• No results found

POSTKOLONIALE TEORETIESE BEGRONDING: HEGEMONIE, IDENTITEIT EN HERINNERINGE

2.3.6 Diasporiese, hibriede en liminale identiteite

Wanneer diaspora beskou word as die verstrooiing en ontheemding van mense, is dit gewoonlik met verwysing na die blywende invloed van imperialisme en kolonialisme op mense regoor die wêreld (Ashcroft et al., 1998:68). Deur uit te lig dat Westerse bevolkingsgroepe al vir eeue uit verskillende sogenaamde nasies en rasse bestaan, het diaspora as migrasieproses volgens McLeod (2000:205) imperialisme en kolonialisme voorafgegaan. Diaspora is nie noodwendig slegs ʼn gevolg van imperialisme en kolonialisme nie en behels nie slegs fisiese migrasie nie, maar word ook beskou as ʼn denkwyse oor die wêreld ten opsigte van behorendheid (vgl. McLeod, 2007:151).

Bauman (2004:12) brei uit oor die konsep behorendheid deur te stel dat die idee van die besit van ʼn identiteit slegs vir mense van belang word wanneer hulle nie meer behoort nie. Volgens hom kan individuele en kollektiewe identiteite bedreig word deur omstandighede wat uitsluiting tot gevolg het. Ek lei verder hieruit af dat selfs wanneer mense behoort en met ander woorde nie uitgesluit word nie, die besit van ʼn identiteit van belang kan wees. Ek verwys byvoorbeeld na koloniale en nasionale samelewings se beheptheid met die besit van ʼn aanvaarde toegeskrewe identiteit soos byvoorbeeld rasidentiteit. Hierdie beheptheid was ook aan die wortel van die apartheidsideologie in Suid-Afrika.

Die identiteitskompleksiteit van behorendheid word gevolglik deur De Fina (2003:3) as kenmerkend van die immigrasieproses beskou, ʼn proses wat toenemend meer individue insluit binne die hedendaagse konteks van groeiende globalisasie en wat diaspora en liminaliteit impliseer. Die identiteitskonsep van behorendheid en die kompleksiteite wat daarmee

54

gepaard gaan, is ʼn sentrale aspek in Cohen se omskrywing van diaspora. Cohen (1997:ix) beskryf diasporas as gemeenskappe van mense wat in een land saam woonagtig is, maar erken dat hulle lojaliteit en emosies in ʼn mate altyd aan die ou land gebonde sal wees. Hy brei uit oor diasporiese gemeenskappe deur te stel dat die lede daarvan ʼn onontkombare skakel met hul migrasiegeskiedenis van die verlede het. Hierdie gevoel word gedeel met ander persone van ʼn soortgelyke agtergrond (Cohen, 1997:ix). Diaspora sluit dus nie net migrante in nie, maar is ook van toepassing op die nageslagte van migrante as gevolg van ʼn skakel met hul migrasiegeskiedenis. Deurdat die gevoel van diaspora gedeel word tussen persone, bied dit die moontlikheid vir die vorming van ʼn kollektiewe diasporiese identiteit. Uit die bogenoemde bydraes van Bauman (2004:12), De Fina (2003:3) en Cohen (1997:ix) word die gevolgtrekking gemaak dat diaspora gereeld met uitsluiting gepaard gaan en dat diasporiese gemeenskappe nie noodwendig aanvaar word in die nuwe land nie.

Cohen (1997:26) identifiseer twee kriteria waarvolgens diaspora kan plaasvind. Eerstens vind diaspora plaas as gevolg van die ontheemding en verplasing van ʼn groep vanaf hul oorspronklike tuisland, moontlik op ʼn traumatiese wyse, na buitelandse gebiede. Die Joodse diaspora en alle ander slagoffer-diasporas dien as klassieke voorbeelde hiervan (vgl. Jacobs 2006:115). Alternatiewelik stel Cohen (1997:26) dat diaspora kan plaasvind deur die uitbreiding van ʼn tuisland se grense in ʼn soektog na werk, handel of om koloniale ambisies te bevorder en sou daarom ʼn groot hoeveelheid postkoloniale gemeenskappe oor die wêreld kon insluit (vgl. Jacobs 2006:115). Fludernik verdeel op sy beurt Cohen se tweede kategorie in drie subkategorieë. Volgens Fludernik (2003:xii) behels die eerste subkategorie koloniale diaspora, terwyl die tweede alle tipes slawerny en permanente verplasing deur emigrasie insluit. In die derde subkategorie word diaspora gekenmerk deur groter mobiliteit en die geneigdheid om selfballingskap as onderhandelbaar, semi-permanent of tydelik te beskou.

