• No results found

Die ontwikkeling van droefheid en die invloed van die versorger

Die volgende aspekte ten opsigte van droefheid word nou bespreek: huil as ‘n teken van droefheid; die redes waarom mense huil; die fisiologiese reaksie wat plaasvind wanneer mense huil; en die huilgedrag in babas. Daar sal deurlopend verwys word na die rol van die versorger in die ontwikkeling van droefheid in die voorskoolse kind.

81

4.3.1.1 Huil as ‘n teken van droefheid

Om te huil, is die eerste poging van ‘n baba om met sy versorger te kommunikeer (Wait et al., 2005:77). Hierdie teken dui daarop dat iets verkeerd is. Dit dien as ‘n poging om die versorger daarvan bewus te maak dat die baba iets nodig het en dat die versorger op die baba se behoefte moet reageer (Wait et al., 2005:77). Droefheid in babas kom die meeste voor wanneer hulle ontneem word van ‘n bekende versorger of wanneer die versorger-baba-kommunikasie ernstig geskaad is (Berk, 2009:405). Die meeste babas wys hoe hulle voel deur te huil. Dit is hul enigste manier van kommunikasie (Deater-Deckard et al., 2002:112). Babas het ten minste drie tot vyf maniere van huil waartussen versorgers leer om te onderskei. Hulle huil as gevolg van honger, woede, vrees, droefheid en pyn (Borgquist, 1906:152-153; Deater-Deckard, 2002:112; Wait et al., 2005:75). Versorgers (moeders) wat gedurende die eerste jaar van die baba se ontwikkeling onmiddellik reageer wanneer hul babas huil, kweek ‘n gevoel van vertroue by hul baba (Deater-Deckard et al., 2002:112).

4.3.1.2 Die redes waarom mense huil

Die frekwensie van huil neem af met ouderdom (Borgquist, 1906:155). Die redes waarom mense huil, verander ook met die verloop van tyd. Babas huil as gevolg van honger, woede, vrees, droefheid en pyn (Borgquist, 1906:152-153; Deater-Deckard et al., 2002:112; Bukatko & Daehler, 2004:387). Namate kinders ouer word, huil hulle egter meer as gevolg van eksterne gebeure (Borgquist, 1906:156), byvoorbeeld wanneer ‘n maat lelik is met die kind of as die kind se gunsteling-speelding breek. Jong kinders huil meer omdat hulle simpatie soek as wat hulle simpatie wil toon (Borgquist, 1906:156). Kinders huil dikwels as gevolg van woede wanneer hulle nie hulle sin kry nie (Borgquist, 1906:156).Volwassenes aan die ander kant huil dikwels meer as ‘n simpatieke reaksie teenoor ‘n ander se leed, of as gevolg van berou, bejammering en verlies wat ervaar word (Borgquist, 1906:156). Hierdie redes vir huil is nie noodwendig die redes waarom jong kinders huil nie. Die redes vir huil word dus deur die ontwikkelingsfases en ouderdomsgroep van die kind bepaal.

82

4.3.1.3 Die fisiologiese reaksie wanneer mense huil

Om te huil, is ‘n fisiologiese reaksie (Borgquist, 1906:168; Bukatko & Daehler, 2004:381). Wanneer ‘n persoon huil, vind daar motoriese en fisiologiese veranderinge in die menslike liggaam plaas. Hierdie veranderinge behels onder andere ‘n verandering in sirkulasie, ‘n verandering in die houding van die liggaam, ‘n knop in die keel, vokalisering, snik en trane (Borgquist, 1906:168). Tydens ‘n verandering in sirkulasie neem die hartklop toe. Dit voel of ‘n persoon se kop “klop“. Die lippe voel droog en die oë brand (Borgquist, 1906:169). Wanneer die liggaamlike houding van ‘n persoon wat huil, bestudeer word, is mense wat as gevolg van droefheid huil, meer geneig om liggaamlike ervarings te beskryf. Hierdie liggaamlike ervarings sluit in knieë wat lam word, ‘n swakheid in die bors en ‘n ekstreme gevoel van uitputting. Mense wat egter huil as gevolg van woede, toon hulle emosies op ander wyses, soos om te wil skop, op ‘n aggressiewe manier te wil slaan, of hul kop op die vloer te wil kap (Borgquist, 1906:169).

