• No results found

Gehoorreaksie en terugvoer op Ontslape as poësie performance

HOOFSTUK VIER

ONTSLAPE AS PRAKTIESE VERKENNING VAN EEN MOONTLIKHEID VIR POËSIE

W.) Die res van die dekor het bloot bestaan uit hopies boeke wat oral oor op die

4.6 Gehoorreaksie en terugvoer op Ontslape as poësie performance

In hierdie afdeling beoog ek om so objektief moontlik ‘n blik te gee op die reaksie van die gehoor na afloop van Ontslape. Alhoewel ek nie ‘n amptelike meningsopname gedoen het nie, was daar tog ander vorme van terugvoer. Die doel van hierdie onderafdeling is dus bloot ‘n poging om die gehoor ontvangs van Ontslape as ‘n poësie performance te skets. Die bekendheid van die poësie van Breyten Breytenbach kon moontlik verskeie vooropgestelde idees by ‘n gehoor gekweek het.

95

Dus bestaan die moontlikheid dat sekere gehoorlede sonder twyfel as kenners van sy werk met ‘n spesifieke verwagting na die produksie kom kyk het, terwyl ander moontlik huiwerig was om te kom juis omdat dit Breytenbach se poësie is wat deur sommige mense as kompleks beskou word weens die metaforiese aard van sy poësie.

Terugvoer is ontvang in ‘n rubriek op LitNET deur Albert Maritz70 en ek gebruik ‘n aanhaling uit hierdie rubriek as ‘n vertrekpunt vir my terugvoering. Maritz (2010: Internetbron) lig onder andere die volgende is sy rubriek uit:

[In Ontslape] praat akteurs (karakters) met mekaar deur ’n abstrakte taal – Breyten Breytenbachiaans. [Die] teks deur Mari Borstlap, gebaseer op die werk van Breytenbach, stel karakters teenoor mekaar in dialoog [met die doel] om te probeer vasstel of die toeganklikheid van poësie verbreed kan word deur dit teatraal aan te bied. [Hierdie dan] die verskil tussen hierdie aanbieding en ander voorafgaande werke op Stellenbosch.

Oor óf hierdie aanbieding geslaagd was, antwoord Maritz as volg:

So, soos met Shakespeare, moet die voordraer beslis woeker met die inligting in die gedig en dit namens die gehoor inklee met stem en gevoel. Dis ’n element wat wel in Mari Borstlap se “Ontslape” voorgekom het, maar in dié stadium nog inkonsekwent. ’n Mens het die gevoel gekry die akteurs maak beurte om baie sterk te imponeer; maar by tye gaan hulle te gewoon met die materiaal om (Maritz, 2010: Internetbron).

Behalwe vir Maritz (2010: Internetbron) se uitlig van die uitdagende aspek ten opsigte van die praat van poësie as dialoog, maak hy ook melding van die tegniese inkleding: “Baie indrukwekkende visuele voorstellings laat die mond oophang.

96

Innoverende gebruik van beligting maak wêrelde oop [deur middel van] hierdie erg onderskatte onderdeel van teater.”

Dit is dus duidelik dat die Maritz op twee van die hoofaspekte wat in my regie konsep uiteengesit is, kommentaar lewer, naamlik die uitdaging rondom die abstrakte taal en my poging om via beligtingsontwerp die performance visueel stimulerend te maak. Ek het ook via die virtuele sosiale netwerk Facebook verskeie gehoorlede gehad wat of aan my persoonlik of via die Ontslape Facebook blad terugvoer gegee het.71 Met betrekking tot die visuele komponent asook die musiek in Ontslape het die meerderheid van gehoorlede met wie ek terugvoerend gesprekke kon voer dit as geslaagd en doeltreffend beskryf. In haar geskrewe terugvoer beskryf Mareliza Nel (Sien Addendum AA: Facebook Terugvoering) haar ervaring as volg:

Die visuele aspekte was baie aanloklik, dit het my aandag gehou terwyl ek soms oorweldig geword het deur die woorde. Met visueel bedoel ek: die akteurs en die dinamika tussen hul, die beelde teen die skerms en die gebruik van verhoog 'decor'. Die musiek het 'n paar keer vir my uitgestaan in […] 'n kombinasie van sekere paragrawe [of gedigte] en visuele aspekte.

