• No results found

3.5 Die navorsingsprosedure en tegnieke

3.5.6 Die onderhoudstruktuur (tematisering)

3.5.6.5 Kwessies binne die homoseksuele studentegemeenskap

• Watter subkwessies bestaan in die homoseksuele studentegemeenskap?

• Dink jy die volgende dra by tot subkwessies binne die homoseksuele studentegemeenskap: ras, geslag, geloof, klas (gegrond op inkomste) ensovoorts?

• Speel taalvoorkeur enigsins ’n rol by die openbaringsproses? Waarom?

• Sou ’n student met ’n sterk Christelike opvoeding moeiliker sy/haar seksualiteit aanvaar as ’n student met vrye godsdiensvoorkeure, dit wil sê ’n meer sekulêre benadering? Waarom?

• Word lesbiese verhoudings dieselfde as manlike homoseksuele verhoudings hanteer binne die homoseksuele studentegemeenskap?

• Hoe word biseksuele gedrag binne die homoseksuele studentegemeenskap aanvaar?

• Dink jy aspekte soos klas, geloof, ras en belangstellings is dieselfde beslissende faktore vir motivering om ’n verhouding met iemand te hê binne die homoseksuele verhouding as binne die heteroseksuele verhouding?

3.5.6.6 Ondersteuningsnetwerk

Uit vrae omtrent groepsvorming het die navorser vrae geformuleer ten einde die behoefte vir ’n ondersteuningsgroep te toets. Volgens Higgins en Buttler (1982) vorm afwykendes soms groepe wat mekaar moreel en emosioneel ondersteun. Die doel van dié groep is dan ook om hul afwyking te regverdig. Hulle stel vir lede ’n stel “reëls” op wat tot ’n solidariteitsgevoel bydra. Die navorser het dus vrae gestel om die behoefte al dan nie vir ondersteuningsnetwerke te toets.

Deelname aan die groep kan ook sekere voordele vir die individu inhou. Vrae hieroor is ook gestel en vergelykings oor sosiale interaksie met die konvensionele groep kon getref word, tussen individue wat nie aan ’n groep behoort nie en individue wat wel aan ’n groep behoort (sien hoofstuk 4). Binne groepe kan ook subafdelings voorkom, waar ’n aparte groep afwykendes na vore sal kom wat wel tot die konvensionele wil konformeer en dan die res van die afwykende groep sal vermy. (Dit het duidelik in die onderhoude na vore gekom. Sien veral die onderhoud met Henk in hoofstuk 4). Die volgende vrae rakende ’n ondersteuningsnetwerk is gevra:

• Het jou familieopset ’n rol gespeel in die wyse van erkenning/ontkenning van jou seksuele oriëntasie? Hieruit kon afgelei word of die student se familieopset

enige bydrae tot die gemaklikheid van die openbaringsproses gehad het.

• Hoe ontvanklik dink jy is Stellenbosch se heteroseksuele studentegemeenskap vir homo-/biseksuele studente?

• Dink jy daar bestaan ’n platform waar studente hul mening ten opsigte van die fokus op diversiteit van die studentebevolking, spesifiek ten opsigte van seksuele oriëntasie, kan lug?

• Is jy bewus van enige studente-ondersteuningsgroep waar homo-/biseksuele studente vir hulp kan aanklop indien hulle die slagoffers van homofobie of teistering is?

• Is jy bewus van enige geïnstitusionaliseerde afdeling van die universiteit waar programme in plek is wat homo-/biseksuele studente kan help wat emosionele probleme ervaar wat uit hul seksuele oriëntasie spruit?

• Indien wel, het jy al van die studentevereniging of afdeling se hulp gebruik gemaak?

• Hoe het jy nuwe vriende gemaak?

• Is daar uithangplekke wat gereeld deur homo-/biseksuele studente besoek word? Waarom juis dié plek? Die doel van hierdie vraag is om uit te vind

waarom juis díe plekke deur die homo-/biseksuele studente besoek word.

• Sou jy die vrymoedigheid hê om sosiale funksies met jou metgesel by te woon, selfs al is die meeste gaste heteroseksueel? Die doel van hierdie vraag is om vas

te stel of homo-/biseksuele studente genoegsame ondersteuning het om wel díe tipe funksies by te woon, en verdedigings-/oorlewingstegnieke aangeleer het om sosiale uitsluiting te hanteer.

