• No results found

LYS VAN DIAGRAMME EN FIGURE

1. INLEIDENDE ORIëNTERING TOT DIE STUDIE

1.1 INLEIDING: MOTIVERING VIR VOORGENOME NAVORSING

Die onderwys staan wêreldwyd voor die uitdaging om jongmense met meer geleenthede as ooit tevore te voorsien ten opsigte van leierskap en persoonlike ontwikkeling met die oog op beroepsukses (Rickets & Rudd 2001:1). Van Linden en Fertman (1998) stel dit dat werknemers meer belangstel in adolessente wat leiers is.

Adolessensie is ʼn kritieke tyd vir leierskapontwikkeling. Die ontwikkeling van leierskap in jeugdiges kan hul selfbeeld versterk en as ʼn basis dien vir ʼn meer suksesvolle volwasse lewe. Alle adolessente beskik oor leierskappotensiaal en toon hul leierskapvermoëns op verskeie maniere binne verskillende kontekste, soos binne hulle families, skole en gemeenskappe. Vandag se jongmense is uiteindelik môre se leiers. Hulle sal die leiding neem in hul werkplek, gemeenskappe en families. Die adolessente jare is van kardinale belang vir die ontwikkeling van toekomstige leiers reeds op ʼn vroeë stadium – hierin is die karakter en leierskap van die jeug geleë. Baie adolessente word egter nooit die geleentheid gegun om as leiers op te tree en hul potensiaal ten volle te ontwikkel nie. Dit is dus noodsaaklik en in belang van beide die skoolgemeenskap en breë samelewing dat die leierskappotensiaal van leerders ontwikkel word.

Gemeenskappe orals ter wêreld is voortdurend op soek na innoverende programme en strategieë om die gehalte van skole te verbeter. Een so ‘n strategie is groter leerderbetrokkenheid. In Suid-Afrika is die Nasionale Beleid op Geheelskoolevaluasie se fokus onder meer daarop gerig om die gehalte van skole te verbeter en om alle leerders die geleentheid te gun om hul

vermoëns (ook hul leierskapvermoëns) optimaal te ontwikkel (Department of Education 2001:7).

Die skool dra ook ʼn medeverantwoordelikheid in die bemagtiging en verwesenliking van leerderleiers se leierskappotensiaal aangesien dit as organisasie in diens staan van elke leerder en die samelewing as geheel.

Vandag, meer as ooit tevore, moet leerders oor die lewensvaardighede van spanwerk, leierskap, probleemoplossing, selfgerigte leer, kommunikasie en kreatiewe denke beskik om aan die verwagtinge wat aan voornemende werknemers en studente gestel word stel, te voldoen. Carter en Spotanski (1989:30-34) het byvoorbeeld bevind dat leerders wat leierskapopleiding ontvang, veel beter vaar op die gebied van persoonlike vaardighede in werkomgewings as leerders wat nie die opleiding ontvang het nie.

Leerders moet met die bes moontlike vaardighede – insluitend leierskap – toegerus word anders kan dit ʼn land se vermoë om globaal mee te ding ernstig aan bande lê (Goldman & Newman 1998:168). ʼn Sleutelkomponent om hierdie ideaal te realiseer is om leerders se betrokkenheid in en verantwoordelikheid vir hul onderwys te verhoog. Dié soort optrede word benodig om die gehalte van onderwys te verbeter en om die jeug ten opsigte van leierskapontwikkeling te bemagtig en sodoende die land die toekoms in te lei.

Dit is dus een van die skool se hooftake om potensiële leiers te identifiseer en op ʼn vroeë stadium met ʼn verskeidenheid geleenthede toe te rus om sodoende hul leierskappotensiaal ten volle te verwesenlik.

Tydens ʼn (2003) provinsiale jeugleierskonferensie is die volgende sake onder meer as bron van kommer deur jeugleiers geopper:

• Leerderleiers het geen opleiding tot dusver as jeugleiers ontvang nie.

• Leerderleiers het nie genoeg ondersteuning van ander rolspelers nie.

• Leerderleiers beskik nie oor vaardighede om velerlei skoolprobleme te hanteer nie.

• Leerderleiers is uitgesluit van skoolbeheerliggame.

• Leerderleiers ervaar baie min of geen samewerking van

leerkragte.

• Leerkragte het onrealistiese verwagtinge van jeugleiers. (Western Cape Education Department 2003:20)

Vanuit hierdie behoeftes blyk dit dus noodsaaklik dat daar indringend ondersoek ingestel word na leerderleierskapontwikkeling om vas te stel of hoërskole optimaal funksioneer ten opsigte van leerderleierskapontwikkeling. Daar moet ook ondersoek ingestel word na kreatiewe en gehalte strategieë / programme om leerderleierskap te ontwikkel en jeugleiers met die nodige leierskapvaardighede toe te rus.

