• No results found

Doelwit 3: Subteks 5 Opleies terugvoer:

2. Kommentaar op die doelwitte van die studie

In die volgende gedeelte word die bereiking al dan nie van doelwitte gestel in die studie bespreek. 2.1 Opmerkings oor doelwit een

Doelwit 1: Om ‘n alternatiewe voorkomingsintervensie te ontwikkel wat narratiewe groepterapie as terapeutiese praktyk binne voorkomingsintervensies in Suid-Afrika vestig.

2.1.1 Eerste bevinding:

Noukeurige ondersoek van die data en die proses van data analise het my oortuig dat daar wel verandering gefasiliteer is in die vorm van positiewe uitkomste en die ontgunning van alternatiewe stories in die terapeutiese prosesse met die groepe deelnemers.

2.1.2 Motivering van eerste bevinding en kritiese bespreking:

Ten einde oor die algemene sukses van die proses kommentaar te lewer het ek gekyk of ʼn natuurlike ontwikkelingspatroon identifiseerbaar was in ooreenkoms met byvoorbeeld Gazda (1984) se fases van groepsontwikkeling en proses. Dit was wel moontlik om vanuit transkripsies en refleksies die volgende vier kern fases te herken:

1. Eksplorasie fase (inleidende fase) waartydens groeplede aan mekaar voorgestel is en waar doelwitte van die proses, in hierde studie onder andere deur middel van die twee vrae wat die groeplede skriftelik beantwoord het, blootgelê is. Dit was duidelik dat die lede, soos kenmerkend van hierdie fase, aanvanklik gedrag openbaar het wat afstand gehou het en wat beskermende funksies teen die tipiese onsekerheid en senuweeagtigheid van die nuwe situasie bewerkstellig het. Die fasiliteerders het daarin geslaag om ‘n oop ruimte te skep deur die “weet-nie”- posisie in te neem en kon so die weg oopmaak vir die proses om te beweeg.

2. Tweedens was daar ‘n transisie fase waartydens die groeplede se mate van bereidwilligheid om na toepaslike self-openbaring te beweeg verhoog het. Daar was ook ‘n tendens onder groeplede om tot ‘n dieper vlak van interaksie toe te tree. Die groeplede het minder weerstand begin bied teen die eksplorasie van belaaide emosionele temas. (Voorbeelde: Cloetesville: sessie 4: 10 -23; Sessie 7: 83 – 132)

3. Derdens was daar ook ‘n kenmerkende aksie fase waartydens die groeplede kon eksperimenteer met nuwe gedrag. Daar was duidelik tye wat die groepe byvoorbeeld meer konfronterend kon word, hoewel hulle sensitief was vir kritiek. Terselfdertyd het daar genoeg vertroue ontwikkel binne die groepe vir persoonlike en emosioneel belaaide temas om in die ruimte toegelaat te kon word. Vanuit ‘n narratiewe perspektief kon nuwe moontlikhede tydens hierdie fase ontstaan wat gefasiliteer is deur narratiewe tegnieke soos eksternalisering van die probleem, dekonstruksie van dominante diskoerse, mobilisering van hulpbronne, eksplorasie van alternatiewe stories, ens. (Voorbeelde: Cloetesville: sessie 9: deel 2 reël 30; Sessie 10: deel 2 reël 19, 21, 25,26; Stellenzicht: Sessie 10: 25 – 41)

4. Vierdens kon ‘n terminasie fase geïdentifiseer word waartydens die terapeutiese ‘prestasies’ van die groep versterk is deur onder andere refleksie op betekenisvolle gebeure tydens die groepsproses. Alternatiewe stories is versterk deur byvoorbeeld die betrek van eksterne persone uit die groeplede se lewens as getuies van verandering. Daar is ook afsluitingseremonies ingestel om die terminasie te fasiliteer.

Die feit dat bogenoemde fases herkenbaar is bevestig nie net die dinamiese ontwikkeling wat in die groepe plaasgevind het nie, maar ook die fasilitering van verandering en positiewe uitkomste in die groepsprosesse.

