• No results found

3. TEKSTUELE STUDIE

3.1.7 Die aantrek van Christus: ’n nuwe bestaanswyse (vers 26-29)

Lategan (1986:73) wys op ses stellings wat in 3:26-28 vervat is (vgl. Betz (1979:181):

1. Julle is nou almal kinders van God deur die geloof in Christus. 2. Die wat in Christus gedoop is [het hulleself met Christus beklee]28. 3. Daar is nie meer Jood of Griek nie.

4. Daar is nie meer slaaf of vryman die. 5. Daar is nie meer man en vrou nie. 6. Julle is almal een in Christus.

Die eerste en die sesde stelling is parallel en vorm die raamwerk waarbinne die middelste gedeelte verstaan moet word.

Hierdie gedeelte staan in opvallende ooreenkoms met Kol 3:9-12 (vgl. ook 1 Kor 12:13; Osiek 1980:39). By al hierdie gedeeltes is die inkorporering in die liggaam van Christus belangrik. Op hierdie punt wys George (1994:283) op die belangrike punt dat daar nie magiese krag in die doop self is wat hierdie transformasie bewerkstellig nie:

Rather it bears witness to a prior and deeper cleansing, a washing in the precious blood of the Lamb. Baptism is the place where what has happened

28

My verandering (PdT): Lategan (1986:73) parafraseer Χριστὸν ἐνεδύσασθε met “moet lewe soos mense wat aan Christus behoort.”

individually in regeneration is validated corporately within the fellowship of the community of faith.

Die eenheid in Christus staan sentraal in die doop. Dit gaan daaroor dat almal wat deel is van die nuwe gemeenskap in Christus dieselfde status en belang deel. Op grond van die gemeenskaplike status is almal ook op gelyke vlak. Daar is nie kulturele, maatskaplike of geslagtelike onderskeid nie.

Die spanning tussen Jood en Griek was een van die vernaamste sosiale probleme waaraan Paulus meeste van sy missionêre pogings en teologiese refleksie gewy het (Osiek 1980:40): wat die sosiale status betref, was daar waarskynlik ’n hele aantal hooggeplaasde persone onder die Christengemeenskap (1 Kor 1:26). ’n Groot deel van die sosiale status, wat deel was van die gelaagde samelewing met adellikes en slawe as die twee uiterste pole, was bepaal deur geboorte. ’n Groot deel daarvan is ook bepaal deur welstand. Die moontlikheid vir ’n slaaf om op te beweeg na die boonste laag van die sosiale leer was, hoewel dit moontlik was, baie klein. Aan die ander kant was die posisie van ’n slaaf in ’n stedelike gebied nie so sleg nie. Hy kon op grond van die “patron-client” verhouding (kyk ook Joubert 1995:213 en Ferguson 1987:45-47) ’n beskermde, relatief gemaklike lewe ly – ’n lewe wat beter was as die lewe van die armes in die strate (Osiek 1980:41). Binne die Christelike konteks was die moontlikheid vir ’n slaaf om bevry te word nie uitgesluit nie. Geeneen van die slaaf of vryman het egter enige voordeel by Christus nie. Daarom kon elkeen bly waar hy of sy is (:42; vgl. 1 Kor 7:17-24), want die sosiale posisie maak nie meer saak nie. Die ideale Christengemeenskap bestaan juis uit alle lae van die samelewing. Die onderskeid tussen manlik en vroulik29 is ook in Christus opgehef (Fung 1988:175).

Die eenheid in Christus word hier vergelyk met ’n stel nuwe klere30 wat by die doop aangetrek word. Almal wat “in Christus” gedoop is het Christus aangetrek.

29

Die terme wat hier gebruik word is nie die gewone terme vir man en vrou nie: nie ἀνήρ / γυνή

nie, maar ἄρσεν / θῆλυς, en verwys volgens Fung (1988:175) daarom nie na Gn 1:27 om die verbondenheid van die vrou aan die besnede man (om sodoende haar plek in die verbond te verseker) op te hef nie. Osiek (1980:42-43) sien egter wel ’n verband met Gn 1:27.

30

Vgl. die vertaling van Van der Watt & Joubert (1997:611): “Julle doop was soos ’n stel

splinternuwe klere. By julle doop het julle Christus aangetrek soos mens ’n stel nuwe klere aantrek.”

