• No results found

3.5. Stilte en afsondering as geloofsdissiplines

3.5.3. Afsondering as geloofsdissipline

Afsondering beteken om lang periodes van tyd alleen saam met God te spandeer en om doelbewus interaksie met ander mense te vermy (Vos, 2012:105). Henri Nouwen (1974:22) skryf dat die mens wat in afsondering gaan, ontdek dat dit belangriker is om te “wees” as wat dit is om te “hê” en dat die mens meer werd is as die resultate van ons moeite. Die mens kan in afsondering vlug van ‘n samelewing wat individue en groepe probeer verander. Vos (2012:105) meen dat die mens in afsondering psigiese afstand vind, asook ‘n perspektief om in die lig van die ewigheid die geskape dinge wat ons onderdruk, bekommer en gevange hou te kan sien. Afsondering bied ontvlugting hiervan; dit bied die geleentheid om terug te staan en objektief na die lewe te kyk. Dictionary.com (2017) definieer “afsondering” as selfstandige naamwoord op die volgende drie maniere:

- Om alleen te wees of te woon

- Ver verwyder, van wonings of plekke; afwesigheid van menslike aktiwiteit - ‘n Eensame plek wat selde besoek word

In psigologie word “afsondering” gedefinieer as die ervaringstoestand van doelbewuste sosiale onttrekking, verlaagde sosiale inhibisie en toenemende vryheid om jou verstandelike en fisiese

aktiwiteite te kies (Long & Averill, 2003:21). Ons lewens is baie besig en ons word voortdurend met eksterne stimuli gebombardeer wat ons aandag verg en ons besig hou, maar afsondering bied ‘n toevlug wat ons wegneem van oortollige eksterne stimulasie en na ‘n groter sin van individuele kognitiewe vryheid bring (Hoover, 2011:2). Tydens afsondering weerhou mense hulself doelbewus van enige interaksie met ander mense om sodoende hulself enige geselskap te verbied – hulle neem dus hulself weg van die alledaagse en gaan na ‘n woestyn, die see of sluit hulself weg van ander mense.

Volgens Willard (1991:160) is afsondering ‘n keuse – die mens kies om alleen te wees. Afsondering kan ook vreesaanjaend wees, aangesien ons in ‘n wêreld leef waarin ons daaraan gewoond is om besig te wees, omring van mense en voortdurend vasgevang in ons eie gedagtes, emosies en omstandighede. Ons kry nie altyd tyd om stil te raak, te reflekteer en in kontak te kom met onsself, ons emosies, gedagtes en verhouding met God nie. Hoover (2011:8) is van opinie dat mense wat afsondering beoefen, in staat is om hul strewe na eksterne sekuriteit en hul onderliggende eensaamheid in die gesig te staar, en stadig maar seker hulself te verdiep in ‘n intieme verhouding met God of hulself. In afsondering konfronteer ‘n mens jou eie siel met sy duistere magte en konflikte wat jou so maklik ontgaan wanneer jy interaksie met ander mense het (Willard, 1991:160).

Kidder (2007:8) reken dat die beoefening van afsondering ongemak mag veroorsaak, omdatdit teen die voorskrifte van die Westerse kultuur is. Ons leef in ‘n tyd van konneksie, spoed en interaksie. In die Westerse kultuur word mense gekonfronteer met die media wat ons vermaan om in verbinding te bly, kontak te behou en meer doeltreffend te kommunikeer (Kidder, 2007:9). As ‘n mens na die internet, selfone, 24/7-dienste ensovoorts kyk, besef jy dat dit mense in staat stel om voortdurend in kontak te bly en dat dit die bewustheid skep dat mense enige tyd en enige plek in kontak met enige iemand en enige inligting kan kom. Alhoewel die beskikbaarheid van hierdie tegnologiese hulpbronne baie maklik en gerieflik is, hou dit mense verdoof en veilig verskans in die illusie dat hulle in harmonie en in kontak met die polsende vloei van die lewe is (Kidder, 2007:9). Dit weerhou mense ook daarvan om in kontak met hulself te kom, want hulle is so betrokke by ander mense met ander omstandighede dat hulle in die proses hulself heeltemal verloor. Vos (2012:110) skryf dat ‘n lewe sonder eensame plekke van afsondering maklik destruktief kan word, aangesien die wêreld sonder die mens voortgaan en die mens kontak met homself, ander en God verloor as resultaat van hierdie gejaagde lewe. Afsondering is dus ‘n dissipline wat uitgebou en ingeoefen behoort te word; dit is iets wat nagestreef en stelselmatig deel van die mens se alledaagse lewe moet word.

3.5.3.1. Afsondering teenoor eensaamheid

Daar kan baie maklik verwarring ontstaan tussen afsondering en eensaamheid. Om alleen te wees en om eensaam te wees is nie dieselfde nie; dikwels verwar mense die een met die ander en daarom word afsondering deur baie mense ten alle koste vermy. Marano (2003) is van mening dat eensaamheid ‘n negatiewe toestand is wat gekenmerk word deur isolasie en die diepe gevoel dat iets of iemand gemis word. Afsondering, aan die ander kant, beteken om alleen te wees sonder om eensaam te voel – dit is ‘n positiewe en konstruktiewe toestand van eenheid en verbinding met die self.

Wanneer ons eensaam of vir ‘n tydperk alleen is en niemand het om mee te gesels of geen dinge het om te doen nie, kan die lewe donker en angswekkend raak; innerlike chaos kan dan na vore kom en dreig om ons in te sluk. Daarom probeer mense om hulself besig te hou en alles te doen sodat hulle net nie alleen moet wees nie. Ons skep aktiwiteite wat ander betrek, spandeer lang ure in vergaderings of klou aan ongesonde verhoudings vas omdat ons nie eensaamheid kan verdra nie – ons dryf onsself om die geselskap van ander mense op te soek (Bonhoeffer & Wells, 2015:76).

Afsondering lei tot ‘n groter en dieper verbinding met die self en ook met God. Mulholland (2016:158) meen dat afsondering meer as net die onttrekking van jouself van ander is. Dit is om net jouself by God te wees en om aan jouself en aan God te erken wie jy is. Afsondering help die mens om bewus te word van God se stem, dit moedig die mens aan om stil te word en om die eksterne en interne geraas (wat dit so moeilik maak om enige iets buite onsself te hoor) stil te maak (MacFarlane, 2009:40).