• No results found

3.6 Die omkeer van magsrolle en die opkoms van ʼn ʺreënboognasieʺ

3.6.2 Die mite van revolusie, swart bemagtiging en die reënboognasie

Oor die meer as twintig jaar van demokrasie in Suid-Afrika het rasseverhoudinge stelselmatig begin agteruitgegaan en bly rassespanning steeds toeneem (vgl. Swanepoel, 2013:77). Dit onder die bewind van die ANC-regering, wat toenemend in die openbare lig gekritiseer word vir swak bestuur, onbekwaamheid en onvermoë om werklike vordering ten opsigte van beleidsimplementering en dienslewering in Suid- Afrika te maak (Du Plessis, 2009:16). Hiermee saam word Suid-Afrika dikwels as een van die ʺmisdaadmekkasʺ van die wêreld beskryf (Brits, 2012:570). Joubert (2012:597-598) vestig bykomend die aandag op ander kommerwekkende kwessies soos swak dienslewering en gesondheidsdienste, swak onderwys en opleiding en vreemdelingehaat (of xenofobie), as krisisse wat Suid-Afrika in ʼn demokratiese bestel te bowe moet kom. Veral xenofobie, meestal as gevolg van die gewelddadige aard daarvan, het vanaf 2008 tot 2015 deurlopend landswyd opspraak gemaak en kan direk geskakel word aan onder meer die lae opvoedingspeil en meegaande hoë syfer van ongeskooldes in Suid-Afrika.

Dit blyk voorts dat das Nichtidentische-groeperinge in die Suid-Afrikaanse samelewing steeds nie in ʼn demokratiese bestel in ag geneem of bevoordeel word nie. Dit kom verder voor asof die meerderheid Suid-Afrikaanse burgers steeds wag vir die ekonomiese verbetering wat die ANC in die breër raamwerk van ʼn sogenaamde Nasionale Demokratiese Revolusie voorgestel en belowe het. Ekonomiese opheffing word hiermee saam grootliks (en soos tydens Suid-Afrika se voorafgaande koloniale en apartheidsgeskiedenisse) geassosieer met diegene direk

94

betrokke by of ondersteunend van die regerende party. Dit hou met ander woorde in dat in ʼn demokratiese bestel die meerderheid Suid-Afrikaners se behoeftes en sosiale opheffing steeds ter wille van ʼn elite geïgnoreer word, soos Mashele en Qobo (2014:57) verduidelik:

The word ʺblackʺ has been used to legitimise what in reality is a sordid money affair. To encourage them to co-operate in this dirty scheme, 17 million poor blacks are ʺbribedʺ with social grants, grants that will never dig these poor black people out of their pit of poverty.

Wat die sosio-ekonomiese posisie van die elite-groepering in ʼn demokratiese Suid- Afrika betref word welvarendheid meestal met korrupsie geskakel. Mnr Mbeki het tydens sy termyn as staatspresident verbandhoudend met sy opspraakwekkende

Two Nations Speech60 in 1998 reeds teen korrupsie gewaarsku:

Liberation from a dictatorship inevitably also entails corruption [...] People who have been oppressed and disadvantaged economically argue that they lost a great deal in the past. Hence they believe they are entitled to ʺmake up for itʺ (Mbeki, 1998).

Die bostaande gevoel is inderdaad deur onder meer die voormalige woordvoerder en kommunikasiehoof van die ANC, Lulama Smuts Ngonyama (geb. 1952) in 2007 soos volg uitgespreek: ʺI did not join the Struggle to be poorʺ (Mashele & Qobo, 2014:52). Wat latere korrupsie in die regerende politieke party van Suid-Afrika aanbetref moet ook verwys word na die huidige president, Jacob Gedleyihlekisa Zuma (geb. 1942), wat in 2009 by Mbeki as president oorgeneem het. Joubert (2012:587) wys daarop dat president Zuma vanaf 2005 in ʼn wye reeks hofsake betrokke was op aanklagtes wat strek van korrupsie tot die beskuldiging daarvan dat hy ʼn MIV-positiewe jong dogter van ʼn vriend verkrag het. Hiermee saam het Zuma

60

Oud-staatspresident Mbeki (1998) verduidelik in sy Two Nations Speech dat Suid-Afrika ná die beëindiging van apartheid steeds verdeel is onder twee verskillende nasies: ʺOne of these nations is white, relatively prosperous, regardless of gender or geographical dispersal [...] The second and larger nation [...] is black and poorʺ. Volgens Arnold (2005:794-796) is Mbeki voorts daarvan beskuldig dat hy rasseverhoudinge in Suid-Afrika gepolariseer het (kyk ook Thompson, 2006:280- 284).

