• No results found

5.7. Beoefening van die geloofsdissiplines van stilte en afsondering

5.9.3. Beoefening van stilte en afsondering in die lewe van Jesus Christus

Wanneer ons na Jesus se lewe op aarde kyk, is daar gereelde tye waartydens Jesus Homself van die groepe mense onttrek en in stilte en afsondering verkeer het (sien bv. Luk. 5:16; 6:12; Markus 1:35; 6:31; Matt. 4:1-4; 14:13,23; 17:1-9; 26:36-40). Waller (2016) sê dat Jesus om verskeie redes na tye van afsondering en stilte onttrek het, waaronder die volgende:

- Hy wou tyd met die Vader spandeer (Luk. 5:16).

- Hy wou die stem van God hoor; ‘n mens sien dit duidelik op die berg van verheerliking (Matt. 17:5).

- Jesus se innerlike krag en afhanklikheid van en vertroue in God word gedemonstreer in tye van afsondering – dit word gesien in die tuin van Getsemane gedurende sy lyding (Matt. 26:36-46).

Daar is verskeie tye in Jesus se lewe waartydens Hy onttrek het en tye van stilte en afsondering gehad het. In Mattheus 4:1-11 lees ons dat Jesus deur die Heilige Gees die woestyn ingelei is. Jesus was alleen daar vir 40 dae en 40 nagte, bo en behalwe die tyd toe die duiwel Hom probeer versoek het. Nadat Jesus uit afsondering en stilte uitgekom het, het Hy met sy openbare bediening begin (Matt. 4:12-17). Hierdie is ’n bekende periode van afsondering in die Bybel, net soos met Noag en gedurende Israel se tyd in die woestyn (Guzik, 2011). Die tyd in die woestyn het as voorbereiding gedien vir Jesus se groot taak waarvoor Hy geroep is (St. John, 2013:62). Dit was ’n tydperk van totale afhanklikheid van God die Vader (Guzik, 2011). Belisle (2003:39)

meen dat Jesus eers sy unieke roeping verstaan het, sowel as sy verhouding met God, na tye in stilte en afsondering waartydens hy gefokus was op die Vader en om tyd met Hom deur te bring. In Matteus 14:17-23 lees ons van die wonderwerk waar Jesus Christus die brood en vis vermeerder het. Genoemde wonderwerk wys Jesus se totale outoriteit oor die skepping – Hy kon die wonderwerk self doen, maar dit is opvallend hoe hy verkies het om dit deur die dissipels te doen (Guzik, 2011). Guzik meld dat hierdie storie in die evangelie daarop wys dat Jesus die mense van God kan versorg en voed, net soos in die geval van die Israeliete in die woestyn. In Matteus 14:23, nadat Jesus die wonderwerk gedoen het om die vis en brood te vermeerder, het hy weer in stilte en afsondering gegaan: “Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen.” Epperly (2001:137) meen dat Jesus tyd in afsondering en stilte nodig gehad het sodat Hy sy gees kon verfris en Homself in ooreenstemming kon bring met God se roeping vir sy lewe. Guzik is van mening dat Jesus die tyd alleen saam met sy Vader hoog op prys gestel het – selfs te midde van sy belangrike bediening aan ander het Hy (en sou Hy) nooit sy gebedstyd afskeep nie.

Jesus het ’daagliks in afsondering en stilte eenkant toe gegaan om tyd saam met God, sy Vader, deur te bring. In die Skrif word talle voorbeelde hiervan gevind, waaronder die volgende: Markus 1:35: “Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy ... na ‘n eensame plek (gegaan) en daar gebid.” In Lukas 4:42 word daar ook geskryf dat Jesus vroegoggend na ‘n eensame plek toe gegaan het om te bid. Verdere voorbeelde van Jesus wat tye van stilte en afsondering in sy lewe gehad het, kan gelees word in Lukas 5:15-16; Lukas 6:12; Markus 1:35; Markus 6:31; Matteus 4:1-4; Matteus 14:13; en Matteus 26:36-40.

Belisle (2003:39) skryf dat Jesus die voorbeeld gestel het van afsondering – wanneer die mens tot God wil nader met ‘n rein hart, is dit noodsaaklik om van die geraas, verwarring en onstuimigheid van groepe mense te onttrek. Ons sien ook dat Jesus elke keer met groot krag opgetree het nadat Hy tye van stilte alleen met sy Vader deurgebring het: Jesus het voordat Hy sy twaalf dissipels gekies het, die hele aand alleen tyd saam met die Vader spandeer (Luk. 6:12- 15); Hy was vir 40 dae en 40 nagte alleen in die woestyn na sy doop en voordat sy openbare bediening begin het (Matt. 4:1-11); en Jesus het tyd alleen saam met sy Vader deurgebring voordat Hy op die water geloop het (Matt. 14:22-33). Dit was algemeen dat Jesus aan die einde van 'n dag of voordat die dag begin, alleen by God was (Jones, 2005:40; sien ook Joh. 8:1; Luk. 4:42; Luk. 5:16; Luk. 6:12). Foster et al. (2005:97) het die volgende geskryf: “The seeking out of solitary places was a regular practice for Jesus.” Hierdie beginsel word dikwels in die Nuwe Testament beskryf. In Matteus 4:1-11 staan daar geskryf dat Jesus vir 40 dae en 40 nagte in die woestyn gevas het toe die duiwel Hom versoek het. Daar was Jesus alleen, afgesonder van mense en in stilte saam met sy Vader. Matteus 14:13 sê: "Toe Jesus dit hoor, het Hy in 'n skuit daarvandaan weggegaan na 'n afgeleë plek om alleen te wees..." Na Johannes die Doper se

