• No results found

Die rol en plek van storievertelling in die kurrikulum

HOOFSTUK 1 Konseptualisering en probleemstelling

2.4 Storievertelling

2.4.1 Storievertelling as onderrigstrategie

2.4.1.3 Die rol en plek van storievertelling in die kurrikulum

Die inwoners van die gemeenskap van ondersoek praat almal Afrikaans as Huistaal, alhoewel ‘n variasie daarvan, en daarom neem die skoolgaande kinders almal Afrikaans as Huistaal. Daar word vervolgens na die riglyne van Praat en Luister soos voorgeskryf deur die Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring, (KABV) (Departement van Basiese Onderwys, 2011) vir Afrikaans Huistaal Grade R-12 gekyk.

Die KABV voldoen aan die voorskrif om individue bloot te stel aan storievertelling van jongs af (KABV, 2011:24). Om leerders van jongs af aan storievertelling bloot te stel, kweek ‘n storievertelkultuur waarop kumulatief gebou kan word. Indien hierdie storievertelkultuur gevestig word en individue van jongs af daaraan blootgestel word, is lewensverhaalvertellings wat verderaan bespreek word ‘n outomatiese gevolg en nie iets nuuts waarna ‘n individu gewoond moet raak nie. Die kurrikulum skryf voor dat leerders van Graad R tot Graad 3 na stories moet luister, stories moet dramatiseer, hul mening daaroor moet uitspreek en oopeinde-vrae daaroor moet beantwoord. Leerders moet ook stories vertel met ‘n eenvoudige storielyn en verskillende karakters. Leerders word ook die etiket rakende storievertelling aangeleer, byvoorbeeld dat elkeen ‘n beurt moet kry om te praat en dat die verteller nie in die rede geval moet word nie. Leerders word met ander woorde op ‘n vroeë ouderdom aan stories en storievertelling blootgestel. Dit is egter die deel waar leerders oor persoonlike ervarings en gevoelens praat wat van kardinale belang is om identiteit te versterk (vergelyk Tabel 2.1). Dit is belangrik om op te let dat hierdie aspek van storievertelling veral voorgeskryf word vir Grade 1 en 2 in die KABV (2011:24), maar dat navorsing getoon het dat individue op hierdie ouderdom nog nie hierdie soort storievertelling kan bemagtig nie. Volgens McAdams en Manczak (2015:429) is sekere vaardighede nodig om ‘n narratiewe identiteit te konstrueer waaroor individue op hierdie ouderdom nog nie beskik nie. Byvoorbeeld om ‘n geïntegreerde lewensverhaal te konstrueer moet die individu weet hoe ‘n tipiese lewe gestruktureer is, byvoorbeeld wat gebeur wanneer ‘n individu die huis verlaat; die verwagte progressie van die huwelik en familievorming, wat doen mense wanneer hulle aftree ensovoorts. Hierdie soort normatiewe verwagtinge bied 'n kulturele manuskrip vir ‘n outobiografie. Habermas en Bluck (2000:749) het bevind dat individue op ‘n jong ouderdom hierdie faktore wat bydra tot die lewensmanuskrip begin internaliseer, maar eers regtig begin leer oor hierdie deel van hul lewensmanuskrip in hul vroeë volwasse stadium. Namate individue adolessensie bereik, raak hulle al hoe beter toegerus om narratiewe te verskaf wat verduidelik hoe een gebeurtenis veroorsaak het, gelei het tot, getransformeer of op die een of ander manier betekenisvol verwant is aan die daaropvolgende gebeurtenisse in die lewe. Verder het Habermas en de Silveira (2008:708) bevind dat die meer volwasse individu ‘n oorkoepelende tema, waarde of beginsel identifiseer wat die baie verskillende episodes van die individu se lewe integreer en die kern van wie die individu is en waaroor die individu se biografie

handel. Hierdie vermoë van die outeur om te kan integreer is wat Habermas en Bluck (2000:749) tematiese samehang noem. Habermas en de Silveira (2008:718) het in hul ontledings van lewensverhale tussen die ouderdomme van 8 en 20 jaar getoon dat kousale en tematiese koherensie relatief skaars is in outobiografiese vertellings vanaf die laat kinderjare en vroeë adolessensie, maar substansieel toeneem deur die tienerjare en in vroeë volwassenheid. Daarbenewens is ouer adolessente geneig om duidelike en meer verhelderde inleidings en eindes in hul lewensverhale op te stel. Dit sluit in voorskoue retrospektiewe refleksie en ander merkers van volwasse outeurskap.

