• No results found

HOOFSTUK 5: SAMEVATTING, BEVINDINGE EN AANBEVELINGS

5.4 Aanbevelings

5.4.1 Aanbevelings aan die departement van Onderwys op distriksvlak Aanbeveling 1

Om professionele ontwikkelingsgeleenthede vir skoolhoofde te skep om hulle bewus te maak van die rol wat hulle speel, in die motivering van onderwysers . Hierdie professionele ontwikkeling kan in die vorm van werkswinkels of seminare aan die skoolhoofde verskaf word.

Motivering

Skoolleierskap in skole is nie altyd seker oor hoe hulle hul Grondslagfase-onderwysers beter kan motiveer nie. Die Departement van Onderwys wat oor meer kennis hiervan beskik, kan ʼn waardevolle bydrae in hierdie verband lewer (§4.3.1.1).

Aanbeveling 2

Om professionele ontwikkelingsgeleenthede vir grondslagfase-departementshoofde te skep om hulle bewus te maak van die behoeftes van onderwysers onder hul leiding en die rol wat hulle vervul ter motivering van grondslagfase-onderwysers. Hierdie professionele ontwikkeling kan in die vorm van besprekings/inligtingsessies tydens vakgroep-/fase vergaderings of werkswinkels aan die departementshoofde verskaf word.

Motivering

Uit die onderhoude het dit geblyk dat Grondslagfase-onderwysers die leiding van Departementshoofde en die voorbeeld wat deur hulle gestel word as belangrik ag in belang van gemotiveerdheid. Die direkte betrokkenheid en die leierskapstyl van Departementshoofde speel veral ʼn groot rol by kurrikulêre leierskap en klaskamerbestuur (§4.3.1.1).

5.4.2 Aanbevelings aan skoolleierskap Aanbeveling 1

Om seker te maak dat departementshoofde direk betrokke is by die Grondslagfase-onderwysers, word aanbeveel dat departementshoofde ʼn kwartaallikse verslag indien by die skoolhoof waarin gerapporteer word oor klasbesoeke, lesevaluerings asook die aanbevelings wat deur hulle vir die grondslagfase-onderwysers gemaak is.

Motivering

Wanneer die departementshoofde “hands-on” betrokke is by die Grondslagfase-onderwysers, weet hulle wat in die onderwysers se klaskamers plaasvind en kan hulle hulp aanbied waar nodig en raad en leiding gee (§4.3.1.1).

Aanbeveling 2

Die Skoolhoofde en departementshoofde moet konsekwentheid en regverdigheid voorop stel in hul omgang met grondslagfase-onderwysers. Dit kan gedoen word deur hulle nougeset by datums in die jaarbeplanning te hou en deur aan al die onderwysers ewe veel hulpbronne en gelyke begrotings toe te staan.

Motivering

Dit het uit onderhoude na vore gekom dat konsekwentheid nie in alle skole toegepas word nie. Die Grondslagfase-onderwysers se gemotiveerdheid word daardeur gedemp omdat daar nie streng by datums waarop aktiwiteite in die skool beplan is, gehou word nie. Regverdigheid word ook nie altyd deur skoolleiers gehandhaaf nie, en die Grondslagfase-onderwysers se motivering word negatief daardeur beïnvloed wanneer onderwysers voel dat sommige bo ander bevoordeel word (§4.3.1.1).

Aanbeveling 3

Die skoolhoof moet toesien dat Grondslagfase-onderwysers se rolle en verantwoordelikhede in die skool duidelik uiteengesit word deur ʼn werksverdeling en rooster saam te stel waarop onderwysers se verantwoordelikhede en pligte aangedui word. Hierdie verantwoordelikhede behoort die akademiese, buitemuurse en alle ander verantwoordelikhede uit te spel. Die skoolhoof moet jaarliks ʼn gesprek voer en ʼn taakooreenkoms met elke (grondslagfase) onderwyser aangaan waartydens die onderwyser ook die geleentheid gegun word om sy/haar voorkeure en vaardighede aan die skoolhoof te kommunikeer, wat dan in ag geneem moet word tydens die werksverdeling.