Dit blyk dat die totale terapeutiese proses as bemagtigend ervaar is, dit wil sê dat dit bygedra het tot veranderde lewens-narratiewe en ‘n beter greep op die lewensproblematiek van die groeplede. Daar kan vanuit die temas in die getranskribeerde materiaal tot die gevolgtrekking gekom word dat die narratiewe benadering soos toegepas op groepe nie ‘n dooie teoretiese oriëntasie is nie, maar ‘n effektiewe intervensie wat tot die verandering van gedrag benut kan word.

2.1.3 Tweede bevinding:

Die proses van data analise het gelei tot nuwe insig oor die proses van narratiewe groepterapie. 2.1.4 Motivering van tweede bevinding en kritiese bespreking:

Die navorser was in staat daartoe om ‘n bydrae te lewer tot die verstaan van ‘n narratiewe groepterapie proses. Vanuit die data is daar belangrike verskille aangedui tussen narratiewe groepsprosesse en individuele narratiewe terapie. Daar is ook op problematiek gedui wat ontstaan

groepskohesie, en die vinnige tempo van beweging in die groepsprosesse. Hierdie tipe oorwegings kan beslis tot voordeel wees van ander terapeute en groepe wat betrokke sou wees by soortgelyke intervensies in die toekoms.

2.2 Opmerkings oor doelwit twee:

Doelwit 2: Om ‘n opleidingsprotokol daar te stel wat gebruik kan word om relevante persone in gemeenskappe op te lei om narratiewe groepterapie as alternatiewe voorkomingsintervensie in die gemeenskap toe te pas.

2.2.1 Bevinding

Die opleidingsproses het daarin geslaag om studente te bemagtig om die proses te fasiliteer. 2.2.2 Motivering en kritiese bespreking:

Dit het geblyk dat die fasiliteerders deur middel van die narratiewe benadering daarin kon slaag om die groepe tot groter openheid vir verandering te bring. Weerstand teen verandering is oorkom sodat ruimte vir eksperimentele optrede binne die groep-konteks moontlik was. Die eksperimentele ruimte het ‘n fondasie geskep wat veranderde gedrag buite die konteks van die terapeutiese ruimte moontlik gemaak het.

Dit was in hierdie studie opvallend dat die intervensies dikwels ‘n oorspoel of domino effek op die groeplede gehad het. Dit kan moontlik toegeskryf word aan die sistemiese tendens dat betrokke sisteme en subsisteme mekaar op ‘n wederkerige wyse beïnvloed en na hoër vlakke van openheid verander. Dit bevestig weer die verweefdheid en sirkulêre effek van veranderende sisteme op mekaar. Deur die toepassing van narratiewe tegnieke was dit duidelik dat sekere veranderinge of heraanpassings aangemoedig is. Deur middel van byvoorbeeld die vraagstellingstegnieke wat deur die fasiliteerders gebruik is, is daar onewewigtigheid binne die groepsisteem veroorsaak. Aangesien sisteme altyd tot ʼn toestand van homeostase geneig is, was daar ʼn natuurlike beweging binne die groepsisteem om die onewewigtigheid van die intervensie te oorkom en tot ʼn vlak van ewewigtigheid of bestendigheid aan te pas.

Vanuit die refleksies van die fasiliteerders kom dit aan die lig dat die intervensies as kragtige ingrepe beleef is wat positiewe verandering by die groeplede bewerkstellig het. Die effek van die intervensies is deur beide die narratiewe-analise en die evaluasies van die fasiliteerders bewys.

Namate die totaliteit van die groepsgebeure mettertyd die fasiliteerders se kritiese, teorievaste ingesteldheid oorspoel het, kon hulle die groter groepsproses en die impak van die narratiewe intervensie in sy helende terapeutiese aard ervaar.

Laastens is die gebruik van terapeutiese intervensies waarskynlik terapeut of groepsterapeut spesifiek. ‘n Meer gedetailleerde ondersoek na die wyse waarop sekere groepsterapeute spesifieke strategieë gebruik kan ook lig werp op vrae rondom die effektiwiteit al dan nie van sekere strategiese intervensies by sekere terapeute en onder sekere omstandighede.