• No results found

Metodes om kredietwaardigheid van resultate te bevorder

NAVORSINGSMETODOLOGIE 5.1 Inleiding

5.5 Geldigheid en betroubaarheid

5.5.1 Metodes om kredietwaardigheid van resultate te bevorder

Daar bestaan verskeie metodes in kwalitatiewe navorsing wat aangewend kan word om die kredietwaardigheid en stabiliteit van die interpretasie van data te bevorder. Veral Guba (1981) se model is in hierdie verband baie relevant. Hy beskryf vier algemene kriteria vir die evaluering van navorsing en definieer dan elk van die kriteria vanuit beide ‘n kwalitatiewe en kwantitatiewe perspektief. Vervolgens word die vier kriteria, asook strategieë om die kriteria te assesseer, slegs vanuit ‘n kwalitatiewe perspektief beskryf. Daar bestaan ‘n groot verskeidenheid strategieë wat nie noodwendig op alle studies van toepassing is nie en slegs die strategieë wat op die betrokke studie van toepassing is, word dus bespreek.

Kredietwaardigheid

In kwalitatiewe navorsing word kredietwaardigheid bepaal deur die ontdekking van menslike ervarings soos wat dit deur die mededelers geleef en ervaar word (Krefting, 1991). Die kredietwaardigheid in kwalitatiewe navorsing is dus subjekgeoriënteerd. Lincoln en Guba (1985) beweer dat dit die navorser se rol is om die verskeie realiteite wat deur die mededelers bekend

gemaak word, so doeltreffend moontlik te beskryf. Tydens die betrokke studie is ‘n deeglike poging aangewend om in hierdie rol te slaag, deurdat video-opnames van groepsessies en woordelikse terugvoer van fasiliteerders asook groeplede se data gebruik is om die verskillende mededelers se realiteite te beskryf. Die bevindinge kan dan getoets word teen verskeie groepe van wie die data ontvang is of teen persone wat bekend is met die verskynsel wat bestudeer word (Lincoln & Guba, 1985). Tydens die betrokke studie is die navorser se bevindinge getoets teen drie van die fasiliteerders wat die groepsproses met die adolessente gefasiliteer het, asook teen ‘n sielkundige wat in privaat praktyk is en nie by die studie betrokke was nie, maar wel intensiewe ervaring van kwalitatiewe navorsing en die toepassing van narratiewe terapie met adolessente het. Dit is bewerkstellig deurdat die onderskeie fasiliteerders en die sielkundige die navorser se navorsingsmetodologie, navorsingresultate, ontleding van navorsingresultate en gevolgtrekkings en aanbevelings bestudeer het en skriftelik terugvoer gegee het oor hoe hulle die navorser se bevindinge beleef het.

Verskeie strategieë kan aangewend word om kredietwaardigheid te verhoog. Leininger (1985) noem ‘n strategie wat die identifisering van herhalende patrone, temas en waardes voorstaan. Die aanwending van spesifiek inhoud-analise as metode fokus baie pertinent op hierdie strategie en verhoog dus die kredietwaardigheid van die studie. Dit is dus belangrik dat genoegsame tyd saam met die persone wat aan die studie deelneem deurgebring word om patrone en temas voldoende te kan identifiseer. Aangesien die praktiese gedeelte van die studie nege maande geduur het, is genoegsame tyd saam met beide die groeplede en die fasiliteerders deurgebring, aangesien verskeie patrone en temas duidelik geïdentifiseer kon word. Kredietwaardigheid word egter bedreig wanneer deelnemers reageer volgens wat hulle dink die mees toepaslike sosiale respons sal wees en sosiale verwagtinge eerder dus as persoonlike ervaring die respons bepaal (Kirk & Miller, 1986). Tydens die betrokke studie is kredietwaardigheid wel bedreig as gevolg van sulke response maar, hoe langer die groepsproses en opleiding egter voortgeduur het en die deelnemers meer ontspanne en spontaan geraak het, hoe meer kon hulle net hulleself wees en het bogenoemde response getaan.

‘n Verdere bedreiging vir kredietwaardigheid kom voor wanneer die navorser so betrokke raak by die mededelers en die proses dat sy nie meer die vermoë het om die resultate te interpreteer nie (Marcus & Fischer, 1986). Om die bedreiging van oorbetrokkenheid te voorkom, kan die strategie van refleksiewe analise gebruik word (Good, Herrera, Good, & Cooper, 1985). Dit sluit ‘n refleksie op die effek wat die navorser se persoonlike geskiedenis op die navorsing het in, en vind

weereens goeie aansluiting by die sosiaal-konstruksionistiese uitgangspunt. Die vraag: Wat is die navorser se storie oor die mededelers se storie? is dus in hierdie geval baie relevant. Indien die navorser en medelers van verskillende kulture is, is dit des te meer ‘n rede vir die navorser om te reflekteer op haar eie konstruksies en hoe dit die data-insameling en -analise beïnvloed (Aamodt, 1982). Soos reeds genoem en uiteengesit in hoofstuk 6, het die navorser tydens die betrokke studie deurlopend gereflekteer op haar persoonlike belewenisse, haar persoonlike lewenstorie, haar kultuur in interaksie met die ander kulture van die fasiliteerders en groeplede, haar begrip van die proses, die deelnemers se begrip van die proses en haar eie voortdurende proses om sin te maak van dit wat gebeur. Refleksiewe analise is dus tydens die studie baie effektief aangewend op verskillende vlakke en wyses om kredietwaardigheid te verhoog.