Die meeste kommentare vertaal dit met: “into Christ” (Betz 1979:188; Dunn 1993:203; Beasley-Murray31 1972:147), menende “tot in Christus.” Bouttier (1977:7) sê:

Om Christus aan te trek bestaan nie daarin om betower te word deur ’n bonatuurlike krag en daarmee saam te smelt nie, maar om te weet dat jy onder sy heerskappy is, deur Hom verander, deur Hom verteenwoordig. Jy is deur Hom ingelei tot ’n nuwe bestaan, opgeneem in die messiaanse gemeenskapd tot ’n nuwe posisie, tot kind van God, nageslag van Abraham32 (vgl. Dunn 1994:119; Ridderbos 1953:148).

Ridderbos (1966:447) praat van ’n nuwe gemeenskaplike bestaanswyse. Christus is die doel van die doop (Barth 1969:91). Dunn (1994:131) sê die aantrek van Christus dui op: “to be immersed into Christ, to put on the character of Christ.” Arichea en Nida (1975:84) sê ook dit beteken om die karakter of stand aan te neem van Christus. Longenecker (1990:157) sê: “[Y]ou took on yourselves Christ’s characteristics, virtues, and intentions, and so became like him.” Dit beteken dat alles wat waar is van Christus met betrekking tot sy stand voor God: sy karakter, sy deugde en motiewe (vgl. Longenecker 1990:156), ook waar word vir die gelowige, en deur hom of haar aangetrek word. Dit is waarvan die doop33 hier getuig. Greijdanus (1936:250) gebruik ’n gepaste beeld as hy sê dat die wat gedoop word geheel en al met Hom oordek word, en van hom deurdrenk word soos wat mens onder die water gedompel word by die doop. Dit is opvallend dat Gl 3:27 die enigste eksplisiete verwysing na die doop34 in Galasiërs bevat. Galasiërs praat wel oor die sterwe en die opstaan saam met Christus, maar dit word nooit direk in verband met die doop gebring (soos bv. in

31

Hy verstaan “in Christus” as afkorting vir “in die naam van Christus.”

32

Vertaal uit die oorspronklike Frans (op aanvraag) deur Daniel Shouchon.

33

Dunn (1993:203-204) meen dat εἰς Χριστὸν ἐβαπτίσθητε nie letterlik op die doop met water dui nie, maar dat dit slegs ’n metafoor is wat van die doop geleen word om die toegang van die gelowige tot die geestelike gemeenskap van die Christen aan te dui (vgl. ook Witherington III 1998:276). Hierdie lyn van argumentasie staan myns insiens nie sterk genoeg nie, want daar blyk min twyfel te wees dat die oorspronklike lesers vers 27a verstaan het in terme van die rite van waterdoop: Ferguson (2009:148) wys daarop dat alhoewel die werkwoord “βαπτίζω” op sigself ’n metaforiese gebruik kan hê, die konteks dit gewoonlik duidelik uitwys. Sonder sodanige indikasie moet die godsdienstige onderdompeling van die persoon in water veronderstel word (vgl. Fung 1988:173). Ferguson (2009:148) haal ook vir Oepke (1968:539-540) aan wat daarop wys dat “βαπτίζω” tegnies dui op “doop in water” sodat dit onnodig is om die medium te spesifiseer. Baudry (2001:5) verwys daarom na die term: “doop in water” as ’n pleonasme.

Rm 6) nie. Beasley-Murray (1972:148) wys daarop dat die doop vereis die letterlike uittrek van klere en die aantrek van nuwe klere35. Hierdie letterlike uittrek van die ou klere en die aantrek van nuwe klere by die doop sou dan ’n simboliese handeling wees vir die bewustelike uittrek van die ou lewe en die aantrek van die nuwe lewe (:149; vgl. Kol 3:9,10). Hierdie betekenis kan gedeeltelik ook geïdentifiseer word by Biskop Kurillos van Jerusalem (350-387 n.C.) se Lesings oor die Misteries. Kurillos het die uittrek van klere voor die doop as aflegging van die ou mens gesien (Kol 3:9), naaktheid36 by die doop as nabootsing van Christus aan die kruis (Kol 2:15) en ’n herstel van die gelykheid van Adam in die Paradys wat naak maar nie skaam was nie (Gn 2:25)37 (Ferguson 2009:477).