Volgens Wallin (2003:55) is dit redelik om ten opsigte van besluitneming en leierskap leerders as van die hoofrolspelers in die onderwys in te sluit. In die proses neem leerders eienaarskap vir sommige onderwysbesluite en word hulle aktiewe deelnemers in die demokratiese proses. Carr (2005:8) wys daarop dat sedert 1970 was die herstrukturering van skole-en skoolstelsel ‘n wêreldwye verskynsel - dit was hoog op die agenda van die weerstandsbewegings in Suid-Afrika, veral die rol van skoolgebaseerde rade. Die navorsing van Sithole (1995:93-114) ondersoek die geskiedenis van leerderdeelname -en besluitneming in demokratiese skoolbestuur. Hy is ook van mening dat mag en besluitneming in sekondêre skole met leerders gedeel moet word, en dat leerders op skoolbeheerliggame verteenwoordig moet wees.

1.2 PROBLEEMSTELLING

Aansluitend by die voorafgaande is jeugleierskapbemagtiging noodsaaklik in hoërskole om geleenthede vir leerders te skep vir groei en ontwikkeling en om hulle toe te rus met daardie kundigheid, kennis en vaardighede wat van hulle as jong volwassenes verwag word. Alhoewel die Suid-Afrikaanse Skolewet (1996) voorsiening maak vir groter leerderdeelname in die demokratiese funksionering van skole, bestaan daar twyfel in watter mate omvangryke praktiese implementering van die beleid plaasvind. Hierdie strukture is nou gevestig in sekondêre skole maar daar is ongelukkig tot op hede min data beskikbaar oor hul funksionering. Karlsson & Pampallis (1995:27) se navorsing oor die daarstelling van demokratiese strukture het kommer uitgespreek oor tekens van ‘n onvermoë om funksies uit te voer sonder kapasiteitsbou en opleiding.

Mahoney, McBeath en Moos (1998:123) wys daarop dat alhoewel beleidsinhoud op makrovlak die parameters mag vorm van skole se funksionering is dit op die mikrovlak van die skool waar beleid in praktyk omskep word. Daar word ook aangetoon dat daar verskille bestaan tussen die regering se verwagtinge van verandering en die rolspelers op skoolvlak se verwagtinge. Die daarstel van demokratiese strukture kan, soos die wetgewing beoog ‘n raamwerk vir die ontwikkeling van demokratiese waardes en optrede binne die skool en breë gemeenskap voorsien.

Volgens Furtwengler (1991:72) toon navorsing dat skole wat leerders bemagtig dikwels ʼn meer positiewe kultuur ervaar. Dié positiewe organisatoriese kultuur sluit alles in wat ʼn invloed het op hoe betrokkenes dink, voel en optree, en lei dit noodwendig tot beter bywoningsyfers, beter uitslae en minder dissiplinêre probleme – al die verbeterings wat van skole verwag word. Leierskapmodelle vir volwassenes blyk minder geskik vir tieners te wees, aangesien jongmense oor hul eie, unieke ontwikkelingsbehoeftes beskik.

Een strategie en praktiese wyse om die konsep van leerderbemagtiging te realiseer is deur die Kwaliteitstudenteleierskap-program (KSL-program) wat reeds vir etlike jare met groot sukses by skole in die VSA toegepas word, en wat aangepas en hersien kan word om aan enige organisasie se unieke behoeftes te voldoen. Die proses voorsien ʼn wyse om leerders, leerkragte en ouers te help om as volledige en aktiewe vennote in hul skole en gemeenskap op te tree (Goldman & Newman 1998:6). Volgens dié teorie is die sleutelfaktor betekenisvolle leerderbetrokkenheid -en deelname in skoolsake. Die KSL-leerderbemagtingsmodel is ook reeds met groot sukses in ʼn hoërskool in Hong Kong geïmplementeer (Cheung & Tsang (2002:11-15).

Deelname verwys gewoonlik na die betrokkenheid in een of ander vorm van aktiwiteit of proses. Demokratiese deelname hou gewoonlik verband met prosesse wat gemik is op die ontwikkeling van beleid en is ‘n vloei van inligting van grondvlak opwaarts (Carr 2005:12). Die moontlikhede vir deelname moet duidelik gespesifiseer word en beskikbaar wees. Dié navolging van demokrasie kan dus beskou word as ‘n beginsel vir leerderbetrokkenheid in skoolbestuur. Die toepassing van enige model moet die spesifieke behoeftes, omgewing en kultuur van die betrokke skool in ag neem.