Bernard Coetzer (Sien Addendum BB: Facebook Terugvoering) skryf in sy terugvoering: “[Ek het] gedink die produksie self was baie cool […] alles het ge-gel, akteurs was […] gemaklik, musiek was gepas en fantasties.” Wilhelm van der Walt (Sien Addendum CC: Facebook Terugvoering) sonder die feit dat hy “ure lange repetisies en ‘n weldeurdagte konsep” kon raaksien, uit.

Daar was ook verskeie opmerkings in die geskrewe terugvoer aangaande die musiek in Ontslape. Mevrou Steenstra (Sien Addendum DD: Facebook Terugvoering) skryf: “Wilken Calitz [se] musiek [is] "spot-on". Jy kon nie beter musiek saam met hierdie produksie gehad het nie.” Stephan Meyer Jnr (Sien Addendum EE: Facebook Terugvoering) beaam dit in sy terugvoer deur die musiek as “roerend” te beskryf.

71

Sien Addendums AA- EE vir kopie van oorspronklike terugvoer via Facebook. Let asseblief wel daarop dat die trant van hierdie terugvoering nie noodwendig formeel of akademies van aard is nie.

97

Dit was egter ook Meyer (Sien Addendum EE: Facebook Terugvoering) wat in sy terugvoering aspekte aanraak wat nie so geslaagd was nie. Meyer se opmerkings som die kritiek op van die oorgrote meerderheid gehoorlede met wie ek oor die produksie kon praat. Meyer se kritiek lui as volg:

My grootste kritiek is dat dit 'n geval van 'te veel, te vinnig' was. Die gedigte, saam met die toneelspel en die beweging en die AV en die musiek het dit vir my moeilik gemaak om alles te verstaan - dalk is ek maar 'n lui teaterganger en wil alles daar en dan verwerk (seker maar in 'n poging om die show te 'verstaan'). Nes Breytenbach se gedigte was jou produksie met betekenis gelaai en 'n tweede en selfs derde kyk daarna sou dit seker onthul het. Die groot ding van poësie en die voordrag daarvan is dat die gehoor juis daarna moet luister, ('neem, eet, dink daaraan' wil ek sê!) en dan, in 'n poging om te verstaan, 'n eie gewaarwording probeer skep. Daarom dan 'n voorleser, 'n mikrofoon en niks anders nie. As daar te veel is om na te kyk, word die gehoor se aandag van die gedigte afgelei na my mening. So, kan poësie verbreed word deur dit teatraal aan te bied? Ek wil instinktief 'ja' sê [aangesien] ek my eie gewaarwording van Breyten se gedigte skep wanneer ek dit lees / aanhoor, [en ek wel] Ontslape [as] jou gewaarwording van Breytenbach se poësie sien…en dít het jy meesterlik met ons gedeel…

Meyer (Sien Addendum EE: Facebook Terugvoering) se terugvoering dien as ‘n goeie vertrekpunt vir my eie mening rondom die resultate wat Ontslape as een moontlikheid van poësie performance inhou. In retrospek, stem ek saam dat

Ontslape se doeltreffendheid afgeneem het weens die feit dat daar te veel teatrale

lae en effekte bo-oor die ryk poësie van Breytenbach gevoeg is. Alhoewel ek gepoog het om die poësie deur middel van hierdie regie konsepte meer toeganklik te maak, was die teendeel miskien die gevolg, aangesien die gehoor nie alles wat aan hul

98

voorgehou is gelyktydig kon inneem nie.. Ek moes eerder meer op die poësie se visuele inhoud staat gemaak het om die gehoor op ‘n reis te neem, met slegs subtiele gebruik van beligting en moontlik geen multimedia effekte nie. Wat die musiek betref, glo ek egter dat die klanklandskap wel die poësie in performance besonder goed onderskraag het. Soos reeds in soveel van die voorbeelde van ander poësie performances wat bespreek is, gesien kon word, is musiek moontlik die beste kunsvorm om saam met poësie te gebruik wanneer dit by ‘n teatrale of dramatiese performance moontlikheid kom.

Die gevolgtrekking kan gemaak word dat die produksie moontlik gedeeltelik geslaagd was. Soos dikwels met enige uitvoerende kunsvorm was sekere aspekte van die produksie meer geslaag as ander. Dit wil egter opsommend voorkom asof die hoofkritiek te make het met die feit dat die intensiteit van die poësie onderskat is. Die bykomende komponente soos dekor, beligting, die projekteer van beeldmateriaal en musiek het dit moontlik by tye vir die gehoor moeilik gemaak om die poësie te verstaan. Daar moet dus deeglik besin word sodat die poësie sentraal tot die performance bly.