• No results found

Die Vyffaktor-teorie

HOOFSTUK 1 INLEIDING, PROBLEEMSTELLING, DOEL, METODE

2.4 DIE ONTWIKKELING VAN DIE TREKBENADERING TOT

2.4.3 Faktor-analitiese studies

2.4.6.2 Die Vyffaktor-teorie

Aanvanklik was die Groot Vyf niks meer as ’n taksonomie nie; ’n klassifikasie van basiese persoonlikheidstrekke (Feist & Feist, 2009). Teen die laat 1980’s was Costa en McCrae daarvan oortuig dat hulle ’n stabiele struktuur vir persoonlikheid gevind het (Feist & Feist, 2009). Die veld van Persoonlikheidsielkunde het nou ’n algemeen aanvaarde taal waarvolgens persoonlikheid beskryf kan word en dit is volgens vyf persoonlikheidsdomeine (Feist & Feist, 2009). Die beskrywing van persoonlikheidstrekke is egter nie dieselfde as die verduideliking daarvan nie (Feist & Feist, 2009). Vir ’n verduideliking word wetenskaplike teorie benodig (Feist & Feist, 2009). McCrae en Costa (2003) het, weens die spanning tussen die ou en nuwe teorieë as dryfkrag, ’n alternatiewe teorie ontwikkel wat verder as die vyf persoonlikheidsdomein- taksonomie strek en gebaseer is op empiriese bewyse vanuit kontemporêre navorsing. Hierdie nuwe, alternatiewe persoonlikheidsteorie moet oor die vermoë beskik om die groei en verandering binne die veld van Persoonlikheidsielkunde (wat oor die laaste 25 jaar plaasgevind het) te inkorporeer, maar moet steeds in die huidige empiriese beginsels wat uit navorsing na vore gekom het gegrond bly (Feist & Feist, 2009). Met ander woorde, die tyd het aangebreek om die Vyffaktor-model van persoonlikheid (taksonomie) te omskep in ’n Vyffaktor-teorie.

2.4.6.2.1 Eenhede in die Vyffaktor-teorie

Een poging om sin uit die bevindinge en waarnemings van die Vyffaktor-model van persoonlikheid te maak, is die Vyffaktor-teorie. Dit is nie soseer ’n teorie van die faktore self nie, maar verklaar hoe individue, gebaseer op konstante navorsingsbevindinge oor die Groot Vyf- model van persoonlikheid, funksioneer. Volgens die Vyffaktor-teorie is persoonlikheid ’n sisteem

met ’n inset, ’n uitset en ’n gedefinieerde interne struktuur (Derlega, Winstead & Jones, 2005). ’n Skematiese voorstelling van die Vyffaktor-teorie word in Figuur 2.8 aangebied.

(Feist & Feist, 2009)

FIGUUR 2.8:

SKEMATIESE VOORSTELLING VAN DIE VYFFAKTOR-TEORIE

Daar is sekere sleutelkomponente van die Vyffaktor-teorie wat bekend staan as Basiese

Geneigdhede, Kenmerkende Aanpassings en Eksterne Invloede. Die hart van die Vyffaktor-

teorie is egter Biologiese Geneigdhede en Kenmerkende Aanpassings (Derlega, Winstead & Jones, 2005). Basiese Geneigdhede is abstrak en verwys na persoonlikheidstrekke wat onderskei kan word, terwyl Kenmerkende Aanpassings konkreet is. Gedrag is die resultaat van die interaksie tussen Kenmerkende Aanpassings en Eksterne Invloede. Kenmerkende Aanpassings ontwikkel vanuit die interaksie van Basiese Geneigdhede met Eksterne Invloede. Basiese Geneigdhede en die ontwikkeling daarvan oor tyd word alleenlik deur ’n biologiese basis bepaal (Derlega, Winstead & Jones, 2005).