Volgens Jankowski et al. (2000) verwys selfreflektering spesifiek na die proses waartydens die navorser dink oor haar ervaring met die deelnemers, haar begrip van die verskynsel, die deelnemers se begrip van die verskynsel en haar eie proses om voortdurend sin te maak van dit wat gebeur. Tydens die betrokke studie het die navorser ‘n narratiewe supervisiegroep begin wat bestaan het uit ses sielkundiges wat meer gelees het oor en gereflekteer het op narratiewe-terapiewerk. Hierdie groep het ‘n ruk lank ‘n verdere bydrae gemaak tot die navorser se refleksiwiteit.

Driehoekvorming as strategie kan ook gebruik word om kredietwaardigheid te bevorder. Volgens Knafl en Breitmayer (1989) is daar vier tipes driehoekvorming wat toegepas kan word: driehoekvorming van metodes in data-insameling, driehoekvorming van databronne, teoretiese driehoekvorming en driehoekvorming van ondersoekers. Krefting (1991) beskryf driehoekvorming as die bespreking van resultate met kollegas wat onbetrokke is, maar wel ervaring het van kwalitatiewe navorsing. Hy beweer dat dit bydra tot dieper refleksies en die navorser eerlik hou. Driehoekvorming van ondersoekers is tydens die betrokke studie aangewend deurdat die ontleding van die navorsingsdata soos uiteengesit in hoofstuk 6, en die gevolgtrekkings en aanbevelings, soos uiteengesit in hoofstuk 7, deur die drie fasiliteerders en ‘n sielkundige in privaat praktyk nagegaan is, soos reeds genoem. Al die partye het volledige skriftelike terugvoer gegee in hierdie verband, wat in hoofstuk 6 uiteengesit is.

Verder bevorder vraagstelling tydens die terapeutiese proses ook kredietwaardigheid. May (1989) sê byvoorbeeld dat die herfrasering, herhaling of uitbreiding van vrae tydens verskeie geleenthede

selfde ervaring het? ‘n metode om observasies en betekenisse te verifieer. Die feit dat narratiewe terapie tydens die betrokke studie as terapeutiese raamwerk aangewend is, bevorder kredietwaardigheid by uitstek, aangesien hierdie terapeutiese raamwerk juis primêr gebaseer is op vraagstelling, die herfrasering van vrae, asook die herhaling en uitbreiding van vrae.

Jankowski et al. (2000) verwys na die strategie wat hulle “tussen hakies sit” noem. Indien hierdie strategie aangewend word, moet alle aannames en idees wat voor die implementering van die studie gemaak is, eksplisiet bekend gemaak word en “tussen hakies gesit” word vir almal se kennisname. Die navorser het tydens die betrokke studie veral die aannames en idees wat sy as gevolg van die voorafgaande studie gehad het, “tussen hakies gesit” in ‘n poging om nie die data in ‘n voorafbestaande raamwerk te forseer nie.

‘n Laaste strategie wat gebruik kan word om kredietwaardigheid te bevorder, is dat die terapeut die “weet-nie”-posisie inneem. Indien daar vanuit die sosiaal-konstruksionistiese uitgangspunt te werk gegaan word en narratiewe terapie toegepas word, neem die terapeut doelbewus deurlopend hierdie posisie in (Freedman & Combs, 1996). Volgens Jankowski et al. (2000) en Shotter (1993) word die “weet-nie”-posisie gekenmerk deur nuuskierigheid, samewerking, ‘n openheid om deur die deelnemer of teks ingelig te word, ‘n gewilligheid om voorafgaande kennis en begrip uit te brei, asook ‘n behoefte om die deelnemer se ervaring te verstaan. Indien hierdie posisie ingeneem word, versterk dit die moontlikheid dat die navorser nie die data in ‘n voorafbestaande raamwerk sal forseer nie. Die fokus is dus eerder daarop om ‘n konteks vir die deelnemer daar te stel waarbinne sy haar ervaringe kan ontwikkel en tydens gesprekvoering bekend kan maak (Jankowski et al., 2000).

Die “weet-nie”-posisie het verder tot gevolg dat die hiërargie tussen die navorser en deelnemer in ‘n groot mate afgeplat word en die magsonderskeid verminder word. Hierdie posisie kan dus die navorsingsproses vir die navorser asook die deelnemer in ‘n bevrydende proses omskep en integreer die metodes van “tussen hakies sit” en selfreflektering (Jankowski et al., 2000). Die feit dat narratiewe terapie tydens die betrokke studie as terapeutiese raamwerk aangewend is, bevorder weereens by uitstek kredietwaardigheid op hierdie terrein, aangesien een van die primêre uitgangspunte van hierdie terapeutiese raamwerk is dat die terapeut deurlopend die “weet-nie”-posisie inneem.

