• No results found

Kulturele toeëiening en meerderwaardigheidsproblematiek

Hoofstuk 2 Hosh Tokolosh as simboliese koloniale speelveld

2.2 Die sogenaamde norm van kulturele hegemonie

2.2.1 Kulturele toeëiening en meerderwaardigheidsproblematiek

Keene (in Duggan, 2014) se aanhaling, wat as epigraaf tot hierdie hoofstuk gebruik is, beklemtoon dat daar asimmetriese magsbalans by kulturele toeëiening aanwesig is. Een van die redes hiervoor is omdat daar hegemoniese dominante en

gemarginaliseerde spelers betrokke is. Die ongelykheid wat tussen kulture bestaan beteken dat mag in die hand van die dominante groep is. Kulturele hegemonie wys op die outoriteit wat een kultuur oor ʼn ander kan hê. Dit is belangrik om die

superieure dimensie wat met kulturele hegemonie gepaardgaan te ondersoek, aangesien hierdie dimensie met kulturele toeëiening verband hou. Kulturele

hegemonie en kulturele toeëiening behels albei ʼn mate van meerderwaardigheid en verwys spesifiek na ʼn superioriteitsaspek van kultuur. Ek het reeds vasgestel dat daar ʼn verband tussen hegemonie en kolonialisme is. In hierdie afdeling neem ek hierdie argument verder en verskuif die fokus om kulturele toeëiening in te sluit. Hegemonie is as instrument gebruik om die gekoloniseerde/gemarginaliseerde se gedagtes en perspektiewe te beïnvloed. Invloedryke platforms soos die ekonomie en opvoedingsisteem is hierby betrek. Op dieselfde manier word die media byvoorbeeld

23 In ʼn hegemoniese kultuur bestaan daar ook ʼn teenpool, naamlik “kontra-hegemoniese” kulture wat

teen die ideologiese kultuur in opstand kom (vgl. Im, 1991:126). Hierdie kulture ontstaan weens die feit dat daar nooit ʼn universele ooreenstemming rakende oortuigings sal wees nie. Deur hierdie konflik word ʼn skuif in kulturele oortuigingsmoontlik (vgl. Boon, 1982:ix).

28

gebruik om groepe se gedagtes oor ʼn kultuur te beïnvloed. Die grootste verband wat hegemonie met kolonialisme en kulturele toeëiening het, is ʼn perspektief van

meerderwaardigheid teenoor die gemarginaliseerde kultuur. Dominante kulture (hetsy dit die kolonialiste of hegemoniese kultuur is), besluit dat hulle perspektiewe en norme die standaard moet wees. Die dominante kultuur het hegemoniese mag aan hulle kant en kan hierdeur hegemoniese voordeel trek bloot as gevolg van ʼn posisie.

Binne die raamwerk van kulturele toeëiening word hegemoniese mag ook as ʼn instrument vir dominering gebruik. Hierdeur is dit moontlik om enige ander kultuur uit die sentrum te skuif en as marginaal uit te maak. Sistematiese onderdrukking speel ook ʼn groot rol in kulturele toeëiening, omdat dit die behoud van hegemoniese mag verseker. Kontemporêre kulture, in aansluiting met Shohat (1992:106) se

oortuigende argument, word gekenmerk aan onderliggende spanning. Wrywing tussen die amptelike nadraai van wetlike kolonialisme teenoor die aanhoudelike aanwesigheid van hierdie onderdrukking deur hedendaagse hegemoniese strukture veroorsaak die spanning wat met kulture aanwesig is. Die verwysing na hegemonie binne in ʼn kulturele konteks wys opsig self na kulturele hegemonie veral met

betrekking tot die diskoers van kontemporêre kwessies soos kulturele toeëiening. Soos wat daar in ʼn hegemoniese ruimte besluit word watter norme in almal se beste belang is, argumenteer ek, in aansluiting by Scafidi (2005:42-44; vgl. ook Born & Hesmondhalgh, 2000:3), dat dieselfde met kulturele produkte gedoen word. Dominante kulture is nie aangetrokke tot die volle omvang van die

gemarginaliseerde kultuur nie en besluit watter produkte van estetiese belang vir hulle is. Gemarginaliseerde kulture het ook nie altyd die keuse om hulle produkte terug te neem nie. Die produk is reeds tot so mate deel van die media en

hoofstroomsamelewing dat dit onmoontlik is om dit te onttrek (vgl. Scafidi, 2005:53; Young, 2005). Alhoewel daar dalk produkte van die gemarginaliseerde in die

oorheersende kultuur gebruik word, word die oorspronklike historiese narratief nie noodwendig aan die produk gekoppel nie. Onderdrukking en historiese onreg

teenoor gemarginaliseerde kulture word nie deur die dominante kultuur erken nie. As gevolg hiervan vind verdere onreg, wat die bespotting van gemarginaliseerde kulture insluit, plaas (vgl. Young, 2005:137-139). Dit kan ook wees dat die dominante kultuur ʼn nuwe geskiedenis vir die produk skep om sodoende die hegemoniese narratief te

29

bevestig en die teenwoordigheid van die produk in hierdie nuwe ruimte te rasionaliseer.

Die media speel ʼn belangrike rol in kulturele hegemonie en kulturele toeëiening (vgl. Hall, 1997). Weens die media en ander platforms soos sosiale media, kan

ongeregtighede teenoor kultuur baie vinniger as in die verlede tot die voorgrond kom. Stemme wat voorheen stilgemaak is deur koloniale oorheersing het nou die geleentheid om openbare platforms te benut. Die feit dat dit makliker is om dade van kulturele toeëiening te ontbloot, is een rede vir die angs en spanning wat in die ruimte van kulture toeëiening teenwoordig is.

