• No results found

SAMEVATTING EN FINALE GEVOLGTREKKINGS

Poësie Performance as uitvoerende kunsvorm is ‘n universele verskynsel wat teruggevoer kan word tot die antieke Griekse kultuur. Dit is ‘n diverse kunsvorm. Deur eerstens ondersoek in te stel na wat poësie as literêre begrip behels en daarna te kyk na performance as ‘n kernbegrip in die uitvoerende kunsvorms, was dit moontlik om kriteria te bepaal waarvolgens die onderskeie tipes poësie performance bespreek en vergelyk kon word.

Daar is bepaal dat ‘n poësie performances uitgeken kan word aan die volgende eienskappe:

· Die performance bevat poësie as teksbron óf

kan uitgeken word aan die feit dat poësie op een of ander wyse deel uitmaak van die performance as ‘n saamgestelde geheel (soos byvoorbeeld in die geval van woordkuns en/of poësie gebaseerde dramas en kabarette).

· Daar word kreatief met die poësie omgegaan - hetsy byvoorbeeld deur middel van voordrag, toonsetting van gedigte, musiek, beweging en ander visuele ondersteuningsmidddels.

· Die poësie word deur een of meer persone vir ‘n gehoor vertolk, in wisselende voordragstyle, in ‘n ruimte waarvoor daar nie spesifieke voorskrifte bestaan nie en by ‘n geleentheid waarvan die doel kan wissel.

‘n Aantal voorbeelde van performances is bespreek met verwysing na watter poësie perform is, hoe die performance gestruktureer is en waar dit plaasgevind het en die verskillende tipes is met behulp van hierdie riglyne belig. Daar is gevind dat:

· Die tipe poësie kan wissel na gelang van die verskillende tipes poësie performances en dat die tipe poësie bepalend is tot sekere poësie

102

performances. Die ritueel en pryssang stel byvoorbeeld sekere vereistes wat eie is aan die tipe en kletsrym stel weer ander vereistes. Woordkuns daarteenoor kan enige tipe poësie bevat.

· Die struktuur van die performance wissel van tipe tot tipe. Sommige tipes, byvoorbeeld woordkuns en poësie gebaseerde dramas/kabarette word gerig deur ‘n tema as bindingselement.

· Poësie performances kan op enige plek plaasvind wat ruimte bied vir ‘n gehoor en performers. Hierdie ruimtes is slegs in die geval van ‘n teater ‘n vaste performance ruimte.

Ook is ‘n breedvoerige bespreking van my praktiese verkenning van poësie performance in die vorm van ‘n verhoogproduksie getiteld Ontslape gedoen. Die motivering, inhoud, proses en performance is in diepte bespreek en ook uiteindelik vergelyk met ander poësie performances. Samevattend kan daar in hierdie finale gevolgtrekkings gesê word dat hierdie praktiese verkenning gelei het tot die volgende gevolgtrekkings:

· Daar bestaan variasies binne sekere tipes, maar elke tipe het sekere basiese kenmerke.

· Een spesifieke poësie performance tipe kan ook elemente uit ander tipes bevat.

· Indien daar kreatief met die verskillende bestaande tipes omgegaan word is dit nie uitgesluit dat verdere variasies en selfs nuwe tipes geskep kan word nie.

Poësie performances (in die konteks van hierdie studie) word hoofsaaklik geken aan twee hoofkenmerke:

· Poësie dien as teks · Die poësie word perform.

103

Die teorie van Richard Schechner (1988:142) is gebruik as verwysing om die term

performance te omskryf. Die kriteria vir wat as poësie gesien kan word, is moeilik

definieerbaar aangesien daar nie vir poësie slegs een definisie bestaan nie. In die onderskeie voorbeelde wat bespreek is, is gevind dat die nie net in styl wissel nie, maar dat die poësie wat gebruik word ook as volg kan verskil:

· Soms word reeds gepubliseerde poësie gebruik.

· Soms word die poësie tydens die performance geskep.

Die volgende tipes poësie performances is geïdentifiseer: poësie as ritueel, poësie in voorlesing, poësie en voordrag, poësie as deel van woordkuns, poësie in sangvorm, die versdrama en poësie gebaseerde dramas en kabarette. Daar is gevind dat baie performances tog saamgestel is uit elemente wat ook in ander performance tipes en verskillende moontlikhede aangetref word. Die meer kontemporêre voorbeelde van poësie performance wat as voorbeelde in hierdie studie ondersoek is, dui daarop dat die diversiteit van poësie performances toeneem. Wanneer die onderskeie tipes in hierdie finale gevolgtrekkings met mekaar vergelyk word, kan die volgende gevolgtrekkings gemaak word:

· Die oorsprong van die poësie wat vir performance doeleindes gebruik word, verskil: reeds bestaande geskrewe poësie; self-geskrewe poësie; mondelings oorgedraagde tradisionele poësie en soms poësie wat as liriek geskryf is, word gebruik.

· Die aanbiedingstyl van die onderskeie tipes wissel. Die wyse waarop poësie vir performance aangebied kan word, wissel van voorlesing tot sang of soos in die geval van my eie praktiese projek kan dit selfs as dialoog tussen karakters aangewend word.

· Die aanbiedingstyl van performances, die poësie wat perform word, die performers (byvoorbeeld digter, akteur of sanger) en die motivering vir perform van poësie kan ooreenkom of verskil van tipe tot tipe.

· Dit is ook duidelik dat sekere tipes poësie performance ooreenkomste met mekaar toon. Woordkuns is byvoorbeeld ‘n tipe wat so te sê al die ander

104

performance tipes se elemente kan betrek en is dikwels baie eklekties van aard.

· Poësie performance blyk voortdurend aan te pas by die aard en behoeftes van die tyd en elke tipe het ‘n sekere gehooraanhang.

Poësie performance is ‘n omvangryke genre wat die potensiaal het om nuwe benaderings tot die kunsvorm of selfs nuwe tipes te ontwikkel. Kletsrym is ‘n voorbeeld hiervan. Na my mening is die voortbestaan en verdere ontwikkeling van poësie performance in die onmiddellike toekoms moontlik. Sekere tipes is nog betreklik onderontwikkel in Suid-Afrika, byvoorbeeld Slam voordrag en Slam feeste. Ook glo ek dat die diverse aard van die Suid-Afrikaanse samelewing ten opsigte van kultuur en herkoms die moontlikheid van nuwe tipes kan stimuleer. Om laasgenoemde moontlik te maak, stel ek voor dat ‘n groter bewusmaking van wat as poësie performance beskou kan word onder gevestigde sowel as opkomende teatermakers en ander kunstenaars nodig is. Hierdie bewusmaking kan sonder twyfel reeds in skole, universiteite en as deel van ander kreatiewe onderrig geskied. Kunstefeeste kan ook ‘n rol speel in die bewusmaking en ontwikkeling van poësie performances. Alhoewel daar reeds verskeie moontlikhede vir poësie performance bestaan, kan daar dus moontlik nog verdere vorme en variante ontwikkel.

105