• No results found

Belhar en die drie Formuliere van Eenheid aangaande Eenheid, Versoening en Geregtigheid

Bely Belhar iets nuuts vir die toekoms?

8.3 Belhar en die drie Formuliere van Eenheid aangaande Eenheid, Versoening en Geregtigheid

Vervolgens sal daar weer individueel na artikels twee tot vier van Belhar gekyk word ten opsigte van bogenoemde aspekte. Gepaard hiermee sal die die inhoud van elke artikel met die drie Formuliere van Eenheid vergelyk word om sodoende te bepaal of Belhar iets nuut na die tafel bring en of dit slegs reeds bestaande belydenisskrifte dupliseer.

112

8.3.1 Eenheid

Die beeld aangaande die kerk, soos dit verwoord en bely word in die Belydenis van Belhar, stem ten nouste ooreen met dié van die Apostoliese Geloofsbelydenis soos dit weergegee word in Sondag 21 van die Heidelbergse Kategismus (Sien Bylaag 4), dat gelowiges daarna streef om hul gawes tot “nut en saligheid” (Strauss P 2011:4) onder hulle medemens aan te wend. Tweedens, die verdere verwysing na die kerk as “geroepe uit die ganse menslike geslag” (Botha 2010:14) word ook net so verwoord in Sondag 21 van die Heidelbergse Kategismus. (Verslag 1998:16).

Verdere uitsprake aangaande eenheid van die kerk is soos volg te vinde binne die drie Formuliere van Eenheid (Sien bylae 3 tot 5):

 NGB Artikel 27 – “Tog is dit (die kerk) met hart en wil in een en dieselfde Gees, deur die krag van die geloof saamgevoeg en verenig” (Verslag 1998:16).

 NGB Artikel 27 – Die kerk is “’n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo” (Verslag 1998:16).

 NGB Artikel 28 – Met die fokus op die verpligtinge van gelowiges, word gemeld dat hulle “as lede van een en dieselfde liggaam ... die broers in die opbou van hulle geloof” moet dien (Verslag 1998:16);

 HK Sondag 21 – Met die klem hier op die gemeenskap van gelowiges word gemeld (Verslag 1998:17) “dat gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Jesus Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het ... (en) dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend” (Sien Bylaag 4).

 DL 3/4.7 – Binne die konteks van die Nuwe Testament heers daar nie meer ’n onderskeid tussen volke nie, daarom beklemtoon die DL dat (Verslag 1998:17)

113

“daar nie sprake is van die waardigheid, dié van een volk bo die ander nie (Sien Bylaag 5).

Sybrand Strauss meld dat alhoewel Belhar, net soos die Heidelbergse Kategismus en die Nederlandse Geloofsbelydenis oor die kerk handel, lê die aksente egter op ’n ander plek. Vanuit die perspektief van die drie Formuliere gesien, word die kerk streng teologies (vanaf God) en nie antropologies (vanaf die mens) benader nie. Wanneer ons dus meld dat ons in die kerk glo beteken dit eintlik dat ons glo dat God Self sy kerk bou in hierdie wêreld. Hierdie kerk van God staan volledig in diens van die Koninkryk en mag daarom geensins misbruik word om politieke doelstellings te bevorder nie. (Strauss S 2012:55).

Die Drie Formuliere van Eenheid maak verder ook nie gebruik van die “filosofiese skema” (Strauss S 2012:55) aangaande die sigbare en onsigbare kerk nie. Die klem van kerklike eenheid spruit slegs vanuit “die eenheid van ware geloof” (Strauss S 2012:55) wat God deur middel van Sy Woord en Gees bewerk. Ja, ‘n sigbare vorm van strukturele kerkeenheid is vir gereformeerdes belangrik, maar volgens Strauss vorm dit nie ’n hoofsaak nie en daarom hoef dit ook nie konfessioneel bely te word nie (Strauss S 2012:55).

Ten opsigte van die Nederlandse Geloofsbelydenis, sluit Piet Strauss ten nouste aan by Sybrand Strauss. Artikels 15 tot 37 (Sien bylaag 3) handel aangaande die sigbare en onsigbare kante van die kerk. Strauss beklemtoon laasgenoemde en voeg by dat alhoewel die terme mag verskil, is dit wel daar. “Almal wat glo, let wel, is verplig om hulle by die ware kerk aan te sluit: wat hulle stand of status ook al is” (Strauss P 2011:3). Dit beteken dat geen regeerders of die wette van regeerders iemand dit mag verbied nie. “Sterker taal teen iets anders as geloof as die enigste vereiste vir kerklidmaatskap is nouliks denkbaar” (Strauss P 2011:3).

8.3.2 Versoening

114

kerk wat opgeroep word tot versoening, vind ’n mens dat dit slegs ’n uitbreiding vorm van aspekte wat reeds binne die drie Formuliere van Eenheid verwoord word (Sien bylae 4 en 5) (Verslag 1998:17).