55

Ek interpreteer diaspora as ʼn proses tussen vertrek en aankoms, wat ʼn verandering in die vorming van identiteite teweeg bring. Hierdie afleiding word gebaseer op Rushdie (1991:12) se argument dat die liminale posisie wat diasporiese identiteite inneem, enersyds ʼn omgang met die problematiek van behorendheid aanspreek, en andersyds ʼn opwindende omgewing is wat nuwe moontlikhede bied vir identiteitsvorming en die aanvoering van agentskap (vgl. McLeod, 2000:215). Bhabha (1994:1) sluit aan by Rushdie deur uit te brei oor die grensgebied waarin diasporiese identiteite gevorm word. Volgens hom is die grensgebied die omgewing waarin ʼn mens in die proses is om oor te steek, hetsy dit tussen die hede en die verlede, binne en buite of tussen verskil en identifisering is. Die rede waarom Bhabha die grensgebied en die proses van oorsteek of oorgaan as ʼn belangrike kenmerk van liminaliteit uitlig, is omdat dit die binêre opposisies van binne en buite, hede en verlede saamvoeg in plaas daarvan om dit apart te hou. Dié grensgebied van liminaliteit, wat ook na verwys word as die liminale ruimte, bied die moontlikheid om tradisioneel onwrikbare, binêr-verdeelde en ideologies- geskepte identiteite, soos byvoorbeeld manlik/vroulik, meester/slaaf, wit/swart, te bevraagteken (Bhabha, 1994:2). Die liminale ruimte bied met ander woorde aan die ondergeskiktes die moontlikheid om hul agentskap aan te voer deur die bevraagtekening van die ideologieë waardeur hul identiteitsvorming hegemonies beïnvloed word.

Brah (1997:225) se omskrywing van diasporiese ruimtes sluit aan by Bhabha se beskouing van die grensgebied as ʼn liminale ruimte wat die moontlikheid bied vir die bevraagtekening van identiteite. Volgens haar is diasporiese ruimtes kruispunte waarin identiteit in terme van vloeibaarheid, veranderlikheid en hibriditeit herdink kan word. Brah (1997:209) argumenteer voorts dat die veranderinge in identiteitsbeskouinge wat deur liminaliteit meegebring kan word, nie net van toepassing is op liminale en diasporiese identiteite nie. Diasporiese ruimtes beskik oor die groter moontlikheid om die identiteitsbeskouings van almal in die ruimte te verander, insluitende diegene wat nie gemarginaliseer word nie, of wie se identiteite erken en aanvaar word (vgl. Turner, 1974:47). Dus kan die liminale ruimte aan ondergeskikte en

56

uitgesluite identiteite die moontlikheid bied om aktief by te dra tot identiteits- vorming, soos byvoorbeeld om identiteite wat deur hegemoniese ideologieë begrond word, te bevraagteken. Vervolgens word hibriditeit, een van die belangrikste en mees omstrede terme binne postkoloniale teorie onder die loep geneem.

Hibriditeit verwys breedweg na die skep van nuwe interkulturele identiteite binne die liminale ruimte, ook na verwys as die Third Space, wat deur kolonisasie teweeg gebring word (Van der Merwe & Viljoen, 2007:3). Die term hibriditeit is aanvanklik in plantkunde gebruik met verwysing na die skep van ʼn derde hibriede plantspesie deur die kruisverwekking van twee spesies deur die inenting of kruisbestuiwing van een variëteit van ʼn plant met ʼn ander (Ashcroft et al., 1998:118). Voorts neem hibriditeit verskeie vorms aan en sluit onder meer taalkundige, kulturele, politieke en rasgebaseerde vorms in. Taalkundige voorbeelde sluit Kreoolse tale soos Afrikaans in (Ashcroft et al., 1998:118).

Bhabha (1994:2) wys voorts daarop dat hibriede identiteite ook oor die vermoë beskik om idees oor tradisioneel hegemonies voorgeskrewe identiteite, soos ras, klas en geslag, uit te daag en te verander. Die rede vir die potensiaal van hibriede identiteite om as bron vir die agentskap van die gekoloniseerdes te dien, is dat hibriede identiteite nooit stabiel of sogenaamd suiwer is nie, maar voortdurend ʼn liminale posisie beklee.

Alhoewel Bhabha (1994:2) ʼn positiewe ingesteldheid openbaar ten opsigte van die vermoë van hibriede identiteite om tradisioneel hegemonies voorgeskrewe identiteite uit te daag en te verander, wys Young (in Ashcroft et al., 1998:120) daarop dat hibridisering en interkulturele interaksie nie altyd vanuit ʼn positiewe ingesteldheid benader word nie. Hy wys byvoorbeeld op die diskriminerende aard van die konsep hibriditeit binne die imperiale en koloniale diskoerse, aangesien dit op ʼn negatiewe wyse deel geword het van die koloniale diskoers oor rassisme. Met die Westerse insluiting van rasgedrewe ideologieë in diskoerse oor wetenskap, word die biologiese sowel as die psigologiese en sosiaaltoegeskryfde eienskappe van die ander deur

57

kolonialisme opgelê (Loomba, 2005:100). Op hierdie wyse het die wetenskap barbarisme en beskawing as permanente toestande erken op grond van biologiese verskille, gebaseer op skedel- en breingrotes, gesigvorm of gene (Loomba, 2005:101). Vanuit ʼn rassistiese perspektief is rasvermenging as onaanvaarbaar, onsuiwer en minderwaardig beskou.

Die agentskap wat deur middel van diasporiese, liminale en hibriede identiteite aangevoer kan word, beteken nie dat die ideologies-toegeskryfde identiteite noodwendig tot ʼn einde kom nie. Hegemonie beïnvloed steeds, myns insiens, identiteitsvorming.