95

onlangs meer as 2 miljoen rand uit staatsfondse aan opgraderings aan sy huis in die dorpie Nkandla in KwaZulu-Natal spandeer61.

Teen die agtergrond van onder meer wanbestuur, toenemende hoë vlakke van armoede, swak dienslewering, misdaad en korrupsie in Suid-Afrika onder die bewind van die ANC blyk dit sinvol te wees om af te vra hoe die huidige maghebbendes dit regkry om verkiesing na verkiesing in Suid-Afrika te wen. Mashele en Qobo (2014:74) wys in hierdie verband daarop dat die veranderende (en toenemende) rol van mites, wat in diens van die maghebbers se ideologieë staan, nie onderskat moet word nie. Dieselfde het uit die voorafgaande onderafdelings van hierdie hoofstuk geblyk waar dit op die NP en die apartheidsideologie van toepassing gemaak is. Wat die rol van mites met betrekking tot die huidige maghebbers se magsposisie betref, sou eerstens vermelding gemaak kon word dat die ANC vanaf sy ontstaan voorgehou is as ʺdie menseʺ se bevrydingsbeweging deur verwysings soos ʺThe

people shall governʺ en die volkskongres van 1955 wat as die ʺCongress of the

Peopleʺ bekend staan (kyk 3.4 en 3.5). Die feit dat die ANC vir jare tydens die

apartheidsjare ondergronds moes funksioneer, het volgens Mashele en Qobo (2014:74) verder tot mitiese verbeeldings rakende die party bygedra. Wat hiermee bedoel word, is dat hoewel die ANC nie volgens apartheidswetgewing fisies in die Suid-Afrikaanse samelewing kon funksioneer nie, mitiese verbeeldings rakende die party daartoe bygedra het dat die ANC dikwels op ʼn verbeeldingryke en konseptuele wyse deel van die Struggle was. Die identiteit van die ANC het voorts en ooreenstemmend met hierdie dikwels mitiese verbeeldings, in talle opsigte sinoniem geword met die algemene belang van Suid-Afrikaners. Die ANC het met ander woorde, nog voor die party se bewindsoorname in Suid-Afrika, vir die grootste deel

61 Ten spyte van ʼn verskeidenheid ondersoeke en sterk kritiek van politieke partye soos die DA en die

Ekonomiese Vryheidsvegters (Economic Freedom Fighters of EFF), is bevind dat die president nie ʼn sent hoef terug te betaal nie (Gqirana, 2015). Hierdie opgraderings, waarvoor die Suid-Afrikaanse belastingbetaler moes opdok, is geregverdig as sekuriteitsmaatreëls om die president te beveilig (Gqirana, 2015). Die sogenaamde Nkandla-verslag wat onder leiding van die huidige minister van polisie, Nkosinathi (ʺNathiʺ) Nhleko (geb. 1969), saamgestel is en op 28 Mei 2015 bekend gemaak is, het onder meer aangevoer dat president Zuma as ʼn Suid-Afrikaanse burger geregtig is op al die regte wat ander Suid-Afrikaanse burgers grondregtelik geniet. Dit is verder in hierdie verslag aangevoer dat die ondersoek as ʼn geheel beskou moet word as ʼn inbraak op die president se privaatheid, sowel as ʼn skending van sy menseregte (Gerber, 2015). In hierdie verslag is ʼn swembad ʼn vuurpoel genoem, tot groot vermaak van anti-Zumagesindes.

96

van die Suid-Afrikaanse bevolking ʼn voorstelling geword van die belofte van vryheid, gelykheid, hoop, vrede en geluk.

Ná die omkeer van magsrolle in Suid-Afrika in 1994 is die ANC se beloftes volgens Moller et al. (1999:247) deur simboliek soos die verwysing na Suid-Afrika as ‟n reënboognasie gereflekteer en versterk. ʼn Reënboog herinner in ʼn Bybelse konteks aan die verhaal van Noag en die ark in Genesis (9:1-17), waarna ʼn verbond tussen God en Noag (as verteenwoordigend van die mensdom) aangegaan is en God aan Noag belowe het dat hy nooit weer ʼn vloed oor die aarde sal stuur nie (Bybel, 2011). Hierdie verbond is bevestig deur ʼn reënboog, wat daarom as ʼn belofte en teken van versoening, beskou word. Hierdie Bybelse konnotasie is op 10 Mei 1994 met die inhuldiging van president Mandela versterk:

We enter into a covenant that we shall build a society in which all South Africans, both black and white, will be able to walk tall without any fear in their hearts, assured of their inalienable right to human dignity - a Rainbow Nation, at peace with itself and with the world (Mandela, 1994).

