• No results found

4.5 DIE PROSES VAN JEUGLEIERSKAPONTWIKKELING

4.5.3 Interaksies in leierskapontwikkeling: mense, aktiwiteite en leerervarings

4.5.4.1 Inleiding en beginsels

In die Kwaliteitstudentleierskapmodel wat vervolgens toegelig gaan word, staan die leerders sentraal. Spesiale pogings word hier aangewend om ’n wye reeks leerders te betrek in die bemagtigingsproses, wat betekenisvolle leer vir leerders insluit. In die proses ontwikkel leerders leierskapvaardighede en verbeter hul toewyding tot skoolsukses. Terselfdertyd ondersteun hulle die bereiking van belangrike skooldoelwitte. ʼn Kernelement in die model is die skuif weg van verandering wat slegs deur volwassenes vir leerders teweeggebring word ná verandering deur leerders sowel as volwassenes. Die behoefte om leerders effektief voor te berei vir die toekoms met die nodige leierskap- en interpersoonlike vaardighede word ook aangespreek.

Volgens die teorie van leerderbemagtiging (Goldman & Newman 1998:2) is betekenisvolle leerderbetrokkenheid die sleutelfaktor in enige skoolverbeteringspoging. ʼn Ander fundamentele beginsel van die bemagtigingsteorie is gesetel in die behoeftes van alle mense. Alle mense het volgens Goldman en Newman (1998:4) vyf basiese behoeftes: die fisieke behoefte aan oorlewing en veiligheid, en vier psigologiese behoeftes aan plesier, mag, vryheid en om aan iets of iemand te behoort. Wanneer leerders nie oor die mag beskik om hul eie omgewing te beïnvloed nie kan die psigologiese behoeftes nie bevredig word nie. Sodoende sal leerders alternatiewe maniere vind om die behoeftes te bevredig – so word onder andere die klasnar en afknouer geskep.

ʼn Praktiese manier om die konsep van leerderbemagtiging te verwerklik is deur die Kwaliteitstudentleierskapprogram (voortaan KSL-program). Die KSL-program voorsien ‘n medium waardeur leerders, leerkragte en ouers gehelp word om volle en aktiewe vennote te word in hul skool (Goldman & Newman 1998:6). Dit leer leerders om groter eienaarskap te aanvaar in hulle skole. Volgens Goldman en Newman (1998:6) toon navorsing dat leerders wat direk betrokke is, ʼn toename in hul verantwoordelikheidsin teenoor die skool toon. Wanneer daar ʼn opregte verhouding bestaan tussen leerder en volwassene word intrinsieke motivering bevorder (Goldman & Newman 1998:7).

Die fokus van die KSL-proses is die ontwikkeling van persoonlike vaardighede wat leerders in staat sal stel om leiers te wees. Volgens Goldman en Newman (1998:7) is daar 10 beginsels van kwaliteitstudenteleiers :

L Learning (Leer) E Empathy (Empatie) A Attitude (Gesindheid) D Dedication (Toewyding) E Energy (Energie) R Respect (Respek) S Service (Diens) H Honesty (Eerlikheid) I Ingenuity (Vindingrykheid) P Passion (Passie)

Dié beginsels van kwaliteitstudentleierskap word vervolgens in oënskou geneem.

Leer is essensieel vir die kwaliteitstudenteleier. In elke situasie of omstandigheid is daar sekere kennis, vaardigheid of vermoë wat verkry kan word.

Empatie is om te ‘voel wat ander voel’ en jou in hulle situasie te probeer plaas. Empatiese luister stel die luisteraar in staat om meer te hoor as woorde, maar ook die gevoel wat die spreker probeer oordra, te ervaar. Wanneer empatiese leierskap plaasvind verdwyn die meeste konflik in ʼn organisasie (Goldman & Newman 1998:8).

Gesindheid. Die gesindheid dat niks onmoontlik is nie, maar dat sommige dinge net moeiliker bereikbaar is as ander weerspieël die feit dat ʼn toegewyde individu ʼn verskil kan maak.

Toewyding is die kern van die benadering. Toewyding is ʼn teken van totale verbintenis tot ʼn ideaal. Kwaliteit-leiers is toegewy aan die beginsel van voordurende verbetering en aan die span waaraan hul verbonde is.

Energie. Leiers beskik oor die energie van visie en toewyding en dit motiveer hulle om die organisasie se doelwitte te verwesenlik. Leiers deel ook hul energie met ander wat dit nodig het.

