• No results found

MEDE-WETE

5.2 Gevolgtrekkings van die studie

In die eerste hoofstuk van hierdie studie is vasgestel dat ʼn behoefte aan interverbondenheid op verskillende vlakke in Krog se werk teenwoordig is. Dié behoefte kulmineer in haar bundel Mede-

wete, waar die behoefte aan interverbondenheid tussen die self en die ander in verskillende vorme

voltrek en uitgebrei word. Die gevolgtrekkings wat ten opsigte van interverbondenheid gemaak is, sal vervolgens bespreek word.

Daar is in hoofstuk 2 van hierdie studie gepoog om ʼn teoretiese grondslag vir die begrip interverbondenheid, wat ingebed is in die Afrika-konsep ubuntu, te bied. In die gedeelte is daar veral gesteun op die werk van Afrika-filosowe soos Gyekye, Mbiti en Menkiti. Daar is tot die gevolgtrekking gekom dat ubuntu gefundeer is in ʼn Afrika-raamwerk of Afrika-wêreldbeeld, waar die gemeenskap sentraal staan. Daar is gevolglik gekyk na die rol van die individu binne verskillende soorte gemeenskappe, naamlik radikale kommunitaristiese gemeenskappe en matige

71 kommunitaristiese gemeenskappe. Daar is gevind dat beide soort gemeenskappe kollektiewe behoeftes bo dié van die individu stel. Die verhouding tussen die self en die ander word sodoende vooropgestel en vorm daarom een van die belangrikste fokuspunte van die studie.

Menslikheid en medemenslikheid vorm die basis van bogenoemde Afrika-gemeenskappe, wat in die konsep ubuntu gefundeer is. Vir die self en die ander om in harmonie met mekaar saam te kan leef, is vergifnis en versoening noodsaaklik. Dié twee begrippe is in die tweede gedeelte van hoofstuk 2 verklaar. Daar is tot die gevolgtrekking gekom dat Krog vergifnis en versoening nie as aparte entiteite beskou nie, maar as uitwisselbaar en interaktief. Die begrippe funksioneer dus interafhanklik van mekaar: vergifnis kan nie plaasvind sonder versoening nie en omgekeerd. Krog beskou vergifnis en versoening as onlosmaakbaar van die konsep interverbondenheid-tot-heelheid wat sy in afwisseling met die woord ‘ubuntu’ gebruik.

Krog se bogenoemde neologisme ‘interverbondenheid-tot-heelheid’ verteenwoordig ook (soos radikale en matige kommunitarisme) ʼn gemeenskapgerigte benadering. Die verhouding tussen die self en die (dikwels kulturele) ander word sodoende weereens vooropgestel. Krog brei die konsep egter uit deur dit nie te beperk tot verbintenisse tussen die self en die menslike ander nie, maar ook deur die verhouding tussen die self en die niemenslike ander (in die vorm van die natuur en die kosmos) in oënskou te neem. Laasgenoemde manifisteer veral in Mede-wete.

In die derde hoofstuk is getoon hoe die konsep interverbondenheid-tot-heelheid in Krog se oeuvre in geheel funksioneer en geproblematiseer word. Daar is gevind dat die soeke na interverbondenheid tot ʼn mindere en meerdere mate in die geselekteerde prosatekste, digbundels en vertaalde gedigteversamelings teenwoordig is. Die invloed van die Waarheids- en Versoeningskommissie op Krog se opvattings oor individuele en kollektiewe identiteit is in afdeling 3.2 bespreek. Daar is tot die gevolgtrekking gekom dat daar in beide Country of my skull en Kleur kom nooit alleen nie ʼn behoefte is aan ʼn nuwe, inklusiewe nasionale identiteit, ná die verdeeldheid tussen wit en swart wat met apartheid gepaard gegaan het. Krog gee deur middel van narratiewe (in prosa- en versvorm) in hierdie tekste ʼn stem aan gemarginaliseerde persone, in ʼn poging om mense van verskillende dele van Suid-Afrika te verenig. Die artistieke aanwending van taal en die integrasie van ander stemme in die eie narratief word dus voorgestel as maniere waarop interverbondenheid tussen die self en die kulturele ander bewerkstellig kan word.

In afdeling 3.3 wat oor A change of tongue, Met woorde soos met kerse en die sterre sê ‘tsau’ handel, is daar weereens gefokus op die rol van taal en spesifiek die rol wat vertaling speel in ʼn gemeenskap

72 wat in die proses van transformasie is. Deur Krog se vertaling van inheemse tekste, word die geleentheid geskep om die Afrikaanse taal te verruim en ʼn dialoog tussen mense van verskillende kulture en agtergronde te laat ontstaan. Vertaling word dus voorgehou as ʼn manier vir die self om in gesprek met die ander te tree en sodoende interverbonde te raak.

Afdeling 3.4 wat oor Begging to be black handel, verwoord Krog se behoefte aan ʼn Afrika-perspektief op eietydse gebeure. Sy maak ook in dié teks veral gebruik van Deleuze se filosofie van wording. Sy lê eksplisiete verbande tussen hierdie wordingsproses en interverbondenheid-tot-heelheid deur maniere te ondersoek waarop Suid-Afrikaners deel kan word van ʼn breër Afrika-gemeenskap. Die skryfproses word voorgehou as ʼn manier om verskillende raamwerke te interpreteer en op nuwe maniere na ou konsepte te kyk. Die moontlikheid van ontwikkeling in die rigting van interverbondenheid, ten spyte van die feit dat dit dikwels onmoontlik lyk, word in hierdie teks ondersoek.

In hoofstuk vier wat handel oor die bundel Mede-wete, is aan die hand van geselekteerde gedigte getoon hoe Krog se behoefte aan interverbondenheid met die menslike ander uitgebrei word na ʼn behoefte aan interverbondenheid met die niemenslike ander in die vorm van die planeet (fauna en flora) en die kosmos (die sterre, planete en sonnestelsels). Daar is in die bundel (soos in Krog se ander werk) deurgaans ʼn bewustheid dat interverbondenheid-tot-heelheid in werklikheid baie moeilik en selfs onmoontlik is. Kosmaak en om saam te eet word in die bundel as ʼn manier om interverbonde te raak met die menslike ander ondersoek. Daar word ook verbande gelê tussen kos en die aarde waar dit vandaan kom. Sodoende kry die maak en gebruik van kos ʼn spirituele stramien wat in die gedigte oor die natuur uitgebrei en verken word. In dié gedigte is ʼn soort nihilistiese natuurmistiek, wat in sekere opsigte herinner aan Boesman-spiritualiteit, ter sprake. Die behoefte aan ʼn mistieke eenwording met die natuur word verder uitgebrei na ʼn behoefte aan interverbondenheid met die kosmos. Krog sluit haar hiemee aan by die nuwe materialisme. In die bundel word daar uiteindelik gepoog om eenwording met die niemenslike te bereik, sodat interverbondenheid tussen die self en die menslike ander sodoende ook kan plaasvind.