• No results found

BERADER AS AGENT VAN BEWUSWORDING EN HELING

PRAKTYKTEORETIESE PERSPEKTIEWE OP DIE BEGELEIDING VAN DIE ADOLESSENT WAT LY ONDER PRESTASIEDRUK

5.4 BERADER AS AGENT VAN BEWUSWORDING EN HELING

Navorser se beroep behels onder andere die voer van pastorale gesprekke op 'n gereelde basis en ek beskou dit as 'n groei- en leerproses. Vanuit hierdie ervaring deel ek as berader die

proses van bewuswording en heling in die geval van prestasiedruk onder adolessente op die volgende wyse:

5.4.1 INDIVIDUELE BENADERING

Elke adolessent en ouer is uniek en deel 'n unieke konteks. Elke geval behoort dus unieke oplossings en pad na heelwording te he. Die berader kan nie 'n voorafbepaalde beradingsmetode op elke beradingsgeval toepas nie, maar moet elke geval uniek hanteer. Dit mag beteken dat vorige beradingsmodelle wat suksesvol by 'n ander adolessent en of sy ouers gebruik is, glad nie by 'n volgende adolessent en of sy ouers suksesvol gebruik kan word nie en dit mag die berader dwing om 'n ander model of aanslag aan te wend.

5.4.2 FOKUS OP OPLOSSINGS

Die berader moet probeer om te alle tye op oplossings te fokus en nie te veel tyd te spandeer aan die verskillende partye wat oor en weer vinger wys nie. Wanneer die berader die beradenes se fokus op die oplossings plaas, word die fokus van die onmiddellike probleem verplaas na die hoop wat die beradingsproses inhou.

5.4.3 SKEP STRUKTUUR

Alhoewel elke beradingsgeval uniek is en 'n unieke aanslag vereis, is dit belangrik dat die berader 'n definitiewe struktuur aan die beradingsessies koppel. In die geval van prestasiedruk onder adolessente val die fokus nie bloot daarop dat die beradenes moet praat oor hulle gevoelens nie, maar is die fokus op bewuswording en heling. Die berader moet dus met 'n definitiewe plan werk om seker te maak alle aspekte van die geval word hanteer en afgehandel. Adolessente voel dikwels veiliger wanneer hulle weet dat daar 'n bepaalde struktuur en 'n doel aan die beradingsessies is. Die struktuur van die beradingsessies gee leiding aan die berader oor watter pad na bewuswording en heling gevolg moet word. Navorser verwys na 5.5 waar 'n struktuur vir die beradingsessies voorgestel word.

5.4.4 DOELWITTE

Die berader moet die beradenes leiding gee om definitiewe doelwitte vir die beradingsproses en vir hulle pad vorentoe te stel. Dis belangrik dat die berader die beradenes help om eerstens korttermyn doelwitte te stel. Veral adolessente raak moedeloos as hulle voel dat hulle weke of maande lank steeds nie hulle doelwitte bereik het nie. Die korttermyn doelwitte kan neergeskryf word en met elke beradingsessie opgeplak of uitgehaal word, sodat die beradenes kan bepaal watter van die korttermyn doelwitte al bereik is. Die berader moet die beradenes ook lei om self

te bepaal wat hulle moet doen om die langtermyn doelwitte te behaal nadat die beradingsproses beeindig is.

5.4.5 SKRIF, GEBED EN GEES

Die beradingsproses bestaan nie net uit die adolessent, sy ouers en die berader nie. Elke beradingsessie sluit drie partye in: God, die berader en die beradene (volgens 2.4). Die berader het die verantwoordelikheid om God sy regmatige plek in die beradingsessies te laat inneem deur self geestelik voor te berei vir elke beradingsessie. Hy kan die Skrif lees om self sy Woordkennis te versterk en die beradingsgeval aan God opdra voor en tydens elke beradingssessie. Tydens die beradingssessie kan die berader gereeld na die Skrif verwys en elke beradingsessie met gebed open of afsluit. Die beradenes kan Skrifgedeeltes van die berader ontvang wat hulle by die huis moet oordink en neerskryf. Hulle moet dan dink wat hierdie Skrifgedeeltes vir hulle situasie kan beteken.

5.4.6 BEWUSWORDING

Die berader moet bewuswording van wat prestasiedruk is, die gevolg daarvan op die adolessent en die hantering daarvan, fasiliteer. Dit is belangrik dat die adolessent sowel as die betrokke partye (die ouers, onderwysers, afrigters of vriende) opgevoed word, sodat hulle die beradenes kan bystaan of hulle eie optrede en woorde kan aanpas of verander.

5.4.7 VEILIGE RUIMTE

'n Beradingsessie kan veral vir adolessente intimiderend voorkom. Die berader moet alles in sy vermoe" doen om 'n ruimte te skep waarbinne die beradenes veilig voel. Indien so 'n ruimte geskep word, help dit die beradenes om die berader te vertrou en makliker te gesels. Hierdie veilige ruimte word geskep deur die berader se gesindheid van omgee en deur 'n warmte uit te straal. Sodra die berader 'n kliniese rol inneem, kan die beradenes emosioneel onttrek.

5.4.8 VLAK VAN BERADENES

Die berader sal op 'n ander wyse met die adolessent kommunikeer as wat hy met die ouers kommunikeer. Hy moet bewus wees van wat in adolessente se leefwereld aangaan en hoe adolessente praat en optree. Sodoende kan hy die adolessent op 'n effektiewe manier binne sy leefwereld en manier van kommunikasie beraad. Dit is nie nodig dat die berader probeer wees wat hy nie is nie. Indien die berader al ouer is en nie op 'n natuurlike wyse met die adolessent op sy vlak kan kommunikeer nie, moet hy bloot eg wees en die adolessent laat voel dat hy erken word as persoon en nie bloot as 'n kind nie en horn ernstig opneem.

5.4.9 HOLISTIESE GESINSBENADERING

Die adolessent is as lid van 'n gesin deel van 'n groter geheel en moet dus binne die konteks van sy gesin beraad word. Die berader behoort veral die ouers te betrek by die totale beradingsproses. Die adolessent moet as holistiese wese berading ontvang. Die berader moet hiervolgens nie net op die adolessent se druk om te presteer fokus nie, maar ook op sy ander belangstellings, sy toekoms, unieke behoeftes en ander fasette van menswees. Deur die adolessent as holistiese wese te benader, gee hy erkenning aan sy totale menswees en laat dit die adolessent waardig voel.

5.4.10 OBJEKTIEF

Die berader moet sover moontlik objektief bly en behoort nie veroordelend teenoor een van die betrokke partye op te tree nie. Sodra hy 'n party deur sy woorde of houding veroordeel, vervreem dit die beradenes van die berader en bemoeilik dit die beradingsproses. Die berader behoort ook nie die beradingsgeval eensydig te hanteer nie, maar moet waarde heg aan albei partye se opinies en motivering vir die bepaalde optrede of woorde. Die Engelse beradingsterm hiervoor is validation. Die berader moet ook nie toelaat dat daar "buite die vertrek" gepraat word wanneer met een van die beradenes 'n privaat gesprek gevoer word nie. Hy moet toesien dat die beradene nie van die ander party praat as die bewerings nie onmiddellik met daardie party getoets kan word nie. Sodoende bly die fokus op die oplossing van die probleem en nie op die moontlik onsmaaklike situasie tans nie (sien in hierdie verband weer 5.4.2).

5.4.11 ETIKETTERING

Professionele beraders en sielkundiges heg dikwels 'n sielkundige of mediese term aan 'n beradene se toestand of situasie, byvoorbeeld alkoholis, depressielyer of verslaafde. Navorser is van mening dat indien 'n persoon met so 'n term gemerk word, dit volkome herstel of emosionele genesing bemoeilik. Die beradene loop dan vir die res van sy lewe met 'n merk wat deur 'n sielkundige of berader aan hom gegee is, met min of geen hoop dat hy as mens sonder die merk kan funksioneer nie. In die geval van hierdie studie, naamlik prestasiedruk op adolessente, kan 'n adolessent wat gemerk word as 'n perfeksionis die res van sy lewe in daardie term voortleef. As die adolessent egter daarin gelei word om te verstaan dat hy bloot perfeksionisties optree en dat daar uitkoms is, kan die adolessent met sy lewe voortgaan as iemand wat perfeksionistiese optrede en denke agtergelaat het. Indien hierdie adolessent egter gemerk is as 'n perfeksionis is, sal hy waarskynlik die res van sy lewe hierin voortleef, aangesien hy nie kan verander wat hy alreeds is nie. 'n Beradene moet gelei word om sy denke te verander (byvoorbeeld perfeksionistiese denke) en nie om te verander wat hy is nie (gemerk as perfeksionis).

5.5 VOORGESTELDE STRUKTUUR VIR BEWUSWORDING EN EMOSIONELE GENESING