• No results found

Monna Osoro het gekom (Hoofstad, 25 June 1982)

Hulle was banger vir hom as vir die tokoloshi – dié gemeenskappie wat in die stat teen die heuwelhang gewoon het. Die monna osoro, die vreeslike man, het hulle nog nooit gesien nie, maar ander hét, die mense in die stat daar onder in die vlakte. Hy was al twee keer daar, die monna osoro – man van verskrikking – met die vet, rooi gesig, die man met kakieklere in kruisbande wat in die bakkie met sy geweer kom om die honde te skiet. Saans het die moeders die kinders met die tokoloshi bang gepraat as hulle onnutsig was – die tokoloshi wat soos ’n groot akkedis lyk en regop loop. Maar niemand het die tokoloshi al ooit gesien nie. Een van die vroue het een aand teen skemer ’n geritsel by die fontein gehoor en verskrik met die emmer terug gevlug. Maar sy het niks gesien nie. Soms het hulle hom snags op die gras van die dak hoor snuffel, of soms by die deur en dan met rukkerige asems stil gelê en wag op die geweldige oomblik van sy verskyning. Sy naam het hulle altyd bang gefluister, want anders kon hy dit dalk hoor en dink dat hy geroep word.

Monna osoro het hulle nog sagter gefluister en dan het almal hulle vaal geskrik. Niemand het die kinders ooit met hom gedreig nie, want selfs die noem van sy naam het almal laat bewe. Toe een van die vroue van die stat in die vlakte eendag aangehardloop kom om te sê dat hy daar is, het almal met die honde tussen die rotse van die heuwel gaan wegkruip en geluister na die skote, en eers teen skemer weer teruggekom. In die dag was net die vroue en die kinders daar. Al die mans, behalwe ou Simon met die een oog, het op die lande vér agter die heuwel gewerk. Dan was daar die ses maer honde wat leweloos met lang sterte tussen die bene rondgeloop, of aan die sonkant van die hutte geslaap het. Snags het hulle soms vir die maan geblaf of saggies vir iets geknor – miskien vir die tokoloshi in die gras.

91

The Hoofstad Sketches

Die honde het aan almal behoort, behalwe Phefo, die baster windhond. Hy was die tienjarige Thabo s’n. Toe dié verdwaalde hond eendag by die stat opdaag, het Thabo hom dadelik vir homself geëien en hom die naam Phefo gegee – die wind – omdat Phefo selfs die vinnigste haas kon inloop. Bedags het hulle tussen die polle gaan hase jaag, of soms dassies op die heuwel. Snags, veral in die winter, as die ander honde buite in die ryp gebewe het, het Phefo langs Thabo onder die velkombers geslaap.

Een herfsoggend het al die vroue in ’n kring gesit en pap eet. Ou Simon met die een oog het eenkant naby die kinders gesit. Die honde, nog styf van die koue, het stram rondgeloop. ’n Paar het gelê en bene kou. Die vroue het in die lou son gelag en ’n paar het saggies gesing. Skielik skree ou Simon deur sy skrik: ‘monna osoro!’.

Dié swart naam laat almal in verskillende rigtings kyk. ’n Paar spring op om te vlug, maar bly verlam staan. Die bakkie hou vinnig stil en uit die stofwolk kom hy aangestap, geweer in die hand – monna osoro met die poenskop en rooi gesig. Die kinders het die hutte ingevlug, maar Thabo hurk by Phefo en sit sy arm beskermend om die hond se nek. In vrees het al die vroue opgestaan en merk nou al die besonderhede van die verskriklike man – die vet buik, die kakieklere, die bloedkolletjies op die broek naby die skoene, die groot geweer in die hand. In hul verbeelding, vroeër, was dit net die rooi dik gesig, kruisbande en kakieklere en nêrens die geweer. Maar nou merk hulle alles.

Hy is ongeskeer. Hy het nou ogies en ’n groot mond onder ’n knopneusie. ‘Waarsie liksense?’

Dit klink soos donderweer. So moet die tokoloshi ook praat. Ou Simon kom stram op sy seer bene nader.

‘Waffer liksense baas?’

‘Waffer liksense? Die liksense virrie honne,’ en hy wys na die honde om hom. Sommige ruik aan die bande van die bakkie en ander knor saggies. Thabo hurk nog steeds in vrees by Phefo.

Ou Simon hou sy uitgestrekte palms voor hom oop. ‘Mar hoekom die honne moet liksense hê baas?’ ‘Jy mors my tyd. Het julle liksense of nie? Ek sien niks!’

Hy haal die geweer oor en skiet die hond naaste aan hom. Die verskriklike harde slag en die kruitdamp is soos ’n bose beswering in ’n koorsnag. Die hond tol in die rondte in die stof en bloedmodder. Een van die ander honde vlug verskrik na die naaste hut. Nog ’n skoot klap en die gewonde dier braak bloed teen die kleimuur.

‘So, julle vreksels. Dit sal julle leer om liksense te koop!’

Thabo spring op en sleep Phefo met hom saam. Sy hart klop in sy keel soos hy deur die polle nael en hy voel duislig en naar.

A Composer in Africa

92

‘Stop jou vreksel, stop!’ skree die man en vuur ’n skoot in sy rigting.

Thabo hoor die koeël by hom verbyfluit en struikel van skrik. Agter hom hoor hy hoe die vroue nou hardop begin huil. Dan val nog skote en honde tjank. Thabo hardloop na ’n donga en gaan hygend lê. Phefo staan besluiteloos op die rand.

‘Etla mo Phefo, etla mo,’ fluister hy. Kom hier, kom hier.

’n Ander hond het hulle gevolg en ook op die rand kom staan. Weer ’n skoot klap en die hond val langs Thabo.

‘Kom Phefo,’ fluister hy deur sy droë mond en hardloop met die donga op na die heuwel. Phefo volg hom in die doodsvlug. Vinnig klim hulle tussen die rotse deur na ’n skeur waar hulle altyd gaan sit en kyk na die akkedisse. Sy bors brand van die moeg en skrik en sy arms en bene bloei van die haakdorings waardeur hulle gevlug het.

By die skeur sleep hy Phefo met hom saam die donkerte in en hulle gaan lê agter waar dit klam is. Hy sit sy hand op die hond se vinnig hygende bors en begin huil. Phefo lek sy arm met die rukkende, klewerige tong. Laat die middag eers kruip hy versigtig uit die skeur en kyk af op die stat. Almal is weg. Net die vier dooie honde lê daar rond. Hy sien nog die spore waar die bakkie omgedraai het. Eers teen skemer het hy die moed om af te klim en versigtig terug te gaan. Die honde met hul wasige oop oë was almal styf en taai van die bloed. Binne-in die hutte huil die vroue saggies en ou Simon hoes êrens in die donker. Monna osoro het gekom.

Die klos in die koppie tee