• No results found

Kritiese evaluering van die Vyffaktor-model van

HOOFSTUK 1 INLEIDING, PROBLEEMSTELLING, DOEL, METODE

2.4 DIE ONTWIKKELING VAN DIE TREKBENADERING TOT

2.4.7 Kritiese evaluering van die Vyffaktor-model van

persoonlikheid en Vyffaktor-teorie van persoonlikheid

Wetenskaplikes kan daarop aanspraak maak om iets te ontwikkel, maar tensy ander wetenskaplikes hierdie werk kan herhaal met soortgelyke resultate, word dit nie aanvaar as ’n wetenskaplike feit nie. Die NEO PI-R (Costa & McCrae, 1992) en NEO-FFI (Costa & McCrae, 1992) is vertaal in meer as 40 tale en die struktuur is min of meer gerepliseer in elke geval wat

onder andere Portugees, Duits, Israeli, Chinees, Koreaans en Japanees insluit, in ag geneem word. Daar bestaan verder genoegsame bewyse dat al vyf persoonlikheidsdomeine beïnvloed word deur gene (Jang, McCrae, Angleitner, Reimann & Liversley, 1998). Gedeelde omgewingsinvloede deur kinders in dieselfde gesin het min tot geen effek op hul volwasse persoonlikheid nie. Dit beteken dat die struktuur van persoonlikheidstrekke feitlik heeltemal aan genetiese invloede toegeskryf kan word. ’n Eienskap wat verander van week tot week kan nie beskou word as ’n persoonlikheidstrek nie, aangesien ’n persoonlikheidstrek stabiliteit oor tyd demonstreer. Dit beteken egter nie dat persoonlikheidstrekke nie oor baie jare kan verander nie (Derlega, Winstead & Jones, 2005).

Baie navorsers stem nie saam met die groot rol wat die Vyffaktor-teorie aan gene toeskryf nie. Verder bestaan daar ’n gevaar van diskriminasie, aangesien verskille in die vyf persoonlikheidsdomeine tussen verskillende groepe daarop kan dui dat sommige kulture geneties ondergeskik is aan ander kulture. Aangesien die Vyffaktor-teorie op beide kruiskulturele- en longitudinale data gebaseer is, kan die stabiliteit van die persoonlikheidstruktuur nie onder verdenking geplaas word nie (Derlega, Winstead & Jones, 2005). Die Vyffaktor-teorie slaag daarin om die werking van persoonlikheidstrekke in die lig van empiriese bewyse op die Vyffaktor-model van persoonlikheid te verklaar. Een aspek waarin die Vyffaktor-teorie egter nog onderontwikkeld is, is dat dit nie daarin slaag om ’n bevredigende intra-psigiese model te verskaf nie. Alhoewel die dinamiese prosesse wat die model aktiveer nie onder verdenking geplaas word nie, word die gebrek aan ’n taksonomie vir Kenmerkende Aanpassings wel as ’n beperking beskou. Die Vyffaktor-teorie sal daarby baat indien ’n meer sistematiese behandeling van beide Dinamiese Prosesse en Kenmerkende Aanpassings geformuleer word (Feist & Feist, 2009).

Daar bestaan verder kritiek teen die Vyffaktor-teorie vir die tekort aan teoretiese verduideliking in die ontwikkeling en aard van die prosesse onderliggend tot sommige van die persoonlikheidsdomeine, veral ten opsigte van Openheid vir Ervaringe, Inskiklikheid en Konsensieusheid. Dit beteken dat selfs al slaag die Groot Vyf-persoonlikheidsdomeine daarin om ’n akkurate beskrywing van individue te gee, is die oorsprong van verskille tussen persoonlikheidsdomeine steeds onbekend (Chamorro-Premuzic, 2007).

Die Vyffaktor-model toon goeie geldigheid en betroubaarheid wat daartoe aanleiding gee dat die meeste navorsers saamstem oor die bestaan van vyf persoonlikheidsdomeine en oor die voordele daaraan verbonde om hierdie persoonlikheidsdomeine met behulp van die NEO PI-R (Costa & McCrae, 1985; 1992) en NEO-FFI (Costa & McCrae, 1992) te evalueer (Feist & Feist,

2009). Hierdie konsensus oor eenstemmigheid maak dit moontlik dat navorsers persoonlikheidstudies met mekaar kan vergelyk en repliseer, aangesien ’n gemeenskaplike instrument tot persoonlikheidsevaluering beskikbaar is. Die voordeel van die Vyffaktor-model is dat dit nie net ’n eenvoudige taksonomie van persoonlikheid, wat gebaseer is op die leksikale hipotese, verskaf nie, maar dat dit ook gebruik kan word om die bevindinge van die Vyffaktor- model volgens ander persoonlikheidsmodelle te interpreteer (Chamorro-Premuzic, 2007).