Wanneer vokalisering in die fisiologiese reaksie van huil bestudeer word, is die klank van huil by die baba die roep vir aandag (Borgquist, 1906:171). Vir ‘n ouer persoon verskil die nut van die klank egter en is die huil ‘n uiting van gevoelens (Borgquist, 1906:171). Daar is bevind dat namate kinders ouer word, hulle meer probeer om die vokalisering van hul huil te onderdruk (Borgquist, 1906:171).

Sekere fisiologiese tekens kom reeds voor voordat die emosionele reaksie van huil intree (Borgquist, 1906:174). Die knop in die keel wat tydens huil vorm, word deur baie as die eerste teken van huil beskryf. Dit voel onder meer vir die persoon of hy/sy nie kan sluk nie en pyn word in die keel ervaar (Borgquist, 1906:174). Wat as ‘n snik beskryf word, is vir baie mense ‘n snak na asem (Borgquist, 1906:175). Wanneer ‘n jong kind huil, word sy/haar mond in ‘n vierkantige vorm getrek, die oë word toegemaak, die ‘aaaa’-klank volg, die gesig word rooi en daarna kom die trane (Borgquist, 1906:176). Wanneer ‘n pasgebore baba huil, is daar egter nie trane nie. Trane kom eers tussen die periode van 2 tot 5 maande in die baba se ontwikkeling voor (Borgquist, 1906:178).

83

4.3.1.4 Huilgedrag in babas

In ‘n studie waar die stabiliteit van babas se huilgedrag getoets is, is daar bevind dat drie-maande-oue-babas ongeveer 1.4 ure per dag huil. Op vier maande huil babas ongeveer 1 uur per dag. Teen die einde van die eerste jaar van die baba se ontwikkeling huil hy/sy al baie minder (Keller, Lohaus, Völker, Cappenberg & Chasiotis, 1998:389).

‘n Studie is deur Reijneveld, Brugman en Hirasing (2001) gedoen waar ouers van 3345 babas op ouderdomsintervalle van een maand, drie maande en ses maande getoets is rakende hul persepsie en definisie van hul baba se huilgedrag. Oor die algemeen verskil die definiëring van oormatige huilgedrag deur ouers baie, maar hulle stem merendeels saam dat die meeste huilgedrag op die ouderdom van een maand voorkom (Reijneveld et al., 2001:893). Oormatige huilgedrag van die jong baba is algemeen en ‘n ernstige probleem vir ouers (Reijneveld et al., 2001:893). Dit kan ouers se gevoelens teenoor hul baba negatief beïnvloed en veroorsaak dat die baba as “moeilik“ beskou word. Ouers kan allerhande aksies neem om die oormatige huil van die kind te stop, wat ‘n baie skadelike invloed op die baba se gesondheid kan hê. ‘n Voorbeeld van laasgenoemde gedrag behels om die kind te klap of te skud (Reijneveld et al., 2001:893), dus fisies seer te maak.

In ‘n studie deur Suzanne Smith (2010) is gekyk hoe verpleegsters by ‘n inbel-sentrum vir ouers wie se babas oormatig huil, advies gegee het (Smith, 2010:381). Bevindinge in hierdie studie het daarop gedui dat die verpleegsters meer gemaklik was om mediese raad aan die ouers te verskaf as om persoonlike vrae rakende gedrag aan die ouers te stel, soos byvoorbeeld: “Skud jy jou kind as hy/ sy huil?” Dit is egter belangrik dat ouers se reaksies teenoor oormatige huilgedrag in ag geneem word, aangesien dit die emosionele ontwikkeling van die kind beïnvloed.