• No results found

HOOFSTUK 4: BESPREKING VAN DIE PROJEKBELANGEGROEPE SE PERSEPSIES

4.3 Bespreking van bevindinge

4.3.3 Bemagtiging

4.3.3.1 Inisiëring van onderwerpe

Omdat daar nie meer ’n voorgestelde handleiding vir die projek se jaarbeplanning is nie, het elke projekleier hul eie onderwerpe vir die jaar identifiseer.

Potchefstroom Secondary School se projekleier bied byvoorbeeld ’n tema-reeks aan wat fokus op die beplanning en bestuur van ondernemings. Die projekleier het die groep leerders in vier groepe verdeel en elke groep moes ’n besigheidsplan opstel vir ’n koffiewinkel wat hulle wil oopmaak. Die leerders moes ’n begroting opstel, ’n advertensie maak om hulleself te bemark en probleemsituasies wat moontlik kan opduik ontleed en beskryf hoe hulle as bestuurders van hierdie organisasie dit sal hanteer en bestuur. Probleemoplossingsvaardighede en finansiële bestuur is ook as sub-temas bespreek tydens die besigheidstema. Volgens die leerders van Potchefstroom Secondary School het die projek aan die begin van die termyn ’n leer-self-en- mekaar-ken-aksie gebied waar die leerders hulle verwagtinge en behoeftes met die groep kon deel. Die leerders moes hulleself visueel op papier aan die res van die groep uitbeeld, sodat die groep mekaar kon leer ken in terme van hul verskillende agtergronde, vrese, drome en persepsies oor hulle omstandighede. Laastens is eksterne deskundiges ook deur die projekleier genader om onderwerpe soos dwelmmisbruik, groepsdruk, MIV-vigs/seksvoorligting en ander onderwerpe wat ’n sosiale-kwessie in hierdie omgewing is te bespreek.

Volgens die projekleier van Boitshoko CJSS het die aksies op die leerders se behoeftebepaling en doelwitte wat hulle sélf opgestel het in die begin van die termyn gefokus. Hierdie onder- werpe was onder meer kommunikasievaardighede wat ’n leier nodig het en die aanleer van geldinsamelingstegnieke om hulle skool se toiletfasiliteite en sportvelde te verbeter. Die leerders se kommentaar en die navorser se waarneming het egter in die praktyk die teenoorgestelde bevestig. Daar is verskeie onderwerpe aangeraak wat nie die belange van die leerders vooropstel nie, maar eerder volgens die projekleier se inisiatief bespreek is. Die leerders van Boitshoko CJSS het per geleentheid byvoorbeeld ’n aanlegtoets afgelê om hulle

aanlegte in sekere loopbaanrigtings en ook belangstellingsvelde te kon bepaal, maar hulle het nooit die uitslae gekry nie. Die leerders het ook nie geweet wat die doel van die aktiwiteit was nie. Hoewel die aksie ’n wonderlike inisiatief is wat die leerders daadwerklik kon bemagtig om te weet watter loopbaan om te oorweeg in die toekoms, het die onvoltooide uitkoms van die aksie dit doelloos gelaat. Die leerders sal verder graag met die welsynsorganisasies of gemeenskapsdienste wil skakel om saam te werk teen byvoorbeelde gemeenskapsprobleme soos dwelmmisbruik en misdaad. Volgens die leerders is die jeug van vandag gebroke, oningelig en verveeld, daarom raak hulle betrokke by slegte vriende en raak hulle vasgevang in slegte gewoontes. Sou die leerders ’n projek kon stig om die jeug produktief besig te hou en te waarsku teen dwelmmisbruik sal die jeug dalk beter besluite kan maak in die toekoms. Hierdie is ’n belangrike aanname dat die leerders en die gemeenskap bemagtig word om beheer te neem oor hulle eie ontwikkeling en vooruitgang van die omgewing waarin hulle woon.

Resolofetse het ’n groentetuinprojek begin waar die leerders self die geleentheid gekry het om groente te plant wat die skool en die gemeenskap kon geniet. Verder het hulle ’n herwinningsprojek voorgestel om vullis in verskillende kategorieë soos plastiek, glas en papier te verdeel en in te gee by die Groen-kampus projek by die NWU-Potchefstroomkampus om sodoende ekstra befondsing vir die skool in te samel. Hierdie voorbeelde is daadwerklik ’n inisiatief wat nie net ’n verantwoordelikheid by die leerders skep om self befondsing te genereer nie, maar ook by die omliggende gemeenskap om self hulle ontwikkeling te behartig (kyk asb. paragraaf 2.3.4).

Volgens die onderwysers is die onderwerpe onder bespreking ondermeer: verhoudinge, self- ontdekking, ontwikkeling van leierseienskappe, dwelm- en ander sosiale kwessies. Die leerders besef deur die besprekings van verskeie onderwerpe volgens die onderwysers, dat dwelms mens se liggaam en gesondheid beskadig en verskeie gevolge inhou. Hierdie betrokkenheid verwoes nie net die individu se lewe nie, maar ook talle naasbestaandes aan hom en die projek poog om leerders aan te moedig om hierdie druk teen te staan en ondersteuning vir ander leerders te bied om hulp te kry. Dit opsigself is vir die onderwysers ’n belangrike aanname as die leerders kennis opdoen wat wel hulle spesifieke ontwikkelingskwessies aanspreek en die breër gemeenskap voordeel by die projek kan trek.

Verder bied Resolofetse Secondary School se projekleier in sy vrye tyd ekstra wetenskap- en taalklasse vir die leerders aan. Hulle word ook blootgestel aan ander buitemuurse aktiwiteite soos skaak en swemlesse. Laasgenoemde was vir die leerders nogal ’n persoonlike doelwit wat hulle bereik het en die leerders kon nie uitgepraat raak oor die waardering wat hulle vir die inisiatief gehad het omdat nie een van hulle voorheen geleer swem het nie.

Al drie Pick a leader-leierskapontwikkelingsprojekte het op ’n kampusbesoek gegaan en alles oor die NWU-Potchefstroomkampus se studentelewe en toelating tot universiteit geleer. Die algehele gevoel vanaf die leerders is dat die temas hulle die geleentheid gee om eerlik met hulleself te wees en hulleself te kan leer ken. Hierdeur kan hulle, hulle eie doelwitte opstel om na te streef en aan te werk. Tydens die studie het die navorser die gevolgtrekking gemaak dat Resolofetse Secondary School se projekleier die inisiëring van onderwerpe oorlaat aan die leerders en hulle die mag gee om self onderwerpe vir aksies voor te stel en uit te voer. Hierdie projek ondersteun die teoretiese stelling dat leerders die nodige kennis en ervaring wat hulle deur die onderwerpe leer in die toekoms kan gebruik en hulle lewensvaardighede ontwikkel word. Daarteenoor is daar nog ruimte vir verbetering by Boitshoko CJSS en Potchefstroom Secondary School om meer mag te verleen aan die leerders deur hulle aan te moedig om hulle eie onderwerpe waarvan hulle kennis verlang te inisieer en die projek sodoende self te bestuur.