In die persoonlikheidsteorie van McCrae en Costa (1996; 1999; 2003) word die volgende komponente omskryf: Biologiese Basis Basiese Geneigdhede Neurotisisme Ekstraversie Openheid vir Ervaringe Inskiklikheid Konsensieusheid Kenmerkende Aanpassings Kultureel-Gekondisioneerde verskynsels Persoonlike strewe Houdings Selfkonsep Self-skemas Persoonlike mites Objektiewe Biografie Emosionele reaksies Loopbaanskuif Gedrag Eksterne Invloede Kulturele norme Lewensgebeure Situasies

2.4.6.2.1.1 Basiese Geneigdhede

McCrae en Costa (1996) definieer Basiese Geneigdhede as die universele rou materiaal van persoonlikheidskapasiteit en –disposisie wat gewoonlik afgelei kan word, eerder as om waargeneem te word. Basiese Geneigdhede kan oorgeërf word, gevestig word deur vroeë ervaringe of aangepas word na ’n siekte of psigologiese intervensie, maar op enige gegewe oomblik in tyd definieer dit ’n individu se potensiaal en rigting (Feist & Feist, 2009). Die Groot Vyf-persoonlikheidsdomeine vorm die kern van die Basiese Geneigdhede, naamlik Neurotisisme, Ekstraversie, Openheid vir Ervaringe, Inskiklikheid en Konsensieusheid (Feist & Feist, 2009). Die Basiese Geneigdhede sluit ook kognitiewe vermoë, artistieke talent, seksuele oriëntasie en ander psigologiese prosesse onderliggend tot die aanleer van taal in (Feist & Feist, 2009). Die Basiese Geneigdhede het ’n biologiese basis en bly stabiel oor tyd en plek (Feist & Feist, 2009).

2.4.6.2.1.2 Kenmerkende Aanpassings

Teenoor persoonlikheidstrekke word daar ook ’n wye verskeidenheid psigologiese kenmerke gedefinieer wat, volgens die Vyffaktor-teorie, deel uitmaak van Kenmerkende Aanpassings. Hierdie psigologiese kenmerke sluit onder andere vaardighede, gewoontes, oortuigings, planne, doelwitte en die intra-psigiese aspekte van rolle en verhoudings in. Een belangrike subafdeling van Kenmerkende Aanpassings is Selfkonsep wat oortuigings, gevoelens en stories oor die self insluit. Daar word ’n aparte plek aan Selfkonsep toegeken omdat dit van so 'n groot belang vir sielkundiges is, maar konseptueel maak dit steeds deel uit van Kenmerkende Aanpassings (Derlega, Winstead & Jones, 2005). Kenmerkende Aanpassings is kenmerkend omdat dit die individu se disposisie reflekteer en dit is aanpassings omdat dit ontwikkel as respons tot spesifieke eise en geleenthede vanuit die omgewing. Verder het ouers en ouerleiding ’n groot invloed op Kenmerkende Aanpassings. Alhoewel ouers en ouerleiding ’n belangrike rol speel in onder andere individue se kosvoorkeure, religieuse oortuigings, taalvoorkeure en kleredrag, vorm dit nie individue se persoonlikheidstrekke nie (Derlega, Winstead & Jones, 2005).

Kenmerkende Aanpassings verwys na die persoonlikheidstruktuur wat ontwikkel namate individue by die omgewing aanpas (Derlega, Winstead & Jones, 2005). Die primêre verskil tussen Basiese Geneigdhede en Kenmerkende Aanpassings is die buigsaamheid daarvan. Alhoewel Basiese Geneigdhede relatief stabiel bly, is Kenmerkende Aanpassings meer vatbaar om deur eksterne invloede beïnvloed te word (Feist & Feist, 2009). Hierdie eksterne invloede

individu se interaksie met sy/haar omgewing (Derlega, Winstead & Jones, 2005). Alle aangeleerde en spesifieke vaardighede is Kenmerkende Aanpassings (Feist & Feist, 2009). Hoe vinnig ons leer is ’n Basiese Geneigdheid (talent, intelligensie, aanleg), terwyl dit wat ons leer ’n Kenmerkende Aanpassing is (Derlega, Winstead & Jones, 2005). Kenmerkende Aanpassings word gevorm deur Basiese Geneigdhede. Wat ook opvallend is, is die konsekwentheid en uniekheid daarvan. Begrip van die interaksie tussen Kenmerkende Aanpassings en Basiese Geneigdhede vorm die kern van die Vyffaktor-teorie (Feist & Feist, 2009). Basiese Geneigdhede is stabiel en volgehou, terwyl Kenmerkende Aanpassings fluktueer (Derlega, Winstead & Jones, 2005). Dit impliseer dat Kenmerkende Aanpassings oor die verloop van tyd kan verander en ook waarom Kenmerkende Aanpassings verskil van kultuur tot kultuur (Feist & Feist, 2009).