 Die HK Sondag 40 (Verslag 1998:17) meld na aanleiding van die sesde gebod dat “terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees, alles wat hom kan benadeel, so ver moontlik probeer voorkom en selfs aan ons vyande goed doen” (Sien Bylaag 4).

 DL 3/4.7 meld dat “die onderskeid tussen die volke (wat) nou weggeneem is” en dat die gedagte “aan die waardigheid van die een volk bo die ander” afgewys word (Sien Bylaag 5).

Sybrand Strauss meld dat die boodskap aangaande versoening wel ’n Bybelse opdrag is ten opsigte van 2 Kor. 5:17-21. Maar as die Belydenis van Belhar noukeurig op hierdie punt bestudeer en vergelyk word met die Drie Formuliere van Eenheid, kom ’n mens volgens Strauss vinnig ’n verskil agter. Weereens is daar volgens hom ’n aksent verskuiwing (Strauss S 2012:55).

In die Drie Formuliere van Eenheid val die fokus eerstens op die vertikale tendens. Versoening vind sy oorsprong deur die soenoffer van Christus aan die kruis. As voorbeeld hiervan, verwys Strauss veral na die Heidelbergse Kategismus Sondag 23, Vrae 61 en 62 wat handel oor die “genoegsame, geregtigheid en heiligheid van Christus” (Strauss S 2012:56) Volgens hom vind ’n mens niks van laasgenoemde binne Belhar nie. Dit fokus slegs op die horisontale tendens en die gevolge wat dit inhou vir die samelewing (Strauss S 2012:56).

Dit is egter ook van kardinale belang om by te voeg dat ’n gereformeerde belydenis nie net op die vertikale tendens moet fokus nie. Die horisontale tendens vloei vanuit die vertikale tendens, maar die vertikale tendens staan altyd eerste. Strauss verwoord dit so mooi as hy sê dat “die verbond tussen God en ons eensydig is in sy ontstaan, maar tweesydig is in sy bestaan” (Strauss S 2012:56). As die vertikale – en horisontale

115

tendens omgekeer word, is dit ongereformeerd. Dan verwag ’n mens eintlik “foutiewelik dat God as’t ware op jou geloof en bekering moet reageer (Strauss S 2012:56).

Met verwysing na antwoord 93 in die Heidelbergse Kategismus, sluit Piet Strauss by Sybrand Strauss aan en meld dat die saak rondom versoening direk gekoppel kan word aan die tweede tafel van die wet. Naasteliefde en versoening en vrede moet gesien word as ’n reaksie van dankbaarheid. Hierdie dankbaarheid rus op die basis van God se reg en geregtigheid. Anders gestel, as gevolg van God se genadige versoening tot die mens, moet die mens hierop vanuit dankbaarheid reageer en versoening toepas tot sy naaste (Strauss P 2005:570). Piet Strauss beklemtoon net soos Sybrand Strauss, die belangrikheid van die vertikale tendens wat eerste moet staan, maar nie teenwoordig is binne Belhar nie.

8.3.3 Geregtigheid

Wanneer dit kom by die saak van sosiale geregtigheid, meld Sondag 42 van die Heidelbergse Kategismus (Sien Bylaag 4) dat die oortreding hiervan “kan gebeur met geweld of skyn van reg” (Verslag 1998:17). Dieselfde Sondagafdeling meld verder: “Ek moet die belange van my naaste, waar ek kan en mag, bevorder en hom so behandel soos ek wil hê dat hy my moet behandel” (Verslag 1998:17). Hierdie verwoording dien as aanknopingspunt tot die inhoud van Belhar, maar meer nog, dit sluit ook ten nouste aan by die agste gebod van die wet. Dit is (let op my woorde) “die kerk” se taak om mense in nood en lyding by te staan. Omdat God Homself aan die kerk openbaar as die Een wat eenheid, versoening en geregtigheid bewerkstellig het, moet die kerk vanuit dankbaarheid dit ook toepas binne die samelewing.

Piet Strauss sluit ten nouste hierby aan en wys daarop dat die omstrede sin in artikel vier van Belhar nl: “dat God op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verdrukte is” ’n vorm van kategorisering uitbeeld. Aan die een kant is die “haves” en aan die anderkant die “have-nots” (Strauss P 2011:4). Volgens hom verskil dit van die drie Formuliere van Eenheid. Vraag en Antwoord 93 van die Heidelbergse Kategismus koppel versoening of naasteliefde tot die agste gebod van die wet. Bybelse

116

versoening realiseer alleenlik op die basis van geregtigheid. Hierdie geregtigheid, volgens Strauss, is op alle mense van toepassing (Strauss P 2011:4). Daar is dit geen vorm van kategorisering nie. Almal is gelyk voor God.