Tabel 2.1: Oorsig van taalvaardighede vir onderrig in Huistaal Grade R-3

(KABV Afrikaans Huistaal GradeR-3, 2011:24)

Uit Tabel 2.2 blyk dit duidelik dat die leerders in Grade 4-6 al die korrekte kommunikatiewe vaardighede aangeleer word om stories te kan vertel en daarna te kan luister. Die aanbevole tekstipes is egter stories, soos byvoorbeeld kontemporêre, realistiese fiksie, tradisionele stories (mites en legendes, volksverhale, fabels), avontuurverhale, wetenskapfiksie, biografieë, historiese fiksie (KABV Afrikaans Huistaal Grade 4-6, 2011:17). Persoonlike vertellings kom met ander woorde nie hier voor nie.

Tabel 2.2: Inhoud, vaardighede, strategieë en verspreiding van tekste

(KABV Afrikaans Huistaal Grade 4-6, 2011:16)

Wanneer Tabel 2.3 egter bestudeer word waar die verspreiding van tekste aangedui word vir Grade 4 tot 6, sien die leser dat stories wat persoonlike vertellings bevat wel voorgeskryf word vir Grade 4 en 5, maar nie vir Graad 6 nie.

Tabel 2.3: Verspreiding van tekste

(KABV Afrikaans Huistaal Graad 4-6, 2011:22)

Tabel 2.4 en Tabel 2.5 toon aan dat storievertel vir Grade 7 tot 9 en Grade 10 tot 12 onderskeidelik 5 – 7 en 8 – 10 minute moet duur. Daar kan nie ‘n tydsduur aan persoonlike vertellings gekoppel word nie, omdat die individu wat die storie vertel dalk van gebeure kan vertel wat sensitief van aard is en dit ongevoelig sal wees om die individu te stop en nie die kans te gun om sy/haar storie te voltooi nie. Daar is egter ook nie plek in die voorgeskrewe kurrikulum om meer tyd aan storievertelling te bestee nie. Hierdie probleem kan daarom moontlik opgelos word deur ‘n platform te skep buite die skoolure wanneer leerders hul stories ongehinderd kan vertel en die kultuur vir storievertelling in dieselfde asem gevestig kan word, omdat dit ook op ‘n meer gereelde basis kan geskied.

Tabel 2.4: Voorgestelde duur van tekste wat vir mondelinge kommunikasie toegestaan moet word

(KABV Afrikaans Huistaal Grade7-9, 2011:25)

Tabel 2.5: Voorgestelde lengte van mondelinge kommunikasie

(KABV Afrikaans Huistaal Grade 10-12, 2011:22)

Die waarde van storievertelling lê ook in die volgende uittreksel uit die KABV Afrikaans Huistaal vir Grade 10-12 (2011:10) opgesluit. Hierin word beklemtoon dat die luister- en praatvaardigheid sentraal staan in die leer van alle vakke, omdat dit die vaardigheid om inligting in te samel en te sintetiseer, kennis te konstrueer en probleme op te los en idees en mening te lug ontwikkel. Volgens Vygotsky se teorie, ondergaan kinders sekere stadia van veranderinge.

Byvoorbeeld, wanneer hulle taal verwerf, verbeter hul vermoë om geredelik deel te neem aan dialoë met ander, en die bemeestering van kultureel gewaardeerde vaardighede verbeter ook

(Berk, 2010:23). Hierdie vaardighede word met ander woorde tydens storievertelling opgeskerp en vasgelê en dit kan moontlik ‘n invloed hê op die leerders se prestasies.

