• No results found

4.2 BEVINDINGS VAN FAKTORE WAT INKLUSIEWE ONDERWYS

4.2.3 Verstedeliking, trekarbeid en ongelykhede in die klaskamer …

Verstedeliking en trekarbeid vorm deel van die oorsake van swak onderrig en leer. Kwaliteit onderrig vereis bestendigheid ten opsigte van skoolbywoning, permanente verblyf en vordering. Leerders wie se ouers tot hierdie ekonomiese uiterste gedwing word, loop die risiko om daardeur benadeel te word. Verstedeliking en trekarbeid

verhoog en verlaag getalle sodat toekennings – monetêr en menslike hulpbronne – onder druk kom. Ek wil deurgee wat opvoeders ervaar waar die twee probleme voorkom.

Uit die onderhoude is dit duidelik dat intellektuele en emosionele ontwikkeling hierdeur beïnvloed word. Huidiglik is taal een van die grootste probleme. Gemeenskappe raak vanweë behuisingsnood al meer geïntegreerd. Die reël is dat ‟n leerder nie meer as twee keer ‟n fase mag herhaal nie. Die beslommernis met en gevolglike nie-uitvoer van intervensies en administrasie maak dat minder leerders druip. Dit skakel die probleem van ouderdomsverskille in klasgroepe uit, maar vanweë die intellektuele onderprestasie, skep dit vir die opvoeder ‟n nuwe probleem. Leerders bly nou min of meer in hul ouderdomsgroepe. Hul emosionele ontwikkeling is nou min of meer dieselfde. Opvoeders is egter besorgd oor hul onderontwikkelde vaardighede en intellekuele ontwrigting.

Hoewel die probleem in die minderheid is, is dit steeds vir die opvoeder wat kwaliteit onderrig wil lewer ‟n lastigheid. Die onus het slegs van emosionele wanbalanse na intellektuele en vaardigheidsverskille verskuif. Die ontydige druk op ruimte ontwrig klaskamerorganisasie en kontinuiteit in die werkprogramme. Nuwelinge het dikwels nie modules nie, modules is nie op datum nie of die temas verskil. Wanneer werk op datum gebring moet word, word die res van die klas gewoonlik afgeskeep. Interprovinsiale beweging bring dikwels ook taalverskille mee. Dit beteken dat vordering stadiger is.

Die familie, godsdiens, onderwyspolitiek en die ekonomie waarna Ballentine (1983:2) verwys, is dus wat deesdae in die klaskamer ‟n werklikheid is. Dit plaas druk op die opvoeder om na mekaar se verskille te luister (Waghid, 2003:83). Die familie in die klaskamer word egter met groot moeite en opoffering suksesvol tot sukses gelei. Dikwels word kwaliteit ingeboet. Diversiteit as gevolg van verstedeliking en trekarbeid neem toe terwyl seksuele en emosionele ontwikkeling al meer ‟n probleem raak. Dis ‟n interessante verwikkeling, gegewe die feit dat die opvoeder steeds sukkel om leermediasie ongekompromiseerd na te strewe.

4.2.4 Ekonomiese klas

Die skool vereis al meer van die ouer om betrokke te wees by die kind se opvoeding. Ouerbetrokkenheid, vandag, is nie net om huiswerk te kontroleer nie. Dis ‟n Inklusiewe Proses waar die klaskamer en die skool se fasiliteite by die huis gedupliseer moet word. Ons skole in die gemeenskappe waar ek my navorsing gedoen het, huisves leerders van altwee uiterstes van die ekonomiese pendulum en ook alles tussen-in. Dit maak dit vir die opvoeder moeilik om werk terug te eis.

In ‟n gemeenskap waar tussen 40% en 60% van die leerders nie hul skoolfooie kan betaal of funksies kan ondersteun nie en waar skooldrag die beste is wat ouers kan doen, is rekenaargeletterdheid by die huis ‟n mite. Toegang tot ‟n mediasentrum na skool is ook buite die meeste leerders se bereik. So, alhoewel die opvoeders entoesiasties is met tuiswerk wat die elektroniese media insluit, word die aktiwiteite tot die skool beperk. Waar skole staatmaak op funksies en skoolfooie om rekenaarlokale toe te rus, neem druk op die opvoeders toe om self skouer aan die wiel te sit.

‟n Beduidende groep leerders se ouers is ongeletterd en verrig arbeid wat hulle die grootste deel van die dag weg van die huis af hou. Om dus te verwag dat ouers met tuiswerk moet help, is nie altyd billik nie. Daar is ook baie van die opvoeders wat voel dat dit soms diesulke ouers is wat tyd met hul kinders spandeer. Die verwagting is egter dat die leerder sy/ haar eie werk in die loop van die middag sal doen. Vanweë ekonomiese druk en gevaar, is dit dikwels vir die leerder nie moontlik om biblioteek toe te gaan nie. Veral ontwikkelende gebiede, wat die laer-inkomste groepe huisves, het die probleem van ongeletterdheid, geen mediasentrum, geen biblioteke of fondse om die skool kompeterend te maak.

Die opvoeder moet dus sy modules so aanpas dat die nodige vaardighede en informasie oorgedra kan word. Die leerder is vir die grootste deel van die dag aan sy/haar eie lot oorgelaat. Hoewel in die minderheid, ontwrig hulle die akademiese program sodat die afhandeling van die kurrikulum daaronder ly. Dit is vir die opvoeder moeilik om kort-kort, tydens ‟n les, individuele aandag aan stadige leerders te gee. Die algemene opvatting is dat die leerders gebrekkige visie het ten opsigte van die werk wat hulle

eendag wil doen. Hul fokus is op die dinge wat vinnige plesier verskaf en waar intellektuele inspanning nie nodig is nie. Leerders is ook in die groef vasgevang waar hulle wil wees wat die ouer persoon is en wat hul maats is. Daar is diegene wat meer insit omdat daar van hul ouers se kant af die belangstelling in hul werk is. Dit is ook meer die gegoede leerder en enkeles uit die armer areas wat vorder.