• No results found

POSTKOLONIALE TEORETIESE BEGRONDING: HEGEMONIE, IDENTITEIT EN HERINNERINGE

2.2.2 Ideologie: Die boustene van hegemonie

Aangesien sowel Searle as Van der Merwe “kinders” van die apartheidsera was, is dit noodsaaklik om ook die konsep ideologie as boustene van hegemonie te deurgrond. Deur die onderlinge verband tussen simboliese betekenis en mag aan te dui, omskryf Thompson, J.B. (1990:7) die konsep ideologie breedweg as “meaning in the service of power”. Simboliese vorms kan byvoorbeeld taal, komplekse beelde en tekste, die media en geloof insluit waarmee die maghebbers of die elitegroep betekenis skep en ontplooi in sosiale kontekste soos die alledaagse lewe van die ondergeskiktes. Thompson, J.B. (1990:73) argumenteer voorts dat ideologie, waarvan simbole as voertuig vir die ontplooiing van betekenis dien, binne sekere kontekste die doel dien om magsverhoudings tot stand te bring en te onderhou:

Ideology expresses the interest of the dominant class in the sense that the ideas which compose ideology are ideas which, in any historical period articulate the ambitions, concerns and wishful deliberations of the dominant social groups as they struggle to secure and maintain their position of domination (Thompson, J.B., 1990:37-38).

Ideologie kan met ander woorde aangewend word om sosiale strukture te skep en te onderhou waarvolgens sogenaamde meerderwaardige individue en groepe meer bevoordeel word as minderwaardige individue en groepe.

28

Soos aangetoon, is ideologie nie slegs beperk tot die magspel binne die politieke sfeer nie. Sowel Thompson, J.B. (1990:9) as Loomba (2005:26) verwys na die belangrikheid van magsverhoudings en dominasie in meeste mense se daaglikse en direkte sosiale kontekste, byvoorbeeld in hul huis- en werkomgewings. Daaglikse interaksies tussen individue en groepe, asook denkwyses oor sosiale ongelykhede – tussen vroue en mans, swart en wit, arm en ryk – en selfs geloofsoortuigings, is ideologies begrond. Ideologie word ook aangevoer en bevorder deur sosiale instellings soos kerke en skole, of deur gemeenskappe, selfs deur ouers aan hul kinders.

Ashcroft et al. (1998:221) argumenteer voorts dat die werking van ideologie tweeledig is. Die ondergeskiktes se aanvaarding en ondersteuning van die ideologie is nodig vir die maghebbers se suksesvolle aanvoering daarvan. Anders gestel, behels ideologie nie slegs die maghebbers se ontplooiing van hul idees binne die sosiale kontekste van die ondergeskiktes nie, maar ook die ondergeskiktes se meedeling en instemming tot die maghebbers se idees. Volgens Ashcroft et al. (1998:221) beaam die ondergeskiktes die idees van die maghebbers omdat dit aan hulle ʼn gevoel van sekuriteit verskaf deur middel van byvoorbeeld taalstrukture en sosiale kodes en konvensies. Die ondergeskiktes se instemming tot ideologie kan, myns insiens, ook beskou word as instemming tot die hegemoniese beheer van die magsstrukture waardeur ideologie aangevoer word. Deur die ondergeskiktes se vereen- selwiging met en instemming tot die ideologieë van die maghebbers, regverdig die ondergeskiktes as ‟t ware die mag wat oor hulle uitgeoefen word, ongeag daarvan of hulle daarvan bewus is dat die magsuitoefening nie noodwendig in hulle beste belange is nie. In hierdie opsig sou die gekoloniseerde ondergeskiktes se instemming tot imperiaal hegemoniese ideologieë, ten spyte dat imperialisme en kolonialisme tot hul fisiese, psigiese, politieke en ekonomiese nadeel is, as voorbeeld kon dien.