Die groot vraag wat steeds vir ’n antwoord vra, is of hierdie stelling in stryd is met die Drie Formuliere van Eenheid? Volgens die inhoud van ’n verslag wat voorgelê is aan die Sinode van Wes-Transvaal in 1998, sou dit wel in stryd wees indien hierdie beklemtoning van armoede en verontregting verhewe word tot ’n besondere heilskategorie (Verslag 1998:18). Anders gestel, as mense slegs weens armoede en verontregting, deelhebbers word van God se genade en hulle so ook deel uitmaak van God se volk, is die inhoud wel in stryd met die drie Formuliere. Is dit die standpunt wat Belhar probeer verwoord? Nee, Belhar maak dit duidelik dat die enigste voorwaarde vir lidmaatskap tot die kerk van God, slegs verkry kan word deur middel van geloof in Jesus Christus (Verslag 1998:18).

Hierdie Noodlydendes, armes en verontregtes word dus nie hanteer as ’n besonderse heilskategorie nie, maar hulle word eerder gesien as persone wie se belange behartig word deur God wat “Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring” (Verslag 1998:18).

Ek het in die vorige hoofstuk die voorstel gemaak dat die woord “ook” ingevoeg moet word sodat die gedeelte soos volg lees nl.: dat God “op ’n besondere wyse (ook) die God van die noodlydendes, die armes en die verontregtes is” (Art 4:Belhar). Die invoeging van hierdie woord help, na my mening, om hierdie onsekerheid van ’n moontlike heilskategorie klassifisering, uit te skakel.

’n Mens kan nie anders nie as om in ‘n mate met Sybrand Strauss saam te stem wanneer hy meld dat hierdie omstrede sin nl. “dat God op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verdrukte is” elemente van die bevrydingsteologie bevat (Strauss S 2012:56). Vanuit die inhoud blyk dit werklik asof God kant kies, asof Hy Homself posisioneer aan die kant van die armes, verdruktes en noodlydendes. So ’n siening soos reeds gemeld, is nie Bybels nie en dus ook teen die drie Formuliere van

117

Eenheid. Daarom bly ek by my standpunt dat die inhoud herbewoord moet word sodat enige gapings vir wanpersepsies uitgeskakel kan word.

8.4 Gevolgtrekking

Ter afsluiting van hierdie hoofstuk kan ’n mens nou ’n antwoord bied aangaande die vraag of die Belydenis van Belhar enige nuwe sake na die tafel bring wat bely moet word. Anders gestel, verwoord Belhar kernwaarhede wat nie in die Drie Formuliere van Eenheid voorkom nie?

Volgens my is die antwoord ’n duidelike nee! In hierdie hoofstuk is aangedui dat Belhar op vele gebiede die drie Formuliere dupliseer of slegs sekere aspekte verder belig. Daar is nêrens sprake van enige nuwe kernaspekte wat bely word nie. Eenheid, versoening en geregtigheid is na my mening kernwaarhede, maar as ’n mens in diepte die drie Formuliere van Eenheid bestudeer, vind ’n mens dat dit reeds daarin aangeraak word. Dit help nie ’n moderne belydenis dupliseer ’n reeds bestaande belydenis deur net die aksent rond te skuif nie. Dit maak nie ’n moderne belydenis anders as ’n reeds bestaande belydenis nie.

Ek moet egter byvoeg dat ek kan verstaan waarom die outeurs van Belhar die horisontale tendens helderder wou uitlig. Dit is ’n aspek wat nie net tydens apartheid tekort geskied het nie, maar dit is ’n aspek wat wêreldwyd nie volkome uitgevoer word nie. Die mensdom toon nie genoeg liefde teenoor sy naaste nie.

Maar die feit dat liefdeloosheid in hierdie wêreld heers, is nie omdat dit nie in die Drie Formuliere van Eenheid verwoord en bely word nie. Dit is omdat die dankbaarheidsaspek, soos gevind binne die Heidelbergse Kategismus, nie ten volle gehoorsaam en uitgevoer word nie. Die mens leef nie genoeg vanuit dankbaarheid nie. Die kerk kan nuwe belydenisskrifte, wat die horisontale tendens uitlig, skryf totdat hulle blou in die gesig is, dit gaan geen verskil maak nie. Durand som dit ongelooflik mooi op met die woorde dat as iemand nie voor God wil buig nie, sal hulle nog minder buig voor mensewoorde (Durand 1984:39).

118

Die kern van die probleem lê nie in die horisontale tendens nie, maar in die vertikale tendens. As die vertikale tendens reg is (my verhouding met God), sal die horisontale tendens dit vertoon (my verhouding met my naaste).

119

Hoofstuk 9

‘n Kritiese Dialoog (vervolg):