• No results found

Volgens van Zyl (2007:1), vervaardiger by Packed House Productions, kos enige verhoogproduksie met meer as vyf mense in die rolverdeling wat nuut geskryf en nuut op die planke gebring word, in die omgewing van R300 000 en meer. Aspekte wat produksies duur maak, sluit akteursgelde, stelle, kostuums, vervoer van stelle, kos en verblyf van akteurs, asook tegniese aspekte in.

Om ’n produksie soos Die storm by Aardklop op die planke te bring, het byvoorbeeld reeds in 2007 meer as ’n halfmiljoen rand gekos. Volgens Botha (2007:1) gee die produksiekoste van R550 000 ook nie die volle prentjie nie, want was dit nie vir twaalf studentespelers wat halfprys betaal is nie, sou die produksiekoste by die R800 000 gedraai het. Hoewel borgskappe vir Die storm verkry is, sal die produksie volgens Botha nooit geld maak nie – “Dis nie kommersieel genoeg nie.” Sy vind dit andersins wel moontlik om 'n redelik goeie produksie met 'n kleinerige rolverdeling vir R120 000 te skep. “Nie die ideale begroting nie, maar doenbaar,” meen Botha (2005:1).

Tog maak sommige produksies baie geld: Lefra-produksies, wat onder meer vir

Groet die grotman bekend is, wat reeds jare lank oral in die land aangebied word

en steeds groot gehore trek, het in 2008 ’n Afrikaanse komediefees bekendgestel met altesaam vyf verskillende verhoogproduksies op die spyskaart. Dié fees het plaasgevind by die Staatsteater, Pretoria. Daarná is dieselfde fees in die Mardi Gras-teater by Carnival City in Brakpan aangebied (Burger 2008:1). Die vraag wat Botha (2005:1) dus stel, is: As dit is wat die aanvraag is, waarom dan die moeite doen om iets anders op te dis?

Ook Hennie van Greunen het egter die laaste jare inderdaad bewys dat indrukwekkende professionele teaterproduksies teen ’n relatief lae koste geskep kan word. Só het hy in 1998 Blougat vir Pedro Kruger geskryf, waarvoor laasgenoemde die Slurpie-prys op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) gewen het (Nieuwoudt 2002:1). Dit is egter ’n eenpersoonstuk weens begrotingsbeperkings. ’n Produksie moet volgens Van Greunen vir twee of drie jaar lank toer om geld te maak, en so iets eenvoudig onmoontlik in die geval van 'n groot produksie en rolverdeling.

Slegs ’n vyfde van produksies wat jaarliks geskep word, kry egter die geleentheid om te toer, terwyl net 10% die geleentheid kry om internasionaal te toer. Tans verwys die begrip toer in Suid-Afrika hoofsaaklik na onafhanklike teatermakers se ondernemings om produksies op nasionale vlak na feeste neem. Produksies het egter ’n beperkte leeftyd vanweë beperkte inkomste. Statistieke dui daarop dat die meeste produksies speelvakke van drie tot vyf weke het voordat vervaardigers ’n nuwe produk moet skep om verdere inkomste te genereer.

Van die algemeenste probleme is die volgende: Teatergeselskappe toer al hoe minder as gevolg van die groot kostes verbonde aan reis en verblyf. Verder bestaan daar geen versekering van wat die inkomste van die produksie gaan

wees nie, en dit maak die risko hoër. Produksies kry boonop selde voldoende befondsing om onkostes te dra. Teaters vervaardig baie min produksies self en geselskappe wat teaters huur, kry geen befondsing of bydraes om onkostes te delg nie, terwyl hul eie begrotings beperk is. Teaters is dus lugtig daarvoor om werk wat hulle nog nie gesien het nie aan te bied, weens die hoë risiko verbonde aan sulke ondernemings. Geselskappe het min of geen kapitaal om te spandeer voordat ’n produksie open nie. Teaters beskik ook dikwels nie oor die dienste van ’n bemarkingspersoon nie. Gevolglik kan gehore vir produksies nie gewaarborg word nie.

Die eerste primêre rede waarom produksies op toer gaan, is om die rakleeftyd daarvan te verleng en so die maksimum inkomste wat die produksie kan genereer, te verseker. Tweedens het dit ten doel om gehore te ontwikkel vir teaterwerke. Indien 'n nuwe teks meriete het, is die kanse meer as 50% dat feeste dit sal aanvaar vir insluiting op hul program. Die kanse is ongeveer 25% dat hulle dit gedeeltelik sal befonds.

Die rol van (hoofsaaklik) Afrikaanse feeste in die bedryf bring egter andersins mee dat baie nuwe werk 'n eksklusief nasionalistiese Afrikaner-gevoel het. Universele temas is in so 'n mate verhul in tipies Afrikaanse kultuur en humor dat dit oppervlakkig en gemaklik word, en ontoeganklik vir 'n gehoor wat nie bekend is met 'n tipies Afrikaanse kultuur nie. Produksies met hierdie tipe temas trek wel gehore omdat dit ’n spesifieke teikenmark het, maar is beperk tot die betrokke groep en bied geen geleentheid vir gehooruitbreiding is nie. Sommige van die produksies kom selfs binne 'n behoorlike teater amateuragtig oor. Dit kan onder meer toegeskryf word aan kort repetisietye, onvoldoende tegniese personeel en ’n gebrek aan kennis en opleiding.

Basson (2003:1) noem dat die Griekse dramas almal geskep is omdat daar ’n behoefte was om ’n spesifieke boodskap oor te dra. Nuwe idees is sodoende aan die publiek bekendgestel.

Om die waarheid te sê, niks daaromtrent het eintlik verander tot heel onlangs nie. Trouens, die publiek is betaal om teater toe te gaan. Soos wat daar tot heel onlangs toe nog geborgde kaartjies was. Vir elke R30 wat iemand neergesit het om teater toe te gaan, is daar R30 deur die staat neergesit om daardie produksie moontlik te maak. In die geval van opera, drie keer meer as die onkoste van die persoon se sitplek. Die grootste krisis rakende die konsep was dat kuns te toeganklik geraak het; kuns moet uitsonderlik wees en bly (Basson 2003:2).