• No results found

2.3 Implikasies van homofobie

2.3.2 Die openbaringsproses

Kline en Wells (1986) sluit aan by Woodman (1989) se studie deurdat hulle fokus op die faktore wat bepaal wanneer en tot wie die homoseksuele student sy seksuele oriëntasie sal openbaar. Soos reeds genoem, het die homoseksuele persoon verskeie vrese. Een van die grootste vrese wat die homoseksuele student in die gesig staar, is die verlies aan ondersteuning van familie en vriende. Ten einde te bepaal waarom homoseksuele studente hul seksuele oriëntasie juis aan die spesifieke persoon openbaar het, is ’n vraelys met ’n aantal oop vrae aan 23 manlike en 17 vroulike studente gegee. Dit het uit Kline en Wells (1986) studie duidelik geword dat die meeste studente se grootste vrees was dat die persone wat hulle gekies het, hulle sal veroordeel. Die meeste het gereken dat, alhoewel hul sou verkies dat hul seksuele oriëntasie bekend gemaak moes word, hulle eenvoudig nie die risiko wou loop om deur hul familie, vriende en kollegas verwerp te word nie. Kline en Wells (1986) kom tot die gevolgtrekking dat, alhoewel die ideaal is dat homoseksueles ’n sorgvrye openbaringsproses ervaar, die meeste nie bereid is om die kans te waag nie en daarom eerder sal swyg. Dit voed die bose kringloop, wat verhoed dat die heteroseksuele gemeenskap hul stereotipes verminder en so ook hul homofobie.

Die openbaringsproses kan ook verdeel word in verskeie fases, d.w.s die homo-en biseksuele student kan dus in verskeie fases van sy/ haar openbaringsproses wees wat indirek ook sy/haar interaksie met die heteroseksuele gemeenskap sou kon beïnvloed. Blumenfeld en Raymond (1989: 88) verwys na Cass se ses stappe van die openbaringsproses. Haar model is gegrond op die uitgangspunt dat persoonlike identiteit in ’n interaktiewe proses tussen individue en hul omgewing ontwikkel. Hierdie ses stappe is ook onderling verbind en sluit die volgende in:

1) Stap 1: Identiteitkrisis, die “wie is ek”-fase.

2) Stap 2: Identiteitsvergelyking, waartydens die persoon moontlik kan redeneer dat dit slegs ’n fase is waardeur hy/sy gaan.

3) Stap 3: Identiteitsverdraagsaamheid, waartydens die persoon heel waarskynlik reeds aanvaar het dat hy/sy homo-/biseksueel kan wees.

4) Stap 4: Identiteitsaanvaarding, waartydens die persoon reeds die vrae “wie is ek” en “waar pas ek in” aan hom-/haarself beantwoord het, die geselskap van ander homo- en biseksueles opsoek, en vriendskappe sluit.

5) Stap 5: Identiteitstrots, ook gekenmerk as die “dit-is-my-mense”-fase, waartydens die persoon werklik trots is op wie hy/sy is, meer oor die homoseksuele lewenstyl lees en intensief deel van die subkultuur raak. Hierdie stap word ook deur woede teenoor heteroseksueles gekenmerk.

6) Stap 6: Identiteitsintese, waartydens die persoon intense woede teenoor heteroseksueles ervaar en gedurig na “hulle” en “ons” verwys. Die woede word egter minder intens as in stap 5 en die persoon erken selfs dat daar heteroseksueles is wat hy/sy kan vertrou en wat hom/haar aanvaar en ondersteun.

Bogenoemde ses stappe word by 4.3.1 verder bespreek. Daar word ook beskryf watter studente wat vir hierdie studie gebruik is, onder elk van bogenoemde stappe ressorteer.

Volgens D’Augelli (1992) is een van die redes waarom studente gewoonlik vir navorsing gebruik word, juis die feit dat hul identiteite gedurende hul universiteitsjare nog in die ontwikkelingstadium is. Hy voer aan dat die homo- en biseksuele student juis tydens sy/haar studentejare uit die kas sal kom. Dit is dan wanneer studente gewoonlik vir die eerste keer weg van hul familie is, en dit is dikwels die stadium waarin hulle hul ontluikende gevoelens met hul tydgenote deel. In die heteroseksuele student se geval sou dit nie problematies wees nie, maar wel in die geval van die homo- en biseksuele student. Hulle neem soms die normatiewe heteroseksuele rol aan bloot om aanvaar te word (Boxer & Cohler, 1989; D’Augelli, 1991; D’Augelli 1992: 383).

Diegene wat wel die moed het om uit die kas te klim, bou gou ’n stewige netwerk van homoseksuele vriende op kampus op (sien ook die bespreking in hoofstuk 4, met

verwysing na Rogers en Buffalo (1974) se strategieë). Dit is gewoonlik mense wat dieselfde probleme as hulle ervaar en as ’n ondersteunende netwerk funksioneer. Geleidelik kring hul homoseksuele status uit totdat lede van die heteroseksuele gemeenskap daarvan te hore kom. Dit kan tot teistering lei, wat van verbale teistering tot fisiese teistering kan wissel. Omdat dié tipe teistering nie net van hul medestudente af kom nie, maar dikwels ook vanaf personeellede, hou dit ernstige implikasies vir die ontwikkeling van die individu se akademiese en professionele loopbaan in (sien ook Burns, 1990). Vorige studies van D’Augelli (1989b; D’Augelli & Rose, 1990) dui daarop dat 75% van die homoseksuele mans en vroue wat die vraelys voltooi het verbaal geteister is, 25% al gewelddadig geteister is en baie ander in vrees op kampus leef. In D’Augelli se ander studie met Huiskomiteelede (D’Augelli, 1989c) (sien afdeling 2.4.1) het studente egter ontken dat teistering van enige aard op kampus plaasvind.

Wat ook duidelik in D’Augelli (1992) na vore kom, is die latere aanvaarding van homofobie as vanselfsprekend, wat op sigself die openbaringsproses kelder. D’Augelli (1992) gaan van die standpunt uit dat die tipe teistering wat op kampus ondervind word, ’n weerspieëling van teistering in die breër gemeenskap is. Homoseksueles worstel met die elemente van “hiding vs disclosure” en assosieer “disclosure” met teistering. “Hiding”, daarenteen, is ’n duur prys om te betaal vir die wandade van die gemeenskap; juis daarom word openbaring aangemoedig. Burns (1990) stel dit as “silence=death”.

2.4 Geïnstitusionaliseerde ondersteuningsprogramme

Hierdie afdeling fokus op die belangrikheid van ondersteuningsnetwerke, hetsy deur middel van organisasies, tydgenote, sielkundiges of universiteitsamptenare. Dit toon die belangrikheid van die vestiging van ’n homofobie-vrye kampuskultuur en die insluiting daarvan in die oriënteringsprogramme van universiteite.