• No results found

2.4 GEWELD TEEN MANS

In die voorafgaande gedeelte is grootliks aandag aan die vrou as slagoffer van intra-huweliksgeweld gegee. In die algemeen fokus die literatuur oor hierdie onderwerp ook grootliks op hierdie aspek. Daar is egter reeds aandag geskenk aan mans as slagoffers. McNeely, Cooke en Torres (2001) gee ‘n oorsig van ondersoeke wat sedert die 1970's in hierdie verband gedoen is. Publikasies in hierdie verband is volgens die outeurs (2001:228-229) begroet met skok, ongeloof en woede. Navorsers is gedreig met die afsny van befondsing, vroulike navorsers is uitgekryt as ruggraatloos, en selfs gedreig met bomaanvalle op en beserings aan hul kinders. Die outeurs vergelyk hierdie reaksie met die reaksies wat Socrates en Galileo te beurt geval het toe hulle die destydse konvensionele wysheid bevraagteken het. Die idee dat vroue aktief deel het aan huweliksgeweld skep ook vrees by diegene met belang by die befondsing wat verkry word uit die idee dat mans alleen verantwoordelik is vir gesins- en huweliksgeweld. Verder gee dit aanleiding daartoe dat feministe voel die idee dat slegs vrouens die slagoffers van huweliksgeweld kan wees, word ondermyn.

Nieteenstaande hierdie reaksies, hou McNeely, Torres en Cooke (2001: 203) vol dat “...

it is initially astonishing, even to domestic relations professionals, that the robust belief of men being the more-or-less exclusive perpetrators of inter-personal violence is false”.

Die idee dat gewelddadige vroue hul tot geweld wend uit selfverdeiging word ook ondermyn deur ‘n studie van Sarantakos (2004) waarin tot die volgende slotsom gekom is: “... analysis revealed that the credibility of the wives’ accounts was highly questionable and a justification of self-defence for female- to- male violence was unfounded in most of cases” (Sarantakos 2004:277).

McNeely, Torres en Cooke (2001) gee ‘n chronologie van illustratiewe navorsing oor drie dekades te gee (2001:237):

2.4.1. Die 1970's

Gelles het in 1974 in die VSA ‘n studie gedoen waar bure gevra is oor geweld in huise langsaan en waarin bevind is dat 26 % van die gesinne wat deel was van die studie, aan gesinsgeweld deel gehad het. Van die vroue is 2,5 % geviktimiseer tydens die verloop van hul huwelik, terwyl 12,5 % van mans ook geviktimiseer is. Op ‘n maandelikse basis is 7,5 % van vroue geviktimiseer teenoor 2,5 % van mans.

Steinmetz (die navorser wat bomdreigemente en dreigemente teen haar kinders ontvang het na die publikasie van haar navorsingsbevindings) het in 1977 ‘n verkennende ondersoek in New Castle County, Delaware, gedoen en dit later dieselfde jaar opgevolg met ‘n verteenwoordigende steekproef. Die bevindings was dat 93 % van gesinne verbale aggressie gebruik het en 60 % fisiese aggressie ten minste een keer gebruik het om huwelikskonflik mee op te los. Nege en dertig persent mans teenoor 37 % vroue het goed gegooi, 31 % mans teenoor 22 % vroue het gestamp, gestoot of gegryp. Twintig persent van sowel mans as vroue het hul egas geklap en 10 % van beide geslagte het hul egas met ‘n harde voorwerp geslaan.

2.4.2. Die 1980's

In 1985 het Straus en Gelles ‘n studie van 1975 in die VSA herhaal waarin hulle bevind het dat het die geweld teenoor vroue tydens hierdie periode afgeneem het van 12,1 % wat ten minste een geweldinsident in 1975 waargeneem het, teenoor 11,3 % in 1985. Aanranding het ook afgeneem van 3,8 % tot 3,0 %. Ernstige geweld teenoor mans het ook gedaal van 4,6 % tot 4,4 % maar 12,1 % van mans is in 1985 geviktimiseer teenoor 11,6 % in 1975. Ten slotte het mans wat voorwerpe gebruik het om ‘n vrou mee te slaan, afgeneem van 2,2 % tot 1,7 %, maar vroue wat voorwerpe gebruik het om hul mans mee te slaan het konstant gebly op 3,0 %.