Deur 'n onderskeid tussen Basiese Geneigdhede en Kenmerkende Aanpassings te tref, is dit ook moontlik om te verklaar waarom individue gelyktydig kan verander en dieselfde kan bly aangesien hul Kenmerkende Aanpassings verander terwyl hul Basiese Geneigdhede dieselfde bly (Derlega, Winstead & Jones, 2005).

2.4.6.2.1.3 Selfkonsep

Volgens McCrae en Costa (2003) is selfkonsep eintlik ’n Kenmerkende Aanpassing, maar dit word apart in die Vyffaktor-teorie genoem omdat dit so ’n belangrike aanpassing is. Selfkonsep bestaan uit kennis, sienings en selfevaluerings wat wissel vanaf feite oor persoonlike geskiedenis tot self-identiteit wat betekenis aan lewe gee (Feist & Feist, 2009). Die oortuigings, houdings en gevoelens wat ’n individu teenoor homself/haarself het, is Kenmerkende Aanpassing wat ’n individu se gedrag in ’n gegewe situasie gaan beïnvloed (Derlega, Winstead & Jones, 2005). As ’n individu byvoorbeeld glo dat hy/sy intelligent is, dan sal hy/sy hom/haar in situasies plaas wat intellektueel uitdagend is (Feist & Feist, 2009). McCrae en Costa (2003) sluit persoonlike mites in as deel van ’n persoon se selfkonsep.

Verder maak McCrae en Costa (2003) ook melding van drie perifere komponente, naamlik Biologiese Basis, Objektiewe Biografie en Eksterne Invloede.

2.4.6.2.1.4 Biologiese Basis

beïnvloed word (Derlega, Winstead & Jones, 2005). Die Vyffaktor-teorie rus slegs op biologie as die enkele oorsaaklike invloed op persoonlikheidstrekke. Die primêre biologiese meganismes wat Basiese Geneigdhede beïnvloed is gene, hormone en breinstrukture. Dit beteken nie dat omgewing geen rol in persoonlikheidsvorming speel nie, maar wel dat dit nie ’n direkte rol speel in Basiese Geneigdhede nie (Feist & Feist, 2009).

2.4.6.2.1.5 Objektiewe Biografie

Objektiewe Biografie verwys na die uitset van die persoonlikheidstruktuur en bevat die kumulatiewe rekord van alles wat ’n individu doen, dink en voel oor sy/haar lewensverloop (Derlega, Winstead & Jones, 2005). Objektiewe Biografie beklemtoon dít wat in individue se lewens gebeur het (objektiewe ervaring) en nie hulle persepsie of siening van hulle ervaringe nie (subjektiewe ervaring) (Feist & Feist, 2009). Elke optrede of respons word deel van die kumulatiewe rekord (Derlega, Winstead & Jones, 2005). Alhoewel Adler en McAdams (2007) fokus op die subjektiewe interpretasie van lewensverhale, fokus McCrae en Costa (2003) op die objektiewe ervaringe – die gebeure en ervaringe wat ’n individu oor sy/haar leeftyd beleef.

2.4.6.2.1.6 Eksterne Invloede

Eksterne invloede verwys na geleenthede en beperkings wat gepaard gaan met ’n spesifieke situasie op ’n spesifieke tydstip en word bepaal in die konteks van ’n spesifieke kultuur en geskiedenis (Derlega, Winstead & Jones, 2005). Individue vind hulleself gereeld in ’n spesifieke fisiese of sosiale situasie wat ’n invloed op hulle persoonlikheidsisteem het. Eksterne Invloede het dus te doen met hoe individue op die geleenthede en eise wat die konteks aan hul stel reageer (Feist & Feist, 2009). McCrae en Costa (1999; 2003) glo dat gedrag ’n funksie is van die interaksie tussen Kenmerkende Aanpassings en Eksterne Invloede.