Na afloop van elke onderhoud het die transkripsie van die onderhoude plaasgevind (stap 4).

3.6 Probleme

Kwalitatiewe navorsing hou vier kernprobleme in, naamlik geldigheid, veralgemening, objektiwiteit en geloofwaardigheid, waarvan interne en eksterne geldigheid seker die algemeenste probleme is (Dooley, 1995: 272; Robson, 1993: 67). In hierdie geval sou daar geargumenteer kon word dat, vanweë die feit dat die navorsing grotendeels op die opinies van ’n beperkte aantal vrywilligers gebaseer is, die studie sou kon veralgemeen, met ander woorde dat eksterne geldigheid nie nagekom is nie. Dieselfde bedreiging geld ook vir interne geldigheid, naamlik dat die navorser moontlik afleidings kon maak deur veranderlikes met mekaar te verbind wat nie noodwendig ’n invloed op mekaar gehad het nie. ’n Voorbeeld hiervan is die aanname, omdat die meeste vrywilligers wat uit die kas is Engelssprekend is en Engelssprekendes ’n meer liberale houding jeens seksualiteit openbaar, dat meer Afrikaanssprekende as Engelssprekende studente nog in die kas is. (In hierdie geval toon die bevindings in hoofstuk 4 tog ’n beduidende verhouding.)

Omdat die navorsing uitsluitlik op die weergawe en interpretasies van 14 studente berus het, bestaan die moontlikheid dat dit nie die absolute waarheid is nie. Tog moet die vraag gestel word of die doel van hierdie tesis is om die absolute waarheid te

bekom, of om ervarings van die sosiale wêreld met ander te deel. Die navorser stem saam met Silverman (1997: 100) dat navorsing nie ’n spieëlbeeld kan verskaf van die sosiale wêreld waarna positiviste strewe nie, maar dat dit wel toegang kan verkry tot die betekenis wat mense aan hul ervarings van die sosiale wêreld heg.

Verder kon die identiteit van die navorser (dit wil sê dat sy ’n bruin heteroseksuele vrou en ’n personeellid van die Universiteit Stellenbosch is) moontlik ook ’n invloed op die antwoorde van die vrywilligers hê. Daar moes in ag geneem word dat haar waardes, belangstellings en moontlike vooropgestelde idees moontlik ’n bedreiging vir objektiwiteit kon inhou.

Met betrekking tot die geloofwaardigheidsaspek van hierdie studie, was dit vir die navorser belangrik om gedurig na die teorieë te verwys om te toets of die bevindings wel geloofwaardig was, al dan nie. Dit was dus belangrik om volledige inligting weer te gee, en waar vrywilligers oor hul eie opinies onseker was , moes sy dit so aandui.

Hoofstuk 4

Bevindings

4.1 Inleiding

Hierdie hoofstuk bied eerstens ’n kort agtergrondskets van elke student, waarna elke tema wat in hoofstuk 3 geïdentifiseer is afsonderlik bespreek word deur die terugvoering wat van elke student ontvang is, weer te gee.

Tabel 1: Opsommende profiel van studente5

N= 14

Naam Geslag Ras Koshuis/ Privaat In/ Uit die kas Homo/ Biseksueel Eerstejaar/ Senior Studie- rigting

Zoë Vroulik Wit Koshuis Uit Homoseksueel Eerste Regte Marí Vroulik Wit Koshuis In Homoseksueel Eerste Landbou Steve Manlik Bruin Koshuis Uit Homoseksueel Senior Medies Thandi Vroulik Swart Koshuis In Biseksueel Eerste Medies Heike Vroulik Wit Koshuis In Biseksueel Eerste BSc

Henk Manlik Wit Privaat Uit Homoseksueel Senior BComm

Tertius Manlik Wit Privaat In Homoseksueel Senior Drama Matthew Manlik Wit Privaat Uit Homoseksueel Senior Medies Wynand Manlik Wit Koshuis In Homoseksueel Senior BRek Leana Vroulik Wit Koshuis In Biseksueel Eerste Regte Hennie Manlik Wit Privaat Uit Homoseksueel Senior BComm Chloë Vroulik Bruin Privaat Uit Homoseksueel Eerste Regte David Manlik Bruin Koshuis In Homoseksueel Senior BComm Vashti Vroulik Wit Privaat Uit Homoseksueel Senior Joernalistiek