2.4.3. Die 1990's

Volgens McNeely, Cook en Torres (2001: 235) het studies oor huweliksgeweld in die Verenigde Koninkryk ook meestal gefokus op die vroue as slagoffer. Carrado et al. (1996) het in 1994 ‘n nasionaal verteenwoordigende steekproef getrek bestaande uit heteroseksuele mans en vroue. Bevindings toon dat 10 % mans en 11 % vroue erken het dat hulle ‘n fisies aggressiewe daad gepleeg het. Mans was meer geneig om vroue te gryp en te stoot en vroue was meer geneig om te klap, alhoewel laasgenoemde ook geneig het om met die vuis te slaan, te skop, voorwerpe rond te gooi en hul geliefdes met ‘n skerp voorwerp aan te rand. Mans, in vergelyking met vroue, het ‘n algemene hoër voorkoms van viktimisasie ervaar asook ‘n hoër voorkoms van erge vorms van geweld. Ten slotte: geen bewyse kon ook uit hierdie studie verkry word dat die geweld deur vroue gepleeg, plaasvind in reaksie op dié van mans teen hulle nie.

Lupri (in McNeely, Cook & Torres, 2001: 235) het in ‘n Kanadese studie bevind dat 2,5 % mans en 6,2 % vroue erken het dat hulle hul egas fisies aangeval het. Agtien persent van die mans en 23 % van die vroue het aangedui dat hulle fisiese aggressie teenoor hul maats openbaar het en 10 % mans teenoor 13 % vroue het ernstige geweld teenoor hul maats geopenbaar.

2.4.4 Hoekom bly mans aan?

Dit wil voorkom of, soos in die geval met vroue, die man se besluit om te gaan al dan nie, beïnvloed word deur faktore soos die frekwensie en intensiteit van die geweld, ekonomiese oorwegings en die kinders. Volgens Steinmetz en Lucca (in Van Hasselt et

al., 1988: 242-243) wil dit voorkom asof mans geneig is om verlating te oorweeg

wanneer hul voel dat die geweld die kinders negatief raak. Ook vir mans is dit ‘n moeilike besluit, want hulle is dikwels bang dat die geweld in hul afwesigheid na hul kinders geprojekteer sal word en hulle ook beïnvloed kan word, omdat hulle voel dat hulle toesig en beheer oor die kinders kan verloor. 'n Verdere vraag is hoekom hierdie mans, in die lig van hul fisiese superioriteit, hulself nie verdedig nie? Een rede is die

geloof dat mans wat vroue slaan boelies is, terwyl 'n tweede is dat mans bewus is van hul fisiese krag en bang is dat, indien hulle beheer verloor, hulle die vrou ernstig kan beseer of selfs dood. 'n Verdere rede is dat mans voel dat vroue gestraf word as hul die wonde moet aanskou tydens die helingsproses. Wat ekonomiese faktore betref, kan geredeneer word dat mans in die algemeen ekonomies beter daaraan toe is as vroue en daarom die huis makliker kan verlaat. Dit is egter nie so eenvoudig nie, want so 'n stap impliseer die vind van alternatiewe huisvesting en ameublement, die betaal van onderhoud, ens.

McNeely, Cook en Torres (2001: 239-241) raak ook aan die ervarings van mishandelde mans. Geweldgeteisterde mans vind dit moeilik om die situasie te verlaat, want hulle meen hulle is skuldig aan pligversuim (teenoor die kinders) en voel hul moet die kinders beskerm. Ondersteuningsnetwerke kan kortkom en mans mag voel dat die judisiêr of regstelsel teen hul is, ongeag die omstandighede en hulle toesig en beheer oor die kinders kan verloor.