Hieruit tree bepaalde parallelle tussen die Suid-Afrikaanse magstrukture in die kontekste van apartheid en post-apartheid na vore. Hier word geensins aangevoer dat die ANC, wat in 1994 met demokratiese ideologieë aan bewind gekom het, met die NP en sy ideologie van rasgebaseerde verdeeldheid vergelykbaar is nie. Wat noemenswaardig is en as ʼn parallel tussen hierdie twee magstrukture beskou kan word, is die ideologie agter politieke magstrukture wat grootliks steun op analogieë met reeds bestaande narratiewe (of mites) (kyk 2.4.1). Hierdie narratiewe word volgens Taylor (1981:514) op so ʼn wyse gestruktureer om ʼn versterking van ʼn verbeelde groepsidentifikasie te skep. Dit was ook die geval met die NP wat tydens apartheid in ʼn mitologiese eenheidswaan talle volksfeeste as openbare vakansiedae geproklameer het. Die mite van Suid-Afrika as ʼn reënboognasie het in ʼn post- apartheidskonteks byvoorbeeld direk na 1994 gemanifesteer in Suid-Afrika se veelkleurige landsvlag, wat die voormalige drie-kleurige landsvlag van die ʺouʺ Suid- Afrika vervang het. Hierdie enkele voorbeelde van mitiese verbeelding van Suid- Afrika as ʼn reënboognasie het volgens Moller et al. (1999:247) ongetwyfeld tot ʼn gevoel van nasionale eenheid in ʼn demokratiese Suid-Afrika bygedra. Die outeurs voer aan dat die simboliese gebruik van ʼn reënboog en die positiewe konnotasies

97

daarmee beslis die ANC se beloftes van ʼn beter Suid-Afrika vir alle Suid-Afrikaners versterk het.

Wat die vervaging van die onderskeid tussen mites en geskiedenis betref, wil dit voorkom asof die ANC-regering die feit dat die lewenstandaard van die oorgrootte meerderheid Suid-Afrikaners nie in ʼn demokratiese bestel verbeter het nie, probeer regverdig deur dit toe te skryf aan die nalatingskap van apartheid en kolonialisme (Butler, 2012:126). Dit kom daarop neer dat die geskiedenis van die land steeds in post-apartheid mities tot voordeel van die maghebbers gemanipuleer word. Ter illustrasie hiervan kan onder meer verwys word na president Zuma wat so onlangs as 2012 wanbestuur in die provinsiale regering van Limpopo in terme van honderde skoolhandboeke wat nooit by hul bestemde skole uitgekom het nie, direk aan Verwoerd (wat in 1966 oorlede is) toegeskryf het.

Teen die agtergrond wat in hierdie onderafdeling ten opsigte van die sosio-politieke gebeure in Suid-Afrika geskets is, word die relevansie van stellings deur teoretici soos Hobsbawm (1992) en Kedourie (1960) wat noop om nasionalistiese ideologieë as patologiese verskynsels te benader weereens beklemtoon (2.4). Dit lei soos vanuit ʼn neo-Marxistiese perspektief beredeneer is, daartoe dat die maghebbende elite se belange voorgehou word as tot voordeel en in belang van almal in ʼn betrokke samelewing (kyk 2.5). As sodanig, word die algemene belange van die sogenaamde elite-groepering as veralgemeende belange op alle samelewingsgroepe afgedruk. Soos in Hoofstuk Twee aangedui, is die teenkant hiervan dat das Nichtidentische se belange en waardes, in die voorstelling en onderhouding van valse waarhede, onderdruk of geïgnoreer word (vgl. 2.4). Sosiale verandering en vooruitgang is egter soos beredeneer, nie moontlik mits elite- groeperings bewus gemaak word van die omvang van die vernietigende aard van die magstrukture wat hulle beheer nie. Die vooruitgang van ʼn samelewing is met ander woorde gesetel in die ervaringsbegrip van das Nichtidentische.

3.7 Slotbeskouinge

In hierdie hoofstuk is die Suid-Afrikaanse samelewingskonteks van apartheid, waarin Jantjes en Mofokeng grootgeword het en hulle kunsbydraes lewer, geskets. Eerstens is kolonialisme en later apartheid as nasionalistiese ideologieë aan die orde gestel. Dit is opgevolg met 'n ondersoek na magsbeskouinge in die Suid-

98

Afrikaanse historiese konteks, met die spesifieke fokus wat geval het op die rasgebaseerde diskoerse wat deur wit maghebbers gebruik is om hul magsposisie te vestig, te handhaaf en te regverdig. Aandag is ook geskenk aan mites in die historiese konteks van Afrikaners en die invloed daarvan op Afrikanernasionalisme en -identiteit. Die hoofstuk is afgesluit met perspektiewe op die sosio-politieke omstandighede in Suid-Afrika in die konteks van post-apartheid. Die spesifieke fokus het in hierdie verband geval op die letsels wat rasgebaseerde en nasionalistiese ideologieë soos kolonialisme en apartheid op die Suid-Afrikaanse samelewing en individue soos Jantjes en Mofokeng agtergelaat het.