Motivering

Wanneer die Grondslagfase-onderwysers se rolle en verantwoordelikhede uiteengesit word, is die onderwysers bewus van hul verantwoordelikhede en weet hulle wanneer hulle wat in die skoolomgewing moet doen. Die onderwysers word ook meer daardeur gemotiveer (§4.3.1.1). Aanbeveling 4

saalbyeenkomste of ander skoolbyeenkomste. Die departementshoof kan erkenning gee deur positiewe kommentaar op moderatorsverslae te lewer. Beide skoolhoofde en departementshoofde kan ook erkenning gee tydens persoonlike gesprekke met onderwysers. Motivering

Erkenning en aanprysing vir goeie werk gelewer het ʼn positiewe effek op die gemotiveerdheid van die grondslagfase-onderwyser. Alhoewel dit ekstern is, kan dit geïnternaliseer word en deel word van outonome motivering (2.3.1) (§4.3.1.2).

Aanbeveling 5

Geleenthede moet deur departementshoofde tydens vak-/fasevergaderings geskep word waartydens Grondslagfase-onderwysers hul menings kan lug, daardie menings in ag geneem word en na die onderwysers geluister word. Skoolhoofde moet, wanneer ʼn besluit geneem moet word, ag gee op die voorstelle van die onderwysers, bv. tydens personeelvergaderings. Sowel skoolhoofde as departementshoofde kan tydens persoonlike gesprekke tyd inruim om na die probleme wat die onderwysers opper, te luister.

Motivering

Dit is belangrik om die menings van Grondslagfase-onderwysers in ag te neem en na hul probleme te luister, omdat dit toeganklikheid van die leiers toon. Wanneer skoolleiers deur grondslagfase-onderwysers as toeganklik ervaar word, dra dit by tot hul gemotiveerdheid (§4.3.1.4).

Aanbeveling 6

Die skoolhoof moet sosiale geleenthede soos spanbousessies reël om sodoende sterk kollegiale verhoudings in die skool aan te moedig.

Motivering

Sterk kollegiale verhoudinge, spanbou en spanwerk is deur deelnemers as belangrik aangedui, aangesien dit hul motiveer as ʼn ondersteuningsraamwerk in die skoolomgewing tot hulle beskikking gestel is (§4.3.1.5).

5.4.3 Aanbevelings vir die Grondslagfase-onderwysers Aanbeveling 1

Grondslagfase-onderwysers moet goeie verhouding met skoolleierskap handhaaf sodat ʼn sterk vertrouensverhouding geskep kan word. Sodoende kan onderwysers die vrymoedigheid hê om

die aspekte wat hulle demotiveer onder die aandag van die departementshoofde en skoolhoofde te bring.

Motivering

ʼn Sterk vertrouensverhouding is van belang vir die onderwyser en ook skoolleierskap omdat skoolleierskap waardevolle kennis op hierdie manier kan opdoen oor wat onderwysers motiveer en demotiveer (§4.3.1.2).

5.4.4 Aanbeveling vir verdere navorsing Aanbeveling 1

Vir verdere navorsing word aanbeveel dat die verband tussen Grondslagfase-onderwyser motivering en die motivering van die leerders empiries ondersoek word. Daar word ook verder aanbeveel dat die invloed van skoolleierskap op ander onderwysers se motivering ondersoek word om te bepaal of daar ʼn verskil is tussen grondslagfase-onderwysers se gemotiveerdheid en dié van ander onderwysers, asook die rol van skoolleierskap daarin.

Motivering

Leerders se gemotiveerdheid is sterk afhanklik van die onderwyser se gemotiveerdheid. Dit is daarom belangrik om te bepaal wat die moontlike verband kan wees tussen die Grondslagfase- onderwyser se gemotiveerdheid en dié van die Grondslagfase-leerders (§2.6.2.1).