Nog ’n algemene punt van kritiek teen die Vyffaktor-teorie is dat dit nie daarin slaag om al die aspekte van persoonlikheid te beskryf nie. Sommige persoonlikheidsielkundiges dui aan dat hulle probleme het met hierdie persoonlikheidsteorie, omdat die volgende persoonlikheidstrekke verwaarloos word: godsdienstigheid, manipulasie/machiavellisme, eerlikheid, spaarsaamheid, konserwatisme, manlikheid/vroulikheid, snobisme, humorsin, identiteit en motivering. Daar bestaan egter ’n verband tussen sommige van bogenoemde persoonlikheidstrekke en die Groot Vyf-persoonlikheidsdomeine, soos byvoorbeeld die negatiewe verband tussen Politiese Konserwatisme en Openheid vir Ervaringe (McCrae, 1996).

McAdams (1995) verwys na die Vyffaktor-teorie as die “sielkunde van die vreemdeling”, omdat hy van mening is dat die Groot Vyf-persoonlikheidsdomeine maklik by ’n vreemdeling waargeneem kan word. Volgens McAdams (1995) word ander aspekte van persoonlikheid wat meer privaat is, of meer konteksafhanklik is, deur die Vyffaktor-teorie uitgesluit. Baie studies toon dat die Groot Vyf-persoonlikheidsdomeine nie onafhanklik van mekaar is nie, aangesien daar dikwels ’n negatiewe verband tussen Neurotisisme en Ekstraversie gevind word wat daarop dui dat diegene wat ’n geneigdheid het om negatiewe emosies te ervaar ook oor die algemeen minder praat en minder sosialiseer as die gemiddelde individu onder dieselfde omstandighede (Feist & Feist, 2009).

Nog kritiek teen die Vyffaktor-teorie is dat die meeste navorsing gebaseer is op selfrapporteringsvraelyste en dat hierdie vraelyste onderhewig is aan selfrapporterings- vooroordele en vervalsing van response. Sommige individue probeer dus om hulleself in ’n beter of slegter lig te plaas en gevolglik word daar nie ’n akkurate persepsie van die realiteit verkry nie (Derlega, Winstead & Jones, 2005). Dit is ook nie moontlik om hierdie selfrapporteringsvooroordele en vervalsing van response heeltemal te elimineer nie. Dit verklaar waarom daar verskille tussen individue se toetstellings bestaan wanneer hul die vraelys individueel voltooi teenoor wanneer hulle die vraelys in groepsverband voltooi. Verskille in toetstellings kan dus ’n weerspieëling wees van werklike persoonlikheidsverskille of dit kan

bloot ’n weerspieëling wees van die situasie waarin die individu die vraelys voltooi het (individueel of in groepsverband) (Feist & Feist, 2009).

’n Gereelde punt van kritiek teen die Vyffaktor-teorie is dat dit nie op ’n persoonlikheidsteorie gebaseer is nie, maar bloot op die leksikale hipotese en faktoranalise van empiriese bevindinge (Feist & Feist, 2009). Dit beteken nie dat die Groot Vyf-persoonlikheidsdomeine nie bestaan nie, maar wel dat die onderliggende etiologie van hierdie persoonlikheidsdomeine onbekend is. Daar bestaan gevolglik geen teoretiese grondslag wat verklaar waarom sommige persoonlikheidstrekke deel vorm van ’n spesifieke persoonlikheidsdomein nie (Derlega, Winstead & Jones, 2005). So bestaan daar byvoorbeeld nie ’n teoretiese basis wat verklaar waarom Soeke na Opwinding en Geselligheid persoonlikheidstrekke is wat deel vorm van die Ekstraversie-persoonlikheidsdomein nie. Daar bestaan ook nie sekerheid oor wat elke persoonlikheidsdomein voorspel nie (Feist & Feist, 2009). Die ontwikkeling van die Vyffaktor- teorie kan egter beskou word as ’n poging wat aangewend word om hierdie leemtes aan te spreek (Derlega, Winstead & Jones, 2005).