Aanpasbaarheid

Dit wil voorkom asof die kriteria van aanpasbaarheid nie werklik van toepassing is op beskrywende studies nie. Volgens Krefting (1991) voldoen kwalitatiewe navorsing aan hierdie kriteria indien die bevindinge in kontekste buite die navorsingsituasie kan inpas. Die betrokke studie se navorsing sal beslis in kontekste buite die navorsingsituasie kan inpas, aangesien dit ook een van die hoof-oogmerke van die studie was om ‘n opleidingsprotokol en terapeutiese intervensie daar te stel wat in verskeie kontekste in Suid-Afrika toegepas kan word. Lincoln en Guba (1985) beweer egter dat hierdie kriterium meer van toepassing is op die persoon wat die bevindinge wil oordra. Solank die oorspronklike navorser genoeg beskrywende data beskikbaar gestel het om vergelykings moontlik te maak, is daar aan die kriterium van oordraagbaarheid voldoen (Lincoln & Guba, 1985; Sandelowski, 1986). Daar is tydens die betrokke studie meer as genoeg data beskikbaar gestel om vergelykings moontlik te maak en dus aan die kriterium van oordraagbaarheid te voldoen.

Betroubaarheid

Guba (1981) beskryf betroubaarheid as opspoorbare veranderlikheid of, anders gestel, veranderlikheid wat toegeskryf kan word aan geïdentifiseerde bronne. Hier gaan dit dus oor die konstantheid van die proses se bevindinge. Volgens Krefting (1991) is een van die belangrikste maniere waarop die betroubaarheid van ‘n studie bepaal kan word, deur die presiese metode van data-insameling, -analise en -interpretasie te beskryf. Versigtige rekordhouding en observasie van ‘n verskeidenheid herhalende gebeurtenisse dra volgens Rich en Ginsburg (1999) ook by tot die betroubaarheid van ‘n studie. Transkripte, foto’s en video-opnames kan herhaaldelik geanaliseer word deur verskillende observeerders en op verskillende oomblikke in tyd (Rich & Ginsburg, 1999). Tydens die studie is die presiese metode van data-insameling, -analise en -interpretasie in detail beskryf en inhoud-analise as metode het verseker dat versigtige rekord gehou word van ‘n verskeidenheid herhalende gebeurtenisse. Transkripte van die video-opnames is ook herhaaldelik, deur verskillende observeerders en op verskillende oomblikke in tyd geanaliseer, soos reeds bespreek.

Neutraliteit

Lincoln en Guba (1985) verskuif die klem van neutraliteit in kwalitatiewe navorsing weg van die navorser en plaas meer klem op die data. Hulle praat ook eerder van bevestigbaarheid as neutraliteit. Guba (1981) noem ‘n strategie wat gebruik kan word om bevestigbaarheid te

outeurs optree na die proses, die produk, data, bevindinge, interpretasies en aanbevelings en gee daarna hulle eie opinie daaroor. Tydens die betrokke studie is hierdie metode aangewend ten opsigte van die fasiliteerders wat die groepsproses gefasiliteer het, maar nie ten opsigte van die groeplede wat die groepsproses deurloop het nie. Die rede hiervoor was dat opvolgkontak met die groeplede nie deel gevorm het van die aanvanklike beplanning van die studie nie. Dit was egter ‘n opvallende leemte in die studie. Hoewel daar op ‘n later stadium oorweeg is om die groeplede wel te betrek was die opspoorbaarheid van groeplede ‘n probleem, aangesien die meeste van die groeplede op daardie stadium reeds die onderskeie skole verlaat het.

Verder is driehoekvorming en refleksiewe analise twee strategieë wat ook toegepas kan word om bevestigbaarheid te bewerkstellig (Guba, 1981). Beide hierdie tegnieke is tydens die studie toegepas, soos reeds bespreek.

Ten slotte kan daar ook genoem word dat die reaktiwiteit van video-opnames moontlik die geldigheid en betroubaarheid van studies kan beïnvloed. Trierweiler, Nagata en Banks (2000) beweer egter dat hoewel video-opnames ‘n ongewone gebeurtenis is, navorsing in die verlede bewys het dat die opname van terapeutiese sessies nie ‘n betekenisvolle verandering in sessies teweeg gebring het nie. Tydens die studie was dit duidelik sigbaar op die video-opnames dat die groeplede en fasiliteerders aanvanklik bewus was van die videokamera, maar na die eerste sessie byna glad nie meer bewus was van die opnames nie.

Tydens hierdie studie is daar dus op twee verskillende narratiewe-analitiese navorsingsmetodes besluit, om die data so effektief moontlik te ontleed. Daar is ook verskeie metodes aangewend om die geldigheid en betroubaarheid van die studie te verseker, aangesien dit ‘n kwalitatiewe studie is. Spesifiek narratiewe-analise en inhoud-analise as kwalitatiewe navorsingsmetodes is in hierdie hoofstuk bespreek en word vervolgens in hoofstuk 6 op die betrokke studie se data van toepassing gemaak.

HOOFSTUK 6

NAVORSINGSDATA EN ONTLEDING