dood was Jesus baie hartseer en het Hy na 'n plek toe gegaan waar Hy alleen kon wees en moontlik met sy Vader kon praat en net by Hom wees in hierdie moeilike tyd. Hierdie navolgenswaardige voorbeeld van Jesus Christus behoort 'n belangrike dissipline in elke Christen se lewe te wees.

Jesus nooi keer op keer sy dissipels uit om ook stil te word en tye in afsondering met God deur te bring en te leer dat hulle tye van afsondering en stilte in hul lewens moet inkorporeer (sien Mark. 14:32-41). Ons lees in Matteus 6:6 dat Jesus sê wanneer mens bid, moet jy in jou kamer ingaan en die deur toemaak. Die Griekse woord vir “kamer” wat in hierdie Skrif gebruik word is

tameion en beteken “geheime plek”, “kas” en “stoorkamer” (Strong, 2004:G5009). Die antieke

Griekse woord vir “kamer” het die gedagte ingehou van ‘n “stoorkamer” waarin skatte gestoor was – dit herinner ons dat daar groot skatte en waarde opgesluit is in ons tye alleen saam met God (Guzik, 2011).

Jamieson, Fausset en Brown (1961) meen dat “kamer” na die idee van afsondering verwys. Jesus het dit gesê omdat baie van die Jode soms skynheilig was in die sin dat hulle in die publiek gebid het om aandag op hulself te vestig. Guzik (2011) meen dat daar hoofsaaklik twee plekke was waar die Jode op ‘n skynheilige manier in Jesus se tyd gebid het – by die sinagoge tydens die tyd vir openbare gebed of op die straathoeke tydens die vasgestelde tye van gebed, naamlik 09:00, 12:00 en 15:00. France reken dat gebed nie normaalweg op straathoeke plaasgevind het nie, maar dat sommige mense hierdie tye gebruik het om aandag op hulself te vestig (Blue Letter Bible, s.a.). Om hierdie rede nooi Jesus mense uit om wanneer hulle bid, God in hul kamer te ontmoet – dit is ‘n private plek waar ‘n mens nie die behoefte kan hê om ander te beïndruk nie (Guzik, 2011); dit spreek ook van alleen wees met God, afgesluit van ander mense en die wêreld daar buite.

Jesus en sy dissipels het ook lang tye van stilte en afsondering deurgebring. Volgens Markus 6:31 het Jesus sy dissipels genooi om saam met Hom na ‘n stil plek toe te gaan: “Kom julle nou self eenkant toe na ‘n stil plek en skep ‘n bietjie asem.” Hierdie vers hou die betekenis in dat Jesus Christus self ook tye van stilte in sy lewe nodig gehad het (St. John, 2013:62). Die Griekse woord vir “eenkant” (soos gebruik in hierdie Skrifgedeelte) is érēmos en beteken “woestyn”,

“verlate” of “afsondering” (Strong, 2004:G5561). Dit hou dus die betekenis in dat ‘n mens eenkant kom, afgesonder van ander mense en gestroop van enige beskerming van ander mense (Thayer, 1981:525).

Belisle (2003:38) meen dat Jesus stilte en afsondering beoefen het om tot God te bid, tyd saam met Hom te spandeer en God se wil te probeer verstaan. Gaultiere (2013) noem dat Jesus se tye in stilte en afsondering die wyse was waarop Hy dieper in sy liefdesverhouding met God die Vader gegroei het; dit is ‘n diep en egte verhouding – net soos die een waarna die Millenniale Generasie

smag. St John (2013:62) glo dat Christus tye van stilte en afsondering gebruik het om alleen te wees saam met die res van die Drie-eenheid. Halstead (2014:48) meen dat wanneer ‘n mens in afsondering eenkant gaan, soos Jesus gedoen het, jy God en sy oorweldigende liefde vir die mens waarlik kan leer ken. Daarom is stilte en afsondering ‘n manier waarop Christene op ‘n outentieke manier teenwoordig by God kan wees en so ‘n diep, egte en intieme verhouding kan bou.

5.10. Beoefening van stilte en afsondering in die lewens van ander gelowiges in die