• No results found

Beskrywing van Mandala II (1991), Wind directions (2001) en Birds heralding the Light (2007)

HOOFSTUK VIER

4.2 Beskrywing van Mandala II (1991), Wind directions (2001) en Birds heralding the Light (2007)

4.2.1 Primêre ontsluiting: Mandala II (1991)

Alhoewel mandala-agtige komposisies reeds ʼn geruime tydperk voor die tagtigerjare met reëlmaat in Cilliers-Barnard se oeuvre voorkom, soos byvoorbeeld in Circular Symbols (1967; Figuur 12), het sy in 1981 vir die eerste keer eksplisiet aan die mandala-motief vergestalting gegee deur ʼn kunswerk met ʼn geometriese sirkelsimbool met die begrip

Mandala I (1981; Figuur 22) te betitel. Ballot (2006:119) bevestig hierdie standpunt deur

te stel dat die mandala-simbool reeds in essensie in haar vroeër kunswerke weerspieël word.

Daarna kom die mandala-motief geredelik in haar oeuvre voor en Mandala I en Mandala

II is gepaste voorbeelde. Die doek van Mandala II het ʼn vierkantige uitleg waarop ʼn

konsentriese sirkeldiagram uitgebeeld word. Die prentvlak is volgens hierdie geometriese komposisie ook in gelykdelige pienk, blou en groen kleurareas verdeel. As gevolg van die uitleg en die wyse waarop vorms en lyne gebruik word, word die kyker se oog gelei, sodat dit uiteindelik op die kleinerige groen kol of sirkel in die middel van die skildervlak fokus. Die sirkelvorm kan as die oorsprong of beginpunt van die groter konsentriese sirkels beskou word. Hierdie sirkels word deur verskillende herhalende motiewe en patrone afgebaken wat ook in die sirkelvorm geplaas is.

In een van die middelste sirkels kan vier abstrakte vorms waargeneem word wat met die eerste oogopslag soos voëlmotiewe lyk; hierdie waarskynlike ooreenkoms word beklemtoon deur die oënskynlike vlerke van die “voëls” wat in vier verskillende rigtings wys. Die voëls se sterte raak aan die eerste sirkel se buitekant en hul vlerke en nekke is verleng om die groter buitenste sirkels te penetreer. Sodoende raak sowel die punte van die vlerke as die koppe van die voëls aan van die buitenste bane wat deur die groter konsentriese sirkels geskep word. In Mandala II is daar tussen die buitenste sirkel en ʼn binnesirkel konsentiese of samelopende lyne wat ʼn kring vorm.

89

4.2.2 Primêre ontsluiting: Wind directions (2001)

In 2001 het Cilliers-Barnard op die ouderdom van sewe-en-tagtig haar een-en- sewentigste solo-uitstalling by die Pretoria Kunsvereniging gehou (raadpleeg Hoofstuk Twee). Hierdie retrospektiewe uitstalling was tematies in die volgende drie afdelings verdeel: Mandala-series: circle of the total Self; Series: Images in the mirror en Series:

Souvenir gems. In die Circle of the total Self mandala-reeks word die mandala-simbool

saam met verwerkings van ander simboliese elemente in tien groot olieverfskilderye herhaal. Die Images in the mirror-reeks bestaan uit twee-en-dertig grafiese werke wat sy tussen 1951 en 2001 voltooi het. Hierdie grafiese kunswerke bied ʼn oorsig van haar loopbaan tot op daardie tydstip en funksioneer as ’n vergelykingsbasis ten opsigte van haar nuwer werke. Laasgenoemde afdeling is ʼn versameling kleiner olieverfskilderye wat sy in haar eie woorde as “juwele vanuit my skatkis van herinneringe” beskryf (Van Heerden & Hilliard, 2001:1).

Die kunswerk Wind directions vorm deel van die Mandala-series: Circle of the total self wat in daardie jaar uitgestal is. Hierdie reeks sluit ook ander kunswerke soos Nocturne (2000; Figuur 23) en The wheel of life (2000; Figuur 24) in. In hierdie werke kontrasteer Cilliers-Barnard geometriese vorms op die voorgrond met monochroom konsentriese sirkels in die agtergrond. In Wind directions is die doek in kleurvlakke van verskillende skakerings ligblou, turkoois en dowwe ligpers verdeel. Die prominentste verskynsel in die kunswerk is die turkoois-kleurige geometriese sirkeldiagram wat met verskillende teksture en patrone versier is. Buite hierdie sirkeldiagram is daar verskeie vereenvoudigde geometriese vorms wat as vergestalting van voëlmotiewe dien. Hierdie voëls lyk asof hulle deur die ligte grys kring probeer breek om uiteindelik die turkooissirkel vanuit alle rigtings te penetreer. Die teksture binne die turkooissirkelpatroon word deur ligblou skerphoekige vorms geskep.

ʼn Kontrasterende dowwe rooi-oranje regop kruis (+) met ligblou omlyning in die middel van die buitenste sirkel verdeel die skildervlak in vier gelyke kwadrante. Die sentrum van die kruismotief is ʼn baie klein ligblou skuinskruis wat die middelpunt van die skildervlak aandui. Die buitenste sirkel vorm ʼn breë duifblou kring of baan. Die kardinale punte van die kruis – in pylvorm − betree hierdie baan. In die sentrum van die grys baan word daar deur middel van verskillende kleurvlakke en teksture drie kleiner sirkels of kringe geskep.

90

4.2.3 Primêre ontsluiting: Birds heralding the Light (2007)

In 2007 het die Pretoria Kunsvereniging hul sestigste bestaansjaar met ʼn uitstalling deur Cilliers-Barnard en kunstenaarsvriend, Van der Reis gevier. In hierdie uitstalling het Cilliers-Barnard met verskeie werke, waarvan Birds heralding the Light ʼn treffende voorbeeld is, die mandala as grondliggende onderwerp gebruik. In Birds heralding the

Light is daar met verskillende skakerings van oranje geskilder wat met alternerende

turkoois en groen ligstrepies (“hoogsel”) kontrasteer. Die helder oranjekleurige regop kruis in die middel kan as die fokuspunt geïdentifiseer word. Die middelpunt van hierdie kruis word met ʼn klein turkooiskleurige vierkant uitgelig en met ʼn oranje sirkel omkring. Die regop kruis word ʼn tweede keer omkring, dié keer met ʼn groen sirkel wat weer deur ʼn dowwe oranje omring word. Hierdie ligte oranjekleurige omringing word deur vloeiende geometriese vorms gekenmerk wat na aanleiding van die titel as voëls geïdentifiseer kan word.

Na bogenoemde primêre ontsluiting en basiese beskrywing word die mandala-werke vervolgens in ʼn sintese en aan die hand van oorvleuelende temas en simbole ondersoek.

4.3 Tematiese oorvleuelings en gemeenskaplike simboliek