• No results found

Hoofstuk 4: Bevindinge en besprekings van die empiriese ondersoek

4.5 Aanpassing van onderrigstyl

Die grootste aanpassing in die aanbieding van die kunskurrikulum wat oor die afgelope vyf jaar ontwikkel is, is dat die onderrigstrategie ‘kind-gesentreerd’ geword het. Die strategie van gesentreerd te wees op die student is ʼn filosofie en nie ʼn metodiek nie. ʼn Ruimte is geskep waarin leer kan plaasvind en waar elke student se unieke leerstyl (Fenwick 2001) in aanmerking geneem is. Omdat elke student verskillend is en sodoende ook verskillend leer, was dit belangrik om verskillende leermetodes en style te gebruik. ʼn Praksis van leerstrategieë is toegepas waar studente nie net op hulle eie gelaat is om vaardighede en kennis op te bou en te ontdek nie, maar waar daar ook aktiwiteite ingewerk word wat deur die onderwyser gelei word.

Hierdie nuwe kurrikulum vir die integrasie van prakties en teorie het ʼn redelike impak op my eie lewe as onderwyser en as mens gehad. ʼn Onderwystrategie wat sentreer rondom die student is ʼn dialoog met andere en met jouself, in ʼn wêreld van dinge, mense en idees (Pearse 1992:245). Tydens die projek het die studente wat akademies sukkel en wat ook traag is om navorsing op hulle eie te doen, verbaal en ook indirek deur die stadige proses in

58

Afrikaanse vertaling: “Ek hoop daar sal ‘n dag kom, dat ek aan iemand wat in Afrika woon kan vertel dat hierdie Europese meisie ‘n bediende is, en dat hulle nie geskok sal wees nie. Mense moet wegbreek van die Suid-Afrikaanse stereotipes dat sekere poste slegs vir swart mense is:

hulle joernale aangedui dat hulle nie heeltemal begryp hoe om die integrasie te hanteer nie. Dit was vir hierdie studente moeilik om die groter prentjie te sien en ek was periodiek genoodsaak om groepbesprekings te hou. Tydens hierdie groepbesprekings kon elke student vordering en kennis met die ander deel. As onderwyser het ek gou besef dat ek heelwat meer attent moes wees waarop die studente sê en veral ook hoe dit gedoen word, en dit het my laat besef dat mens nie te rigied kan wees in jou beplanning en doelwitte nie, en dat mens die assessering van die eindpunt na aanleiding van elke student se proses kan aanpas (Eisner 2002:205-206).

Die strategie om verskillende leerteorieë in dieselfde klas toe te pas is moontlik gemaak deur die gebruikmaking van verskeie bestaande verhoudings. “Teachers achieve their work through the development and management of several relationships: with students, colleagues, school leadership, and state / national jurisdictions, just to name a few” (Anderson & Freebody 2012:362). Kunsonderrig is ʼn manier vir die student om met en in die wêreld te deel, deur hoe mense die beelde en tekens lees, asook hoe hulle deelname ‘gelees’ word (Pearse 1992:250).

Die kurrikulum wat ek ontwikkel het, vereis intensiewe voorafbeplanning en jy moet gedurig in gedagte hou wie in jou klas is: die student se sosio-ekonomiese agtergrond, hulle akademiese vaardigheid, en hulle vlak van belangstelling in die vakgebied is maar ʼn paar aspekte wat in gedagte gehou moet word. Buiten die interne faktore van die studente en die gemeenskap van die skool, speel eksterne faktore, soos wat die eksterne eksaminator van die IEB se fokus vir die eindeksamen kan wees, ook ‘n rol en moet die studente geleidelik na hierdie fokuspunt gelei word. Volgens Lave en Wenger (1991) is ‘n gemeenskap van praksis ʼn groep (studente sowel as onderwyser) wat in ʼn praktiese situasie tesame aan teoretiese aspekte werk. ʼn Gemeenskap van praksis is hier geskep waar die studente saam en as individue binne ʼn bepaalde kunskonteks gewerk het om die komponente van Visuele Kunste baas te raak.

As ʼn kunsonderwyser in en as burger van Suid-Afrika het ek deur die proses van hierdie projek al hoe meer besef hoe belangrik dit is om betrokke te raak in die studente se ontwikkeling as burgers van hierdie land. ʼn Onderwyser raak so betrokke by die eindresultate van akademiese uitslae en suksesvolle kunswerke en uitstallings, dat mens nie

besef dat ons deur Visuele Kunste baie meer kan aanbied as slegs ʼn Nasionale Kurrikulum nie. ʼn Kritiese reflektiewe denker (Schön 1995b) is van heelwat meer belang as ʼn string ‘A’-simbole op ʼn sertifikaat.

Ek het bewus geword van die invloed wat die verborge kurrikulum (Eisner 1979) op studente se ontwikkeling kan hê. Indien onderwysers se sentrale dryfveer prestasie is, laat dit min ruimte vir studente om reflektiewe denke en kritiese burgerskap te ontwikkel aangesien hulle onbewustelik dan ook gedurigdeur gedryf word om op prestasie en eindresultate te fokus. Die waarde van die proses, van praksis, kan daardeur verlore raak. Om deel te kon wees van prosesse van praksis saam met studente het dus ook my eie kritiese denkvermoëns ontwikkel.

4.6 Samevatting

In hierdie hoofstuk is die data ondersoek om te sien hoe die integrasie van die teoretiese en praktiese komponente van Visuele Kunste die studente beïnvloed het. Daar is gekyk na hoe die student se motivering en ingesteldheid geraak is, en hoe dit hulle werk en uiteindelike kritiese denke ontwikkel het. ʼn Omvangryke aantal bevindinge verwys na hoe verskeie aspekte van Visuele Kunste sowel as ander vakgebiede deur die integrasie van teorie en prakties ontwikkel is. Die bewuswording van die student se plek in die gemeenskap en hoe hulle as kritiese burgers ontwikkel het, is ook deur verskeie bevindinge aangeraak. In hierdie projek om die gaping tussen die teoretiese en praktiese komponente te vernou, is daar uiteindelik ‘n gemeenskap van praksis geskep om kritiese reflektiewe denkers te ontwikkel.

In die volgende hoofstuk word die navorsing saamgevat en word daar gekyk na watter impak hierdie ondersoek moontlik kan hê.