie maar ook versprei (“distributed”) is onder verskeie agente (ʼn persoon of iets wat ʼn aktiewe rol speel of iets produseer wat ʼn gespesifiseerde effek het), artefakte en eksterne strukture (Hardy-Vallée & Payette, 2008:4).

Hierdie paradigma word ook gebruik as rasionaal vir die integrering van inheemse kennis en koöperatiewe leer in die professionele ontwikkeling van onderwysers. Die rede hiervoor is dat kultuur vanaf geboorte eie is aan elke individu se identiteit en is dit daarom belangrik dat die onderwysers (na die kort-leerprogram die leerders ook) hierdie beliggaamde kognisie kan stimuleer deur dit te integreer met sosiale vaardighede sowel as met die inhoudelike kennis.

1.8.3 Navorsingsontwerp

Daar is gebruik gemaak van ʼn gevallestudie-navorsingsontwerp, wat ʼn sistematiese ondersoek in verband met die onderwysers moontlik gemaak het (Bromley, 1990:302). Volgens Fouché en Schurink (2011:320) word die gevallestudie-ontwerp beskou as ʼn keuse van wat bestudeer word eerder as slegs ʼn metodologie van bestudering. Verder is Fouché en Schurink (2011:320) van mening dat navorsers wat ʼn dieper begrip wil hê van die betekenis wat die deelnemers aan hul eie lewens heg, gebruik maak van hierdie ontwerp omrede daar ʼn konteks geskep kan word wat sosiale patrone van die betrokke deelnemers uitbeeld.

Volgens Johnson en Christensen (2012:396) word die intrinsieke gevallestudie-ontwerp gebruik wanneer ʼn navorser se primêre belangstelling geanker word in die begrip van wat ʼn sekere situasie behels en wat die aard daarvan is. Verder meen hulle dat hierdie intrinsieke gevallestudie-ontwerp gewild is onder opvoedingswetenskaplike navorsers en program-evalueerders omdat dit kan bepaal

25

hoe effektief ʼn stelsel of program funksioneer. Die doel van die ontwerp is om ʼn geval as ʼn holistiese entiteit te verstaan, maar ook om die interne funksies van die geval te evalueer om ʼn beter begrip in geheel te kry (Johnson & Christensen, 2012:396). In hierdie studie is daar gefokus op twee gevallestudies, naamlik professionele ontwikkelingsintervensies in Limpopo en Noordwes, onderskeidelik.

ʼn Een-slag gevallestudie ontwerp is gebruik gedurende die kwantitatiewe data-insameling en - analisering. Hierdie ontwerp is gebruik om te bepaal of ʼn gebeurtenis, intervensie of behandeling suksesvol was (Fouché et al., 2011:146). In die geval van hierdie studie is daar gemeet of die professionele ontwikkelingsintervensies onderwysers se begrip, belewing en toepassing van inheemse kennis en die koöperatiewe onderrig-leerstrategie positief verander het. Onderwysers wat by die steekproef ingesluit is (sien paragraaf 1.8.4), is lewenswetenskappe-onderwysers wat ʼn intervensie bygewoon het in Limpopo (by die Universiteit van Limpopo se Turfloopkampus) en Noordwes (by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom).