• No results found

Biografiese agtergrond van Arnold se pa, Willem en sy ma, Heleen

BIOGRAFIESE AGTERGROND

2.6 Biografiese agtergrond van Arnold se pa, Willem en sy ma, Heleen

Willem Bosman (Arnold se pa) is in 1934 in Den Haag as een van vyf kinders uit die huwelik tussen Arnoldus Johannes Bosman en Maria Aletta (Alice-Alys) Schoeman gebore. Willem is kort na sy geboorte saam met sy ouers na Duitsland waar hy tot in 1937 gewoon het. Terug in Suid-Afrika het hy saam met sy ouers in Pretoria gewoon, in ’n huis wat deur Gerhard Moerdijk ontwerp is. Willem het sy eerste skooljaar aan ’n klein privaatskooltjie voltooi wat deur twee Bosman-susters bestuur is. Laasgenoemde was die dogters van ds. H S Bosman na wie Bosmanstraat in Pretoria vernoem is. Daarna is hy na die Laerskool Pretoria-Oos en in 1952 het hy aan die Afrikaanse Hoër Seunskool gematrikuleer.6

Na een jaar in die Militêre Gimnasium is Willem in 1954 na die Universiteit van die Vrystaat waar hy die graad B.Admin. met Volkekunde en Naturelle-administrasie as hoofvakke gevolg het. Reeds in daardie vroeë stadium was dit Willem se ideaal om die rasseprobleem in Suid-Afrika op te los. Willem was slegs drie maande op universiteit toe sy pa oorlede is. Weens finansiële implikasies was Willem genoodsaak om deeltyds te studeer en terselfdertyd te werk. Hy het toe by die munisipaliteit begin werk en in 1957 het hy organiserende sekretaris van die destydse Nasionale Jeugbond in die Vrystaat geword. Hy het homself as ’n vurige Nasionalis beskou en die erns van die beleid van die regering op die hart gedra en dit so aan die jeug voorgehou.7

Willem het ook ’n voorliefde vir musiek gehad en het as student in verskeie ensembles in Bloemfontein viool gespeel, onder meer saam met Petrus Lemmer en Dolly Heiberg. Laasgenoemde twee persone het mettertyd beide invloedryke figure in die musieklewe in die Vrystaat en ook in Suid-Afrika geword.8

Dit is opvallend dat Willem tydens sy professionele loopbaan nooit langer as tien jaar een posisie beklee nie. Die Bosmans het gedurig verhuis – in Suid-Afrika hoofsaaklik tussen Pretoria, Kaapstad en Bloemfontein, maar daar was ook lang periodes wat hulle in die buiteland gewoon het. Van 1960 tot 1967 was Willem werksaam by die destydse

6 Sien voetnoot 1. 7 Idem ditto. 8 Ditto.

38

Bantoe Beleggingskorporasie, ’n instansie wat geld aan swart mense geleen het om die tuislande te ontwikkel. In 1967 het hy sy misnoeë teenoor die Verwoerd-regering se paternalistiese beleid teenoor swartmense uitgespreek en onmiddellik bedank.9

In 1969 het hy as Senior Inligtingsbeampte by die Departement van Inligting in Kaapstad begin werk. Later het hy soortgelyke posisies in Umtata en Bloemfontein (1972) beklee. In 1975 is Willem na Pretoria oorgeplaas. Vanaf Januarie 1976 tot Desember 1992 was Willem egter hoofsaaklik in die buiteland werksaam. Sy eerste aanstelling was in die Inligtingskantoor by die Suid-Afrikaanse Ambassade in Londen. Daarna het agtien maande in Den Haag in Nederland gevolg. In Februarie 1980 het hulle vir ’n wyle na Suid-Afrika teruggekeer. In April 1981 is hy as Inligtingshoof na Canberra, Australië. Na die ontbinding van die Departement van Inligting in 1985 het Willem en Heleen na Suid- Afrika teruggekeer waar Willem ’n pos by Buitelandse Sake gekry het.10

In 1988 is Willem na Oslo om die Konsulaat-Generaal te gaan open. Met die vrylating van Nelson Mandela in 1990, is die Konsulaat-Generaal opgegradeer tot ’n ambassade, met Willem as ambassadeur. Hierdie posisie het hy tot 1992 beklee. Terug in Pretoria was hy vir ses jaar as hoofverteenwoordiger van Buitelandse Sake se onderhandelingsproses met die Europese Unie werksaam. Hierdie posisie het hy tot sy aftrede in Oktober 1999 beklee, waarna hy en Heleen in 2000 na Bloemfontein verhuis het waar hulle vandag steeds woon.11

Arnold se ma, Heleen, is in 1935 op Ladybrand gebore. Sy het haar skoolopleiding op ’n plaasskool in die Ventersburg-distrik begin en vanaf haar graad vier-jaar is sy na die Hoërskool Steynsrus waar sy in 1952 gematrikuleer het. Gedurende hierdie jare het haar ouers in Marquard gewoon. Haar pa, Gert Engelbrecht, ’n boukontrakteur van beroep, het tydens die oorlogsjare finansieel baie swaargekry as gevolg van die onbekombaarheid van boumateriaal.12

9 Ditto. 10 Ditto. 11 Ditto. 12 Ditto.

39

Afbeelding 13: Heleen Bosman se ouers – Bartel Sevenster (haar stiefpa) en Cornelia Susanna Sevenster (née Von Mollendorf)

Na haar ouers se egskeiding in 1953 het Heleen rondgeval tussen verskillende werke. Sy het onder andere in ’n bank in Brandfort gewerk, asook by die destydse musiekwinkel, R Müller, in Bloemfontein. Daarna het sy haar by die Onderwyskollege ingeskryf, maar het na ses maande haar studies laat vaar en toe vir ’n rukkie by die advertensieafdeling van Die Volksblad gewerk. In 1956 is sy na Tweespruit om musiekonderrig te gee. In daardie stadium het sy reeds by die bekende Gertrude Kautzky, destydse dosent in klavier aan die Universiteit van die Vrystaat, klavierles ontvang. Heleen het volgehou met die lesse by Kautzky deur elke naweek Bloemfontein toe te kom. Sy het vir ’n jaar in Tweespruit gewerk, waarna sy in Desember 1956 met Willem Bosman in die Tweetoringkerk in Bloemfontein getroud is. Die predikant was prof. Andries van Schalkwyk, ook Willem se dosent in Volkekunde aan die UV, en die orrelis, die bekende Dolly Heiberg.13

40

Heleen se ma is in die sewentigerjare met Bartel Sevenster getroud. Alhoewel Arnold se biologiese oupa aan moederskant nog geleef het, was dit sy stiefoupa Bartel wat hy werklik goed geken het.14

Heleen het eers op ’n betreklike laat ouderdom besluit om haar verder in ’n musiekrigting te kwalifiseer. In 1972 het sy haar by die Universiteit van die Vrystaat ingeskryf en die Onderwyslisensiaat van die UV voltooi.15

Afbeelding 14: Arnold se ouers op hul troudag 15 Desember 1956, Bloemfontein.

14 Onderhoud met Willem en Heleen Bosman, Bloemfontein, 1 April 2012. 15 Sien voetnoot 1.

41

Afbeelding 15: Arnold se ouers, die diplomatieke egpaar, Willem en Heleen Bosman – Londen, 1977.

In die volgende hoofstukke ontvou Bosman se lewe op chronologiese wyse. Verskillende fasette van sy lewe en ook sy werk sal aan die hand van “plek” en “tyd” belig word. Die jare wat Bosman in Suid-Afrika as skoolgaande seun deurgebring het, word in die volgende hoofstuk binne konteks geplaas en dit word reeds op daardie vroeë stadium duidelik dat sy lewe as kind tot ’n meerdere mate deur “plek” en “tyd” gerig is – al was dit op hierdie stadium grootliks deur sy ouers se toedoen. Dit blyk duidelik dat Bosman reeds op ʼn vroeë ouderdom nie vir lang periodes op een plek gebly het nie, ’n verskynsel wat toegeskryf kan word aan die beroep waarin sy pa Willem homself bevind het. Daar word verder na sy vroegste musiekonderrig, sy skoolopleiding en die prestasies wat hy in hierdie tyd behaal het, gekyk.

42 HOOFSTUK 3