• No results found

Gesinsisteem – die bio-ekologiese model

2.4 DIE VADER EN SY LEERGESTREMDE KIND

2.5.5 Gesinsisteem – die bio-ekologiese model

In die sisteemteorie word die gesin as ’n onderlinge verbindingseenheid gesien. Die gesinslede beïnvloed mekaar gedurig onderling en ook op ’n wedersydse manier.

Die gesin as ’n sisteem maak die lede se gedrag en funksionering van mekaar afhanklik, sodat ’n verandering in een persoon se funksionering tot verandering in die funksionering van die res van die lede sal lei (Edwards & McCarthy, 2011:91). Dit is dus belangrik om die interkonneksie te verstaan tussen al die sisteme, wat die gesin, skool en gemeenskap insluit, omdat al drie sisteme mekaar beïnvloed. Dit beklemtoon dat skole die gesin beïnvloed, en gesinne die skole beïnvloed, en dat beide ’n uitwerking het op die gemeenskap waarin hulle woon (Phasha & Swart, 2011:231). Bronfenbrenner het ’n bio-ekologiese model ontwikkel wat help om die interaksie en interkonneksie tussen die individuele persoon en die sisteme rondom die individu te verstaan (Pettipher & Swart, 2011:11). Die model verwys na die mikrosisteem, die mesosisteem en die makrosisteem. Al drie die sisteme vind in die kronosisteem (tyddimensie) plaas. Figuur 1.1 illustreer die ekologiese model:

Figuur 1.1 Die Bio-ekologiese model.

• Die mikrosisteem

Die mikrosisteem is die onmiddellike omgewing. Dit is die omgewing waar die kind van die wêreld leer. Dit behels die verhoudings en interaksies wat ’n kind met sy onmiddellike omgewing het. Die verhoudings verwys na dié wat die naaste aan die kind is.

• Die mesosisteem

Dié sisteem verwys na die verhouding wat tussen twee of meer van die lede van die mikrosisteem ontwikkel en bestaan. Die gesin, skool en portuurgroep toon interaksie met mekaar, wat elk ’n invloed op die mikrosisteem het. In die mesosisteem vind interaksie tussen die gesin en die kind se skool of portuurgroep plaas. ’n Ervaring in een mikrosisteem, soos interaksie tussen onderwyser en ’n kind in die klas, kan die interaksie met die gesin beïnvloed.

• Die eksosisteem

Die eksosisteem verwys na die omgewing waar die kind nie noodwendig direk betrokke is nie, maar waardeur die kind beïnvloed kan word, soos die onderwysstelsel en die ouers se werkplek. Die ouers se spanning wat deur lang werksure beïnvloed word, raak die kind nie noodwendig direk nie, maar kan moontlik die kwaliteit van die ouer se verhouding met die kind en ander mikrosisteme waarby die kind betrokke is, soos die portuurgroep, beïnvloed.

• Die makrosisteem

Die sisteem verwys na die verste sisteem in die kind se omgewing – die kulturele waardes en norme en die sosiale en ekonomiese struktuur. Die makrosisteem het ’n invloed op die aard van ons interaksie met al die ander sisteme. As ’n sekere kultuur se waardes is dat ouers alleen verantwoordelik is om hulle kinders groot te maak, sal die kultuur se samelewing geen hulpbronne aan die ouers bied nie.

• Die kronosisteem

Dit verwys na die tydsdimensie en hoe dit met die interaksie tussen die sisteme verband hou. Die elemente kan ekstern wees, byvoorbeeld wanneer ’n ouer aan die dood afgestaan word, of intern, soos die fisiologiese veranderings wat plaasvind namate ’n kind ouer word. Kinders reageer anders op omgewingsveranderinge wanneer hulle ouer word.

Die uitdagings wat die vader ervaar, moet verstaan word in die konteks van die web van verhoudings waarin hulle hulself bevind. Die navorser sal nie die uitdagings wat die vader in sy verhouding met sy leergestremde kind ervaar van die totale gesinsfunksionering kan isoleer nie.

Die vader en sy leergestremde kind kan net binne die groter konteks van die gesin as geheel verstaan word.

2.6 SAMEVATTING

In hierdie hoofstuk is die term leergestremdheid verduidelik en word die term leergestremdheid in die konteks van die navorsing gebruik om te verwys na ’n kind wat leergestremd is. Hierdie kinders ervaar leerinperkinge (learning impairments) op die gebied van taal, wiskunde, lees en skryf, en ook inperkinge op die gebied van gedrag, en sosiale en emosionele vaardighede. Die leergestremdheid is deur intrinsieke faktore veroorsaak.

Daar is aandag gegee aan die moontlike impak wat ’n leergestremde kind op ’n gesin kan hê. Dit blyk dat gesinne meer konflik, spanning en finansiële uitdagings beleef, wat dan moontlik daartoe kan lei dat die verhouding tussen die vader en die leergestremde kind deur die verhoogde spanning en konflik beïnvloed kan word. Vervolgens het die vader en die leergestremde kind aandag geniet ten opsigte van die verhouding tussen die vader en sy kind, die vader se reaksie op die diagnose van sy kind as leergestremd, en die vader se uitdagings om by die leergestremde kind betrokke te wees. Uit die besprekings blyk dit dat die vader ’n unieke bydrae tot die ouer-kind-verhouding lewer, en dat die vader as gevolg van die eise wat die leergestremde kind na vore bring, dit moeilik vind om sy bydrae tot sy verhouding met sy leergestremde kind te maak.

Laastens is die gesinsisteemteorie, wat as teoretiese agtergrond dien, bespreek. Die uitgangspunte van die sisteemteorie en hoe die makro-, meso-, mikro- en kronosisteme en die kind mekaar wedersyds beïnvloed, is bespreek. Die sisteemteorie is as teoretiese begronding gebruik omdat dit die geleentheid gee om die interaksie tussen die verskillende verhoudinge te bestudeer en te sien hoe die interafhanklike sisteme mekaar beïnvloed.

In Hoofstuk 3 word die toepassing van die navorsingsmetodologie bespreek.

HOOFSTUK 3

NAVORSINGSMETODOLOGIE