McLeod (2000:18) bied vervolgens ʼn rede vir die imperiale aanvoering van die ideologie van geregverdigde dominasie oor die gekoloniseerdes wat lig werp op die kwessie van die gekoloniseerdes se instemming tot imperiale

29

ideologieë en hegemonie. Soos beredeneer is, berus die beskouing van imperialisme as geregverdigde magsuitoefening op ʼn binêre uitkyk wat die gekoloniseerdes as onvolwasse, irrasioneel en onmondig skets (kyk 2.2.1). Volgens McLeod (2000:18) word die ideologie van geregverdigde imperiale en koloniale dominasie aangevoer om die gekoloniseerdes tot aanvaarding en vereenselwiging te bring van hul sogenaamde laer en minderwaardige stand in die koloniale sosiale hiërargie – ʼn proses waarna hy verwys as “colonising the mind”. Thompson, J.B. (1990:91) sluit aan by McLeod en stel dat die skynbare gemak waarmee dominante groepe heers, en die andersyds merendeels gelate aanvaarding van sogenaamd minderwaardige groepe van hul oorheersingslot, van die diepgaande invloed van ideologie in die werking van hegemonie getuig (vgl. Ashcroft et al., 1998:221).

Só beskou, wil dit voorkom asof ideologie binne die konteks van hegemonie aangewend word vir die doel om die ondergeskiktes te laat dink en glo dat hulle minderwaardig tot die maghebbers is. Dit behels dat hulle hegemonies instem tot die ideologieë waarvolgens hulle as minderwaardig weerspieël word en die dominasie wat oor hulle uitgevoer word, as geregverdigd aanvaar. Ek baseer hierdie interpretasie voorts op Zaaiman (2007:363) se argument dat die aanwending van ideologie vir die skynbaar volledige dominasie van sogenaamde minderwaardige groepe, insover beheer oor hul dade én denke uitgeoefen word, kenmerkend van hegemonie is.

Na dekolonisasie bestaan die moontlikheid dat die heersende klas of elite se belange weereens voorgehou word as die algemene belange, net soos die kolonialiste se belange tydens koloniale dominasie ondersteun was. Die gevolg is dat die belange van die maghebbers in die onafhanklike nasiestaat weereens hegemonies ondersteun kan word ten koste van sogenaamde minderwaardige individue en groepe (vgl. López, 2005:2). Dit behels dat die voormalig gekoloniseerdes imperiale ideologieë waarvolgens Eurosentriese waardes, oortuigings, houdings en praktyke as die mees natuurlike en kosbare voorgehou is, vir lank na die proses van dekolonisasie behou en mee identifiseer. Die behoud van die imperiaal-gevestigde hegemoniese ideo-

30

logieë dat instemming tot wit en manlike oorheersing noodsaaklik is vir die verkryging van sosiale orde, stabiliteit en vooruitgang, dien as voorbeeld (vgl. Ashcroft et al., 1998:116). Waarop dit neerkom, is dat die voormalig gekoloniseerdes se behoud van imperiale ideologieë, noodwendig gepaard gaan met die behoud van hegemoniese magsverhoudings wat gegrond is op imperiale en koloniale praktyke. Hiermee stem Loomba (2005:16) saam wanneer sy stel dat imperialisme en kolonialisme ʼn voortdurende invloed het soos blyk uit die politieke, kulturele en ekonomiese hegemonie van voormalig gekoloniseerde nasie-state. Fanon (1925-1961) vat dit kortliks soos volg saam: “[t]he national bourgeoisie steps into the shoes of the former European settlement” (Fanon, 1967:122).

Die hedendaagse demokraties-nasionalistiese konteks van Suid-Afrika, wat as ʼn voormalig gekoloniseerde land ook gebuk gegaan het onder die behoud van hegemonie in Afrikanernasionalisme, noodsaak ʼn interpretasie van nasionalisme sover dit verband hou met hegemoniese magsverhoudings.