• No results found

Hoofstuk 1 Die politieke agtergrond van die Afrikanervrou

1.1 Die Hollands/Afrikanervrou se politieke belewenis tot ongeveer

“ ‘Die vrou se plek is haar huis.’ Dit was die leuse van die Afrikanervrou voor 1900.”, aldus A.P. van Rensburg.5 In ‘n sekere sin is hierdie woorde waar, maar daar is vele insidente waar vrouens tóg die politieke arena betree het en vir regte geagiteer het. Reeds in 1706 het Hollandse vroue nie geskroom om saam met hulle mans afkeur aan die korrupte regering van goewerneur W.A. van der Stel, aan landdros Starrenberg op ‘n baie verbale wyse te laat geskied nie. Starrenburg het aan

5

die Goewerneur rapporteer: “… de wijven zijn alsoo gevaarlijk als de mans, en zijn niet stil.”6 Die Kaapse Patriotte het in die periode 1784 tot 1785 in hul stryd om meer burgerregte en vryhede en afkeur aan die Kompanjie se bewind, dokumente opgestel wat onderteken is deur “voornaamste burgeren van de kaap de goede Hoop …’s Volks Representanten.” Onder hierdie handtekeninge was dié van ‘n aantal vroue.7

Wat belangrik is in konteks van die proefskrif is die bewering dat teen die einde van die agtiende eeu die Hollands/Afrikaanse gemeenskap aan die Kaap een van die mees godsdienstige

gemeenskappe in die wêreld geword het. Volgens Giliomee was teen 1790 negentig persent van die volwasse vroulike burgers van die groot Stellenbosche gemeente aangenome lidmate van die kerk. Die mans het spoedig in die vroue se voetspore gevolg. Die verklaring hiervoor is dat kerklidmaatskap, wat slegs tot wittes beperk was, die wit gemeenskap van die slawe en ander bediendes wat die nie-wit gemeenskap uitgemaak het, onderskei het. Omdat bloedvermenging redelik algemeen aan die Kaap was, is die kinders wat daaruit gebore is, in die slaweregister opgeteken en kon hulle nie aanspraak maak op die boedel van die familie nie en is die rasse apart gehou. Op hierdie manier sou die Europese vrou haar posisie in die gemeenskap versterk.8 Daar kan argumenteer word dat die Afrikaner se godsdienssin ekonomies gedrewe was.

Godsdiens was ook een van die dryfvere van die Hollands/Afrikaanse vroue om die Kaapkolonie te verlaat. Waar die algemene vertolking vir die oorsake van die Groot Trek as die gebrek aan arbeid as gevolg van Ordonansie 50 en die bevryding van slawe, die gebrek aan grond en sekuriteit, gesien word, was rassegelykstelling ook ‘n oorsaak. Anna Steenkamp, niggie van Piet

6

A.J.H. van der Walt e.a. (reds.), Geskiedenis van Suid-Afrika, 2de uitg. verwerk deur D.W. Kruger (Kaapstad, Nasou, geen datum), p. 82.

7

Van Rensburg, Moeders van ons volk, p. 111. 8

Retief, het die gelykstelling van slawe met wittes as teenstrydig met die wette van God en die natuurlike onderskeid tussen ras en godsdiens gesien. Die pioniers, en dan ook die pioniersvroue, het teen die sosiale gelykstelling van mense wat aan verskillende statusgroepe behoort het protesteer, soos in die geval van meester en bediende, die wat as Christene gebore is en

bekeerdes, diegene wat geboer het en die land beskerm het en nie-burgers. Die pioniers se geloof was op Calvinisme gebaseer, naamlik dat as ‘n groep mense daarvan oortuig is dat hulle

Christelike oortuigings en gewoontes onderdruk word, mag onderdane die juk van die regering afwerp, aldus D.J. Kotzé. Rasse-eksklusiwiteit, gebaseer op Christelike oortuigings, was die dryfveer agter die begeerte om weg te beweeg van die Britse regering en hulle self te regeer. Sommige getuienisse was selfs van mening dat vroue meer vasbeslote as mans was om te trek. 9