KABV Afrikaans Huistaal Grade10-12 (2011:10)

Storievertelling wat identiteit versterk, word volgens McAdams (2006b:84) eers effektief in die tydperk van vroeë volwassenheid aangeleer. Daar word byvoorbeeld nie van kinders verwag om konkrete besluite te neem nie – hulle hoef byvoorbeeld nog nie beroepskeuses uit te oefen nie. Dit word eers van jong volwassenes verwag. Storievertelling kan egter gebruik word sodat kinders wat in ‘n negatiewe konteks grootword weer kan droom, kan ontvlug, al is dit net in ‘n fantasiewêreld waar dit beter gaan as in die werklike wêreld waarin hulle hulle bevind. In ‘n fantasiewêreld is enigiets moontlik. Daar kan die kind wat magteloos voel in sy/haar omstandighede of oor iemand in hul omstandighede – die kwade (byvoorbeeld ‘n boelie) oorwin. Rooikappie kan byvoorbeeld die wolf doodkap met ‘n byl, of Goue Lokkies kan weghardloop vir die bere vir wie sy bang is of die drie varkies kan ‘n pot kookwater kook en die wolf kan daarin val en doodgaan. Al is dit onrealisties, skep dit ‘n deur vir ontsnapping (McAdams 2006a:84).

KABV Afrikaans Huistaal Grade10-12 (2011:18)

In Tabel 2.6 en Tabel 2.7 sien die leser dat storievertelling vir Grade 10 en 11 onderskeidelik een uur in die skooljaar onderrig word en dan is storievertelling ook nie deel van formele assessering nie. Navorsing het aangetoon, soos reeds verwys na McAdams (2006b:84), dat storievertelling eers effektief aangeleer kan word in die tydperk van jong volwassenheid (Grade10-12). Volgens Arnett (2007:68) verwys jong volwassenes na individue met ouderdomme van ongeveer 18 tot 25 jaar, wanneer die individue nie meer ‘n adolessent is nie, maar ook nog nie ten volle as volwassenes oorweeg kan word nie.

Tabel 2.6: Graad 10 onderrigplan

Tabel 2.7: Graad 11 onderrigplan

(KABV Afrikaans Huistaal Grade 10-12, 2011:62)

Storievertelling word egter in dieselfde asem as prysliedere genoem wat daarop dui dat storievertelling handel oor tradisionele of kulturele stories en nie so seer oor persoonlike storievertelling nie. Alhoewel kulturele storievertelling waarde inhou, en die individu se identiteit versterk ten opsigte van die kulturele konteks (waar die individu behoort) (Edwards, 2009:20), maar nie noodwendig die individu se persoonlike identiteit versterk nie. Dit is egter belangrik dat storievertelling begin by die self en later uitkring na die gemeenskap, en nie andersom nie. Indien ek nie weet wie ek is nie, kan ek myself nie plaas in die groter kulturele omgewing nie en gaan ek makliker saam met die stroom as om my eie identiteit te laat geld wanneer nodig. In Graad 12 se onderrigplan (KABV 2011) kon daar geen spore van voorgeskrewe storievertelling gevind word nie, dus het die frekwensie van persoonlike storievertelling afgeneem en nie toegeneem namate die individu ouer geword het en die ouderdom bereik het waar persoonlike vertellings behoort voor te kom nie. Hier word weer verwys na McAdams (2006b:84) se navorsing dat storievertelling wat identiteit versterk eers effektief aangeleer word in die tydperk van vroeë volwassenheid (18-15 jaar).

Die afleiding kan daarom gemaak word dat daar ‘n leemte in die kurrikulum voorkom ten opsigte van storievertelling wat êrens ondervang moet word. ‘n Moontlike kreatiewe oplossing om storievertelling te akkommodeer is ‘n vennootskap met die gemeenskap waar stories vertel word, aangesien die onderwyser nie tyd in die klas het om aandag aan hierdie leemte te skenk nie. Tog, om storievertelling volhoubaar te maak en as kultuur te vestig, moet die saadjie al van kleinsaf gesaai word en kinders op ‘n jong ouderdom gedurig daaraan blootstel word totdat hulle die waarde daarvan besef en hulle self aan storievertelling wil deelneem in vroeë volwassenheid en hierin voldoen die KABV omdat leerders sporadies aan storievertelling blootstel word.