• No results found

Bosman se werk as vryskutmusikus en repetiteur, hoofsaaklik in Firenze en Bologna

PENDELAAR IN EUROPA

6.1 Bosman se werk as vryskutmusikus en repetiteur, hoofsaaklik in Firenze en Bologna

1983 het vir Bosman in Firenze begin waar hy nog by dieselfde adres, naamlik die Via del Podestà 19, gewoon het. Die enigste verskil is egter dat hy nie in Firenze gewerk het nie, maar hoofsaaklik in Bologna, en wel by die Teatro Comunale as begeleier in meesterklasse vir sangers. Rekords bestaan van die moontlike eerste kontrak, gedateer 22 Februarie 1983, waarin hy as pianis in bogenoemde teater aangestel is vir die tydperk 22 Februarie 1983 tot 31 Julie 1983. Sy betaling was destyds L2 000 000.131 Gedurende hierdie tyd in Bosman se lewe sou hy heel waarskynlik voor groter lewenskeuses te staan kom en sou daar ook baie vrae in sy gemoed ontstaan – wat weereens in die teken van vestiging en die vind van ’n eie plek sou staan. Besluite en antwoorde sou in vele opsigte deurslaggewend wees. Die vanselfsprekende vraag was natuurlik sy toekoms in die buiteland – en met name die vrae of Italië die aangewese plek was om te wees en of hy met verloop van tyd ’n werk sou kry wat vir hom genoegsame inkomste sou genereer om homself in die buiteland te onderhou. Alle dokumentasie en beskikbare feite dui egter daarop dat Bosman, soos in die geval van die meeste kunstenaars wat aan die begin van hulle loopbaan staan, ’n lewe as vryskutmusikus gevolg het. Hy was jonk, onervare en daarby onbekend en moes homself op enige moontlike wyse aan die invloedryke musikale Italiaanse burgery presenteer. As pianis was dit van die uiterste belang om in daardie stadium nie net die organiseerders en teaterbestuurders te beïndruk nie, maar ook die guns van die konsertgangers te wen.

131

107

Afbeelding 52: Een van die eerste kontrakte by die Teatro Comunale in Bologna, 1983

Bosman se loopbaan het in hierdie jare begin as onervare begeleier, hoofsaaklik in Bologna, in verskeie klasse vir sangers, as solis in talle konserte en as pianis in kamermusiekuitvoerings. Bosman het binne ’n kort tydperk bekendheid as uitstekende begeleier verwerf. Met verloop van tyd is hy as ’n gesogte begeleier beskou en het hy

108

wêreldbekende sangers dwarsoor die hele Italië asook buite die grense van die land begelei. Sy werk as repetiteur by verskeie teaters, maar veral by die Teatro Comunale in Bologna, het hom tot groot voordeel gestrek. Sy fokus het stelselmatig van klavierspel na dirigeerkuns verskuif. Sy posisie as assistentdirigent vir verskeie dirigente van internasionale faam het nie alleen aan hom die nodige ondervinding verleen nie, maar mettertyd is hy ook aan sommige van die beste musici in Europa bekendgestel.

Mettertyd het Bosman ’n geweldige groot netwerk van vriende gehad, waaronder talle van die beste sangers en instrumentaliste in Europa getel het. Dit het hom in sy latere loopbaan tot groot voordeel gestrek, aangesien hy by vele geleenthede van hierdie kunstenaars gekontrakteer het vir konserte, operas en ander uitvoerings waarby hy as dirigent betrokke was. Hierdie werk het vir Bosman sekere frustrasies ingehou, maar het mettertyd vrugte afgewerp, aangesien hy toenemend gekontrakteer is om in verskeie operahuise in Italië te dirigeer. Sy groot deurbraak het in die vroeë negentigs in Milaan gekom, maar intussen, volgens verskeie briewe wat uit hierdie tydperk dateer, het ’n boheemse sukkelaarsbestaan hom in die oë gestaar. Hy het beswaarlik genoeg geld verdien om sy huur te kon betaal en in die wintermaande was daar ekstra uitgawes, soos die verhitting van die woonstel, wat hom ’n aardige bedrag uit die sak gejaag het. Soos reeds uit vorige hoofstukke geblyk het, het sy benarde finansiële posisie in talle briewe en gesprekke met sy ouers ter sprake gekom.

Die aanvanklike soektog na werk en die onsekerheid wat daarmee gepaard gegaan het, het Bosman ongetwyfeld op bepaalde wyses beïnvloed. Die geldelike ondersteuning wat hy oor ’n tydperk van ongeveer drie jaar van die Universiteit van Kaapstad vir sy oorsese studies ontvang het, het ook tot ’n einde gekom. Dus was Bosman op homself aangewese en in daardie stadium kon sy ouers hom ook nie eintlik van veel finansiële hulp wees nie. Hulle het wel met tye vir hom kleinerige bedrae geld gestuur, soos blyk uit briewe wat deur sy ouers aan hom geskryf is. Sy aanstelling by die teater in Bologna was gevolglik vir sy ouers en ander familie in Suid-Afrika ’n groot gebeurtenis en almal was baie verlig. Sy ma skryf soos volg:

Almal sê ook baie geluk vir jou met jou aanstelling by die teater in Bologna. Hulle wens jou toe die begin van ’n lang en gelukkige en suksesvolle

109

loopbaan in jou rigting ... Die geld hierby ingesluit, is solank vir die telefoon, ek stuur vir jou later nog ’n tjek.132

Die feit dat Bosman nou byna daagliks tussen Firenze en Bologna moes pendel, was vir sy ouers ook ’n bekommernis. Hy is gereeld uitgevra of hy al ander verblyf gekry het sodat hy nie so ver hoef te ry nie. In ’n brief van 13 September 1983 het dit duidelik geword dat Bosman wel ander verblyf gekry het en dat hy teen die einde van September die huis in die Via del Podestà moes ontruim.133

Volgens ’n brief wat hy in 1984 aan sy ouers geskryf het, was hy steeds in dieselfde huis in Firenze woonagtig. Hy meld egter in die brief dat die eienaars hom in kennis gestel het dat hy nou werklik die huis sal moet verlaat. Hy het ’n keuse gehad:

Die eienaars van my huis wil my nou met alle geweld uit hê, dus moet ek óf die huis koop(!!!) óf ’n ander oplossing vind. Ek is dus bang ek sit in Australië terwyl hulle in Firenze my goed op straat sit! As ek die geld gehad het, het ek dadelik gekoop, aangesien alles in my voordeel is om die huis baie goedkoop te kry, ek het selfs daaraan gedink om ’n lening by Oude Meester teen 5% aan te gaan en daarmee die huis te koop!134

In daardie stadium het sy ouers in Canberra, Australië gewoon, waar sy pa in die diplomatieke diens werksaam was. Hulle wou graag gehad het dat Bosman vir hulle moes gaan kuier. Hy het egter die volgende redes aangevoer waarom dit nie moontlik sou wees nie:

Augustus is ek dus nog vry om te gaan kuier, maar wonder of dit regtig al die geld werd is, moet my nie verkeerd verstaan nie, ek wil ook graag vir julle sien, maar ongelukkig is dit moeilik vir my om weg te gaan sonder dat ek weet presies wat ek gaan doen as ek terugkom. Aan die ander kant is

132 Brief, 18 April 1983. 133 Brief, 13 September 1983. 134 Brief, 18 Mei 1984.

110

Augustus hier ook ’n stil maand ... ek weet regtig nie, julle moet maar besluit of julle dit regtig kan bekostig!135

Bosman het dikwels met sy ouers oor sy finansiële situasie in Italië gepraat. In bykans elke brief aan sy ouers in 1984 is die onderwerp opgehaal. Dit is duidelik dat hy geen vaste toekomsplanne gehad het nie, maar die beperkinge wat die moontlikhede vir werk betref, was ooglopend. Verder kan afgelei word dat dit vir Bosman nie moontlik was om sonder Italiaanse burgerskap ’n werk te kry nie. Hiermee het hy ook eindelose probleme gehad. In die brief aan sy ouers gedateer 17 Junie 1984 het Bosman dit oorweeg om ’n paar konserte in Suid-Afrika te speel en moontlik ook aan die Internasionale Klavierkompetisie in Pretoria deel te neem. Volgens ’n telegram van die destydse hooforganiseerder van die klavierkompetisie en direkteur van die Musiekdepartement van UNISA, wyle prof. Hennie Joubert, het Bosman vir die kompetisie ingeskryf: “Your entry accepted officially by committee. Good luck with practising.”136

’n Belangrike gebeurtenis wat vir Bosman tot voordeel gestrek het, was die feit dat hy uit die bloute ’n klavierleerling gekry het. Hierdie leerling was aanvanklik ’n student van een van die dosente by die konservatorium, maar nadat hy Bosman hoor speel het, het hy die besluit geneem om die konservatorium te verlaat en privaat by Bosman onderrig te ontvang. Hiervoor moes die student egter betaal. Volgens Bosman was dit ’n “feather in my cap” en ook polities van belang, want as die student uiteindelik sy eksamen sou speel (agste jaar, die grootste eksamen) sou Bosman noodwendig onder die aandag van die eksamenpaneel gekom het.137 Van verdere belang was sy voorbereiding van twee sangers om in La Scala te gaan optree. Hulle was Bernadette Manca di Nissa (alt) en William Matteuzzi (tenoor). Oor laasgenoemde twee sangers skryf Bosman soos volg:

Ek kan dus nou al spog met twee sangers wat ek so te sê vir La Scala voorberei het, nl. Bernadette Manca di Nissa en William Matteuzzi.138

135

Idem ditto.

136 Brief, 17 Junie 1984. Telegram, 2 November 1983. 137

Brief, 26 Mei 1984.

138

111

Sekerlik een van die grootste gebeurtenisse in Bosman se lewe as pianis in Italië in daardie stadium was sy betrokkenheid as pianis by die meesterklasse van Elisabeth Schwarzkopf by die teater in Bologna in Maart 1983. Dit was volgens sy ouers vir hom ’n wonderlike ervaring waarby hyself baie geleer het, maar ook die begin van ’n lewenslange vriendskap met die diva. Sy het ook vir hom ’n getuigskrif geskryf toe hy later aansoek gedoen het om in die dirigeerkuns opgelei te word: “Mr Arnold Bosman worked as accompanist during my master classes in Bologna in March, 1983. He proved a very able collaborator and I wish him every success in his studies to become a conductor.”139

Afbeelding 53: Arnold as repetiteur in die meesterklasse van die bekende Elisabeth Schwarzkopf in Bologna, 1983.

139

112

Afbeelding 54: Arnold as repetiteur in die meesterklasse van die Russies-gebore mezzosopraan Zara Dolukhanova in Bologna,1983.

6.2 Persoonlike besonderhede rondom Bosman se lewenstyl in die 1980’s