‘n Deputasie van Voortrekkervroue in Natal het in Augustus 1843, kort na die anneksasie van die Republiek van Natalia, onder leiding van Susanna Smit, vrou van eerwaarde Erasmus Smit, die kommissaris Henry Cloete besoek. Weer eens onder Britse heerskappy het die vroue nie net die welbekende dreigement gemaak dat hulle eerder kaalvoet oor die Drakensberge sou loop as om hulle aan Britse gesag te onderwerp nie, máár hulle het ook aangedui dat hulle politieke mag wou hê. Dit wil voorkom asof die Voortrekkers aan hul vroue medeseggenskap in staatsake beloof het, maar dat die Volksraad, wat slegs uit mans bestaan het, dit geweier het. Hierdie vroue het gevoel dat hulle net soveel die reg het om deel te wees van die politieke toekoms van hulle gebied as die mans. Cloete was verstom oor die vroue se eise en het aan hulle gesê dat "… such a liberty ... had never been recognised in any civil society.” Hy het later aan die Goewerneur rapporteer, “ ... and that however much I sympathised in their feelings ... I considered it a disgrace on their husbands to allow such a state of freedom." Hy was ook bekommerd dat “… from this state of phrenzy

9

Giliomee, “The rise and fall of Afrikaner women”, p. 14;

D.J. Kotzé, Nasionalisme: Geskiedenis en pan-nasionalistiese bewegings, Nasionalisme as historiese faktor, deel 2 (Kaapstad, Tafelberg-Uitgewers, 1970), p. 22.

(sic)” hulle ook ander sou beïnvloed.10 Alhoewel Susanna Smit in die Afrikanergeskiedenis voorgehou word as ‘n voorbeeld van die onafhanklike gees van die Afrikanervrou, het sy in werklikheid met hierdie besoek aan Cloete haar en die ander vroue se teleurstelling dat hulle nie politieke seggenskap gekry het nie, oorgedra. Sy het dan ook tot met haar dood in

Pietermaritzburg gebly.11 Die vroue se politieke aspirasies het hulle hier teen die patriargie vasgeloop - Cloete se siening dat die openbare rol van die vrou deur haar man goedgekeur moet word, was nie net tipies vir die tyd nie, maar het ‘n 150 jaar later in baie gevalle nog gegeld. Die vraag kan gevra word of hierdie groep selfgeldende vroue die eerste agitasie vir vrouestemreg in Suid-Afrika was; ‘n stemregbeweging-in-die-kleine?

Twaalf jaar later, in 1855, het vroue in die Zuid-Afrikaansche Republiek politieke regte gekry. ‘n Volksraadsbesluit het soos volg gelui: “Wanneer een manspersoon als Burger van dezen

Republiek erkend is, zal zijne vrou daardoor ook als Burgeres van dezen Republiek erkend worden en blijven.” Alhoewel sommige skrywers hierdie besluit van die Transvaalse Volksraad as die verlening van stemreg vertolk, sê Stockenström in 1944, dat dit slegs burgerskap beloof het en definitief nie stemreg ingesluit het nie. Stockenström vertolk die “erkenning” as die gevolg van die “grootse werk” van vroue wat “hierdie land saam met die manne vir die nasate

bewoonbaar gemaak het en van rassevermenging met die inboorlinge gevrywaar het.” Met die lees van sy navorsing is dit duidelik dat Stockenström onoortuigd was oor die wysheid van die

10

Cherryl Walker, Women and resistance in South Africa, 2nd edition (Cape Town, David Philip, 1991), p. 10;

Van Rensburg, Moeders van ons volk, pp. 111-112. 11

Christina Landman, The piety of Afrikaans women, diaries of guilt (Pretoria, University of South Africa, 1994), pp. 60-64.

verlening van die vrouestemreg - dit kon dalk sy vertolking beïnvloed het. Die wet, wat in 1901 verval het, was net van toepassing op getroude vroue wie se mans burgers was.12

As Olive Schreiner geglo moet word, was die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) vrou-gedrewe. Nie net het Afrikanervroue in die Transvaal hul mans en seuns aangemoedig om te gaan veg en aan te hou veg nie, maar ook in die Kaapkolonie het Afrikanervroue hul mans aangespoor om die Transvaalse Republiek te gaan help.13 Vrouens het ook tydens die Anglo-Boereoorlog hul mans probeer oorreed om nie oor te gee nie. Helen Bradford verskaf vele bewyse van Afrikanervroue wat die ruggraat van republikeinse opposisie gevorm het. Hierdie begeerte van Afrikanervroue wat, ten spyte van groot leed en swaarkry, wou hê dat hul mans nie moet tou opgooi nie, het beide die mans en die Britte verbaas. Die rede vir hierdie ongebreidelde en amper onverklaarbare patriotisme van die Afrikanervroue is opsigself ‘n studie werd. Was dit patriotisme,

Afrikanernasionalisme of Britse haat? Bradford argumenteer dat die dryfveer was “ ‘Khaki’ men from above and ‘Kaffir’ men from below.” Vroue het redeneer dat hulle nog ‘n man kan kry, maar nie nog ‘n “racist republic” nie.14

D.J. Kotze beweer dat die twee vryheidsoorloë “Boerenasionalisme” aansienlik versterk het en baie daartoe bygedra het om algemene Afrikanernasionalisme te ontwikkel, want Kaapse

12

Kintie Malan (samesteller), Die vrou en die politiek, ‘n simposium gehou op 23-26 September 1974 in Kaapstad deur die Nasionale Vroueklub van die Parlement (Elsiesrivier, Nasionale Handelsdrukkery, 1975), p. 4. Malan stel dit pertinent dat stemreg aan vroue verleen is;

E. Stockenström, Geskiedenis van die vrouebeweging en die vrouestemreg in Suid-Afrika tot 1930 (ongep. D.Phil.-verhandeling, US, 1944), p. 46. Sien ook p. 17 van hierdie proefskrif.

13

Giliomee, “The rise and fall of Afrikaner women”, pp. 15-16. 14

Helen Bradford, “Gentlemen and boers. Afrikaner nationalism, gender and colonial warfare in the South African war”, Greg Cuthbertson, etc. (eds), Writing a wider war, rethinking, gender, race and identity in the South African war, 1899-1902 (Claremont, David Philip, 2002), pp. 47-51, 58.

Afrikaners het nou met hul noordelike volksgenote gesimpatiseer.15 M.E. Rothmann het self ‘n opwelling van Afrikanernasionalisme ervaar. As 21-jarige student aan die Universiteit van Kaapstad, met ‘n algehele Engelse skoolopvoeding, met slegs Engelse as medestudente en huismaats, was sy ten spyte van haar Afrikaanse ouerhuis, Engelssprekend en Engelsdenkend. “Van kleins af het duisend (sic) drukkinge dit op my gestempel dat wat Engels is, goed is; wat Afrikaans is, minder goed; ek het geleer glo aan British fairplay, British justice, British honour…” Sy beskryf dat sy en ‘n klasmaat kort na die mislukte Jameson-inval in 1896 die volgende “mistieke” ervaring gehad: “Ons het albei, vaag en ver, in daardie Engelse omgewing die voorouers se gees in ons gevoel roer.” Haar verklaring jare later was dat die invloed van haar huistaal, wat Afrikaans was, en die Swellendamse Afrikaner-gesinsleefwyse nooit uitgewis is nie, “… en dit het deur die Jameson-inval gewys waar ek as kind van my volk my plig moes sien en aanvaar.”16

Aan die einde van die 1870’s is heelwat jong meisies in die Kaapprovinsie aan seminaries, soos die Hugenote-seminarie, as onderwyseresse opgelei. Dit was in die seminaries en godsdienstige verenigings waar vroue hul vaardighede geslyp het. Baie het op protesvergaderings teen die oorlog in die noorde as sprekers opgetree. Hulle was bekend met plaaslike politieke kwessies, die geskiedenis van die Boererepublieke en het op ‘n bekwame manier Afrikanernasionalisme verdedig.17

Gevolglik was daar teen die einde van die 1800’s duidelike bewyse dat baie Afrikanervroue van die tradisionele geslagsrolle wegbeweeg het en ‘n openbare politieke ruimte vir hulself opgeeïs

15

Kotzé, Nasionalisme, p. 59. 16

het. Volgens Marijke du Toit het hierdie skoling van jong meisies nog steeds binne ‘n raamwerk plaasgevind waar dit as ‘n verlenging van hul moederlike en godsdienstige pligte en rolle gesien is. Die Vroue-Sendingbond, met evangelisasie as hoofdoel, is in 1889 deur Hollands/Afrikaanse vroue gestig en het binne die raamwerk van die N.G. Kerk funksioneer. Kerkmanne het nie nagelaat om gereeld te vermaan dat die manlike outoriteit en vroulike onderdanigheid ‘n goddelike opdrag was nie.18 In die 20ste eeu sou manlike en goddellike outoritieit die Afrikanervrou verder manipuleer.

In hierdie periode is daar enkele voorbeelde aangedui waar die Hollands/Afrikaanse vrou haar op die politieke toneel begeef het. Afgesien van die, grootliks onsuksesvolle, pogings tydens die Anglo-Boereoorlog om mans te motiveer, was die vrou se politieke rol minimaal, eerder anekdoties as instrumenteel. Die vrou se politieke rol was ondersteunend - van uit die huis.