Uit hierdie hoofstuk word tot die gevolgtrekking gekom dat die elite-groepering – in die spesifieke vorm van wit maghebbers tydens kolonialisme en apartheid – in die Suid-Afrikaanse samelewing se magsposisie op verskillende tydvakke deur die Suid- Afrikaanse geskiedenis altyd afhanklik is van das Nichtidentische-groeperinge se konformering met die vooropgestelde norme wat vanuit die sosiale magstrukture daargestel word. Dit beteken dat individue vanuit die Nichtidentische-groeperinge, soos Jantjes en Mofokeng gedurende apartheid, inderwaarheid deur die maghebbers misken en geïgnoreer is.

In Hoofstuk Vier word die twee gekose kunstenaars aan die leser bekendgestel en word oorgegaan tot ʼn bespreking van die veranderende rol van kuns teen die agtergrond van die sosio-historiese omstandighede rakende apartheid wat in hierdie hoofstuk geskets is. Die spesifieke fokus val op hoe die apartheidsideologie die kunsbesef van Jantjes en Mofokeng beïnvloed het en steeds in ʼn demokratiese bestel beïnvloed.

99

HOOFSTUK VIER

DIE SUID-AFRIKAANSE KUNSLANDSKAP VANUIT DIE PERSPEKTIEF VAN

DAS NICHTIDENTISCHE

ʺOne makes art with genuine optimism, with the belief that someone is going to understand, is going to accept one‟s expression as essentially philosophical, political, historical and artistically truthful. If one does not have this belief, why make art? I am addressing humanity in its fullest conceptual meaning which implies its ability to transform the world and make it more humaneʺ (Jantjes, aangehaal deur Highet, 2014).

ʺBefore I came into photography I was going to go into pharmacy. When I came into photography what I did was to learn the chemistry, to learn the optics, because in terms of technique I try to make it like a science […] It is very difficult to place one meaning to a photograph. And it‟s not only the photograph, it‟s also the writing, the text, the context, and of course the intentions. The meaning shiftsʺ (Mofokeng, aangehaal deur Breckenridge, 2013).

4.1 Inleiding

In Hoofstuk Drie het die soeklig geval op ʼn kritiese beoordeling van die sosio- maatskaplike, kulturele en politieke gebeure in Suid-Afrika wat die lewens van talle Suid-Afrikaners, en spesifiek diegene vanuit das Nichtidentische-groeperinge, ten diepste geraak en beïnvloed het en waarvan die letsels steeds in die konteks van post-apartheid sigbaar is. Hierdie Hoofstuk neem die gekose kunstenaars as das Nichtidentische onder die loep in die Suid-Afrikaanse konteks, soos geskets in Hoofstuk Drie en teoreties ondersoek is in Hoofstuk Twee. Wat die teoretiese begronding betref, word die grondslag van hierdie hoofstuk gelê deur Adorno se negatiewe dialektiek ten opsigte van ʼn beskadigde lewe as uitgangspunt. Soos in Hoofstuk Twee beredeneer, poog Adorno om deur sy immanente kritiek te wys hoe die beskadigde lewe van das Nichtidentische daar uitsien.

Die hoofstuk skop af met ʼn bekendstelling van die gekose kunstenaars aan die leser in die konteks van Hoofstuk Drie. In lyn met ontwikkelings in Hoofstuk Drie, word die gedeelte opgevolg deur ʼn bespreking van die sogenaamde rol en funksie van kuns in belang van nasionalistiese ideologieë soos kolonialisme en apartheid. Vandaar skuif die fokus weer eens in lyn met Hoofstuk Drie na ʼn ondersoek van versetkuns teen die apartheidsideologie ter ondersteuning van die Struggle om weer by die gekose kunstenaars Jantjes en Mofokeng, aan te sluit. Voortspruitend word aandag

100

gegee aan kunstendense en beskouinge in ʼn post-apartheidsamelewing wat tydens kolonialisme en apartheid deur mag verwond is. Die hoofstuk sluit af met samevattings van die hoofargumente en gevolgtrekkings waartoe in hierdie hoofstuk geraak word.