• No results found

HOOFSTUK 5: SAMEVATTING EN AANBEVELINGS

5.2 GEVOLGTREKKINGS

Gevolgtrekkings sal van die basiese struktuur van die vraelys afwyk, en sal ten eerste die demografiese inligting aanspreek, gevolg deur ʼn evaluasie van die Cronbach Alpha-koëffisiënte om die betroubaarheid van die meting van die konstrukte van ʼn entrepreneuriese oriëntasie en die onderwyssuksesfaktore te bepaal.

ʼn Verkennende faktoranalise is uitgevoer om die items van die vraelys te groepeer binne die konstrukte van die entrepreneuriese dimensies. Dieselfde is gedoen met die items van die onderwyssuksesfaktore ten einde die items binne verskillende samehangende konstrukte te groepeer. Aanvanklike hipotese-stellings is vervolgens geformuleer. Laastens is ʼn veelvoudige regressie analise uitgevoer om die verwantskap tussen die entrepreneuriese oriëntasie en die onderwyssuksesfaktore te bepaal ten einde in staat te wees om hersiene hipotesestellings te formuleer.

5.2.1 Demografiese inligting

Demografiese inligting is van die respondent verkry rondom hul ouderdom, geslag, ras, hoogste opvoedkundige kwalifikasies en die posvlak.

Van die resultate van die vraelys, kon die volgende afleidings betreffende die demografiese inligting afgelei word:

 Die grootste persentasie, 54%, van die respondente is tussen die ouderdom 40 tot 59 jaar. Die ouderdomsgroep jonger as 29 jaar tot 49 jaar oud verteenwoordig 64% van die opvoederskorps, wat daarop dui dat die ouderdomsverspreiding by die geselekteerde skole baie gesond is. Die opvoeders jonger as 29 jaar verteenwoordig 24.3% en die opvoeders ouer as 60 jaar verteenwoordig 5.8% van die deelnemende opvoerders aan die studie. Hierdie verspreiding dui moontlik daarop dat die geselekteerde skole die onderwys as beroep vir jongmense weer aantreklik maak en ʼn positiewe impak kan hê op die innovasie in die organisasie.

100

 Die geslagsverteenwoordiging van die opvoeders by die geselekteerde skole is baie ongelyk. ʼn Totaal van 75.4% van die opvoeders is vroue.

 Die oorgrote meerderheid van die opvoeders (98.7%) by die geselekteerde skole is wit.

 Die grootste groep onderwysers, 53.1%, beskik oor ʼn graad wat gekoppel is aan ʼn onderwysdiploma of –sertifikaat of ʼn honneursgraad. ʼn Groot persentasie, 38.3%, beskik slegs oor ʼn onderwysdiploma of basiese Baccalaureusgraad.

 Die studie was slegs gerig op opvoeders in posvlakke een en twee. Die grootste persentasie, 81.8%, van die onderwysers is op posvlak een, wat ʼn gewone klasgebonde onderwyser veronderstel. Departementshoofde verteenwoordig 15.7%. Dit verdien om gemeld te word dat die aantal posvlak een en twee poste deur die leerdertal van die skool bepaal word.

5.2.2 Betroubaarheid van die vraelys

Al die konstrukte wat die afhanklike en onafhanklike veranderlikes gemeet het, het Cronbach Alpha koëffisiënte van groter as 0.7 uitgewys. Dit dui daarop dat daar met redelikheid aanvaar kan word dat die meetinstrument wat gebruik is vir die bepaling van die entrepreneuriese oriëntasie by geselekteerde skole, betroubaar is.

5.2.3 Verwantskap tussen die afhanklike en onafhanklike veranderlikes

Die resultate van die studie wys daarop dat die onderwysers by die vyf geselekteerde skole die volgende organisasie-gebaseerde faktore beskou as beïnvloedend op Die daarstel van ʼn doelmatige leeromgewing: Innovasie, Outonomiteit en Geleentheidsbenutting. In wese kom dit daarop neer dat skole wat innoveer, aan onderwysers die geleentheid gee om selfstandig te werk ter bereiking van doelwitte en elke moontlike geleentheid aangryp ter verbetering van die skool, is meer geneig om suksesvol te wees en om te presteer. Die leeromgewing, waar skoolbestuurspanne, onderwysers en leerlinge lotsgebonde saamwerk ter bereiking van ʼn gedeelde visie, kan dus beskou word as ʼn besliste voorloper van sukses.

101

Daar was egter ʼn verrassende negatiewe korrelasie met die organisasie-gebaseerde faktore Kompeterende aggressiwiteit en Risikoneming. Die mededinging en wedywering tussen hierdie skole in dieselfde stad, Pretoria, is baie intens maar dit wil uit die resultate blyk dat die skole steeds baie versigtig ten opsigte van risikoneming en ʼn aggressiewe mededingende aanslag is.

Daar is verder ʼn positiewe verwantskap tussen die afhanklike veranderlike, Leerderprestasie, en die organisasie-gebaseerde faktore, Innovasie, Geleentheidsbenutting en Kompeterende aggressiwiteit in die verskillende skole gevind. In praktyk beteken dit dus dat skole wat gedurig vernuwe, dramatiese veranderinge ondergaan en volhard in verbetering, die waarde van moontlike geleenthede maksimeer en ʼn mededingende houding en gesindheid in te neem ten behoewe van die voortbestaan van die skool, sal beloon word deur die prestasie van die leerders. Holisties-ontwikkelde leerders wat op verskeie terreine van die skoollewe maksimaal presteer is die doelstelling van elke skool. Die organisasie- gebaseerde faktore Risikoneming en Outonomiteit het negatief gekorreleer. Veral met betrekking tot Outonomiteit is die rede nie duidelik nie en kan in ʼn opvolgstudie verder ondersoek word. Dit wil voorkom asof die meeste onderwysers steeds hul dagtaak volgens rigiede reëls en metodes uitvoer sonder behoorlike geleentheid vir kreatiwiteit.

Daar is positiewe verwantskap opgemerk tussen die afhanklike veranderlike Strategiese ingesteldheid en die organisasie-gebaseerde faktore Innovasie en Geleentheidsbenutting. Dit beteken dat skole wat gereeld innoveer, geleenthede najaag, hul keuse van aanbieding die afgelope paar jaar dramaties verander het en hul verbetering deurlopend evalueer, hul sukses deels te danke het aan hul strategiese ingesteldheid. Strategiese ingesteldheid veronderstel dan ook die fyn instelling op geleenthede wat uit ʼn onverwagse bron kan kom, ook geleenthede wat mag ontstaan binne die onsekerheid en onvermoë van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel.

Laastens is ʼn verdere positiewe verwantskap uitgewys tussen die afhanklike veranderlike Personeelontwikkeling en die organisasie-gebaseerde faktore Innovasie en Geleentheidsbenutting. Dit kom daarop neer dat skole wat gereeld en op ʼn

102

volgehoue basis innoveer en elke geleentheid wat mag opduik ten volle ontgin die voordele van ʼn span dinamiese onderwysers kan geniet. Onderwysers wat deel aan die bereiking van ʼn gedeelde visie met ʼn baie lae personeelomset. Die organisasie- gebaseerde faktore Risikoneming, Outonomiteit en Kompeterende aggressiwiteit het negatief gekorreleer. Weer verdien dit vermeld te word dat die negatiewe korrelasie met Outonomiteit ʼn bron van ongemak is. Hierdie skole beskik reeds oor uiters suksesvolle onderwysers en ʼn opvolgstudie kan moontlik aantoon hoe hierdie sukses verder kan ontwikkel deur die teenwoordigheid van meer outonomiteit.