• No results found

Die klos in die koppie tee (Hoofstad, 13 August 1982)

Na werk gaan joernalis Valentyn Jorgensen weer ’n draai by Lala Vader, die bekende rubriekskryfster, in haar woonstel maak.

‘Laas week het jy my byna aan die slaap gepraat met jou teedrink-stories oor deftige madams met krom pinkies en skoothonde,’ sê Lala toe hy sy sit gekry het. ‘Wat voer jy nou in die mou?’

Valentyn gaap agter die rug van sy hand. ‘Nog teestories.’

‘Slaan my dood. Jy en jou beheptheid met tee.’

‘Eintlik haat ek tee, veral daardie bossiesgoed. Ek gorrel dit net as ek seerkeel het,’ sê Valentyn. ‘Koffie kan ek enige tyd met plesier afsluk, maar jy kan nie meer stories oor koffiedrinkery skryf nie. Dit hoort tot ons periode van armoede, droogte en sprinkane …’ ‘En bywoners.’

93

The Hoofstad Sketches

‘En waaroor gaan dit nou?’ wil Lala weet.

‘Jong, dis eintlik ’n ware verhaal – met ’n familielied van my gebeur, ’n neef of so iets – kan nie meer onthou presies wie nie. Die storie is al so lank in die familiemond opgeneem. ‘Die ou gaan toe mos Engeland toe vir verdere studie en vind goedkoop losies in Londen, êrens in ’n straatjie met ’n kronkeling – ’n tipiese ou derderangse losieshuis.

‘Die eerste nag lekker geslaap, ten spyte van die dun, hobbelmatras en vreemde reuk en toe die volgende oggend met sy tra-la-la liedjie gaan aansit by een van die ontbyttafels, tussen die ander strak en blink gesigte en sy hande gevryf. Selfs in Engeland blink al die losiesbewoners se gesigte. Miskien kom dit van goedkoop seep.’

‘Miskien blink dit van welsalige gevoel,’ sê Lala.

‘Maar waarom is hulle dan altyd strak? In elk geval, my neef of wat ook al, het daar tussen die manne gaan indruk, want sewe was reeds om die ronde tafeltjie gepak wat eintlik net vir vier bedoel was. Almal het nouborsie getrek en as een besluit het om te sug of hoes, het die skokgolf deur al agt getrek.

‘Almal het strak voor hulle uitgestaar, soos mense wat op ’n moltrein wag. Maar neef het, met sy elmboë styf teen sy sye vasgepen, sy hande gevryf want hy had lus vir pap, wors en eiers met dik repe spek en twee koppies sterk koffie, of miskien selfs drie. Hy het juis tuis gelees van die “hearty British breakfasts”.

‘Die ou het ook gedink: miskien sal ’n kelnerinnetjie dit bedien, ’n meisie in gestyfde wit met slank gewrigte en breë heupe, ’n allerfraaiste poppie met rooi wangetjies en blou ogies.

‘Toe skielik, het die ou blouneus madame die swaaideur met haar pienk pantoffel oopgeskop en steunend met ’n reuse skinkbord verskyn, nog steeds in haar ou rooi kamerjas, soos dié van ’n ou, verslete Vader Kersfees.

‘Bo oor die skinkbord was die verkreukelde oë, wat gelyk het asof sy daarop geslaap het en langs haar wange het die hompe vet gedril, asof hulle enige oomblik op die skinkbord kon afdrup.

‘Sy het op haar pienk pantoffels nadergeslons, terwyl blou klossies aan lang, geel toutjies aan haar moue geswaai het. Met ’n sug, gemeng met die half verwyt van “dear me” het sy die skinkbord tussen die manne neergesit en toe al rekkende bo oor hulle, die inhoud afgepak. Eers die groot, Engelse teepot, toe die rakkies met geroosterde brood, die koppies, pierings, teelepels en messe en laaste die repiesbotter en ’n klein kelkie marmelade.

‘Elkeen het vir homself ’n bord en koppie en ander dinge gegryp, soos dit losiesprotokol betaam. Jy vra nie. Jy rek en gryp. Dis elmboog teen ribbekas, dis hande wat op pad na die melkbekertjie in die lug bots.

A Composer in Africa

94

‘Madame het besluit om self die tee te skink en toe eers vir neef geskink, omdat hy ’n nuwe gas was en daarna oor hom gerek om vir sy buurman te skink, maar terwyl sy skink, het die blou klos van haar skinkarm ongemerk in neef se tee beland. Eers ’n rukkie bo gedryf en toe stadig afgesak en op die bodem gaan lê en borreltjies opgestuur. Met die orent kom, het sy die druppels van die stomende klos op die tafel gemerk en met ’n “dear me” die teepot neergesit en die klos op die skinkbord uitgedruk. Neef se koppie was nou net driekwart vol en bo op die swart vog het ’n dun lagie vet gedryf.’

‘En jy vertel my dit, dié kru storie, met my koppie tee nog ongedrink,’ protesteer Lala. ‘Wag, nog ’n ding dan verkas ek, want my intermezzo is byna oor.

‘Dieselfde neef, volgens die familiesaga, toer toe later deur Engeland met ’n gehuurde motor “to see for himself how the natives live.” Die pad was nou en kronkelend en die dag troosteloos van die gietende reën. En toe, om ’n draai, merk hy ’n rots wat ver oor die pad hang en onder die rots, in hul reënjasse saamgehurk om ’n primusstofie, ’n gesin van vier, “brewing their mid-morning tea”’.

95

Stefans Grové: