• No results found

WONINGS OMSKEP VIR KOMMERSIËLE GEBRUIK .1 Cradockstraat 97

OPENBARE GEBOUE IN DIE KAAPS-HOLLANDSE HERLEWINGSTYL IN GEORGE

HOOFSTUK 4 RESIDENSIËLE GEBOUE

4.3 WONINGS OMSKEP VIR KOMMERSIËLE GEBRUIK .1 Cradockstraat 97

Agtergrond

Die woonhuis in Cradockstraat 97 is in George-Suid geleë. Erf 2380 waarop hierdie woonhuis gebou is, is reeds in 1926 by die aktekantoor in Kaapstad geregistreer (AK, T8511/1926).

Figuur 107: Linkergewel Figuur 108: Regtergewel

Figuur 109: Linkerdeel van stoep Figuur 110: Regterdeel van stoep

Vooraansig

Die huis is een van drie skakelhuise in George wat in die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl gebou is. Die gewelkroon se ronding eindig met ʼn horisontale trappie. ʼn Konkawe lyn eindig met ʼn inkeping waarvandaan ʼn konvekse lyn vloei en met ʼn horisontale trappie eindig. Op elke gewelveld is ʼn ronde gietyster lugrooster tipies van die Victoriaanse era. Die erkers (figure 107 & 108) wat Eduardiaanse invloed toon, word elk met ʼn

sinkdak afgerond. ʼn Muur verdeel die stoep en die gefatsoeneerde verandamuur en – pilare is gepleister en geverf (figuur 109).

Die gewels van die huis lyk feitlik dieselfde as dié van die woonhuis in Hopestraat 32. Die huis het soos die Residensie en die woonhuis in Middelstraat 2 ook twee voorgewels.

Op verskeie ander Suid-Kaap/Klein-Karoo dorpe kom soortgelyke huise voor, wat beteken dat dit nie uniek is aan George nie. Dit maak die spesifieke gebou egter nie minder bewarenswaardig nie (sien 4.6). Figure 111 & 112 toon huise op onderskeidelik Uniondale en Heidelberg wat ook twee voorgewels het.

Figuur 111: Woonhuis, Uniondale Figuur 112: Woonhuis, Heidelberg (Wes-Kaap)

4.3.2 Markstraat 12

Agtergrond

Die gebou in Markstraat 12 is in George-Suid geleë. Hierdie gebou het aanvanklik as ʼn woonhuis gefunksioneer, maar tans huisves dit ʼn besigheid (figure 113 & 114). Die erf

(2643) waarop hierdie woning gebou is, is op 27 Junie 1947 in die aktekantoor ge-registreer. Die huis is in Oktober 1947 gebou (AK, T3235/47).

Figuur 113: Markstraat 12, Vooraansig Figuur 114: Markstraat 12, Voorgewel

Vooraansig

Die twee gewels van hierdie gebou lyk dieselfde en front onderskeidelik suid en wes. Van die middel bo vertoon die gewels die volgende elemente: ʼn boog gevolg deur ʼn lang konkawe lyn eindig met ʼn vertikale trappie. Vanaf hierdie trappie vloei ʼn konvekse lyn wat met ʼn horisontale trappie eindig. Die gewelveld is met ʼn vertikale lugrooster versier.

Met ʼn ter plaatse ondersoek op 12 Julie 2010 is bevind dat die openinge tussen die betonpilare en stoepmuurtjie toegebou is sodat die hele stoep in ʼn kantoorruimte omskep kon word. Hierdie een is van die baie min geboue in George waarvan die gebruikswaarde verander is, sonder om té veel aan die voorkoms van die gebou te verander.

4.3.3 Markstraat 14

Agtergrond

Die gebou in Markstraat 14 is in George-Suid geleë en dit het aanvanklik as ʼn woonhuis gefunksioneer (figure 115 & 116). Erf 2645 is in April 1947 in die aktekantoor geregistreer en bouwerk het in dieselfde jaar begin (AK, T3237/47).