Vanweë die toeganklikheid van byvoorbeeld sosiale media platforms, word dit makliker dat kulturele toeëiening binne hierdie ruimtes uitspeel. Terselfdertyd word argumente oor kulturele toeëiening onder die kollig geplaas en dikwels uitgemaak as ʼn ongeldige gebeurtenis, weens die globaliserende aard van sosiale media. Vanuit hierdie perspektief word toeëiening nie so skadelik aanskou nie (vgl. Ziff & Roa, 1997:8; Ruiz, 2017; Chen, 2018; Sidhu & Singh, 2018). Van die argumente wat deur hierdie bronne aangehaal word, is dat alle kulture ʼn mate van uitruiling ervaar. Daar is geen kultuur wat “suiwer” is nie. Alhoewel daar waarhede in hierdie argument is, is die problematiek vir hierdie verhandeling wel die wyse waarop hierdie uitruiling plaasvind. Kulture is vloeibaar en sal nooit ophou vermeng nie, maar volgens Young (2000:302-304) kan die wyse waarop kulturele produkte uitgeruil word met ʼn groter omsigtigheid gedoen word. Daarom argumenteer ek dat kulturele toeëiening nie net skadelik is nie, maar ʼn problematiese verskynsel is.

Kulturele hegemonie is die meganisme wat gebruik word om kulturele toeëiening ongesiens verby te laat gaan. Die dominante kultuur het moontlik geen kennis oor die onreg wat aan gemarginaliseerde kulture gedoen word nie en is net bewus van hulle eie kulturele aanwesigheid. Die onreg teenoor gemarginaliseerde kulture is gewoon nie ʼn kwessie vir die dominante kultuur nie. Wanneer kulturele toeëiening geskied, is die boodskap wat oorgedra word deur onder andere media en opvoeding dat die dominante kultuur steeds heers en prominent is. Daarby word die

gemarginaliseerde kultuur weereens sistematies onderdruk. Die dominante kultuur onderhou die posisie van die sogenaamde norm en hou vol dat dit die “beste uitweg” vir almal is.

30

Kulturele hegemonie bepaal die status quo van die gemeenskap op verskeie vlakke. Deur herhaaldelike beelde van Europese ideale deur die media te laat syfer, word enige beeld wat nie by hierdie uitbeelding inpas nie as afwykend beskou. In die geval waar ʼn persoon van die dominante kultuur hierdie afwykende beeld kultureel toeëien, word hulle geprys vir hul “gewaagdheid” (vgl. Hosie, 2018; Petter, 2018). Deur kulturele hegemonie word kenmerke wat “onnatuurlik” vir die dominante kultuur, maar wat “natuurlik” vir die gemarginaliseerde kultuur is, as sodanig uitgebeeld. Hierdie “onnatuurlike” attribute versterk en bevorder die dominante kultuur se standaarde binne ʼn dominante magstruktuur. Europese ideologieë word derhalwe steeds deur kulturele hegemoniese platforms bevorder selfs al sluit dit kulturele toeëiening en oënskynlik “afwykende” beelde in.

The hegemonic structures and conceptual framework generated over the last five hundred years cannot be vanquished by waving the magical wand of the “post-colonial” (Shohat, 1992:105).

Shohat voer aan dat hedendaagse problematiek en onderliggende kwessies rakende [kulturele] hegemonie, en argumentsonthalwe kulturele toeëiening,

gekontekstualiseer moet word vanuit ʼn historiese begrip van onderdrukking. Die nalatenskap van hierdie strukturele en kulturele probleme kan nie net blatant geïgnoreer word nie. Ongeag of amptelike koloniale oppergesag beëindig is, beteken dit nie dat hierdie onderdrukking bloot opgehou het nie. Die verhouding tussen die dominante en gemarginaliseerde kultuur, hetsy dit binne die konteks van kulturele toeëiening of kulturele hegemonie geskied, word gekonstrueer binne die raamwerk van ʼn ongelyke magsverhouding wat assosiasies met ʼn koloniale ruimte oproep. ʼn Wanbalans van mag kom onder andere weens ʼn hegemoniese

ingesteldheid tot stand. Ek argumenteer, ter ondersteuning van Shohat (1992), dat globale dominante hegemoniese mag steeds voortbestaan op ander onderliggende maniere as openlike koloniale heerskappy. Binne ʼn neo-koloniale24 raamwerk is

24 Neo-kolonialisme wys op politieke of ekonomiese beheer oor “minder ontwikkelde” lande (vgl.

Stoneman & Suckling, 1987:516-517). Anders as kolonialisme, vind neo-kolonialisme se uitbuiting en onderdrukking nie op ʼn blatante wyse plaas nie. Oorspronklik is die konstruk gebruik om uit te wys hoe Europese beleide gebruik is om steeds beheer oor gekolonialiseerde lande, soos dié van Afrika, te behou (vgl. Serequeberhan, 1998; Vysotskia & Schultz, 1976:12; Domatob, 1988). Ek neem kennis van die aanwesige verbande met neo-koloniaisme, alhoewel ek nie in hierdie verhandeling daarop fokus nie.

31

hegemonie steeds van toepassing omdat hedendaagse kulturele onderdrukking voortgaan.

Uit die bespreking van kulturele toeëiening en hegemonie hierbo blyk dit dat hegemonie aanleiding gee tot die perspektief waaruit kulturele produkte van gemarginaliseerde kulture benader word. Soos wat kulturele hegemonie op ʼn onderliggende dimensie uitspeel, is dit ook hoe hierdie dominansie in kulturele toeëiening teenwoordig is. Hegemonie is ingebed in dade van kulturele toeëiening en daarom is dit belangrik om die dominante perspektief waarvan uit kulturele toeëiening plaasvind, te begryp.