• No results found

Wanneer inkomste as boerderyinkomste kwalifiseer

Veal et al. (2010:486) en CCH Editors (2010:1115) dui twee faktore aan wat bepaal wanneer ’n aktiwiteit as boerdery kwalifiseer. Eerstens moet oorweeg word of die aktiwiteit ’n

50 besigheid is vir belastingdoeleindes, en tweedens of hierdie besigheid bedryf word vir boerderydoeleindes. Die teenwoordigheid van ’n winsmotief dui daarop dat die aktiwiteite waarskynlik ’n besigheid sal daarstel, met die gevolg dat, indien sodanige motief afwesig is, daardie aktiwiteite nie as ’n besigheid sal kwalifiseer nie. Indien daar nie ’n besigheid is nie, bepaal artikel DA 1 dat geen uitgawes afgetrek mag word nie (Income Tax Act 2007). Die hofsaak Grieve v CIR (1984) handel spesifiek oor die vraag of die betrokke aktiwiteite kwalifiseer as ’n boerderybesigheid. In hierdie saak is bepaal dat die bedoeling van die belastingpligtige ’n baie belangrike rol speel, maar die volgende faktore word ook genoem wat in ag geneem kan word in die bepaling van die teenwoordigheid van ’n winsmotief: a. die aard en duur van die aktiwiteite;

b. die omvang van bedrywighede en die volume van transaksies; c. die hoeveelheid tyd, geld en hulpbronne wat daaraan bestee word; d. die patroon van die aktiwiteite en finansiële resultate; en

e. of die aktiwiteite soortgelyk is aan dié wat deur ’n “winsgewende” boer uitgevoer sou word (Veal et al., 2010:99).

In die saak Horniblow v Napier (1955) is die tweede been van die vraag aangespreek en bepaal dat ’n boerderybesigheid onder andere die gebruik van grond met die doel om vee daarop te versorg en veeteelt toe te pas insluit. Die verskaffing van boerderyverwante dienste en die handeldrywe in of verhuring van lewende hawe word egter uitgesluit (Veal et al., 2010:486). Die belastingpligtige betrokke in die hofsaak ITC 1548 (1991) in par. 2.2.2 (p. 10) genoem, sou dus in Nieu-Seeland ook nie daarop kon aanspraak maak dat ’n boerdery bedryf word nie.

4.2.2 Spesifieke bedrae wat by boerderyinkomste ingesluit word

Sekere bedrae word, bo en behalwe die normale inkomste vanuit die boerderyaktiwiteite, spesifiek by die boer se inkomste ingesluit, naamlik:

a. ’n verhaling vir die gebruik van lewende hawe vir privaatdoeleindes;

b. die prysgeld wat op ’n landbouskou gewen is, nadat toegangsfooie en verbandhoudende uitgawes afgetrek is;

c. bedrae ontvang uit hoofde van die verhuring van grond;

d. vergoeding ontvang vir die verlies van lewende hawe, om welke rede ook al, insluitende bedrae ontvang vanaf versekering, kragtens artikel CG 6;

51 e. waardevermindering verhaal tydens die verkoop van bates waarop ’n slytasietoelae

geëis is ingevolge artikel EE 40;

f. deposito’s uitbetaal sowel as die rente daarop ingevolge die inkomste- gelykstellingskema;

g. die waarde van lewende hawe voorhande op jaareinde kragtens artikels EA 1 en EB 3; en

h. ander inkomste soos ook op normale belastingpligtiges van toepassing, byvoorbeeld rente en dividende (CCH Editors, 2010:1116; Veal et al., 2010:487).

In die saak Maclean v CIR (1985) is beslis dat ’n bedrag wat deur die ‘Otago-Southland Flood Relief Trust Fund’ aan ’n boer betaal is as vergoeding vir die verlies van lewende hawe tydens ’n oorstroming, wel deel vorm van inkomste. Artikel CG 6 van die Nieu-Seelandse Wet is sedertdien ingevoeg en stel dat enige vergoeding vir die verlies van lewende hawe geag sal word deel van inkomste te wees (Veal et al., 2010:487).

4.2.3 Subsidies ontvang deur boere

Die sogenaamde ‘nuwe begin toekenningsprogram’ bied verligting aan boere betrokke by veeteelt wat deur ’n noodgebeurtenis geraak is. Hierdie gebeurtenis sal deur die Goewerneur Generaal as sodanig geklassifiseer word. Let daarop dat hierdie gebeurtenis nie dieselfde is as die ongunstige gebeurtenis waarna in par. 4.5.3 (p. 66) verwys word nie. Die voorsiening het ten doel om die kwytskelding van ’n verpligting uit inkomste te verwyder, indien die kwytskelding ’n voorvereiste vir die toekenning is (Veal et al., 2010:485).

Die program funksioneer soos volg:

a. Die belastingpligtige gaan verpligtinge aan voordat die Regering die situasie as ’n noodgebeurtenis verklaar.

b. Die verpligting is aftrekbaar binne drie maande nadat die gebeurtenis tot ’n einde gekom het.

c. Die verpligting word kwytgeskel binne 18 maande nadat die gebeurtenis tot ’n einde gekom het as ’n voorvereiste vir die betaling van ’n nuwe begin toekenning.

d. Die bedrag van die kwytskelding word belas ingevolge artikel CG 2 (Veal et al., 2010:485).

52 Die bedrag van die kwytskelding word as uitgeslote inkomste hanteer tot die mate wat die antwoord in die volgende formule meer is as nul:

Kwytgeskelde bedrag - Huidige verlies - Verlies saldo - Ander verliese In hierdie formule verteenwoordig die bedrae die volgende:

a. Kwytgeskelde bedrag – die bedrag van die kwytgeskelde aanspreeklikheid;

b. Huidige verlies – die bedrag van die netto verlies wat die belastingpligtige sal hê vir die jaar van kwytskelding;

c. Verlies saldo – enige verlies wat deur die belastingpligtige oorgebring is vanaf ’n vorige jaar;

d. Ander verliese – verliese aangegaan deur ’n geassosieerde persoon met betrekking tot die belastingpligtige, tot die mate wat dit toelaatbaar is deur die Kommissaris en mits daardie persoon

i. die besigheid bedryf of die grond waarop die besigheid bedryf word, besit, ten opsigte waarvan die toekenning betaal word;

ii. onder ’n wesenlike mate van beheer van die belastingpligtige verkeer en oor wesenlike identiteitsbelange met betrekking tot die belastingpligtige beskik; en iii. die verlies aangegaan is vanuit die besigheid of die grond waarop die besigheid

bedryf word (Veal et al., 2010:485).

Veal et al. (2010:485) stel dat die formule kan veroorsaak dat die belastingpligtige verliese verbeur, maar dat die effek daarvan nie die direkte betaling van addisionele belasting tot gevolg sal hê nie.

Kragtens artikel 177D van die Nieu-Seelandse ‘Tax Administration Act 1994’ moet die Kommissaris verligting toestaan aan ’n belastingpligtige aan wie hierdie toekenning betaalbaar is tot die mate wat die Kommissaris dit redelik ag. Die bedrag van die verligting word bereken asof die relevante inkomste die enigste inkomste is wat aan die persoon toeval. Die verligting is afkomstig vanuit die onbetaalde belasting wat verband hou met ’n inkomstebelastingaanspreeklikheid voortspruitend uit:

a. die boerderybesigheid waarvoor die toekenning betaalbaar was;

b. die grond wat gebruik word in die voortsetting van sodanige besigheid; of c. die verkoop van die plaas (Tax Administration Act 1994; Veal et al., 2010:485).

53