Van die doelwitte van die proses is die ontwikkeling van leerderleierskap, spanwerkvaardighede, bevordering van leerderbetrokkenheid in die skoolverbeteringsproses, aanmoediging van kritiese denke vir kreatiewe probleemoplossing en die verhoging van leerderverantwoordelikheid, besluitneming en eienaarskap in skole. Die navorser se skool is reeds besig om ʼn eie unieke leerderleierskapsmodel volgens eie behoeftes te ontwikkel en toe te pas. Verskeie aspekte van die KSL-strategie word reeds met vrug in die vermelde skool geïmplementeer.

Leierskapontwikkeling geskied nie in ʼn kort tydperk nie – om ʼn leier te word is ʼn ontwikkelingsproses. Die waarde van leierskapontwikkeling lê egter volgens Van Linden en Fertman (1999:10) in die feit dat dit aksie-georiënteerd is; dit gee aan adolessente ʼn stem in die besluitnemingsprosesse wat hul lewens beïnvloed.

Van Linden en Fertman (1998:8) wys daarop dat “understanding and appreciating the complexity of leadership is a prerequisite to supporting and challenging teenagers to be the best leaders they can be.” Leierskap is dus ‘n komplekse saak.

DesMarias, Yang & Farzanehkia (2000:3) dui sekere elemente aan wat noodsaaklik is in die ontwikkeling van jeugleierskap. Hulle dui die kritieke elemente aan as:

• die vestiging van vennootskappe tussen die jeug en

volwassenes;

• besluitnemingsmagte vir jongmense en hul aanvaarding van verantwoordelikheid vir die gevolge;

• ʼn breë konteks van leer en diens;

• erkenning van jongmense se ervaring, kennis en vaardighede. Van Linden en Fertman (1998:10-12) beskryf die drie stadiums van jeugleierskapontwikkeling as bewuswording, interaksie en bemeestering. Die vyf dimensies wat by elk van die leierskapontwikkelingstadiums pas is leierskapinligting, leierskapgesindheid, kommunikasie, besluitneming en stresbestuur.

Sandmann en Vandenberg (1995:33) dui drie temas aan vir leierskap wat soortgelyk is aan bogenoemde leierskapstrategieë. Hulle glo in gedeelde leierskap, leierskap as verhoudings en leierskap in die gemeenskap.

Van Linden en Fertman (1998:17) beskou leiers as individue (beide volwassenes en adolessente) wat vir hulself kan dink, hul gevoelens en gedagtes aan ander kan kommunikeer en ander help om hul eie oortuigings te verstaan en daarvolgens te handel. Hulle beïnvloed ander op ʼn etiese en sosiaalverantwoordelike wyse. Van Linden en Fertman (1998:11) is ook van mening dat wanneer daar met adolessente gewerk word dit belangrik is om die diversiteit, kreatiwiteit en energie van elke individu te waardeer en in ag te

neem. Leierskap is ʼn energie, ʼn vermoë wat elke dag deur adolessente getoon word in hul families, skole, werkplek en gemeenskappe en wat op ʼn verskeidenheid van maniere kan manifesteer.

Leierskap word dus beskou as ʼn proses waartydens toepaslike vaardighede en houdings aangeleer en toegepas kan word.

Leerderleierskap impliseer volgens Prinsloo en Van Rooyen (in Van der Westhuizen 1990:373) dat ʼn leerder met die verantwoordelikheid beklee word om op ʼn bepaalde terrein leiding te neem.

Daar vind tans oënskynlik beperkte leierskapontwikkeling in Suid-Afrikaanse skole plaas, alhoewel die leerders meestal ʼn behoefte daaraan het en gretig is om by leerderleierskapaktiwiteite betrokke te raak. Volgens Ricketts en Rudd (2002:8) laat baie skole na om leierskapontwikkeling tot sy volle reg te laat kom. Hulle is verder van mening dat daar tot dusver baie min navorsing oor jeugleierskapontwikkeling onderneem is. Pogings om die stand van sake aan te spreek, met die klem op leierskapontwikkeling van jeugleiers, sal aandag geniet. Dit is noodsaaklik dat jeugleierskapontwikkelingsprogramme op die mees onlangse leierskapteorieë met betrekking tot adolessente gebaseer is. Daar kan gevra word of daar op skoolvlak toepaslike vaardigheidsontwikkeling ten opsigte van leierskapontwikkeling gedoen word.

Die probleem wat dus in hierdie studie ondersoek is, is die gebrek aan ʼn doelmatige jeugleierskapontwikkelingstrategie en hoe hierdie leemte binne die konteks van ʼn hoërskoolomgewing hanteer kan word. Die ondersoek is gedoen aan die hand van gestruktureerde opnames by vier Suid-Kaapse hoërskole.