Respek vir almal, sonder uitsondering, is absoluut noodsaaklik. Sonder respek is daar nie ʼn span nie. Respek is die erkenning van menswaardigheid wat sonder uitsondering deel van alle mense is.

Diens. Leierskap is slegs van waarde as dit ʼn diens lewer. Dienslewering stel die leier in staat om kwaliteit en waarde tot die organisasie en gemeenskap toe te voeg.

Eerlikheid is die enigste opsie vir kwaliteitstudenteleleiers. Sulke leiers is eerlik met hulself en ander.

Vindingrykheid is die kenmerk van die kwaliteitstudenteleier. Enige persoon kan ʼn leier van gehalte wees – dit vereis egter dat die leiers hul kwaliteitgesindheid gebruik en onthou dat niks onmoontlik is nie. Leiers moet nuwe middele, metodes en geleenthede skep om ou probleme in nuwe uitdagings te omskep.

Passie. Die passie van leiers spoor hulle aan om beter leerders te wees van wat dit behels om ʼn leier te wees. Passie is die dryfkrag agter dit wat van ʼn leier vereis word om ʼn kwaliteitstudenteleier te wees.

Gebaseer op bogenoemde beginsels van leerderbemagtiging kan ʼn aksieplan saamgestel word afhangende van die unieke behoeftes, omgewing en kultuur van ʼn betrokke skool omdat elkeen in verskillende fases van hul skoolontwikkelingsplanne sal wees. In Suid-Afrika kan plaaslik eiesoortige kwaliteit leerderleierskapprogramme vir spesifieke skole saamgestel word in ooreenstemming met Suid-Afrikaanse onderwysteorieë.

Vervolgens sal daar aandag spandeer word aan die teoretiese grondslag van die KSL-program, asook ʼn voorbeeld van ʼn gepaardgaande aksieplan wat daarmee geassosieer word.

4.5.4.2 Teoretiese basis vir die Kwaliteitstudenteleierskapsprogram

Die Kwaliteitstudenteleierskap (KSL) is ʼn strategie vir die transformasie van skole en gemeenskappe deur direkte leerderbetrokkenheid en -deelname. Dit is ʼn unieke proses wat gehalte-onderwys, leerderleierskap en betrokkenheid integreer in die skep van gehalte, ware lerende organisasies waar almal toegewy is aan die voortdurende verbetering van mense, prosesse en stelsels (Goldman & Newman 1998:11). Die proses beklemtoon die ontwikkeling van die inherente leierskappotensiaal van elke leerder deur ʼn sistematiese en interaktiewe proses van selfbeeldontwikkeling, kritiese denke, probleemoplossing, spanontwikkeling en aksiebeplanning. Die doelwitte van kwaliteit- leerderleierskap is:

• die ontwikkeling van leerderleierskap, selfbeeld en spanwerkvaardighede; • die bevordering van kritiese denke en kreatiewe probleemoplossing;

• die ontwikkeling van inter- en intrapersoonlike verhoudingsvaardighede;

• die verbetering van leerders se verantwoordelikheid, besluitneming en eienaarskap in skole;

• die skep van geleenthede vir die insluiting van gehalte beginsels vir persoonlike en loopbaanontwikkeling; en

• die insluiting van alle leerders by pogings om ʼn positiewe bydrae tot hul skool te lewer.

Die KSL-aksieplan vir leerderbemagtiging verskaf dus ʼn algemene basisplan wat hersien en aangepas kan word om enige skool se unieke behoeftes en omgewing te akkommodeer. Dit is ʼn dinamiese proses, en nie ʼn program wat uit bepaalde vaste strukture bestaan met beperkte ruimte vir aanpassing of verandering nie. Die Kwaliteitstudenteleierskapprogram is dus aanpasbaar en buigsaam om elke skool se unieke behoeftes en kultuur op enige gegewe oomblik te akkommodeer. Die toetrede tot die model kan by verskillende strategiese punte wees. ʼn Sleutelaspek van die proses is voortdurende verbetering deur deurlopende monitering, aanpassings en intervensie tydens al die stadiums. Die sleutelkomponente is toewyding, assessering, beplanning, opleiding, deurlopende evaluering en erkenning. Al die komponente van die program is verweef met realistiese en praktiese strategieë wat ʼn dinamiese, sinergistiese proses vir die betrokke skool bied (Goldman & Newman 1998:12).

Dié strategie maak voorsiening vir ʼn proses wat uit verskeie fases of stappe bestaan. Holisties beskou, beeld hierdie fases die ontwikkelings- of groeiproses uit wat beoog word. Elk van hierdie moontlike fases word vervolgens kortliks vermeld.