Figuur 115: Vooraansig Figuur 116: Gewels

Vooraansig

Die gebou se twee gewels wat dieselfde lyk, herinner aan die eenvoudige holbolgewel van die Kaaps-Hollandse tydvak. Die buitelyne bestaan uit konkawe en konvekse kurwes. Hierdie kurwes word deur horisontale en vertikale trappies in die lyswerk geskei (figure 115 & 116). Met die een gewel wat suid front en die ander een wes maak dit die gebou asimmetries.

Die gebou se binnemure is verwyder om by die behoeftes van die nuwe eienaar aan te pas wat ʼn besigheid in die gebou bedryf. Die openinge tussen die betonpilare wat die sinkveranda ondersteun en die stoepmuurtjie is toegebou om die hele stoep in ʼn kantoorruimte te omskep. Die plasing van die gewels en die toegeboude stoep toon ooreenkomste met Markstraat 14. Die twee huise is langs mekaar geleë en hulle is in dieselfde jaar gebou.

4.3.4 Markstraat 20

Agtergrond

Markstraat 20 (figure 117 & 118) is ook in George-Suid geleë. Die erf (2648) waarop hierdie huis gebou is, is in 1854 geregistreer en die huis is in 1945 gebou (AK, T1422/1854). Volgens me W de Swardt het haar skoonpa, mnr A de Swardt, haar meegedeel dat die erwe in Markstraat al die jare onbeboud was en dat die huidige huise die eerste woonhuise was wat in dié straat gebou is (onderhoud:2010).

Vooraansig

Die gebou het ʼn voorgewel aan die linkerkant met konvekse en konkawe elemente wat afgerond word met ʼn pleisterband en voluutkrul. ʼn Horisontale pleisterband verbind ook die twee krulle. Ook hierdie huis se stoep is toegebou om kantoorruimte te skep.

4.3.5 Woonhuis, Yorkstraat 35

Agtergrond

Die huis in Yorkstraat 35 (figuur 119) is die enigste oorblywende woonhuis in die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl in Yorkstraat. Dié huis is in 1912 vir mnr JH Urban gebou en in sy naam geregistreer (AK, T25558/1912). Dit word tans vir die bedryf van ‘n besigheid gebruik.

Figuur 119: Woonhuis, Yorkstraat Figuur 120: Woonhuis Heidelberg (Wes-Kaap)

Vooraansig

Die gebou het twee gewels wat onderskeidelik na Yorkstraat en Fichatstraat front. Die Yorkstraat aansig word hier beskryf (figuur 119).

Die huis het ʼn sinkdak en die sinkveranda word deur kort Toskaanse suile wat op die stoepmuurtjie rus, ondersteun. Op die bopunt van die dak is ʼn pediment van hout met oopsnywerk wat Art Nouveau-invloed toon.

Die gewel vertoon die eenvoudige holbol-buitelyne van die Kaaps-Hollandse gewel, maar is heelwat platter en breër. Konsoles ondersteun die laaste trappies van die gewel en ʼn kort geprofileerde lysie sluit die gewelveld af van die res van die fasade van die gebou. ʼn Vertikale lugrooster versier die gewelveld en ʼn pleisterband wat ligter as die gewelveld geverf is, omlys dit. ʼn Huis waarvan die gewels feitlik identies is (figuur 120), is in Heidelberg (Wes-Kaap) gevind.

Die gefatsoeneerde stoepmuurtjie is gepleister en geverf. Die plasing van die voordeur is nog soos op die oorspronklike bouplan aangedui en verleen toegang tot ʼn breë gang (mnr J Rogers 2010:onderhoud). Die voordeur is in ʼn houtraam ingebou. Die boonste deel bestaan uit vier ruite met hout ruitstafies en weerskante van die deur is ook glaspanele. Die boonste deel van die deur het ʼn glaspaneel en die onderkant is met twee kussingpanele versier. Die binnekant van die gebou is nog in sy oorspronklike vorm. Die effe skuins-oplopende muurtjies weerskante van die trap wat aan die voorpunt na buite krul om by ʼn baie lae fyn-tuin muurtjie aan te sluit, verleen aan die huis ʼn statige voorkoms. Hierdie muurtjies herinner aan die trapmuurtjies van die Tokai-herehuis, behalwe dat dit by laasgenoemde aan die voorpunt na binne krul.